Wie God se kleintjies verag, sal te doen kry met hul engelewag

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-10-12
Teks: 
Matthéüs 18
Preek Inhoud: 

Liturgie:

Votum en seengroet
Ps 100:1,3,4
Wetslesing
Ps 86:6
Gebed
L. Matth 18:1 11
Ps 35:2,3,11
Prediking
Ps 34:4
Gebed
Kollekte
Ps 131:1,2
Seen


Broeders en susters,

Is daar beskérmengele?
Het God aan elke gelowige afsonderlik 'n engel toegewys om hom spesiaal te beskerm?

Dalk vind u dit maar 'n snaakse vraag. Maar al die eeue dwarsdeur het mense so geglo. En hierdie gedagte is veral ontleen aan dit wat ons in ons teks van vanmôre lees. Het God se kleintjies nie hulle besondere engelewag nie?!
Die Jode het al in besondere beskermengele geglo. En by die kerkvaders in die eerste eeue na Christus lees ons hele vertoë oor vrae soos:
het álle mense 'n beskermengel of net die christene? Het elke mens net 'n goeie engel aan sy syde of ook 'n slegte? Wanneer word die beskermengel aan 'n mens toegewys: dadelik by die geboorte, of by die doop?
Soseer het hulle geglo in die bestaan van beskermengele! In die Rooms Katolieke kerk het is 2 Oktober selfs aangewys as die feesdag van ons engelbewaarder!

Die kerke met die Gereformeerde belydenis was altyd maar baie huiwerig  vir die gedagte van afsonderlike beskermengele. Kom die persoonlike engelbewaarder nie al gou tussen ons en ons enigste Middelaar Christus in te staan nie??
Maar het die huiwer vir verkeerde engeleverering by ons die bestaan van God se engele wat ons met hulle besker-ming omring, so goed as heeltemal uit ons aandag weggedruk het nie?
Wie van u hou nog rekening met die engele? Wie vertrou nog op hulle hulp? Wie vrees hulle onsigbare krag en aantal?
Die Here Christus sê dit darem in ons teks: wie God se kleintjies verag, kry te doen met hul engelewag!
Wat het Hy bedoel?
Kom ons luister nadie boodskap van ons teks:

Wie God se kleintjies verag, sal te doen kry met hul engelewag.

Ons sal agtereenvolgens aandag gee daaraan:
1. wie of die kleintjies is
2. hoedat hul engele help
3. wie of hier gewaarsku word.

1. Wie is die "kleintjies" waarvan die Here Jesus hier praat en wat ons nie mag verag nie?
Is dit die kinders in die kerk?
Die peuters en kleuters, die kinders van die laerskool dalk ook nog?
Die Here Jesus het mos net nou so'n kind opgetel en midde in die kring van die groot apostele gesit?
Ja, die Here bedoel hulle sonder twyfel.
Maar nie net hulle nie! Hy bedoel net so goed ook groot mense, sterk en self-standig, dié wat van hulleself dalk eers gedink het hulle beteken heelwat. Maar wat moes leer om soos  kinders te word.

Ons tekswoorde vorm 'n onderdeel van die uitvoerige onderwys wat Christus gegee het na aanleiding van die vraag van sy dissipels: "Wie is tog die grootste in die Koninkryk van die hemele?"
Natuurlik: die allergrootste sou die Koning van hierdie ryk self wees. Maar daarna? Hulle wou graag weet hoe verder die post verdeel gaan word.
Dit was nie so 'n snaakse vraag nie. Het Jesus nie self partykeer 'n duidelike onderskeid gemaak nie? Uit al sy volgelinge het Hy mos twaalf manne spesiaal uitgekies om altyd by Hom te wees. Is hierdie twaalf meer as die res?
Maar uit hierdie twaalf het Jesus af en toe ook nog weer aan drie manne ‘n besonderse plek gegee: Petrus, Johan-nes en Jakobus. Nog onlangs mog net hulle drie met Hom saam die berg uitklim waar die Here 'n oomblik 'n wonderlike ontmoeting met Moses en Elia mog hê. Was hierdie drie dus meer as die ander nege? En was Petrus dalk  van hierdie moderamen van drie nog weer die voorsitter? Christus het tog vir Hom gesê dat Hy op hierdie petra, die rots, sy gemeente sou bou?

