Bid vir alle mense!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-10-19
Teks: 
1 Timótheüs 2:1-7
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 2:1-7; lees Mattheus 6:5-13

 

Geliefde gemeente van ons Verlosser, Jesus Christus,

Dit was die afgelope week sendingweek, en voor dít, in September, het ons die hele maand lank tydens ons bybelstudies – persoonlik en gesamentlik – besin oor evangelisasie. Beide sending en evangelisasie het gemeenskaplik dat dit gaan oor ons getuienis-opdrag. Ons is dus in die laaste twee maande voortdurend en op stimulerende wyse gekonfronteer met die feit dat ons getuies behoort te wees. Ons moet dit wees in ons persoonlike omgewing – dáár waar die Here my geplaas het – maar ons moet dit ook wees deur ons betrokkenheid by die georganiseerde sendingwerk van ons gemeente.

Maar dan ontstaan die vraag: Hoe begin ek my getuienis-taak? En hoe kan ek betrokke wees by die sendingwerk? Wat is die belangrikste aspek van my getuienis? Dit is hierdie soort vrae wat ons tydens afgelope week se katkisasieklasse ook gestel het. En die konklusie waartoe ons gekom het, is dat gebed die basis vorm van alle getuienis, hetsy deur evangelisasie by die skool of by die werk, hetsy deur georganiseerde sendingwerk in Soshanguve. Gebed is die begin van alle betrokkenheid by die werk van sending en evangelisasie, want daardeur vertrou ons die werk en die resultate van die werk van die begin af aan God toe! Gebed is die hoogste vorm waardeur ek myself kan insit vir die werk van sending en evangelisasie. Let wel, beslis nie die énigste vorm nie, maar wel die hóógste vorm. En in ‘n kultuur van aktivisme en kom-ons-spring-aan-die-werk waarbinne ons lewe, is dit goed om mekaar hieraan te herinner – gebed, begin altyd daarmee.

 

Maar goed, waarvoor bid ons dan? Vir wie bid ons? Wel, ons bid natuurlik vir die sendelinge en hulle gesinne, ons bid vir die sendingwerk, ons bid vir die sending- en evangelisasie kommissie, vir die jong sendinggemeentes. Ja, daar is so baie waarvoor ons kan bid. Maar, broers en susters, wie van ons bid ooit vir die voorwerpe van ons getuienis? Met ander woorde, wie bid ooit vir daardie mense op wie ons getuienis gerig is, daardie mense wat ons deur ons getuienis tot Christus wil bring? Wie van u bid ooit vir die huishulp of tuinman, wat lid is van die ZCC, maar aan wie jy die ware evangelie probeer bring? Wie bid spesifiek vir die inwoners van Nellmapius waarmee ons sendelinge probeer kontak maak om hulle vir Christus te wen? Wie het vir mnr. Mashaba gebid, wat enkele weke gelede afgesny is van die gemeente in Soshanguve XX? Wie bid vir die ongelowige kind by die skool en vir ons sportsterre wat nie in Christus glo nie? Wie bid vir ons nuwe staatspresident en vir mnr. Zuma van die ANC, wat – sover bekend – beide sonder die Here lewe?

Is dit ‘n vreemde gedagte? Nee, gemeente, nie so vreemd wanneer ons mooi na Paulus in ons teksgedeelte luister nie. Paulus roep naamlik op tot smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge vir alle mense. Alle mense? Ja, alle mense, en uit die res van hierdie gedeelte sal duidelik word dat dit gaan oor alle mense wat nie in die Here glo nie. Vir hulle almal moet ons bid! En, baie interessant, dan spesifiseer Paulus dit ook nog in vers 2 vir die gemeente in Efese: “… vir konings en almal wat hooggeplaas is…” Hoekom noem Paulus spesifiek die konings en hooggeplaastes? Wel, broers en susters, in die konteks van die gemeente van Efese was die konings en hooggeplaastes die mense waarvoor dit vir die gemeentelede die moeilikste was om voor te bid! Immers, daar was nie christelike konings in daardie dae nie; daar was slegs heidene, vyande van die evangelie en vervolgers van die christene – manne soos keiser Nero, wat die christene vir die leeus gegooi en hulle as fakkels gebruik het vir sy tuinpartytjies. Ons kan onsself voorstel dat daar waarskynlik ‘n gemompel onder die gemeente van Efese opgegaan het toe Timotheus hierdie gedeelte van die brief aan hulle voorgelees het: moes hulle vir sulkes bid? Ja, sê Paulus, vir alle mense wat Christus nie ken nie, ook vir die goddelose regering. En dit is nie maar net ‘n aanbeveling wat Paulus hier doen nie; nee, hy sê: “In die eerste plek vermaan ek dan…” Dit is nie opsioneel om vir die hele ongelowige wêreld – insluitende die onchristelike regering – te bid nie; dit is ‘n opdrag!

