Jesus se unieke geboortegeskiedenis

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-10-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Verwysing: 
HK 14-0 (2)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 14; lees Jesaja 7:1-17, Mattheus 1

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘n God wat uit ‘n mens gebore word – is dit so uniek? Is die bybelse verhaal van Jesus wat uit die maagd Maria gebore word, enig in sy soort? Nie as ons die mites van die antieke Griekeland moet glo nie. In daardie verhale was dit baie normaal dat die Griekse gode en godinne met mense seksuele omgang gehad het. Die kinders wat uit sulke omgang gebore is, het as demigode of halfgode bekend gestaan. So byvoorbeeld was Zeus, die hoofgod van die Griekse godewêreld, se seksuele omgang met die mense alom bekend; talle kinders is uit hierdie omgang gebore. Hierdie verhale van gode wat met mense seksuele omgang gehad en waaruit kinders gebore is, het vir die Grieke die belangrike funksie vervul om te bewys dat die gode werklik bestaan het. Hoe kan iemand immers seksuele omgang hê en kinders voortbring as hy of sy nie werklik bestaan nie?

 

In die lig hiervan, gemeente, kan u begryp dat die vraag ontstaan het: “Maar is die verhaal van Jesus se geboorte dan so uniek?” En gou het die vraag ‘n aanvaarde teorie geword. Vir baie was dit ‘n uitgemaakte saak: die bybelskrywers het eenvoudig geleen uit die Griekse mitologie om so die herkoms van Jesus van Nasaret te verklaar. En op so ‘n manier kry die geskiedenis waarvan ons in Mattheus 1 gelees het, en wat ook in Lukas 1 breedvoerig beskryf word, ‘n totaal ander kleur. ‘n Mite word gebruik om ‘n punt oor Jesus se herkoms te maak.

Maar gemeente, laat ons dit van die begin af duidelik vir mekaar stel: Jesus se geboortegeskiedenis vind nie sy oorsprong in die Griekse mitologie nie. Ons lees nêrens, en ons sal dit ook nêrens lees, dat ons goeie God seksuele omgang met Maria gehad het nie. Ons lees verder nêrens dat Jesus Christus ‘n halfgebakte godeseun uit ‘n een-nag plesiertjie is nie. Hy is, volgens ons belydenis, God uit God; ja, gebore uit die maagd Maria, maar – lees ons in Mattheus 1:18 en 20 – sy word nie swanger gemaak deur die Heilige Gees nie, maar sy word swanger bevind uit die Heilige Gees. Maria word swanger deur ‘n goddelike wonder, en sy gee geboorte aan die Seun van God wat mens word. Geen Griekse mitologie nie, maar goddelike openbaring. Gemeente, laat ons ons nie beïnvloed deur teorieë vanuit ‘n ongelowige wêreld nie, maar laat ons vashou aan wat God self geopenbaar het oor Jesus se unieke geboorte.

Tema: Jesus se unieke geboortegeskiedenis

  1. Die wonder  van ‘n nuwe begin
  2. Die noodsaak van Josef se betrokkenheid
  3. Die teken van Jesaja se profesie

 

1. Gemeente, dit tref my elke keer weer hoe betekenisvol die geslagsregisters in Mattheus 1 en in Lukas 3 vir ons verstaan van die Skrifte is. Kom ons kyk kortliks na die geslagsregister uit Mattheus 1. Daar is ‘n paar dinge wat van belang is, en wat ek graag wil noem [dit is goed om u bybel hier byderhand te hou].

Mattheus begin in vers 1 deur nie – soos in ons vertaling staan – te praat van ‘n geslagsregister nie; nee, Mattheus sê letterlik “die boek van die begin van Jesus Christus”. Daarmee toon hy onmiddellik aan wat sy fokus is; die name vanaf verse 2-16, die geslagsregister dus, is nie die fokus nie; nee, die begín van Jesus Christus – daaroor gaan dit.

Maar – en daarom dat Mattheus tog ook al die ander name noem – hierdie begin van Jesus Christus het wel ‘n voorgeskiedenis; hierdie Jesus is immers seun van Dawid, en nog verder terug, seun van Abraham. Maar hoekom gaan Mattheus terug tot by Abraham? Immers, Lukas, in sy geslagsregister, gaan heeltemal terug tot by Adam. Wel gemeente, dit is belangrik om raak te sien dat hierdie geslagsregister staan in die konteks van die aankondiging van Jesus se geboorte aan Josef. Josef word deur die engel beveel om die seun, wat gebore sal word, Jesus te noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (1:21). Sy vólk! Dit is dus diegene wat uit Abraham gebore is – immers, by Abraham het God ‘n begin gemaak met die volksbestaan van Israel; diegene wat uit Abraham gebore is, hulle is die volk van God.

