Die skeppingsorde bring vrede binne die kerkorde!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-11-02
Teks: 
1 Timótheüs 2:8-15
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 2:8-15; lees Mattheus 5:21-24, Lukas 10:38-42

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Is die verskille tussen man en vrou feit of fiksie? Is blou inderdaad vir seuntjies en pienk vir meisies, of is dit maar net iets wat ons opgemaak het? Daar is vandag genoeg mense, veral sogenaamde feministe, wat sal sê dat hierdie soort onderskeidings maar net deur mense geskep is, en dat geslagtelikheid in wese iets van ons verbeelding is. Dit is ‘n fiksie waarmee ons almal in ons daaglikse lewe werk. Indien hierdie mense reg is, broers en susters – terloops, ‘broers en susters’ is self een van daardie onderskeidings – dan moet ons so gou moontlik die lyn tussen manlik en vroulik uitwis, en dan is daar geen rede waarom vroue hulleself nie soos manne kan gedra nie, en waarom manne nie soos vroue kan optree nie. In ons Westerse kultuur word hierdie visie al hoe sterker, met die gevolg dat vroue nie meer vrou wil wees nie, en manne nie meer weet hoe om soos ‘n man op te tree nie.

Maar, gemeente, die Bybel staan haaks op hierdie geslagteloosheid van ons tyd. Die Bybel staan daarop dat geslagtelikheid ‘n Godgegewe feit is; dit erken dat die identiteit van elke mens geslag-spesifiek is. Daar is wesentlike verskille tussen man en vrou, verskille wat ons kan terugvoer na die allereerste begin, waar ons in Genesis 1:27 lees: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Die geskiedenis van die skepping van die mens begin dus enersyds deur die gelykwaardigheid tussen man en vrou vas te stel – beide man en vrou is mens, geskape na die beeld van God. Andersyds egter vind ons hier die Goddelike bepaling van die onderskeid wat daar tussen man en vrou bestaan – hulle word immers man en vrou gemaak.

 

En daarom, gemeente, is dit nie verbasend dat God van tyd tot tyd spesifieke instruksies vir onderskeidelik manne en vroue het nie, in besonder vir die saamleef in die kerk. Die kerk is immers die huis van God, en soos elke huishouding het ook hierdie een sy eie besondere reëls; elkeen moet weet hoe hy hom in die huis van God moet gedra. Manne en vroue kry gesamentlike, sowel as afsonderlike aanwysings, met die oog daarop dat daar orde in die kerk sal wees. En in besonder wanneer dit kom by die openbare eredienste huiwer die Heilige Gees nie om te wys op die verskille tussen man en vrou nie, soos wat ons sien in ons Skrifgedeelte vir vandag. Sommige aanwysings is dan spesifiek vir die manne bedoel, hoewel dit nie irrelevant vir die vroue is nie. Ander aanwysings is weer in besonder van toepassing op die vroue, hoewel dit uiteraard implikasies het vir die manne.

Maar in al hierdie bevele en aanwysings hoor ons steeds weer die eggo van die sesde skeppingsdag – man én vrou het Hy hulle geskape. Gemeente, ons moet nooit hierdie teruggryp na die begin vergeet nie. Want presies dáár val die skeiding – glo en aanvaar jy hierdie Goddelike bepaling, of verwerp jy dit en stel jy jou eie verstaan in die plek daarvan? Uiteindelik kom dit neer op die vraag: glo jy die getuienis van die Skrif?

Tema: Die skeppingsorde bring vrede binne die kerkorde!1.      Vredeliewende manne en hul taak2.      Ordelike vroue en hul behoud 

1. In die eerste preek uit 1 Timotheus 2 – twee weke gelede – het ons gesien dat dit in hierdie hoofstuk gaan oor die gebed, spesifiek die gebed binne die konteks van die openbare erediens. En nadat Paulus in die eerste sewe verse die inhoud van die gebed behandel het, naamlik dat ons vir alle mense moet bid omdat God wil hê dat alle mense gered word, gaan hy nou verder deur te sê hoe die manne behoort te bid. Terloops, Paulus noem hier nie die mánne omdat hulle die enigstes is wat in die erediens bid nie; nee, in die erediens bid manne sowel as vroue, jonk en oud, almal saam – deur middel van die voorganger. Daar is ‘n ander rede waarom Paulus hier spesifiek die manne aanspreek. Kom ons kyk…