 

Maar wat is die rede om vir die ongelowige regering te bid? Wel, gemeente, dit is essensieel vir die getuienis van die kerk. Christene wat naamlik nie vir die politieke leiers wil bid nie, is dikwels diegene wat geneig is om die vrede te wil versteur. Hulle is dikwels sinies oor die politiek en oor die leiers, en hulle skep ‘n vreemde behae daaruit om met wrewel al die foute van die regering op te noem; dit is hulle by wie daar dikwels ontevredenheid en selfs haat teen die leiers ontstaan. Maar dan sê die kerkvader Johannes Chrusostomus tereg: “Niemand kan haat voel vir die een vir wie hy bid nie.” Gebed help die gelowiges dus om hulle vyandigheid te vervang met bewoënheid, dit help om rewolusionêre gedagtes te vervang met ‘n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid (vers 2). En die resultaat is dat die nodige ruimte vir die gelowiges ontstaan om hulle getuienis-taak na te kom.

Luister dus baie mooi: hier staan nie dat ons vir die regering moet bid, sodat húlle vir ons ‘n rustig en stil lewe kan gee nie; nee, ons bid vir hulle sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei. Ons bid nie vir die regering om iets by hulle te kry nie; ons bid vir hulle, sodat ons eie ingesteldheid reg en gesond kan wees. Ons bid vir hulle sodat ons nie langer besig gehou word deur siniese en negatiewe – en selfs rassistiese – gedagtes oor ons regering nie, sodat ons monde nie langer gevul word met negatiewe woorde nie, maar sodat ons gevul word met die positiewe boodskap van Jesus Christus, die Koning van die konings! Broers en susters, bid dus vir álle mense, want eers as ons vir hulle bid, eers dan kan ons ook reg teenoor hulle getuig van sonde en verlossing en ewige lewe.

Tema: Bid vir alle mense! Want:

1.      God wil dat almal gered word (verse 3-4)2.      Christus is die een middelaar en losprys vir almal (verse 5-6)3.      Die evangelie word aan almal verkondig (vers 7) 

1. Christene moet vir alle mense bid, “want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” – só leer Paulus vir Timotheus en vir die gemeente in Efese (verse 3-4). Dit is eintlik ‘n ongewone titel wat hier aan God toegeskryf word; normaalweg is dit die Seun wat ‘Verlosser’ genoem word. Maar, gemeente, Paulus gebruik hierdie titel doelbewus om ons te herinner aan ‘n belangrike gedeelte uit die Ou Testament, naamlik Jesaja 45:21 en 22, waar ons lees: “… buiten My is daar geen ander God nie; ‘n regverdige en reddende God is daar buiten My nie. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.” Die Skrif leer hier vir ons die universele aanbod van die evangelie. Die enigste God, die God wat red, nooi álmal uit om Hom te ontvang.

 

In Timotheus se dae vind ons egter dat daar verskeie groepe was wat die verlossing tot ‘n uitgesoekte groepie beperk het. So was daar byvoorbeeld sommige Joodse christene wat oortuig was dat die heidene eers Jode moes word voordat hulle belydende christene kon word. Daarmee het hulle die verlossing ‘n joodse aangeleentheid gemaak. Verder was daar die heidense Gnostici wat ook eksklusief was; hulle het geleer dat die verlossing – uiteraard soos wat húlle die verlossing verstaan het – nie vir almal bedoel is nie, maar slegs vir diegene wat besondere kennis gehad het. Ook vandag nog vind ons dat mense ‘n beperking plaas op die aanbod van die verlossende boodskap – dink byvoorbeeld aan die sogenaamde bevrydingsteologie wat propageer dat God ‘n besondere voorliefde het vir die armes en die verdruktes, of dink aan sekere regse groepe wat van mening is dat die verlossing net tot ‘n sekere ras beperk is.