Die vraag van die apostels is dus nie so snaaks nie. Maar dis darem ook nie ‘n goeie vraag nie, hierdie. Want uit dit wat Lukas hieroor vertel (hfst.9), begryp ons dat daar afguns en mede-dinging ‘n rol gespeel het. Hulle wou maar nie net saaklik weet hoe of die take net nou verdeel sou word nie. Maar elkeen wou graag bietjie méér as die ander bete-ken. Niemand wou graag mínder as die ander wees nie.

Daarom het die Heiland toe spesiaal gaan sit om sy dissipels te leer wàt dan hulle almal se belangrikheid in God se Koninkryk is. Hulle moet besef geneen van hulle kan homself beroem op dit wat hy van sy eie is nie. Hulle mag slegs verwonderd wees oor dit wat hulle deur Christus gewórd het. Hulle moet nie onderling wedywer nie, maar besef hulle is saam kinders wat in die kring rondom Hom, God se groot Seun, mag staan. 
Dis hoekom die Here daardie kind na Hom toe roep. 'n Kind dalk van Petrus in wie se huis hulle moontlik was en wat daar onbekommerd bietjie op 'n afstand van daardie kring van groot manne gespeel het. Die Here Jesus roep dit, haal dit midde in die kring, slaan sy arms om hom, en sê: "As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die Koninkryk van die hemele ingaan nie!"
Daardie groot dissipels moet hulleself so klein gaan voel soos hierdie kind wat daar nou skaam en beïndruk teen Jesus aanhang. Hierdie kind wat hom verbaas laat roep en optel en by die Heiland laat neersit het. Só moet die dissipels word.
Die Here wil daarmee sê: dit gaan nie daaroor wie júlle is nie, en of julle meer of minder as 'n ander is nie. Dit gaan daaroor dat Ek julle opgetel en in die kring geplaas het en julle by My mag behoort. Dít maak julle belangrik. Hou op daarmee om julleself met die ander te vergelyk en om meer as die ander te wil wees. Julle hoef maar net soos 'n kind te wees wat hom deur My laat roep het. En die wat nie so wil wees nie, is heeltemal voorbarig as hy oor die verdeling van die poste in die Koninkryk van die hemele begin stry. Want jy sal nie eers in hierdie ryk ingaan nie!

Maar die wat homself so gering ag soos hierdie kind teenoor My en my Vader, hy word belangrik in die koninkryk van die hemele. Ja, en dan moet ons veral ook nog lees, broeders en susters, hoe dat Christus sy onderwys dan vervolg. Want dan gaan praat Hy in vs.5 oor die "ontváng" van so’n kind: "Elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My".
Dit lyk maar 'n eienaardige vervolg. Die dissipels het gevra: wat van óns? Christus sê: wat van die mense wat julle ontváng?
Daarmee wil die Here sy dissipels daaraan herinner dat hulle geroep is om "ontváng te word". Hulle het nie sy leeerlinge geword om sélf iets te wees nie, maar om ander iets te laat word. Hulle word net nou uitgestuur om ook ander mense tot die Koninkryk van God te roep.
En nou sê die Here: dis genoeg dat hulle julle vanweë my Naam ontvang. Die apostels hoef nie sélf naam te maak nie. Chrístus moet deur hulle by die mense ontvang word.
Sal hulle net nou belangrik genoeg wees om indruk te maak?
Jesus sê: dis hoegenaamd nie belangrik nie. Al kom daar 'n kleuter, ‘n kind uit graad 1 of 2 van die Laerskool in die Naam van Jesus  dan moet die mense daardie kind ontvang asof dit Jesus sélf is. So belangrik is so'n kleintjie!

Nou maar goed, as ons nou dus weereens vra: wie is die kleintjies waarvan die Here in ons teks praat?, is  die antwoord dus: ons almal behoort dit te wees. Christus roep ons almal, groot en klein, senior burgers en kleuters, om klein te wees voor God.
Die belangrikste ding moet nie vir ons  wees hoe dat die ménse teen ons ópsien nie. Maar die belangrikste ding moet wees hoedat Gód uit die hemel op ons néérsien. Hy het ook ons as 'n kind van Hom in die kring geroep. Waar ons nou skaam en verwonderd staan en kyk.  Verwonderd daaroor dat Christus alreeds by ons doop sy arms om ons geslaan en ons in sy Koninkryk ingehaal het. En dat Hy ook ons nou wil gebruik om in sy Naam ander mense in hierdie wêreld na die Koninkryk van die hemel te roep.