En daarom begin Mattheus sy voorgeskiedenis in vers 2 by Abraham. Vanaf Abraham tot by Jesus Christus, dus vanaf verse 2-16, word vervolgens vir ons ‘n indruk geskets van die geskiedenis voor Jesus se begin; Mattheus bou die hele geslagregister vanaf Abraham op. Hy werk vanaf Abraham via Dawid en die Babiloniese ballingskap terug na Jesus Christus. En dan, in vers 17, gee Mattheus samevattend ‘n driedeling van hierdie hele voorgeskiedenis: van Abraham tot Dawid veertien geslagte, van Dawid tot die Babiloniese ballingskap veertien geslagte, en van die Babiloniese ballingskap tot Christus veertien geslagte.

 

Maar dan is daar nog ‘n opvallende aspek waarop ons moet let: deur die hele voorgeskiedenis, wat Mattheus hier opnoem, klink die refrein: “en hy was die vader van hom, en hy die vader van hom, en hy die vader van hom…” Totdat ons in vers 16 kom by Jakob, die vader van Josef – en let dan op – die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. Die refrein word onderbreek! In vers 18 keer Mattheus terug na waarmee hy in vers 16 geëindig het. Dus, hy eindig in vers 16 met die woorde: “… Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word” – en dan volg daar letterlik in vers 18: “die geboorte van hierdie Jesus Christus was dan so…” “Hierdie Jesus Christus” is dan dieselfde Jesus Christus as in vers 16. Maar gemeente, hoekom sou Mattheus by Jesus Christus die refrein verbreek? Hoekom sou hy nou sy geboorte apart vertel? Was Jesus Christus se geboorte dan anders as dié van al sy voorvaders? Ja, Mattheus formuleer doelbewus só om ‘n kontras te skep tussen die geboorte van Jesus Christus en die geboortes van die persone wat in die voorgeskiedenis genoem word. Mattheus wil doelbewus sê dat die geboorte van Jesus nie was soos die voorafgaande geboortes nie. En daar is ‘n rede hiervoor…

 

Gaan kyk maar ‘n bietjie na die inhoud van die voorgeskiedenis… Ek noem sommer ‘n paar dinge uit hierdie voorgeskiedenis.

Kyk byvoorbeeld na verse 2 en 3: “Jakob die vader van Juda en sy broers” – Juda word dus tussen al sy broers uitgekies as dié een in wie se lyn die Christus gebore sou word. Maar die vervolg maak sommer gou-gou duidelik dat dit die verkiesing van ‘n sondige mens was; ons lees in vers 3: “en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar.” Tamar, die vrou wat haar as hoer voorgestel het, en wat deur Juda in sy wellus gebruik word – in dáárdie lyn werk God na die Christus toe. En dan gaan dit nie in die eerste plek oor Tamar, asof sy model staan vir die slegte vrou nie. Nee, dit gaan oor Júda; die swart bladsye in Júda se lewe word in die openbaar hier vertoon, sy verkiesing uit al sy broers roep om genade!

Kyk ook na vers 6: “Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uria…” ‘n Swart bladsy in die lewe van God se uitverkore koning, ‘n swart bladsy in die lewe van God se volk – hierdie egbreuk en moord van Dawid roep om genade!

En kyk ten slotte nog na vers 11: “Josia die vader van Jegonia en sy broers in die tyd van die Babiloniese ballingskap.” Jegonia was die laaste Dawidiese koning, en tydens sy regering het die maat van die sonde van die volk vol geloop, en laat die Here die volk in ballingskap gaan. Die Dawidiese koningskap se dae was getel – hierdie verlore koningskap roep om genade!

 

Gemeente, sien u die sonde van die volk van God? Sien u die magteloosheid van die nageslag van Abraham om daardie sonde te oorkom? Drie ewe lang periodes – drie periodes van veertien geslagte – het bewys dat die redding nie van mensekant kán kom nie. En dáárom dat die refrein onderbreek word; as daar enigsins kans was op verlossing, dan moes die refrein onderbreek word, dan moes die oordrag van die vader na die seun gestop word, dan moes daar ‘n nuwe begin gemaak word.

‘n Nuwe begin, nie uit die mense nie, maar uit God. En daarom dat Mattheus in vers 16 nie sê: “Josef die vader van Jesus wat Christus genoem word nie”; nee, hy sê: “Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” Dit is die eerste teken van ‘n nuwe begin; die sondige voorgeskiedenis word hier onderbreek. Josef, die man wat in die lyn van hierdie hele voorgeskiedenis gestaan het, word uitgeskakel wanneer dit gaan oor die koms van die Verlosser. Stop! Dit kan nie so voortgaan nie! Jesus Christus kan nie uit Josef gebore word nie! Nee – en so lees ons dan in vers 18 – “die geboorte van hierdie Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.”

