Die gelowiges se taak tot heiliging van die lewe…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-11-23
Teks: 
1 Timótheüs 4:4-5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 4:5; lees 1 Timotheus 4, Sagaria 14:16-21

 

Gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons lewe in ‘n gesekulariseerde klimaat, ons tyd is onderhewig aan toenemende sekularisasie. En daarmee bedoel ons dat die mensdom homself hoe langer hoe meer beywer vir ‘n wêreld sónder God. God word nie meer toegelaat om sy stempel op die daaglikse lewe te plaas nie. God en die diens aan Hom word hoe langer hoe meer uit die publieke sfeer teruggedring; dit mag hoogstens as ‘n privaat-aangeleentheid ‘n plek in mense se lewens ontvang. Moet daarom nie ‘n baie groot gehoor verwag wanneer jy dit sou waag om mense in die openbaar – in die parlement of in die klaskamer of in die kantoor – tot gehoorsaamheid aan die Here en sy Woord op te roep nie.

In effens moeiliker bewoording kan ons die verskynsel van sekularisasie soos volg beskryf: die sakrale – dus, dit wat heilig is – word al meer deur die profane – die wêreldse – verdring. Sodanig dat daar van die sakrale in ons wêreld nog weinig oorgebly het. Van die min sigbare oorblyfsels van die sakrale is die talle kerkgeboue in ons omgewing, die laaste bastions van ‘n onderdrukte beweging. Broers en susters, gelowiges word miskien nie meer fisies vervolg soos in die verlede nie, maar die onderdrukking van die geloof het daarmee nie minder geword nie. Die onderdrukking met die swaard het oorgegaan in ‘n ideologiese onderdrukking – weg met God en die godsdiens uit ons wêreld!

 

Nou, broers en susters, die term wat die bybel vir hierdie sekularisasie gebruik – ja, die bybel het sekularisasie ook al geken! – is die woord ‘goddeloosheid’, of in Grieks asebeia. Asebeia beteken letterlik “geen respek” en “geen eerbied” vir God nie, en daarom ook geen respek en eerbied vir wat Hy ingestel het nie. Die mens van vandag wil nie meer na God en sy wet luister nie. Die mens is eie-wetlik, outonoom. Wel, u sal saamstem dat ons met hierdie bybelse beskrywing van sekularisasie in die hart van ons eie leefwêreld van die 21ste eeu staan!

Maar belangrik, gemeente, wanneer ons praat van goddeloosheid dan moet ons nie slegs dink aan die growwe vorme daarvan, soos dwelmhandel, korrupsie, kindermishandeling, bendegeweld en pornografie nie. Natuurlik, dit is ook deel daarvan. Maar goddeloosheid en godloosheid het baie dieper in ons lewens deurgedring; ons kan dit nie slegs beperk tot dié dinge wat selfs deur die wêreld nog met afgryse vermeld word nie. Nee, die goddeloosheid, die asebeia, word deur Paulus in 1 Timotheus 4 baie nader aan ons bestaan gebring as wat ons daarvan hou. Paulus bring die goddeloosheid tot binne-in die kerk! En dit maak die vraag des te dringender hoe óns, as gelowiges, daarop reageer. Hoe lewe ons as gelowige in ‘n sekulêre wêreld? Wat doen ons met die lewe waaruit God grotendeels verdryf is?

Tema: die gelowiges se taak tot heiliging van die lewe…1.      Regte taksering van die geskapene2.      Gepaste heiliging aan die Skepper 

1. Paulus begin hoofstuk 4 deur vir Timotheus en vir die Efesiërs te waarsku dat hulle nie verbaas moet wees om te sien dat sommige sogenaamde christene van die geloof afvallig sal word nie. Dit is, volgens die Heilige Gees in vers 1, juis een van die kenmerke van die laaste dae; dus, die periode vanaf Christus se hemelvaart tot by sy wederkoms word gekenmerk deur kerkverlating en geloofsafval. En die wortel van hierdie afval is die verleidende geeste en hulle duiwelse leer, wat – volgens vers 2 – via skynheilige leuenaars aan die mense oorgedra word. En die ergste, gemeente, is dat hierdie leuenaars nie eens meer besef dat hulle lieg nie. Want hulle is gebrandmerk in hulle gewete – dit beteken dat hulle gewetens al toegeskroei het, ongevoelig geword het. Ja, broers en susters, hoe meer die gewete gewoond raak aan ‘n bepaalde sonde of aan ‘n sondige leer, hoe minder pynlik is dit, en uiteindelik verdwyn alle gevoel. Op daardie punt is die gewete nie meer in staat om die siel te waarsku nie.

