In onsself of buite onsself?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-11-09
Teks: 
Lukas 18
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Lukas 18:13b; lees Lukas 18:9-14, Kolossense 3:1-4

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In onsself of buite onsself? Dít is die belangrike vraag, broers en susters, wanneer ons vanoggend by hierdie spesifieke gedeelte van die nagmaalsformulier wil stilstaan. In onsself of buite onsself…? Onthou hierdie vraag, ons keer later weer daarheen terug.

 

Gemeente, ons het sopas die tien gebooie van die Here gehoor, en daarmee saam het ons die lys van sondes gehoor wat die nagmaalsformulier op grond van daardie tien gebooie uitlig. Elkeen van ons was veronderstel om – in die afgelope week, maar ook vanoggend hier in die erediens – persoonlik ons lewens te toets aan die standaarde van daardie volmaakte wet – hoe staan dit dus met jóú lewe voor die Here? Dit beteken dat jy met die kollig van die Woord van die Here deur jou hele lewe moet gaan rondspeur en ondersoek doen – hoe staan ek soggens op, hoe groet ek my vrou en kinders, hoe ry ek werk toe, hoe verrig ek my daaglikse arbeid, hoe hanteer ek my kollegas, hoe kyk ek na die teenoorgestelde geslag, hoe vul ek my Sondag in, hoe kyk ek televisie, wat maak ek met my geld, met watter gesindheid gaan ek winkel toe, wat en hoe eet en drink ek, ensovoorts. Elke duimbreedte van jou lewe word op dié manier deur die hemelse buro vir standaarde gemeet.

En dan ontstaan die vraag, broer en suster: wat was die uitslag van jou ondersoek? Het jy gedop? Of het jy dalk nie so sleg daarvan afgekom nie? Wie mag op grond van die uitslag van sy ondersoek net hierna vorentoe kom om die nagmaal te vier? Gemeente, dit is belangrik dat ons hierdie twee vir ‘n oomblik teenoor mekaar sal stel – het jy geslaag of het jy gedop? Oënskynlik doen die Here Jesus dieselfde in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar wat ons saam gelees het in Lukas 18.

 

In hierdie gelykenis vind ons aan die een kant die Fariseër – dit is baie duidelik dat hy dit gemaak het, hy het geslaag; immers hy is nie ‘n rower of ‘n onregverdige of ‘n egbreker nie, hy vas twee keer per week en hy gee tiendes van al sy besittings (vers 11-12). En aan die ander kant is daar die tollenaar – nodeloos om te sê dat hy dit nie maak nie; ja, hoe dan anders, hy is immers ‘n ‘tollenaar’, een van die slegte mense van die Joodse maatskappy van daardie tyd. En dit wil voorkom uit sy optrede asof die tollenaar dit self ook besef het, want terwyl hy bid, wil hy nie eens sy oë na die hemel ophef nie, en slaan hy uit magteloosheid met sy vuiste op sy bors (vers 13).

Nou moet ons goed besef, gemeente, dat vir die skare wat na Jesus se gelykenis geluister het, daar niks vreemd aan hierdie eerste gedeelte van die gelykenis was nie; Jesus se beskrywing het heeltemal binne hulle denkpatroon gepas. Dit is presies wat hulle verwag het, en hulle het waarskynlik alreeds ‘slaag’ en ‘dop’ ingevul agter die name van onderskeidelik die Fariseër en die tollenaar. Maar dan volg die skok… want Jesus se konklusie tot hierdie gelykenis (vers 14) strook nie met wat hulle verwag het nie: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan, eerder as die eerste een.” Die tollenaar geregverdig? Maar… hoe werk dit dan? Hoe kan die onsuksesvolle kandidaat voor God geregverdig word, terwyl die suksesvolle kandidaat met leë hande weggestuur word? Is dít nie onregverdig nie? Maar Jesus het ‘n baie besliste antwoord op hierdie beswaar: “… elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”

 