2.   Maar dan moet u wel bewus wees daarvan dat baie mense nou glad nie meer teen ons opsien nie, broeders en susters.
Hierdie wêreld reken mos slegs met sterk persone, mensen wat van hulle self iets beteken. Daarom minag hulle die kinders van God se Koninkryk wat nie omgee om in God se oë klein te wees nie.
Dit is aanhoudend die lot van die kerk en sy lidmate. Wie deur Christus aangeneem word, word deur baie mense weggestamp. Dié ondervind haat, verset. Daar word  met jou glad nie meer rekening gehou nie.
Die apostels het dit spoedig ervaar. En die kerk in die eeue daarna byna onophoudelik. Sendelinge ervaar dit nog altyd in 'n vyandige heidense omgewing. Dalk kom u dit agter by u werk. Ons kan daaronder ly as in ons werk nie maar op ‘n manier nie, maar totaal en al aan God se gebooie wil trou bly.
Sulke veragting kan veroorsaak dat ons ons nog ekstra klein voel, broeders en susters. Onbeduidend, swak en alleen. Wat kán ons maak teenoor soveel teëstand? Maar dan sê Christus in ons teks: God se kleintjies staan in hierdie wêreld glad nie alleen nie! Inteendeel, net soos Elia dit vir sy kneg gesê het, mag ook ons dit aan onsself en aan mekaar voorhou: "die wat by ons is, is baie meer as die wat by hulle is".
Ons het God se engele aan ons kant!

En of ons dan elkeen ons eie bescherm-engel het of nie  ek weet nie. Maar wat maak dit saak? Want dit is in elk geval nie so dat daar vir elkeen van ons maar net een engel is nie. Daar is baie meer as een. Ons God is die Here van die leërmagte. Hy kan beskik oor tienduisend maal duisend, legioene van engele, wat  so sê Christus dit in ons teks : "altyd die aangesig sien van die Vader wat in die hemele is".
Gedurigdeur staan hulle in kontak met ons hemelse Vader oor hoe dit met ons hier op aarde gaan. Met duisende waak hulle oor elkeen van ons. Is dit nie baie trroosvol nie? Joh. Calvyn sê baie nugter in sy boek Die Institusie: “As dit iemand nie tevrede stel dat al die hemelse leërmagte oor sy heil waak nie, kan ek nie insien watter voordeel hy daaruit kan behaal as hy weet dat een engel in besonder as sy beskermer aan hom gegee is nie”.
Ja, ook as ons nie elkeen 'n eie beskermengel het nie, hou nogtans God se engele elkeen van ons afsondelik dop. Met nadruk praat Christus in ons teks van: wie een van hierdie kleintjies verag  al is dit ook maar net een  sal te doen kry met God se engelewag. So hoog slaan die engele God se kleintjies aan! Met dié bemoedigende wete mag ons in hierdie wêreld lewe, gemeente.

Maar kan ons dit nou ook agterkom? Word hierdie engelehulp vir ons ook merkbaar? Die apostele het baie beslis iets daarvan agtergekom. Die boek Handelinge vertel mos meermale hoedat engelehulp die apostels ondersteun het by die verbreiding van die evangelie.
En ons ken ook uit die geskiedenis van die sending en evangelisasie van die laaste eeue nog allerhande indrukwek-kende verhale wat onmiskenbaar op die beskerming van God se engele dui.
Moenie dat ons van sulke geskiedenisse alte gou sê dat dit natuurlik onsin is nie. Dat dit seker maar versinsels sal wees nie.
Hoekom neem ons nie ons vertrekpunt in die werklikheid dat daar engele ís, orals rondom ons in God se skepping nie? En dat die HERE hulle stuur om ons te beskerm en te help. Hoe hulle dit ook al mag doen.
Al behoort hulle vandag ook vir ons tot die meestentyds onsigbare skepsele  sou dit nie so kon wees dat God hulle,  indien Hy dit nodig ag, ook sigbaar gebruik om ons by te staan nie?
Nee, ons moenie ons so aan dergelike verhale vasklamp, dat ons eers wil glo dat die engele ook vir ons elke dag help as ons iets daarvan te sien gekry het  nie. Want al kan God ook gebruik maak van sigbare engelehulp  gewoonlik bly hulle onsigbaar. Maar daarom ís hulle wel hier! Elke dag, gedurigdeur. Dit moet ons vas gelo.
Die leërskare van die HERE staan aan ons kant, hoe swak, klein en onbeteken-end ons partymaal ook mag voel in hierdie wêreld. Hulle stry voor ons teen die bose geeste by die teëstander. Hulle realiseer wat God vir elkeen van sy "kleintjies" by die doop beloof het, nl. dat Hy hulle met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van hulle wil afweer of tot hulle beswil beskik.
Dit mag ons weet as die wêreld ons verag.
Dit mag ons sendelinge weet as hulle die stryd met die heidendom moet aanbind. Dit mag u weet as daar by u werk op u neergekyk word.
Dit mag ons seuns en dogters bedink as hulle in die Universiteit, of waar ook al partymaal baie alleen voel: die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is!
Dit mag u, broeders ouderlinge, en dit mag ek weet, as ons by 'n besoek in die gemeente die stryd met 'n hardnekkige sonde moet aanbind.
Ons is nie alleen nie, hoedat die mense dalk ook al op ons neersien. Ons leef in God se wye wêreld as sy kinders. Hy omring ons as die HERE van die leërskare.