Maar, broers en susters, dit is nie slegs ander wat in hierdie slaggat trap nie, ook die kerk van vandag – ons! – kan hierdie fout maak wanneer ons begin om die evangelie as ons eksklusiewe eiendom te hanteer. En ons doen dit wanneer sekere klasse, sekere rasse, sekere kulture minder welkom is in ons gemeente, of wanneer ons sekeres uitsluit in ons uitdra van die evangelie. En vir ons, as gereformeerdes, is daar verder nog die reële gevaar dat ons so benoud is vir die invloede van buite af – wie of wat daardie ‘buite’ ook al mag wees – dat ons onsself volledig opsluit in ons veilige skans en nie toelaat dat iets van buite-af in mag kom nie, en daarby ook vergeet dat dit wat binne is eintlik buitentoe moet gaan… Ons kan soms so vashou aan die suiwerheid van die leer – en tereg – dat ons vergeet dat die leer nie daar is om vasgehou te word nie, maar om uitgedra te word!  Ons bou hoë mure rondom die kerk, terwyl ons vergeet dat die kerk eintlik ‘n oop stad moet wees; Gód is die vurige muur rondom sy volk. En op dié manier – dikwels onbewustelik en goedbedoeld – word die evangelie die eiendom van ‘n eksklusiewe groepie, en sien ons nie meer die noodsaak raak dat dit God se wil is dat alle mense gered word nie. En die gevolg is dat ons ook nie meer kan bid volgens God se wil nie; ons verleer dus om te bid vir alle mense.

Gemeente, daarmee sê ek nie dat ons nie die wag by die grense van die kerk behoort te betrek nie; nee, natuurlik moet ons – nie alles wat buite is mag binnekom nie, en ons wil nie hê dat dié wat binne is hulleself daarbuite begewe nie. Maar daar is één wat vrye toegang het, daar is één wat vrylik in en uit mag gaan, wat vrylik in en uit moet gaan, en dit is die Woord van God, die evangelie van genade aan alle mense. Daardie Woord mag inkom om ons te leer, daardie Woord moet uitgaan om ander te leer, sodat hulle ook tot kennis van die waarheid mag kom! En laat hierdie beginsel die manier bepaal waarop ons bid.

 

Want wanneer ons op dié manier bid, dán bid ons volgens die wil van God. Ons gebed vir alle mense is gegrond op dít wat God wil hê. Die rede waarom die kerk vir alle mense behoort te bid, is omdat God alle mense uitnooi. Dit is nie ons taak om te raai wie uitverkies is nie. Hoe sinneloos dit ook al mag lyk om vir die Nero’s en die Zuma’s van hierdie wêreld te bid, wil Gód hê dat ons dit tog moet doen. En dan doen ons dit, nie omdat ons altyd so voel nie, maar omdat ons gehoorsaam wil wees. Om vir alle mense te bid, is ‘n daad van gehoorsaamheid aan die God wat wil hê dat alle mense gered word.

Maar, gemeente, plaas dit ons nie voor ‘n groot probleem nie? Want wat beteken dit dat God wil hê dat alle mense gered word, terwyl die Skrif tog duidelik leer dat nie almal gered word nie? Dink maar net aan Mattheus 25:32 waar daar ‘n duidelike skeiding tussen skape en bokke gemaak word. Kry God dan nie wat Hy wil hê nie? Hoe pas hierdie Skrifgedeelte binne die leer van die uitverkiesing? Ons moet vir oomblik hierby stilstaan, omdat dit ook vir die volgende punt relevant is.

Wat bedoel ons naamlik wanneer ons praat van “alle mense”? Bedoel ons daarmee elke mens wat ooit gelewe het? Nee, gemeente, ons moet verstaan dat die woordjie ‘alle’ nie altyd ‘elkeen’ beteken nie; somtyds beteken ‘alle’ ook ‘alle soorte’. En dit wil voorkom asof dít die manier is waarop ‘alle’ in 1 Timotheus 2 gebruik word. Paulus bedoel hier eenvoudig dat geen nasie op hierdie aarde, en geen vlak van die samelewing van die verlossing uitgesluit is nie, aangesien dit God se wil is om die evangelie sonder uitsondering aan alle mense aan te bied. Wanneer God dus wil hê dat alle mense gered word, dan beteken dit dat uit alle volke, nasies en tale van alle tye mense gered sal word. En in daardie opsig is God se aanbod universeel, en dít bepaal die manier waarop ons hieroor moet bid.

 

Broers en susters, wees dus konkreet in jou gebede; bid by name vir daardie mense wat die Here nog nie ken nie of wat nog nie in Hom glo nie. Jý is ‘n geroepene van die Here – en prys Hom daarvoor! – maar gaan bid dan ook vir al die ander wat die Here in sy genade nog wil roep. So wil Hy dit hê, en as sy kind verenig jy mos jóú wil met sýne?   

Vervolgens: Bid vir alle mense, want Christus is die een middelaar en losprys vir almal.