Dit wil voorkom asof dit hierdie soort van gewetenlose leuenaars was wat die gemeente van Efese, waar Timotheus werksaam was, bedreig het. Maar wat het hierdie valse leraars in die gemeente van Efese presies geleer? Wel, Paulus stel dit vervolgens in vers 3 aan die orde: “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel…” Dit is nogal verrassend! Gesien dít wat Paulus net hiervoor gesê het oor die verleidende geeste en die duiwelse leer, sou ‘n mens iets baie ergers verwag. Ons sou verwag dat hierdie valse leraars byvoorbeeld die godheid van Jesus Christus ontken het, of miskien verlossing deur goeie werke voorgestaan het, of ‘n ander kettery aangehang het. Maar nee, hulle verbied eenvoudig dat daar getrou word en gebied dat mense hulle moet onthou van voedsel.

 

Maar daar is in beginsel mos niks verkeerd daarmee om as ongetroude deur die lewe te gaan of om ‘n vegetariër te wees nie? Nee, God roep selfs sommige christene om ongetroud te bly of om vir ‘n tyd lank sekere kossoorte te vermy. Om die waarheid te sê, die apostel Paulus was geroep tot beide – hy was ongetroud en hy beklemtoon in 1 Korinthiërs 7:8 die waarde daarvan, en verder beoefen hy die bybelse praktyk van vas en gebed.

Die probleem, broers en susters, kom in wanneer hierdie of ander soortgelyke sake, wat relatief onbelangrik is, behandel word as hoofsake van die evangelie! En dit kan maklik in die kerk gebeur: sommige christene ontdek miskien ‘n nuwe manier om die huwelik gesond te hou, of hulle ontdek ‘n nuwe manier van bybelstudie, of hulle het ‘n unieke soort bekeringservaring gehad – en dit is alles goed en wel. Maar dan besluit hulle dat wat goed is vir hulle, ook verpligtend vir almal behoort te wees! En enige iemand wat nie doen wat hulle doen nie, word beskou as ongeestelik. Dit is presies wat die valse leraars in Efese gedoen het – hulle het hulleself toegewy aan een spesifiek dieet, en aan een spesifieke lewensstyl. Geen probleem nie. Maar toe wou hulle dit vir almal verpligtend maak. En gevolglik het hulle gëeis dat almal dieselfde praktyke sou oorneem deur hulleself van seksuele omgang en voedsel te onthou. Dit is ‘n gevaar waarvan ons nie vry is nie, gemeente, en laat ons daarteen waak.

 

Maar goed, dit daar gelaat. Kom ons delf ‘n bietjie dieper…

Wat was naamlik die agterliggende gedagtegang van die valse leraars se eise? Op grond waarvan het hulle hierdie eise gestel? Dit wil voorkom, gemeente, asof hierdie valse leraars geleer het dat die huwelik asook voedsel inherent sondig is. Volgens hierdie gedagtegang is alle fisiese / materiële dinge ‘n verhindering vir die geestelike lewe; daar word dus ‘n duidelike skeiding gemaak tussen die materiële en die geestelike dinge. Die siel is, volgens hierdie gedagtegang, al wat saakmaak. Fisiese behoeftes en begeertes, daarenteen, lei net tot sonde. Die enigste weg tot heiligheid is daarom onthouding, die vrywillige afswering van die huwelik en seks, en van vleis, en van alle ander materiële dinge. Hierdie dwaalleraars het dus, wat ons noem, ‘n asketiese lewensstyl voorgestaan en daarmee saam ook ander daartoe verplig.  

Gemeente, is dít dalk die oplossing vir die sekulêre wêreld waarbinne ons lewe? Kan ons moontlik aan die profane ontkom deur onsself in een of ander sakrale bolwerk terug te trek? Moet ons, wanneer die wêreld vir God en die geloof uitstoot na die privaat-domein, onsself gevolglik ook maar onttrek? Beteken die antitese, die vyandskap van Genesis 3:15 – “en Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad” – beteken dit ‘n volledige onttrekking uit die geskape werklikheid – as dit enigsins moontlik is!? Wel, miskien is dit vir sommige die antwoord, maar die Skrif stem duidelik nie saam nie.

 

Kyk maar hoe reageer Paulus op hierdie eis van die dwaalleraars in vers 3; hy sê hier dat die huwelik en voedsel juis dinge is “wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.” Dus, diegene wat die asketiese lewe voorstaan, wat die huwelik en voedsel verbied as iets minderwaadigs, is eintlik besig om God se skepping te minag, hulle is besig om goeie dinge te minag! Want, sê vers 4, “alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie.”

