Jy mag nie doodslaan nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-10-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Liturgie:

Votum en seëngroet
Ps 15: 1,3
Gebed
L. Matt 5: 21-24 en 38-48
SB 16: 6,7,8 (wysie Ps 42a)
Prediking

SB 16:1,5,9,10
Geloofsbelydenis

Ps 21:9
Gebed
Kollekte
SB.21:1,5,6

Seën

 

 

 

Broeders en susters,

Wie bekreun hom vandag nog om die woord van God se Wet: "Jy mag nie doodslaan nie"?

Moord en doodslag is mos aan die orde van die dag. Ons wêreld is vol haat en geweld. In een en dieself-de land moor mense mekaar uit in 'n burgeroorlog, skiet mense mekaar in roofaanvalle.

Ons is as mense nie veilig vir mekaar nie. Ons benodig hoë hekke om ons huise. Mense moet weggesluit word in tronke agter tralies.

 

Maar selfs daardie tralies en heinings bied onvoldoende beskerming teen die aanvalle op jou lewe deur jou naaste.

Selfs binne die tralies van 'n tronk kry gevangenes dit reg om 'n medegevangene dood te maak.

Selfs binne omheinde hostelle vermoor die bewoners mekaar.

Ja, binne die hekke wat hulle om hul huise plaas en binne die veilige mure van hul woonvertrekke vermoor mense mekaar nog. Mans skiet hulle vrou en kinders, vroue wreek hulle op hul mans, swart bediendes word verkleineer en uitgebuit.

'n Mens is deesdae selfs in 'n hospitaal jou lewe nie meer seker nie. Kwesbare klein kindertjies wat hulleself nie kan verdedig nie, word al voor hulle geboorte doodgemaak in die moederskoot. Hoogbejaardes wat ernstig siek is, en wat deur die dokter of die familie nog maar net as 'n las beskou word, word met 'n inspuiting uit die weg geruim.

 

En is dit in óns huis so veel beter, broeders en susters? Nee, dit gebeur gelukkig selde of nooit dat ons van mekaar moet hoor dat iemand sy vrou of sy kinders aangerand of selfs vermoor het nie.

Maar hoe dikwels verwond ons mekaar, met woorde, met blikke wat kan doodmaak, met lyfstraf wat nie in selfbeheersing nie, maar in drif gegee word?

Ook in ons huise gebeur dit dat mans hulle vrouens deur owerspel en egskeiding so seermaak dat hulle inwendig die merke daarvan die res van hulle lewe moet saamdra.

Hoe veilig is ons vir mekaar in die kerk? Selfs daar waar elke Sondagoggend die woorde van God se wet klink: "Jy mag nie doodslaan nie", gebeur dit dat mense mekaar die lewe moeilik maak, deur iemand te beswadder, deur iemand opsetlik nie meer te groet nie, deur konflikte jare lank te laat voortsleep.

 

Die mens is nie eers veilig vir homself nie. Hy speel dikwels roekeloos met sy eie lewe. Deur oormatige alkoholgebruik, deur nikotine- of dwemsverslawing...

En as die lewe vir hom te swaar geword het, beneem hy homself die lewe.

 

Ons mense vorm 'n aanhoudende bedreiging vir onsself en vir mekaar. Die menselewe is by die mens self nie in goeie hande nie.

 

En wat van God? Het de HERE  hom by ons moordsug neergelê? Het Hy ons maar aan mekaar se gewelddadige hande oorgegee?

Nee, gelukkig nie! Hy het eeuelank reeds 'n sekuriteitshek om die lewe van elke mens geplaas. In hierdie wêreld vol geweld van die een mens teen die ander klink God se gebod: "Jy mag nie doodslaan nie!".