Gemeente, God het ingegryp in die menslike geskiedenis deur Josef uit te skakel. Wanneer dit gaan oor ons verlossing, dan word ons uitgeskakel. Ék word gesystap, sodat ék verlos kan word – ja, dit is die misterie van God se verlossingsplan. Deur sy Gees sorg God daarvoor dat Maria swanger geword het. En laat ons Hom daarvoor eer, broers en susters! Eer aan God in die hoogste hemele, want slegs deur sy ingrype – sonder die toedoen van mense! – het dit moontlik geword dat daar vrede op aarde kon kom. Slegs deur sy ingrype is dit vir u en my moonlik om vergifnis van sondes te kan vra, is dit vir u en my moontlik om met God versoen te kan word.

Ons let vervolgens op die noodsaak van Josef se betrokkenheid. 

2. Josef word dus nie ingeskakel by die koms van die Messias nie. En dit wil voorkom asof hy dit self ook aangevoel het. Ons lees in vers 19 dat Josef, toe hy agtergekom het dat Maria swanger was, hom voorgeneem het om in die geheim van haar te skei. En die rede? Omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak.

Dit is belangrik, gemeente, dat ons hierdie konteks goed sal verstaan. Op die moment dat Maria swanger word, is sy reeds Josef se wettige vrou. In daardie tyd het by baie volke die ondertrou, die verlowing, gegeld het as die juridiese en kontraktuele sluiting van die huwelik. Hierdie verlowing kon slegs deur egskeiding ongedaan gemaak word. Die fisiese saamwoon asook die seksuele eenwording het eers later gevolg, maar dit het niks verander aan die feit dat man en vrou toe reeds wettig getroud was nie. Hoewel Josef en Maria dus nog nie saamgewoon of seksuele omgang gehad het nie, was hulle reeds man en vrou. Maria se swangerskap beteken dus dat Josef nou ‘n kind verwag in sy huwelik. Maar dit was nie moontlik nie, want – sê vers 19 – Maria is swanger bevind voordat hulle saamgekom het.

 

Nou dink baie van ons dat Josef vir Maria ‘n skeibrief wou gee, omdat hy haar van ontrou verdink het. Josef moes sekerlik gedink het dat Maria rondgeslaap het. Maar gemeente, kom ons lees wat daar staan aan die einde van vers 18: Maria is swanger bevind uit die Heilige Gees. Dit is nie maar net ‘n stukkie informasie wat Mattheus agteraf vir óns, die lesers, gee nie; nee, die mense rondom Maria het dit bevind, húlle het begin waarneem dat sy swanger was uit die Heilige Gees. Dit was húlle bevinding van sake, húlle konklusie.

Maar hoe kon hulle dit weet? Mattheus sê niks daaroor nie, maar Lukas se evangelie kan ons hierin verder help. Ons lees in Lukas 1 dat Maria, direk nadat die engel aan haar die boodskap gebring het dat sy swanger sou word (toekomende tyd), drie maande lank by Sagaria en Elisabet was – en sy moes êrens in hierdie tyd swanger geword het. Sagaria en Elisabeth kon dus daarvan getuig dat sy suiwer gelewe het, dat daar geen rondslapery by haar swangerskap ter sprake was nie. En hulle kon nog meer vertel: want toe Maria daar aangekom het, het die kindjie in die skoot van Elisabet opgespring (Luk. 1:41) en is daar lofsange gesing. Daar het soveel wonderlike dinge in daardie tyd gebeur, dat die mense in die hele bergstreek van Judea daaroor gepraat het (Luk. 1:65). Dit alles het aan die mense rondom Maria die besef gegee dat sy swanger was uit die Gees. Daar was dus geen rede tot wantroue teenoor Maria nie.

En tog besin Josef oor sy huwelik met haar… Hoekom?