Hoor u hierin die refrein van Genesis 1: Toe sien God dat dit goed was… toe sien God dat dit goed was… – na elke skeppingsdag dieselfde heerlike erkenning deur die Skepper van alle dinge. En, ten slotte op die sesde dag, dit was baie goed! God se skepping, gemeente, is nie van ‘n laer orde nie; die geskape dinge is werklik goed, net so goed soos die geestelike dinge! Want hierdie wêreld en alles daarop kom van God af! My vrou en my kinders, my aandete van vleis en aartappels en blomkool – dit kom van God af. Hy het Hom nie geskaam om die vlerke van ‘n muggie en die toontjies van my babatjie te maak nie; Hy skaam Hom nie om man en vrou so aan mekaar te verbind dat daaruit ‘n kind gebore word nie. Inteendeel, dit is vir Hom pragtige werk. Dit is vir Hom kunswerk! Dit is vir Hom heilig!

 

Hierdie laaste is baie belangrik, broers en susters. Die geskape dinge is heilig; immers die heilige God het dit alles gemaak. Die sonde lê daarom nie in die stoflike nie! Die sonde lê nie in die televisie, en in sport en in die internet, in drank of tabak nie. Die bioskoop en die kroeg, rand en sent, die klerewinkel en die videowinkel – dit alles is in sigself nie sondig nie. Ja, die sonde steek kop uit omdat my hart bedorwe is, omdat ek en die wêreld die dinge verkeerd gebruik en selfs misbruik – dit is daarom nie verniet dat Paulus tot twee maal toe herhaal dat ons die geskape dinge met danksegging moet ontvang nie; die regte houding moet na vore kom in ons gebruik van die geskape werklikheid. Maar in sigself is al hierdie geskape dinge goed! Ek mag daarom nie die Here en sy maaksels beledig deur ‘n kunsmatige onderskeid tussen die materiële en die geestelike, tussen natuur en genade te maak nie. Nee, die Here plaas my volledig binne die geskape werklikheid, sy geskape werklikheid. En hier waar ek geplaas is, moet ek leer om die Allerhoogste God in sy wérke te eer!

Broers en susters, laat ons dit aan mekaar en aan ons kinders voorhou. Ons help ons kinders en ons jongmense nie wanneer ons die indruk skep asof die gesekulariseerdheid van ons wêreld in die geskape dinge skuil nie, asof die geskape dinge op sigself sleg is nie. En ons help hulle ook nie wanneer ons hulle om dié rede aan al hierdie dinge onttrek nie: “Jy mag nie bioskoop toe gaan nie, want die bioskoop is ‘n sondige plek.” Nee, verkeerd! Of: “Los nou die drank, dit is sleg vir jou.” Nee, verkeerd! Uiteraard skuil daar gevare in die bioskoop en die kroeg, in drank en tabak; en gevolglik moet ons ons kinders daarteen waarsku. Maar waarsku hulle teen die werklike gevaar! Paulus maak immers in Efesiërs 6 baie duidelik dat ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie, … maar teen die bose geeste in die lug. Teen daardie bose geeste moet ons mekaar waarsku, dáár lê die gevaar!

Dit is dus baie belangrik dat ons aan mekaar en aan ons kinders die regte perspektief op die geskapene sal gee. Die geskape dinge is God s’n, en ons mag dit alles – sonder uitsondering – met danksegging gebruik! Loof die Here vir sy skepping, loof Hom vir alle geskape dinge, loof Hom vir die gawe van seksuele omgang, loof Hom vir die rooiwyn en die braaivleis! Die sondige dinge egter kom van die duiwel af, dit kom vanuit die wêreld en vanuit ons sondige hart – die sogenaamde drie doodsvyande – en dáárvan moet ons ver weg bly. Sekularisasie van ons geskape wêreld is gewortel in die sonde! En daarom moet ons die sonde bestry en nie die skepping nie!

Vervolgens let ons op gepaste heiliging aan die Skepper.

 

2. Gemeente, die antwoord op die sekularisasie van ons tyd is dus nie om die geskape dinge te ontvlug nie, want dan minag ons God en sy skepping. Maar wat is dan wel die antwoord? Wel, volgens Paulus in vers 5, moet die geskape dinge nie ontvlug word nie, maar eerder geheilig word. Immers, al die geskape dinge wás heilig, sakraal. Niks was profaan by die skepping nie. Dit is eers aan die sonde diensbaar gestel ná die sondeval in Genesis 3. Maar noudat ons verlostes is, noudat Christus die verlossing vir ons bewerk het, nou gaan ons dit weer heilig. Nou gaan ons dít wat geskape is, terugvat en aan God teruggee as syne, as die materiaal waarmee Hy gedien kan word. Besef u die impak hiervan, broers en susters? Besef u die verantwoordelikheid wat daar op ons rus? God plaas ons voluit op hierdie aarde, en Hy sê: heilig dít wat Myne is aan My!