Soos ons bepaalde diere tot beskermde diersoorte verklaar, het God sy mens tot "beskermde skepping" verklaar. Hy het die mens eendag na sy beeld en gelykenis geskep. En al lyk die mens ook glad nie meer op daardie gawe eksemplaar uit die Paradys nie, kan God daardie goeie begin nie vergeet nie. Hy het nog planne met sy skepsel mens. Hy wil hê die Paradys moet terugkom.

Dis dié dat Hy 'n bord by ons medemens geplaas het en elkeen gebied om jou hande tuis te jou.

 

Hy het ook 'n owerheid ingeskakel wat mag ingryp as iemand dit waag om daardie bord te negeer en deur die omheining van sy wet heen breek. Dan is daar 'n polisie en 'n justisie wat aantasting van die medemens met 'n regverdige straf mag bestraf. Hulle mag doodslag selfs met die doodstraf beantwoord.

 

Maar selfs daardie hek van God se wet alleen is nie eers 'n afdoende beveiliging van die een mens teen die ander nie. Want soos ek in die begin van hierdie preek gesê het:  wie in hierdie wêreld bekreun hom om God se verbod? Nog breek mense aanhoudend deur die hek heen en vergryp hulle aan dit wat God wil beskerm.

En die polisie en justisie kan ook nie oral tegelyk wees nie. Hulle kan nie alles sien wat binne die mure van ons huise afspeel nie.

Ja, die owerhede eerbiedig sélf soms nie eers God se verbod om dood te slaan nie. Is dit nie juis die regeringsleiers wat oorloë uitroep en dikwels onnodig laat voortduur? Staatshoofde vermoor soms self in magswellus die onder-dane wat hulle moet beskerm. Orals in die wêreld gebruik die polisie onnodige geweld teen mense wat op 'n oortreding betrap is. En pleks dat 'n regering wette om die ongebore en hoogbejaarde en ongeneeslik siek lewens te beskerm, handhaaf, maak hy wette waarin moord op sulke lewens legaal gemaak word.

God se wet alleen is dus nie afdoende om die mense se moordneigings te laat verdwyn nie.

 

Is daar dan nie 'n enkele middel om die mens se haatgevoelens aan bande te lê nie? Is daar dan nie 'n manier om die mens 'n ander, 'n beter houding teenoor sy mede-mens aan te leer, sodat hy weer liefde vir die mens as God se skepping voel nie?

Ja, daar is, broeders en susters.

Ons haatgevoelens smelt eenvou-dig weg as God ons met SY liefde konfronteer. Dit wat sy wet alleen nie kon bewerk nie, kry sy liefde reg.

God kón ons almal doodgemaak het. Soos in die sondvloed.

Hy kon ons ook mekaar laat dood-maak het deur ons aan mekaar se wrede hande oor te gee. Maar Hy het ons, sy skepsel wat Hy eendag na sy beeld en gelykenis geskep het, so liefgehad dat Hy sy Enig-gebore Seun uit die hemel in ons plek doodgemaak het sodat ons deur Hom sou lewe.

En ons Here Jesus Christus het ons so liefgehad dat Hy heeltemal bereid was om vanuit die heerlik-heid van die hemel neer te daal in ons menselewe hier op aarde, hierdie lewe vol haat en nyd, moord en doodslag, en Homself vir ons op te offer tot in die dood.

Ons het die ewige doodstraf wel verdien. Maar God het Christus dié straf laat dra om sodoende vir ons die lewe terug te verdien. Só lief het God ons!

Ons mag daardie beskamende liefde van God op ’n gereelde basis aan die Nagmaaltafel vier.

By brood en wyn. Daardie brood en wyn leer ons wat ons lewe vir God werd is: Ons wat mekaar op allerhande maniere onteer, haat, beledig en doodmaak met gedag-tes, woorde en gebare, verdien dit om almal doodgemaak te word soos Christus aan die kruis dood-gemaak is. Ons moes eintlik daar aan die kruis gehang en gesterf het. Ons moes vervloek gewees het. Dit sê die gebreekte brood en die beker met bloedrooi wyn allereers vir ons. Maar daardie einste simbole sê vervolgens: Nogtans wil God hê ons moet léwe! Brood en wyn is mos lewens-middele: So lief het Hy ons lewe. Daarom het Hy sy Seun in ons plek die dood laat sterf. Sodat ons sou lewe.