Paulus roep die manne op om te bid met opgehewe hande. Hierdie aanwysing was vir die lesers van sy brief waarskynlik niks vreemds nie. Dit was naamlik die gewoonte in Bybelse tye om staande en met opgehewe hande te bid. So lees ons byvoorbeeld in Exodus 9:29 dat Moses, nadat Farao hom gesmeek het om vir hom te bid, antwoord: “So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie.” Ook in Psalm 28:2 lees ons: “Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binnste van u heiligdom.”

 

Maar, broers en susters, God is natuurlik nie naastenby so geïnteresseerd in die hóúding van ons gebed as in die réínheid van ons gebed nie. Hy wil naamlik hê dat die manne heilige hande moet ophef. ‘Heilige hande’ verwys in hierdie konteks na die tempel-erediens in die Ou Testament, waar God se volk hulleself aan Hom gewy het deur vóór die gebed eers hulle hande te was. Verskeie waterbakke of waskomme het daarom verspreid oor die tempelberg gestaan, sodat die volk hulleself op die gebed kon voorberei – soos wat ons lees in Psalm 26:6: “Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE.”

Maar, broers en susters, hierdie uiterlike teken van rein/gewaste hande moes natuurlik ‘n weerspieëling wees van die innerlike realiteit van ‘n rein lewe. Om jou hande met water te was, was uiteraard slegs die simbool van dit wat hier binne en in jou verdere lewe moes gebeur. Maar nou was daar in die gemeente van Efese, waar Timotheus gewerk het, ‘n spesifieke onreinheid wat ‘n bedreiging gevorm het vir die opheffing van heilige hande; daar was ‘n spesifieke sonde wat die gemeentelike gebede bedreig het. En dit was die sonde van tweedrag of partyskappe; Paulus roep naamlik die broeders van die gemeente op om heilige hande op te hef “sonder toorn en twis”. Toorn en twis was presies die probleem in Efese; kwaai woorde is gewissel en daar was skynbaar gereeld stryery. Dit moes wees, want dit is ‘n onderwerp wat telkens weer in hierdie brief na vore kom. Ons lees onder andere in hoofstuk 1:4 van twisvrae, en in hoofstuk 6:4 en 5 van ‘n sieklike sug na twisvrae en nuttelose stryery. Die gemeente van Efese was dus in geestelike gevaar deur die toedoen van manne wat in strydlustigheid mekaar aangevat het.

 

Nou, gemeente, natuurlik kan vroue ook die rus in die gemeente versteur deur stryery – ons kan maar net dink aan die berugte konflik tussen Euodia en Sintiche in Filippense 4:2. Hierdie vemaning geld dus ook vir die vroue, net soos wat die aanwysings vir die vroue, wat hierna volg, ook relevansie het vir die manne. En tog het hierdie opdrag spesifiek betrekking op die manne. Want die praktyk bewys dat dit oor die algemeen die manne is wat in stryerye betrokke raak, in besonder wanneer dit gaan oor leerstellige sake. Dit is tipies hoe manne is. Manne is krities en kompeterend, hulle stry vir hulle gelyk, en hulle word dikwels kwaad wanneer hulle dit nie kry nie. Gaan kyk maar net na die kerkgeskiedenis – dit is vol van strydende manne. Uiteraard was daar genoeg van hulle wat die goeie stryd gestry het, maar daar was ook talle wat hulleself in nuttelose en verkeerde strydvrae gewikkel het, wat gestry het vir hulle gelyk in sake wat nie die moeite werd was nie of selfs verkeerd was. Blaai maar ‘n slag vir interessantheid deur ons kerke se sinodehandelinge – u sal hulle daar ook vind…

Nou gemeente, hierdie soort stryery en twis, met die gepaardgaande toorn, is skadelik vir die liggaam van Jesus Christus. Dit is in besonder skakelik vir die gebedslewe van die kerk – dit verhinder naamlik die kerk se gebede. En Jesus is daarom ook baie duidelik daaroor in Mattheus 5 – wat ons saam gelees het – dat ons eers hierdie stryery moet uitsorteer voordat ons na die altaar van die Here gaan om te bid. Jesus leer naamlik in hierdie gedeelte dat, sonder versoening met jou broer, die weg na die altaar nie oop is nie. Hy sê dit eintlik baie sterk: jy kan eerder die priester – en God! – in die tempel laat wag by die altaar, as wat jy jou broer laat wag vir jou skulderkenning. Want sonder versoening met jou broer is jou gebed om vergifnis tot God in elk geval van geen waarde nie.