 

Vers 19 sê dat Josef ‘n regverdige man was – dit beteken dat hy gesoek het na wat reg voor die Here is. En ook in híérdie unieke situasie waarin hy nou verkeer het, span Josef homself in om godvresend op te tree. Hy het dus respek gehad vir wat die Gees hier besig was om te doen. Josef is daarvan oortuig dat hy plek sal moet maak. Sy vrou Maria was nou in beslag geneem deur iemand anders, die Heilige Gees. En die kind was nie sy kind nie. Josef wil nie die huwelik voltrek noudat Maria skynbaar deur die Gees afgesonder is vir ‘n ander taak nie. En daarom wil Josef haar vrystel vir hierdie taak deur haar in die geheim ‘n skeibrief te gee. ‘n Baie ongebruiklike stap, want hiermee sou hy Maria die vryheid gee van iemand wat nie meer getroud is nie, sonder om in die publiek te verklaar dat hy iets onbehoorliks aan haar gevind het. So trek Josef self aan die kortste end…

En, gemeente, dit word bevestig wanneer ons in vers 20 lees wat die engel in ‘n droom vir Josef gesê het. As Josef sy vrou van ontrou verdink het, dan kon die engel eenvoudig daardie wantroue uit die weg geruim het. Maar dit is nie wat die engel doen nie; die engel spreek nie woorde van gerusstelling nie. Om die waarheid te sê, die engel praat eintlik nie eers oor Maria nie. Nee, die engel wys op die taak wat Josef self by hierdie swangerskap kry. Josef kry nie gerusstelling nie, maar hy kry ‘n opdrag! Josef kry die opdrag om aan die kind sy naam te gee en om hom te versorg.

 

En gemeente, watter groot genade spreek daar nie uit hierdie opdrag aan Josef nie. Watter groot genade dat God Josef by hierdie geboorte betrek! Want kyk hoe word Josef aangespreek in vers 20: “Josef, seun van Dawid…” Josef word aangespreek as die man wat in die lyn van Dawid staan, wat in die lyn staan van die voorgeskiedenis waaroor ons vroeër gepraat het, die sondige voorgeskiedenis! Josef, die regverdige, staan in die lyn van diegene wat op hulle eie nie aan die sonde kan ontkom nie. En dáárom mag Josef nie wegloop nie; hy word opgeroep om hierdie kind nie te ontduik deur sy vrou los te laat nie. Hy het hierdie kind nodig, net soos wat die hele voorgeslag hierdie kind nodig het. Die hele voorgeskiedenis het geroep om genade, om verlossing. En nou is die Verlosser oppad, Hy kom om die nadelige saldo van die voorgeskiedenis weg te neem, Hy kom om die volk van hulle sondes te verlos. Dit is immers sy Naam – Jesus! En Josef, die persoon wat in hierdie konteks die band met die voorgeskiedenis verteenwoordig, hy word ingeskakel om te wys dat die Verlosser gekom het vir sy vólk, vir die sondes van sy volk, vir die sondes van Josef self.

Sien u, gemeente, hoewel daar ‘n duidelike onderbreking was, hoewel Jesus Christus nie gebore word op die manier van die refrein nie, hoewel Hy ware en ewige God is en bly, sorg God tog daarvoor dat die band met die sondige volk daar is, sorg God dat Hy die ware nakomeling van Dawid is, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde – want vir dáárdie broers het Jesus Christus gekom. Vir die volk van Abraham, vir u en my wat in dieselfde geloof as Abraham staan. God word mens om mense te red, en daarom is dit so pragtig dat Josef ingeskakel word by die menswording. In hom is u en ek ook betrokke, word ons deur God nader gesleep ter wille van ons verlossing. En soos wat Josef die opdrag kry om aan Jesus sy naam te gee, só word ons ook geroep om daardie Naam te noem. Ons kry die opdrag om die enigste Naam tot behoud te bely, baie persoonlik: Jesus Christus, my Verlosser! – soos wat dit ook vanoggend hier in die openbaar gebeur het. Hoewel die verlossing dus van buite jou en my af kom, is jy en ek sekerlik betrokke. Nee, ons word nie betrek in ons status en in die posisie wat ons hier op aarde het nie; ons word betrek in ons sondigheid voor God. Sondaar, daar is jou Verlosser; noem in geloof sy Naam en word gered!

Kom ons let ten slotte op die vervulling van Jesaja se profesie.

 

3. Die engel self gee in Mattheus 1:22 en 23 ‘n Skrifbewys vir wat hy sopas aan Josef verkondig en opgedra het – die profesie uit Jesaja 7. Nou gemeente, die tyd waarin Jesaja 7 afspeel, is ‘n baie spannende tyd. Juda was, in ‘n tyd toe Assirië as die nuwe wêreldmag na vore gekom het, ‘n bedreiging vir Israel en Aram. Gevolglik verenig Israel en Aram hulle om Juda in te neem. Vanuit ‘n militêre oogpunt moes Juda hierdie stryd sekerlik verloor het; gevolglik bewe die harte van die volk daarom ook soos die bome van die bos. Dit was ‘n kritieke oomblik in die geskiedenis van Juda, die koningskap van Dawid se huis het op die spel gestaan. En dan mag Jesaja die volk gerusstel met ‘n belofte van God. Meer nog: koning Agas mag selfs ‘n teken van die Here vra. ‘n Aanbod wat hy egter in die wind slaan…