God sê aan die nagmaal-tafel: Neem, eet en drink en lééf!

 

Eers as hierdie wonderlike liefde van God tot 'n mens deurdring, kry jy 'n ander kyk op die lewe, gemeente. Eers dan begin jy besef wat die lewe God werd is. En wat dit dus ook ons moet werd wees.

Want wie Christus aan die kruis sien bloei het, kan 'n menselewe mos nie langer as waardeloos behandel nie?

Die word inteendeel suinig op die menselewe waarvoor God die hoogste prys wou betaal.

 

Die word suinig op sy eie lewe. Ek kan tog met my lewe wat vir God so kosbaar is, nie speel nie?

Speel: deur my longe met nikotine te vergiftig; of deur my brein en lewer met dwelms of alkohol te verwoes. En indien jy klaar verslaaf geraak het, sal jy hulp soek om daarvan verlos te word. En om te voorkom dat jou kinders so’n selfde verslawing begin opbou.

Dan speel jy nie met jou en ander mense se lewe deur roekeloos jou motor te bestuur en gevaarlike toertjies uit te haal nie. En jy weet dat daar soorte van sport is wat ’n christen nie kan beoefen nie aangesien dit daarop gemik is om jou fisies skade toe te bring.

As jy weet dat Christus ook vir jou aan die kruis wou sterf, sal jy jou lewe tog nie sommer in eie hande neem as jy nie meer kans sien vir die lewe nie? Ek weet, ’n mens kan baie depressief en moedeloos raak, en nie meer weet hoe om vorentoe nie, maar soek hulp asseblief pleks van om in eensaamheid al hoe meer vasgekeer te raak.

 

Die wat Christus aan die kruis sien sterf het, begin tog besef dat selfs lewe wat in ons oë waardeloos is, vir God nog belangrik kan wees?

Wie is ek om ongebore babas in die moederskoot te laat doodmaak omdat ek die belang van sy lewe nie kan insien nie? Wie is ons om gestremde en aftakelende lewens maar te beëindig omdat ons in ons kortsigtigheid die waarde van sulke lewens nie aanvoel nie. Waarin verskil voor God ons lewens van so'n lewe?

 

Die wat gereeld aan die Nagmaal-tafel die lewensmiddele uit God se hand ontvang, kan tog ook nie langer sy broeders en susters langs hom in die kerk partymaal dood wens nie? Hulle het van dieselfde brood geëet en uit dieselfde beker gedrink. God het ook vir hulle gesê: Kyk, neem, eet en drink. Ek wil hê jy moet leef

Ja, u, broeders en susters, is dit self wat die skaal met brood vir hulle aanreik, en daarna die beker. Met daardie veelseggende gebaar sê ons tog vir mekaar aan tafel: Kyk  hierso, ék wil óók hê jy moet leef!

Maar dan kan ons tog nie by die uitgaan uit die kerk mekaar igno-reer en weier om te groet nie? Dan kan ons tog nie op pad huis toe mekaar alweer beskinder en be-swadder nie? Dan dwing die ont-moeting aan die tafel met Christus ons tog om mekaar te soek en om ou rusies eindelik heeltemal op te ruim?

 

As ons aan die Nagmaaltafel in Christus se oë gekyk het, kyk ons voortaan by die huis tog ook met ander oë na mekaar? As man en vrou, as ouers en kinders en as kinders onder mekaar? Dan kan ons blikke tog nie langer doodmaak nie? Dan kan ons mekaar tog nie meer woorde toevoeg soos: Ek slaan jou vrek, of: Ek donder jou as jy nie jou bek hou nie?