Gemeente, hoewel Jesus dus aanvanklik die Fariseër en die tollenaar teenoor mekaar stel asof die een ‘n suksesvolle en die ander ‘n onsuksesvolle kandidaat is, wys Hy in sy konklusie dat hierdie teenstelling – wat in die oë van die volk heeltemal normaal was – ‘n verkeerde teenstelling is! In werklikheid is daar geen teenstelling nie, in werklikheid staan die Fariseër en die tollenaar sy aan sy! Want die vraag is nie wie slaag en wie dop nie. Nee, Jesus wys met hierdie gelykenis dat ons álmal dop. Niemand slaag die toets voor God se regterstoel nie; saam staan ons in ons verlorenheid voor God; niemand het rede om homself bo ander te verhoog nie. Die vraag “slaag ek, of slaag ek nie” is dus ‘n onvanpaste vraag; dit is ‘n irrelevante vraag. En ag, gemeente, ons is so goed daarin om irrelevante vrae te stel; wie van ons toets nie so nou en dan ons lewens en ken vervolgens onbewustelik ‘n slaag- of faalsyfer aan ons lewens toe nie!? Maar dan sê die Here Jesus: “Fariseër, hou op met hierdie nuttelose praktyk! Hou op met hierdie irrelevante vraagstelling!” Die relevante vraag is die een wat ons reg aan die begin van die preek gestel het: in onsself of buite onsself? Soek ons, as mense wat almal die toets gedop het, die regverdiging vervolgens in onsself, of soek ons dit buite onsself in Christus? Dít is die regte vraag!

Gemeente, wanneer ons eerlik ons lewens toets in die lig van die Woord en die wet van die Here, dan moet ons almal van onsself erken: “Sondaar; ek, ellendige mens!” Ek is ellendig in my verhouding met my vrou en kinders, ek is ellendig in my kerklike betrokkenheid, ek is ellendig in my pligsgetrouheid by die werk. Sonder uitsondering is dít die stempel op elke gelowige se rapport: “Dop! Sondaar!” En dit is interessant dat die nagmaalsformulier hierdie verpletterende boodskap ook eenvoudig as ‘n gegewe aanvaar. Immers, net nadat ons die wet en die gepaardgaande sondes aangehoor het, vra die formulier nie óf ons verslae van hart is nie; aan jou word nie die keuse gelaat om te besluit óf jy dit gemaak het nie. Nee, die formulier gaan eenvoudig uit van die feit dat jy dit nie gemaak het nie; luister maar: “… geliefde broeders en susters, die bedoeling is nie om aan die gelowiges wat reeds verslae van hart is, alle moed te ontneem nie…” Reeds verslae van hart – dit is eenvoudig die realiteit, omdat die sonde in my lewe ‘n realiteit is.

 

Maar die belangrike is nou, broers en susters, hoe hanteer ons hierdie realiteit? Wat doen ons met ons verslae harte en ons beroerde toets-uitslae? En nóú kom ons terug na daardie heel eerste vraag: in onsself of buite onsself? Kom ons luister nog ‘n slag na die formulier. Nadat die feit gestel is dat ons reeds verslae van hart is, vervolg die formulier: “Ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons erken juis noudat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, dat ons midde in die dood lê.” Gemeente, hier kom ons by die hart van ons verlossing uit – nie in onsself nie, maar buite onsself! Ons hanteer die realiteit van ons verlorenheid nie deur hier binne te begin krap nie, ons hanteer die realiteit nie deur naarstig te begin soek na enige teken van iets goeds in my nie: as ek maar net iets het om aan te bied… Nee, sê die formulier in navolging van die Skrif, wég van myself, wég van hier waar die reuk van die dood hang, wég van hierdie doodsbestaan. Soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit; bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie – dit is Paulus se oproep in Kolossense 3:1-2. Die harte omhoog: soek dit buite jouself in Christus!

Gemeente, die persoon wat sy toevlug tot Christus neem, soek die heil nie meer by en in homself nie. Die soeke na Christus wat daarbo is, is juis ‘n erkenning van jou eie verlorenheid. En hierdie erkenning is so nodig, broers en susters, want ons lê midde in die dood, soos die nagmaalsformulier sê. Nee, ons het nie midde in die dood gelê nie, ons lê nou – op hierdie oomblik – daarin! Dit gaan hier oor ‘n permanente situasie. Dit gaan oor ‘n situasie wat ek vandag nog ervaar en wat ek sal ervaar tot die einde van my lewe. Immers – so vervolg die formulier – daar is nog baie sondes en gebreke in ons hart en lewe. Ten eerste het ons nie ‘n volmaakte geloof nie; ten tweede dien ons God nie met so ‘n ywer as wat ons verskuldig is nie; en ten derde moet ons daagliks stry teen die swakheid van ons geloof en die sondige begeertes van ons vlees. Nie vir een oomblik laat die sonde en die dood ons met rus nie. God se kind het slegs ware lewe wanneer hy deel in die gemeenskap met Christus. Buite Hom is daar geen lewe nie; buite Hom is daar geen gevoel van lewe, of blydskap, of vrede nie. Besef ons die ontsaglike impak van hierdie woorde, gemeente: Christus is ons lewe!