 

2. Nadat Paulus ons op God se wil gewys het – as die eerste rede waarom ons vir alle mense moet bid – wys hy vervolgens in verse 5 en 6 op die manier waarop God hierdie wil realiseer, naamlik deur Jesus Christus. Anders gestel: God is die Verlosser wat wil hê dat alle mense gered word, maar Hy doen dit deur Jesus Christus. Christus is die middelaar – die enigste weg van die aarde na die hemel, die enigste verbinding tussen God en mens. Hierdie eksklusiwiteit van Jesus Christus is vir Paulus in 1 Timotheus 2 dan ook die tweede rede waarom ons vir alle mense behoort te bid. En dit is ‘n geweldige belangrike rede, broers en susters, want as mense nie via hierdie Christus die weg na God vind nie, sal hulle nooit by God kom nie. En veral in die tyd waarin ons lewe, is hierdie leerstuk van die eksklusiwiteit van Jesus Christus as die een middelaar natuurlik baie relevant. Ek gee vir u ‘n enkele voorbeeld van die tipiese gedagtegang van ons tyd.

In ‘n gesprek tussen ‘n bekende persoon en die aartsbiskop van Kantelberg het die aartsbiskop vir haar gesê: “Jy weet seker dat Jesus die Seun van God is?” Die persoon het geantwoord en gesê: “Hy is dit moontlik vir jou, maar nie vir my nie”, waarop die aartsbiskop gereageer het: “Wel, óf Hy is dit, óf Hy is dit nie.” Óf Hy is dit, óf Hy is dit nie… - eksklusiewe woorde. Vir heelwat mense vandag is daar egter verskillende weë na God toe, baie maniere waarop jy verlos kan word, en elkeen het die reg om sy eie weg tot verlossing uit te werk. Maar saam met die Skrif moet ons bely dat daar slegs een weg na God toe is. Jesus Christus is, as God en mens in een Persoon, die enigste wat aan beide kante van die verbond hande kan vat. Hoewel die aanbod van die evangelie dus universeel na die mensdom uitgaan (die eerste punt), is die inhoud daarvan eksklusief. Daar is net een middelaar…

 

Gemeente, hierdie besef moet ons geweldig bewoë maak oor die welstand van hierdie wêreld waarbinne ons lewe. U en ek, ons het die Weg gevind, of eerder, Hy het Hom deur ons laat vind as losprys vir ons sondes. Ons is gered, prys die Naam van die Here! Maar wat van al daardie mense daarbuite wat Hom nog nie gevind het nie, en wat oop-oë die verkeerde pad inslaan. Besef u wat met hulle gaan gebeur? Besef u waarheen hulle oppad is? Ag, selfs al stel ek die vraag, dan bly dit nog steeds afstandelik. Dus, kom ons bring dit nader: wat gaan gebeur met jou seun of dogter wanneer hulle nie hul lewe in Christus vind nie? Wat dink jy sal die uiteinde wees van jou vriend of vriendin, jou goeie buurman, jou getroue huishulp of tuinman as hulle hul eie pad gaan, los van Jesus Christus?

 

Broers en susters, wanneer ons die lewe ontvang het in Jesus Christus, dan mag die welstand van die mensdom ons nooit koud laat nie. En dan bid ons met groot deernis en liefde vir daardie mense wat nog nie die Weg gevind het nie. Ons gebede het groot krag voor die Here – so leer die Skrif ons – maar so dikwels beperk ons daardie krag tot ons eie huis en tuin en kombuis, so dikwels misbruik ons hierdie kragtige instrument op egoïstiese wyse vir onsself. Gebed word dan ‘n privaat-aangeleentheid vir my sake.

Maar Jesus leer ons iets van die manier waarop ons behoort te bid in Mattheus 6; Hy sê daar: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is…” Dus, gebed moet voor die aangesig van God plaasvind – in jou binnekamer. Nou, as óns die woord ‘binnekamer’ hoor, dan dink ons onmiddellik aan ‘n groot huis met baie kamers, waar elke persoon – ook die kinders – sy eie slaapkamer het, sy eie privaat vertrek. Maar die meeste mense in Jesus se tyd het slegs oor ‘n kleinerige eenslaapkamerwoning beskik. Nee, Jesus gebruik hier ‘n woord wat dui op ‘n voorraadskuur of ‘n voorraadkas. By elke huis is daar êrens ‘n bêrekas of ‘n spens wat nie as leefruimte gebruik word nie. Dáárnatoe moet jy gaan! ‘n Klein, afgeslote ruimte, waar daar geen deurgaande verkeer van mense of huisgenote is nie, is goed genoeg om die hemel te kan bereik.