Ja, as ons aan die Nagmaaltafel gesien en geproe het hoe lief God die menselewe gehad het, kan ons tog nie anders as om ook die lewe van die mense om ons heen in hierdie wêreld lief te hê nie? Selfs al betref dit ons vyande?

Noudat ons geleer het hoe lief God die lewe op aarde gehad het, en dat ook ons van hierdie liefde in Christus mag lewe, wil ons dié liefde tog uitdra in hierdie wêreld en oordra op ons medemense? Ons was mos self ook God se vyande. So staan dit in Romeine 5 en so hoor ons sit elke Nagmaalsondag.

 

Dit is nou hoe 'n mens konkreet in die openbaar jou geloof in God en in Christus bely, gemeente. Deur 'n houding wat die ene liefde uitstraal. Almal moet dit aan ons kan agterkom dat ons as gevolg van God se liefde vir sy skepsel self ook die ene liefde teenoor ons medemense geword het. Geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barm-hartig en vriendelik. Selfs teenoor mense wat ons die lewe bra moeilik maak.

Christus het ons daarop voorberei dat ons baie van sulke mense sal raakloop. Mense wat jou vanweë jou christen-wees op die wang sal slaan, wat jou goed sal vat, wat jou tot dwangarbeid sal dwing en jou eiendomme sal opeis. Hyself het dit ondervind, sy kerk moes dit regdeur die eeue verduur. Hoekom sou dit jou dan bespaar bly?

Mense kan jou bloed laat kook. En hoe menslik is dit in so'n geval om kwaad met kwaad te vergeld.

Maar die wat Christus bely, moet juis in so'n geval in sy houding wys Wie Christus is- die bewys dat God aan ons kwaad met goed vergeld het. Omdat God nie 'n behae in die dood van mense het nie, maar juis wil hê hy moet leef.

 

Met dié opdrag stuur God ons vanaand almal weer in die wêreld in, gemeente.

Ons mag sy liefde vir mense wat die dood verdien het, ken. Dikwels proe ook. Ons mag op ’n gereelde basis aan die Nagmaalstafel die lewe wat Christus vir ons terugver-dien het, as 't ware weer uit sy hand ontvang.

Ons mag daardie lewe nie net vir onsself hier in die kerk hou nie. God stuur ons daarmee na buite toe, na ons medemense toe. Hulle moet dit weet dat die kerk die enigste plek in hierdie wrede wêreld is waar mense nie agter hekke en omheinings wegkruip nie. Kerkmense kom juis na buite toe en durf hulle kwesbaar op te stel.

Want ons het van ons God 'n lewe ontvang wat niemand ons meer kan ontneem nie. Ons lewe staan onder die direkte beskerming van God wat dit vir 'n hoë prys gekoop het. En hierdie lewe wil ons met ons medemense deel. Juis ook met die mense wat nog deur haat en geweld beheers word. Ons betaal sulke mense nie met gelyke munt nie maar hoop vurige kole op hulle hoofde op. Ons beantwoord hul haat nie met haat en hulle geweld nie met geweld nie, maar ons kry hulle jammer en bid vir hulle. Want ons weet hou benouend hul selfgesentreerde en wraaksugtige lewentjie is. Jy sien alleen nog maar vyande en verraaiers om jou  moet jou voortdurend verskans in jou veilige vesting.

 

Ons is mos self van nature ook maar so. Maar die HERE het ons uit daardie benoude lewe weggehaal. Hy het ons in die ruimte geplaas.

En ons is agter Hom aan op pad na 'n lewe sonder vestings en loopgrawe, sonder hekke en omheinings toe. Na 'n lewe waarin selfs God se wet nie meer as 'n sekuriteitshek tussen die een mens en sy naaste nodig is nie. Want in daardie lewe dra almal deur die Gees van Christus die negatiewe gebod: "Jy mag nie doodslaan nie" in positiewe bewoordings in hul hart saam: "Ek wil my naaste liefhê soos myself". AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)