Maar hoe gaan ons dit doen? Wat is die wyse van heiliging en toewyding? Werk dit dalk soos by die Roomse leer van die transsubstansiasie? U onthou mos daardie leer wat gaan oor die Roomse mis? By die roomse mis word naamlik gewone brood en gewone wyn gebruik, maar dit was vir die Roomses nie goed genoeg nie. En daarom word hierdie gewone brood en wyn deur die formules wat die priester uitspreek, heilig gemáák, gelaai met magiese krag – of so word altans beweer. Deur die fomules van die priester word gewone brood fisies die liggaam van Christus en word gewone wyn letterlik sy bloed. Só word dit wat profaan is, sakraal gemaak. Gemeente, is dit hoe ons die dinge gaan heilig? Gaan ons geheime woorde prewel wat die dinge magies sal laai?

 

Nee, sê Paulus in vers 5 van ons teks, die heiliging vind plaas deur die Woord van God en deur die gebed. Dit is ‘n baie belangrike kombinasie wat Paulus hier gebruik – Woord en gebed. Die Woord beteken naamlik dat God tot my spreek, vanuit die hemel kom daar ‘n woord na die aarde toe, en daardeur skep God gemeenskap. Hy kom in die Middelaar na my toe. Ek het ‘n Mens op aarde geken wie se hand ek kon skud. God het my aangespreek toe Hy by my kom staan het in Jesus Christus. Jesus Christus, die Woord, lê verbinding tussen my en God. Deur sy Woord kom God na ons toe en bewerk Hy ‘n intieme verhouding. En daarna en as antwoord daarop kom dan die gebed. En wanneer ons ‘gebed’ sê, dan bedoel ons daarmee dat ék nou aan die woord kom. God bid nie, in elk geval nie tot my nie. Nee, in die gebed soek ék kontak met Gód. Ek spreek Hom aan, ek staan daar as klein mensie. En Hy sê vir my: “Ek is naby jou. Sê wat jy wil, spreek My aan, eis van My vrymoedig. As jy bid, is Ek onmiddellik byderhand.”

Só, gemeente, ontstaan daar ‘n pad van tweerigtingverkeer. Enersyds die Woord van God – Hy spreek my aan. Andersyds die gebed – ek spreek Hom aan. En daardie Woord, die lewende woord van sy kant af, en die voortdurende spreke in die gebed van my kant af – dit skep verkeer op die weg van die verbond. God kom van daardie kant af, ek kom van dié kant af, en só vind ons mekaar, só ontstaan daar ‘n ontmoeting.

 

En as dít gebeur, sê Paulus, as ons mekaar op dié manier vind, dan word die dinge geheilig. Al die geskape dinge word geheilig wanneer God en ek mekaar ontmoet in Woord en gebed. Nie deur formules nie, nie deur een of ander mistieke handoplegging nie. Nee, luister na die Woord van die Here, bid vervolgens in geloof tot die Here, en kyk dan na jou vrou en jou kinders, na jou besigheid, na jou kar en jou televisie, na jou bed en jou kombuis, en sê: “Here, dit is alles aardse goed, alles geskape dinge, maar dit kom van U af en dit is dinge wat tot U eer gebruik moet word.” En so vind heiliging plaas. Hy spreek eerste, jy spreek daarna, en daardie ontmoeting bring alle geskape dinge onder sy heiligheid, juis omdat jy jousélf as gelowige, as amspdraer, eerste onder God se heiligheid gestel het. As gelowige word jou daaglikse omgang met die geskape dinge dan volledig ‘n saak van God. Nie meer geskeide terreine nie, nie meer die profane waar ek myself kan uitleef, en vervolgens die sakrale waar ek voor God se heiligheid moet buig nie. Nee, as gelowiges wy ons alles aan God se heiligheid, en dan wórd die dinge ook heilig!

Ons het dit op ‘n besondere wyse gesien in die gedeelte wat ons saam gelees het uit Sagaria 14. Sagaria skets in hierdie hoofstuk vir ons iets van die oorwinning van Jesus Christus oor al sy vyande. En dan wys hy daarby ook vir ons dat in die Koninkryk van Christus die onderskeid tussen profaan en sakraal – tussen wêrelds en heilig – opgehef word. In die Ou Testamentiese erediens was daar naamlik ‘n duidelike afgebakende terrein wat in besonder aan die Here gewy was, naamlik die tempel met die omringende tempelarea. En in die tempel was daar ook weer onderskeid tussen dít wat meer en dít wat minder heilig was. Besonder heilig was byvoorbeeld die borsplaat van die hoëpriester, waarop die woorde geskrywe was: HEILIG AAN DIE HERE (Eks. 28:36).