3.  Nou staan daar nog een ding in ons teks waaraan ons nie mag verby lees nie. Ons teks bevat 'n indringende waarskuwing. Maar vir wie?
Na alles wat in hierdie preek alreeds gesê is, dink u natuurlik allereers aan die vyande van die kerk en van die evangelie, aan die heidenwêreld, ons ontkerstende omgewing. En hulle moet hulleself hierdie waarskuwing ook beslis aantrek. Maar Christus waarsku in hier-die teks allereers óns, wat Hom volg!
Moet maar kyk:  Christus rig Hom padlangs tot die mense wat rondom Hom staan, sy dissipels: "Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie!".
Hulle was met hulle gestry oor die vraag wie die meeste in die Koninkryk van God sou wees, hard besig om eersugtig te word. En dus hoogmoedig. Nie meer klein soos die kinders nie. En dan voel 'n mens jouself al gou bo die ander verhewe. Dan kan dit so ver met jou kom dat jy jouself probeer verhef ten koste van die ander in die kerk. En sodoende vir die ander 'n struikelklip neerlê waaroor hy val.
Wee jou, as jy vir my ‘kleintjies’ struikelblokke plaas in die kerk, waarsku Christus.
Maar dan kyk Hy nie na die wêreld en na die kerlose mense nie. Nee, die Here kyk sy dissipels in die oë en waarsku óns om geen struikelblok te word of te plaas vir een van God se gedoopte kinders nie.
‘n Pa en ‘n Ma kan hulle so deur trots en hoogmoed laat beheers   altyd die hoogste woord wil voer in die kerk en in die samelewing- dat hulle kinders òf hulle so daaraan vererg dat hulle padgee uit die kerk uit, òf self ook al hoe meer 'n lewe begin lei waarin alles maar net draai om hulle eie belangrikheid.
Ouers kan so behep wees met die dinge van hierdie wêreld: die mode, ‘n duur motor, ‘n al hoe mooier huis, sport, dat hierdie sake ook vir hulle kinders belangriker word as kerk toe gaan, as die verryking van jou geloofskennis in die kategese.
'n Seun of dogter kan deur 'n verhouding of verlowing waarin die HERE nie die eerste plek innneem nie, 'n struikelblok vir die ander word.
Kerkjeug kan vir mekaar 'n struikelsteen word deur verkeerde belangstelling en praatjies of deur die ander saam te sleep na ‘n heeltemal wêreldse manier van ontspan.
Ampsdraers kan God se "kleintjies" in die pad staan as hulle maar net graag die wonderlike dominee of die oulike ouderling of diaken wil wees. Lidmate wat baie gou altyd maar hulle kritiek uiter en bietjie minagtend praat oor broeders en susters wat oor party sake 'n ander siening as hulle het, kan daarmee 'n struikelblok in die gemeente neerlê.
So kan dit op allerlei maniere gebeur dat selfs ons in die kerk uit die oog verloor wat dit beteken om 'n gedoopte kind van God teenoor jou te hê. Dat ons so'n "kleintjie" van God nie meer hoogag nie.

Christus waarsku: as ons so maak kry ons ook met die engelewag te doen! God se engele staan nie outomaties aan ons kant nie. Hulle kan ook vir ons in teëstanders verander wat by God verdrietige verslae oor ons moet uitbring.
Christus het gesê: Jy kan liewerste met 'n meulsteen, 'n blok konkriet aan jou nek wegsink in die diepte van die see. Dit is altyd nog beter as om die engele teenoor jou te kry. Want dan kry jy die HERE van die leërskare teenoor jou!
Daardie waarskuwing betref allereers  óns, gemeente. Laat ons klein bly teenoor ons groot God.
Saam klein wees en daarom die ander in die kerk hoogag.
Dan mag ons groot wees in God se hemelhoë Koninkryk.
AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)