Vir die skare rondom Jesus, wat gewoond was aan die heiligheid van die offer, moes die idee om jou offerhandeling te onderbreek amper heiligskennis gewees het. Maar Jesus leer dat, om onversoen met jou broer te bly, terwyl jy weet dat hy deur jou toedoen iets teen jou het, in God se oë nog groter heiligskennis is. Daar is geen ingang tot die Vader sonder versoening met die broer nie. Die ingang word versper; dit word versper deur die einste Persoon wat die ingang tot die Vader weer vir ons oopgemaak het. Jesus Christus het deur sy werk aan die kruis die toegang tot God weer moontlik gemaak; Hy tree by die Vader in vir elkeen wat werklik in geloof sy volgeling wil wees. Maar vir elkeen wat bewustelik in toorn en twis met sy broer lewe, sluit Hy die gebedstoegang!

 

Broers van die gemeente, as Jesus Hom nie skaam om ons sy broers te noem nie, as Hy bereid was om, onskuldig, versoening te bring tussen God en mens, hoeveel te meer moet ons nie versoening soek wanneer ons teenoor mekaar oortree het nie? Laat die liefde van Christus ons dring om nie te talm nie, maar so gou as moontlik die saak op te los, juis wanneer ons daaraan dink dat dit volgende week weer nagmaal is. Immers, daar is so baie groot en belangrike sake wat in die gebede hier in die erediens ter sprake kom; ons bid so intens saam tot die Vader. Maar besef ons dat daardie gebede vrugteloos kan wees wanneer ek deur my toedoen daardie gebede verhinder? Ek kan nie hier in die kerk kom sit, en my offers bring – my hande ophef in gebed – en dan verwag dat die Here my gunstig sal aansien wanneer my broer twee rye agter my sit, seergemaak deur my strydlustigheid of kwetsende woorde nie. Daar bly ‘n blokkade tussen my en God totdat die blokkade tussen my en my broer uit die weg geruim word. Tot op daardie oomblik kan ek geen seën verwag oor my offer hier in die kerk nie. God wag vir jou totdat jy jou met jou broer gaan versoen het.

Broers, laat ons ‘n voorbeeld wees vir ons kinders en vir die wêreld daarbuite van hoe goed dit is wanneer broeders saamwoon in ‘n onversteurbare vrede. Soos salf wat kunstig toeberei, om Aaron se hoof ‘n sagte geur versprei, sy baard oordrup en sy heilige kleed deurtrek. Só sal die liefde liefde wek!

[Sing eers Ps. 133 saam] Vervolgens: Ordelike vroue en hul behoud.

 

2. Paulus het egter ook nog iets te sê vir die vroue. En dan is dit belangrik om te let op die woorde “so ook” waarmee hy in vers 9 begin. Hierdie woorde wys vir ons dat Paulus binne dieselfde konteks praat as net hiervoor, naamlik die konteks van die openbare erediens. Paulus neem aan dat die vroue ook in hierdie vergadering aanwesig sal wees – en waar hy die manne gewaarsku het teen stryery, waarsku hy die vroue teen pronkery. Die vroue moet hulleself nie versier met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie. Ons weet naamlik, gemeente, dat die kombinasie van ‘n luukse haarstyl met luukse juweliersware in daardie tyd ‘n teken van ydelheid was, en hierdie soort vertoon was algemeen bekend in Efese, veral onder die sogenaamde ‘slegte vroue’ van die stad. Daarby moet ons onthou dat Efese die tuiste was van die godin Diana. Kerklidmate het dus gereeld die prostitute van Diana naby haar tempel sien rondhang. Om nou vervolgens húlle styl te gaan oorneem, was lewensgevaarlik. Daarom sê Paulus eintlik vir die vroue van die gemeente om nie soos prostitute aan te trek nie. Sodanige kleding was nie gepas vir die diens van gebed nie.