En dan gee die Here self ‘n teken: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem.” Die woord wat hier met maagd vertaal is, beteken letterlik ‘jong vrou’ en dui nie noodwendig op ‘n maagd nie. Dit is in hierdie konteks wel ‘n opvallende woord en Jesaja het sekerlik meer gebruiklike woorde tot sy beskikking gehad as hy eenvoudig wou verwys na ‘n jong vrou. En daarom kan ons aanneem dat dit hier oor ‘n maagd gaan. En hiermee wys die Here dat Hy self, op sy manier, sonder toedoen van mense, sal sorg vir die geboorte van ‘n verlossende kind. Egter nie dadelik nie… Eers sal die gerig van die Assiriërs oor Aram en Israel, maar ook oor Juda, losbars (vers 17). Maar daarna sal die Hére hierdie kind voorsien; die volk van God hoef nie te vrees nie, want God is met ons (Jes. 8:10), en die mense sal hierdie kind noem “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (Jes. 9:5), en op Hom sal die Gees van die HERE rus (Jes. 11:2). Die Here sal dit doen – uit ‘n vrou, geen man kom hierby te pas nie, geen trotse koning staan hier sentraal nie…

 

En gemeente, hierdie profesie vind uiteindelik sy antwoord in die tyd van Josef en Maria. Wat in Jesaja 7 nog onvervuld was, word hier vervul – Maria, die maagd, word swanger vóórdat hulle saamgekom het, swanger uit die Heilige Gees. En sy mag vir Josef – uit die huis van Dawid – ‘n seun baar waardeur die huis van Dawid verlos word. En hulle sal Hom Immanuel noem: God met ons! So is Jesus Christus die teken vir almal dat slegs die Here die wêreld van die sonde kan verlos, dat Hy by ons is.

En gemeente, wanneer Josef wakker word dan doen hy wat die engel hom beveel het. Vir Agas was dit nie goed genoeg nie, hy wou nie ‘n teken ontvang nie; vir Josef was dit nie te min om as seun van Dawid saam te werk aan die vervulling van die teken nie. Josef wil uit genade lewe – hy neem sy vrou by hom, soos die engel beveel het. Ons sien in hierdie laaste verse dat die Here nie slegs ‘n wonder in Maria gewerk het nie, maar ook in Josef. Sy gehoorsaamheid is nie minder ‘n goddelike wonder as Maria se swangerskap nie. Die stomp van Isai, die afgekapte stomp van die huis van Dawid begin weer lewe, begin weer opbloei – deur geloof alleen!

 

Geloof – dit is die enigste manier hoe ons vandag die Immanuel-belofte mag ontvang. En Jesus wys dit ook; dit wat hier in die begin van Mattheus se evangelie in vervulling gaan oor God wat by ons is, is nie iets wat net daarna weer verby is nie. Dit is nie ‘n een-dag-wonder nie. Nee, hierdie selfde belofte-werklikheid word nog ‘n keer reg aan die einde van Mattheus se evangelie herhaal. Daar neem Jesus die Immanuel-naam in sy eie mond om sy dissipels te bemoedig: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Gaan julle, gaan verkondig my Naam, gaan maak dissipels, doop hulle, leer hulle om soos my kinders te lewe. Die Here vra dus dat sy dissipels eenvoudig doen wat Hy hulle opdra – soos wat Josef gehoorsaamheid betoon het aan die opdrag van die engel. En dan gaan sy belofte saam met hulle: Ek is met julle. Gemeente, gaan en doen net so, wees getuies van die geloof, lewe soos kinders van die Here, lewe regverdig soos Josef – en weet dan, God is met ons, altyd. Dan word die lewe nuut, dan is elke nuwe geboorte nie meer ‘n refrein in die rigting van die dood nie, maar dan word elke nuwe geboorte ‘n fees in die lig van die unieke geboortegeskiedenis van Jesus. Amen

Liturgie (aand) Groet en afkondigingsVotum Ps. 121:1Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 111:1, 3 en 5

GebedLees:    Mattheus 1            Jesaja 7:1-17Sing Ps. 132:7, 8 en 11 (het gelees van Jesus Christus, die seun van Dawid – sing nou daarvan uit Ps. 132)Teks: HK, Sondag 14PreekAmenlied Ps. 2:4 en 6GebedGeloofsbelydenis (staande en singende)Kollekte

Slotsang Skr. 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)