Maar nou sien Sagaria tot sy verbasing hierdie selfde opskrif geskryf staan op die klokke van die perde. Doodgewone pérde – aan die Here gewy! En ook al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die HERE van die leërskare heilig wees. Dit was voorheen volstrek verbode. Daar was aparte, heilige, potte en panne, waarin die offervleis gekook is. Dit sou ernstige heiligskennis wees as die priesters vir die tempeldiens doodgewone potte en panne uit die kombuis gebruik het. Maar in die Koninkryk van Christus gebeur dit wel. En dit is nie grootskaalse heiligskennis nie, maar eerder grootskaalse heiliging. Daar is geen oorwinning vir die profane nie, maar deurbraak van Christus se heiligheid.

 

Gemeente, die realiteit van wat hier aan ons deurgegee word, is geweldig groot en mooi. Deur die oorwinning van Jesus Christus aan die kruis kom elke duimbreedte van die geskape werklikheid onder sy heerskappy, en word elke gelowige tot hoëpriester bevorder. Weg daarom met die voorhangsel, weg met die tempel, weg met die altaar en die offers. Daar is nou nie meer net ‘n klein terrein waar die Here geheilig word, en ‘n groot terrein daaromheen waar dit nie gebeur nie. Alles word nou in sy diens geheilig. Wanneer ons daarom bid: Laat u Naam geheilig word, dan is daar geen terrein van die lewe wat nie hieronder val nie. Die gelowige wat hierdie bede bid, annekseer alles vir sy Koning. Ons moet daarop uit wees om die terrein van die profane al hoe meer te laat krimp, en die heilige terrein groter en groter te maak. En onthou: daar is geen neutrale niemandsland tussen-in nie.

Nee, as hoëpriesters gaan ons uit om alles onder Koning Jesus se Naam te kry. Elke dag word aan die Here gewy, nie slegs die Sondag nie. Elke deel van ons huwelik is heilig aan die Here, nie net wanneer ons saam bybel lees en bid nie. Elke rand en sent van my begroting is heilig aan die Here, nie net my VVB nie. Elke keer wanneer ek die televisie aansit, is ‘n heilige daad voor die Here, nie net wanneer ek ‘n christelike program kyk nie. Elke drankie wat ek drink, is heilig aan die Here, nie net die slukkie nagmaalswyn nie. Dít, broers en susters, is die ingesteldheid waarmee ons as gemeente die wêreld behoort in te gaan. Ons sluit as kerk nie die deure nie; nee, ons maak dit oop en ons gaan uit en ons verower deur heiliging wat aan die Heilige behoort! Kom ons wees op dié manier hoëpriesters, almal saam maar ook elkeen afsonderlik in sy of haar daaglikse bestaan, tot in die geslote binnekamer toe. Geroepe heiliges, gaan uit en gaan verower die wêreld!

 

En eendag, in die nuwe Jerusalem, sal hierdie heiligingsproses vervolmaak word. In die nuwe Jerusalem sal alles tempeldiens wees. En daarom kan Johannes in Openbaring met soveel blydskap sê dat daar in die nuwe Jerusalem nie meer ‘n tempel is nie. Nie omdat die Here nie meer gedien sal word nie, maar eerder die teendeel: die Here sal oral gedien word. ‘n Afsonderlike tempel sal dan nie meer nodig wees nie, alles het dan tempel geword. Die nuwe aarde sal een reusagtige tempel wees, elke diens sal altaardiens wees, elke daad ‘n offerande, elke woord ‘n lieflike geur voor die Here. Dan sal die Heilige wees alles en in almal! Ons sien uit daarna, ons verlang na hierdie dag. Maar intussen… kom ons en alles waarmee ons in aanraking kom wees heilig, want ons God en Verlosse is heilig.

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 87:2, 4 en 5

Wetslesing

Sing Ps. 17:1-3

Gebed

Lees:    1 Timotheus 4:1-5

            Sagaria 14:16-21

Kollekte (alles heilig aan die Here)

Sing Ps. 66:1, 6 en 9

Teks: 1 Timotheus 4:4-5

Preek

Amenlied Ps. 19:1, 3, 5 en 6

Gebed

Slotsang Skr. 9:4-6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)