Maar wat was dan wel gepas? Wel, sê Paulus gelei deur die Gees: behoorlike kleding (dus, klere waarmee ‘n mens God vrymoediglik kan ontmoet), beskeidenheid (dus, nie verleidelike kleredrag of optrede nie) en ingetoënheid (gesonde oordeel en selfbeheersing)! Dít is die gepaste kleding vir die vroue! Met die gebruik van hierdie begrippe leer die Skrif egter nie dat christelike vroue altyd uit die mode moet wees nie. ‘n Mooi haarstyl, juweliersware en mooi klere word nie verbied nie, maar wel ongematigde en onvanpaste gebruik hiervan! Want God wil nie hê dat sy dogters oormatig bekommerd moet wees oor hoe hulle uiterlik lyk nie.

 

En weereens, gemeente, hierdie oproep tot die vroue is nie omdat manne nie ydel kan wees of nie ‘n gevoel van styl kan hê nie. Dink maar net aan Agan, wat ‘n mooi mantel uit Jerigo gesteel het omdat hy gesien het dat daarin ‘n ontwerpersnaam uit Babel gestaan het (Jos. 7:21). Nee, die rede waarom vroue teen ydelheid gewaarsku word, is dieselfde rede waarom manne teen strydlustigheid gewaarsku word. In beide gevalle spreek die Skrif ‘n tipiese gevaar aan. Vroue is, in besonder, vatbaar vir die gevaar om op die uiterlike te fokus – en manne moedig dit aan! Dit is vandag net so waar as wat dit in Timotheus se dae was.

Maar, broers en susters, God se standaarde vir vroulike skoonheid staan lynreg teenoor die standaarde van die moderne kultuur. As julle, susters, mooi vir God wil wees, dan is dít wat jy moet doen: versier jouself soos dit ‘n vrou betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. En gaan kyk maar in hoofstuk 5:10 om te sien wat hierdie goeie werke alles behels: kinders grootmaak, gasvryheid betoon, die voete van die heiliges was, verdruktes help, en elke goeie werk nastreef. Dít is God se skoonheidswenke aan die vrou. ‘n Vrou word mooi gemaak deur wat sy doen, nie in die eerste plek deur wat sy dra nie. Uiterlik kan die verouderingsproses nie gekeer word nie, maar innerlik word ‘n godvrugtige vrou mooier en mooier soos wat die tyd aangaan. Laat die susters van hierdie gemeente daarna streef om só ‘n skoonheid te besit. En laat die broeders van hierdie gemeente, wanneer hulle só ‘n vrou sien, sê: Dit is nou ‘n beeldskone vrou!

 

Paulus gaan nog ‘n bietjie verder oor die plek van die vrou in die erediens. Nie net die vrou se uiterlike kom aan die orde nie, maar ook haar optrede in die erediens: “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.” Ja, dit is van die soort tekste waaroor ‘n predikant in ons tyd liewer nie preek nie, en wat lidmate maar liewer vermy in gesprekke. Maar, gemeente, kom ons dink mooi na oor wat Paulus hier sê.

Ons moet naamlik besef dat Paulus met hierdie uitspraak alle stereotipes deurbreek. Nee, nie vandag se stereotipes nie, maar dié van sy eie tyd. In die Romeinse wêreld is vroue naamlik beskou as intellektueel tweede-klas. Daar is algemeen aanvaar dat vroue akademies minderwaardig is. Dus was die opvoedkundige sisteem hoofsaaklik ontwerp vir manne, nie vir vroue nie. Die Joodse rabbis was selfs nog meer chauvinisties; volgens een van die gesagvolle Joodse geskrifte van daardie tyd sou dit beter wees dat die Torah verbrand word as wat dit aan vroue toevertrou sou word. Met ander woorde, om vroue op te voed, was ‘n gemors van tyd. ‘n Ander gesagvolle bron verduidelik die verskille tussen manne en vroue in die erediens soos volg: “Die manne het gekom om te leer, die vroue om te hoor.” En luister nou na die Woord van die Here. Want dit sê presies die teenoorgestelde as die kultuur van daardie tyd. Waar die kultuur van daardie tyd eenvoudig aangeneem het dat ‘n vrou nie behoort te leer nie, sê die Skrif: laat ‘n vrou leer! Dít is die verrassende aspek in vers 11! Ja, óns plaas onmiddellik die klem op “in stilte” en “in alle onderdanigheid”, sonder om te besef dat wat Paulus hier sê rewolusionêr was in sy tyd! Volgens die bybel is dit die veranwoordelikheid van elke vrou om ‘n student te word van die bybelse leer.