 

En, broers en susters, dáárom kom ons nagmaal toe! Ons kom vorentoe om Hom te eet en te drink, omdat ons geen ander voedsel tot die lewe het nie. Ons kom vorentoe om gemeenskap met Hom te hê, omdat ons weet dat geen ander verhouding of vriendskap of huwelik voldoende is nie. Ons kom vorentoe om vertroos te word, omdat ons weet dat geen ander troos betekenis het sonder Hom nie. Ons kom vorentoe om van Hom te geniet, omdat ons weet dat geen ander vreugde ons dieselfde genieting bied nie. Ons kom vorentoe met sowel skroom en vrymoedigheid – skroom omdat ons weet dat ons dit nie verdien nie, maar ook vrymoedigheid omdat ons weet dat ons daarsonder ewig verlore is.

Christus is ons lewe! En dan vra u miskien: maar watter effek het dit nou vir die lewe van elke dag? Wat bied hierdie boodskap my vir more en oormore? Wel, gaan lees maar die res van Kolossense 3 – ek roep u op om dit vanmiddag by die huis te gaan doen. En sien in die res van hierdie hoofstuk dat die lewe in Christus voorwaar lewensveranderend is! Niemand, wat die res van Kolossense 3 lees, kan sê dat die boodskap van die lewe in Christus geen relevansie het vir Maandag en Dinsdag nie. Die vertikale lewe in Christus – onthou: soek die dinge daarbo! – het effek sover as wat die horisontale lewe homself uitstrek. Gaan lees dit maar…

 

Maar, broers en susters, saam met Paulus moet ons wel erken dat dit ‘n verborge lewe is (Kol. 3:3). Immers, ons lewe is in Christus, maar Christus is in die hemel. Die luister en die heerlikheid van die nuwe lewe is in hierdie lewe nog grootliks verborge, soos dit ook met die heerlikheid van Christus die geval is; die huidige lewe is ons nog kwesbaar en sondig. En met hierdie feit moet ons saamleef totdat Christus sy heerlikheid aan die wêreld sal openbaar. Eers dan sal die belofte van vers 4 verwerklik word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Daar kom ‘n dag – en daardie dag is nie meer ver nie – wanneer Christus sy heerlikheid vir almal ten toon sal stel, ‘n dag waarop elkeen sal moet erken: Christus is Koning. En op daardie dag sal ook sy kinders in hulle heerlikheid te voorskyn tree. Ja, die skepping wag met reikhalsende verlange na die openbaarmaking van die kinders van God!

Maar tot op daardie dag wanneer ons met Christus verenig sal word, wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien, bly die oproep geld: hef julle harte omhoog na Christus in die hemel. Hierdie oproep is dodelik erns aan mense wat geneig is om die lewe hier te soek; vir daardie mense – ons almal, dus – geld: Jou lewe is daar! Net daar!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • Votum: sing Ps. 121:1
  • Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
  • Sing Ps. 108:1 en 4
  • Kort gebed
  • Lees formulier
  • Na selfondersoek (+ wet) lees:

Lukas 18:9-14

Kolossense 3:1-4

  • Sing Ps. 86:1, 3 en 6
  • Teks: Lukas 18:13b
  • Preek
  • Sing Skr. 33
  • Lees formulier verder
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 36:2
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Skr. 19:1 en 2
    • Tweede tafel – Skr. 19:3-5
    • Derde tafel – Skr. 19:6 en 7
  • Voltooi formulier & dankgebed
  • Kollekte
  • Slotsang Ps. 138:1 en 2
  • Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Liturgie: 

(kyk in preek)