Maar gemeente, my gebed in die kas beteken nog nie dat ek slegs vir eie sake en my belange bid nie. Kyk maar na die gebed wat die Here Jesus vervolgens vir sy leerlinge leer – dit het alles te make met die wêreld waarin hulle geleef het: laat U Naam geheilig word, nie net hier in hierdie donker voorraadkas nie, maar in die hele wêreld; laat U koninkryk kom, tot aan die eindes van die aarde; laat alle mens U wil doen; gee óns vandag ons daaglikse brood, vergewe óns skulde, lei óns nie in versoeking nie. Sien u die wêreldomspannende krag van die gebed? Vanuit hierdie diep intieme, een-tot-een gesprek met my God kom elke aspek van die wêreld aan die orde, is daar geen mens wat my gebedsaandag ontgaan nie. Die gebed is diep persoonlik, ja, maar nie privaat nie; in my persoonlike gebed bid ek vir alle mense, omdat ek hulle welstand op die hart dra, omdat hulle sieleheil my raak.

 

Gemeente, laat ons weer onder die besef kom dat daar net een weg tot saligheid is, Jesus Christus. As dit nie so was nie, moet dan asseblief nie vir ander mense bid nie. Net dalk word hulle gedwing om ‘n God te dien wat hulle nie wil dien nie. Maar as jy glo en bely dat die weg tot verlossing eksklusief is, dan moet jy bid. Dan gaan selfs die welstand van die staatspresident en sy kabinet, en die welstand van die ANC-leier jou aan die hart. Lê dus die sieleheil van mense in gebed voor die Vader neer – dit is die heel eerste stap in jou verkondiging van Jesus Christus.

Ten slotte: die evangelie word aan almal verkondig.

 

3. Christus se eksklusiewe verlossingswerk lei vervolgens tot die sendingswerk van die kerk na alle nasies. Dit is, volgens vers 7, die opdrag wat God aan Paulus gegee het toe hy tot bekering gekom het. Hy het hom, volgens Handelinge 22:15, die opdrag gegee om ‘n getuie by alle mense te wees. Weereens die frase: “alle mense”. Natuurlik was dit nie Paulus se taak om vir elke mens wat ooit gelewe het die evangelie te bring nie. Nee, Paulus is deur God tot apostel van die heidene aangestel – só noem hy homself ook in 1 Timotheus 2:7: “’n leraar van die heidene”. Maar deur die werk van hierdie leraar van die heidene sou uiteindelik alle mense die evangelie hoor. Die verlossing, wat eers net vir die Jode bedoel was, word nou uitgebrei na die hele wêreld, en so kom daar ‘n kerk uit alle volke van die wêreld. En daardie kerk word vervolgens self ook sendende kerk.

Nee, dit is te maklik om net te praat van sendende kerk. Want daardeur word die kerk die een wat stuur. En dan word ons ‘n gemeente met vier sendelinge in ons diens. Maklik, ons doen mos ons taak… Nee, miskien moet ons eerder sê: die kerk word ‘n sendeling, ‘n gestuurde van Jesus Christus. En dan sê ons nie meer slegs dat ons vier sendelinge in ons diens het nie, maar dan kan ons sê dat daardie vier ondersteun word deur meer as 300 ander sendelinge. En hierdie 300 ander – u en ek dus! – gaan miskien nie fisies na die sendingsveld toe nie, maar ons ís sendelinge. Sendelinge, in besonder in ons gebede. Di. Boon, Mhlanga, Boersma en de Boer gaan verkondig fisies die evangelie, maar ons dra daardie evangelie deur ons gebede as’t ware in die harte van alle mense in. Ons gebede is die krag agter die verkondiging, ons gebede is die enjin van die sending.

 

Broers en susters, besef ons watter kragtige instrument die Here Jesus ons gegee het? So kragtig dat ons in ons gebede nie beperk word tot een of twee mense nie, hier een en daar een. Ek bid nie slegs vir hierdie een en daardie een nie. Nee, die Here gee alle mense vir ons gebedsaandag. Bid dan, gemeente, sodat die skares mag toestroom. Bid, sodat die getal mag groei en volraak. En wie weet, dalk besluit ons God en Verlosser in sy wysheid om ons staatspresident en ander hooggeplaastes ook daarby in te sluit…

Amen

  

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 19:1 en 2

Wetslesing + v/a 110

Sing Ps. 62:5-8

Gebed

Lees: Mattheus 6:5-13

Teks: 1 Timotheus 2:1-7

Sing Skr. 3 (die lofsang van Simeon waar hy bely dat die Seun van God die lig van die volke is)

Preek

Amenlied Ps. 148:4 en 5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 66:1, 2, 7 en 9

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)