 

En hoe moet sy dit doen? Ja, in stilte en in alle onderdanigheid. Maar “in stilte” beteken nie om niks te sê nie; dit wys eerder op ‘n gees van leergierigheid. En “in alle onderdanigheid” gee iets weer van gehoorsaamheid aan die gesag wat onderrig gee. En wanneer ons dít nou bymekaar sit, broers en susters – in stilte en in alle onderdanigheid – dan beskryf dit nie ‘n styl van leer wat tipies vir die vrou is nie, maar dan beskryf dit die manier waarop élke mense moet leer. Dit is die énigste manier waarop ‘n mens kan leer. Om te leer is om jouself te onderwerp aan die kennis en die gesag van die onderwyser. Elke goeie student doen dít!

‘n Pragtige voorbeeld hiervan is Maria, die suster van Martha en Lasarus. Terwyl Jesus by hulle tuisgaan, is Martha baie besig om alle klaar te maak. Intussen het Maria by die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. En dit het Martha kwaad gemaak dat Maria so sit en niks doen het. En daarom kla sy by die Here: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” En let dan op wat die Here Jesus doen – Hy stuur nie vir Maria weg nie, Hy stuur haar nie terug na die sogenaamde vroue-werk nie. Nee, Hy sê: “Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem kan word nie.” Jesus beklemtoon die noodsaak dat ook vroue studente word van sy Woord. Teologie is nie slegs iets vir die manne nie; nee, die Here wil hê dat vroue goeie kennis van die Skrifte sal hê en suiwer in die teologie sal wees.

En kyk ook hoe Maria geleer het: sy het by die voete van die Here Jesus gesit en na sy woord geluister. Maria het haar dus in stilte en in alle onderdanigheid laat onderrig. Dit is die manier waarop al God se kinders hulleself moet laat onderrig.

 

Maar, gemeente, terwyl die Bybel vroue enersyds oproep om onderrig te ontvang, is daar andersyds wel die verbod dat vroue onderrig mag géé. En dan gaan dit oor onderrig in die erediens – pas daarom op om dit op alle ander vlakke van ons samelewing van toepassing te maak! Dit gaan hier oor die amptelike onderrig in die ware leer. Die Heilige Gees laat nie toe dat die vrou die apostoliese leer amptelik en in die openbare erediens oordra nie. Terloops, die meeste manne is ook nie toegelaat om dit te doen nie… Hierdie vers beteken dus nie dat alle manne aan alle vroue onderrig moet gee nie. Dit sê ook nie dat alle vroue aan alle manne onderdanig moet wees nie. Nee, hierdie verse sê dat alle vroue hulle moet onderwerp aan die onderrig en tug van die herders van die gemeente. En dit geld trouens ook die manne wat nie in die amp bevestig is nie… Want om gesag uit te oefen – of om te heers, soos dit in vers 12 staan – is die taak van die ouderlinge van die gemeente.

Gemeente, ten spyte van die geestelike eenheid en gelykwaardigheid wat daar tussen gelowige manne en vroue bestaan, moet ons dus wel besef dat God aan manne en vroue verskillende geestelike verantwoordelikhede in sy huishouding gegee het. En, volgens verse 13 en 14, hang dit saam met wat daar in die begin gebeur het. Paulus gee in hierdie verse twee gronde vir die feit dat vroue nie in die erediens mag leer nie. Eerstens wys hy op die geskape orde: “Adam is eerste gemaak, daarna Eva.” Dit sê nie dat Adam superieur was nie, maar dit sê wel iets van God se goeie plan vir die mensdom. Reeds in die volmaakte skepping – dus, nog voor die sondeval – is dít hoe God dit bepaal het, en dit het niks met kultuur te make nie. En die tweede grond wat Paulus gee, is: “… Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” Die klem lê hier op die woordjie ‘verlei’; Eva sê in Genesis 3:13: die slang het my bedrieg en ek het geëet. Die punt is hier dat Adam nie verlei of bedrieg is nie. Anders as Eva het hy baie goed geweet wat hy besig was om te doen toe hy van die vrug geëet het. Die vrou het geval omdat die slang haar verblind het, maar die man het met oop-oë gesondig. Adam is nie verlei nie, maar hy het bewustelik gekies om te sondig!

Maar goed, dit maak die man nou nie werklik geskik vir die amp nie… Nee, maar dit wys wel iets van God se plan met die mensdom. God hou Adam verantwoordelik vir die val in sonde. As verteenwoordiger van die mensdom moet hy gaan verduidelik wat daar in die tuin gebeur het, en mag hy ook die verlossing verkondig. Natuurlik het Adam probeer om Eva te blameer: die vrou wat U my gegee het… Maar God soek vir Adam op, hy was verantwoordelik vir die geestelike welstand van die huishouding van die mensdom. Nou, gemeente, op soortgelyke wyse is die man, wat in die amp bevestig is, verantwoordelik vir die nuwe huishouding van God, die gemeente. Hierdie verantwoordelikheid is nie gebaseer op meriete nie, dit is nie gebaseer op die feit dat die man dit beter kan doen as die vrou nie; nee, hierdie verantwoordelikheid is gebaseer op die skeppingsorde van God. Hoe moeilik ook al, laat ons onsself in gehoorsaamheid hieraan onderwerp.

 

En dan nog vers 15: “Maar sy sal gered word deur kinders te baar…” Letterlik staan daar: “Maar sy sal gered word deur die kindgeboorte…” Baie waarskynlik verwys dit na die geboorte van ons Here Jesus Christus. En dit sluit goed aan by die einde van vers 14 waarin ons ‘n verwysing vind na die val in sonde. Geen groter eer is ooit aan ‘n vrou gegee nie as in die roeping van Maria om die moeder te word van die Redder van die wêreld. En daarom eindig 1 Timotheus 2 met die grootste troos – uit die vrou bring God verlossing van sonde deur Jesus Christus vir alle gelowiges. En daaraan mag alle vroue deelhê, in geloof, liefde en heiligmaking. Ja, Adam het nie verniet sy vrou Eva genoem nie – sy het immers die moeder geword van alle wat lewe. In die vrou het God die lewe geplaas. Broeders, daarvoor mag ons die Here dank. Susters, daarin mag julle jul eie hoë posisie raaksien.

 

Gemeente, ons sal goed doen wanneer ons die orde van God respekteer. Die skeppingsorde is goed, selfs nou nog ná die sondeval. Want deur die skeppingsorde kom daar vandag vrede in die kerkorde. Die druk van ons tyd is ontsaglik groot om siende blind te word vir Skrifgedeeltes soos hierdie. Maar laat ons nie daaraan toegee nie. Laat ons ons harte beskerm teen die aanslae van die tydsgees, maar laat ons ons harte wyd oopmaak vir God se goeie instellings en bepalings. Man en vrou het Hy hulle gemaak: elkeen sy eie plek; elkeen ‘n ander plek; anders, maar nooit minder nie.

Amen

         

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 47:1, 2 en 4

Wetslesing

Sing voor gebed Ps. 28:1-3

Gebed

Voltooi gebed met Skr. 26:10-11

Lees:    Mattheus 5:21-24

            Lukas 10:38-42

Teks: 1 Timotheus 2:8-15

Sing Ps. 122:2 (God reël hoe dit in sy huis [Jerusalem] moet gaan; só is daar vrede, en dit is

waaroor Ps. 122:2 gaan)

Preek

·        Na 1ste punt Ps. 133

·        Amenlied Ps. 68:5 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 16:1, 3, 6 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)