Adam se amp word deur Christus herstel sodat ons almal ampsdraers kan wees

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-09-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 12

 

Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,

U is vandag deur die kerkraad opgeroep om name in te handig van broeders wat geskik geag word om in die amp te dien. En op grond daarvan hoop ons om binnekort weer broeders in die amp te bevestig, broeders met bepaalde gawes vir die amp van ouderling of diaken. Ons mag die Here dank dat Hy die gawes gee, sodat die amptelike werk kan voortgaan. Tog is dit belangrik, gemeente, om daarop te let dat ons almal gawes van Christus ontvang het, gawes wat ons verplig is om tot opbou van die gemeente en tot eer van God te gebruik. Uiteraard het ons nie almal dieselfde gawes ontvang nie; almal verskillend en tóg almal gerig op dieselfde doel.

Nou is dit baie maklik om jou gawe of gawes as ‘n geïsoleerde klein afdeling in jou lewe te hanteer: ek het ‘n gawe om met bejaardes te gesels; nou ja, elke week gaan kuier ek in Ebenhaeser, en daarmee gebruik ek my gawe. Vir die res beskou ek my taak as afgehandel. Of: ek is goed met syfers, en daardie gawe gebruik ek as boekhouer van een of ander kommissie, maar verder moet die Here nie baie meer van my verwag nie. Ek gebruik mos my gawe!?

 

Maar, gemeente, ons mis die punt as ons so met ons gawes omgaan. Ek is immers nie maar enige lukrake persoon met sekere gawes nie. Dit is nie maar Jan Rap en sy maats, en, o ja, Jan het ook ‘n gawe gekry nie. Dan word die gawe ‘n enkele ligpuntjie in ‘n lewe wat verder donker bly; en dan word ook die ligpuntjie later donker.

Nee, broers en susters, die Kategismus noem ons in vraag 32 ‘Christene’! Ons is van Christus, ons behoort aan die Lig van die wêreld! Dit plaas my héle lewe in die lig! Nie maar hier en daar my gawes in Christus se gemeente gebruik nie, nee, ek as mens is Christus s’n. Ek is Christen! Ek wat niks was nie, het weer iemand geword deurdat Christus Hom aan my kom verbind het. Hy het my sy Naam gegee, sodat ek soos Hy kan word. Christus, die hoogste Profeet en Leraar, die enigste Hoëpriester en die ewige Koning, Hy kom noem my ‘Christen’ sodat ek ook profeet, priester en koning kan wees.

 

Dis ‘n beskamende titel, is dit nie? Wie durf dit dra? Christen. ‘n Eretitel, beslis, maar beskamend vir wie homself ken, beskamend vir wie weet hoe min dit sy héle lewe raak. Ek is na Christus vernoem, maar doen ek my Naamgenoot eer aan? Is ek ‘n getroue profeet, priester en koning? Dit is wel hoe God die mens gemaak het, dit is wel hoe Hy hom bedoel het. Kyk maar na Sondag 3 van die Kategismus, antwoord 6: “… God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.” Dít is hoe God Adam gemaak het. Adam was profeet om God reg te kan ken, Adam was priester om God van harte te kan liefhê, Adam was koning om met God in die ewige saligheid te lewe en Hom te loof en te prys. Adam was ‘n volmaakte ampsdraer,… totdat die sonde gekom het. Toe het alles verander.

Gemeente, laat ons vandag na die Woord van die Here luister oor ons Christen-wees, die feit dat ons profete, priesters en konings is. Ek wil dit doen deur te gaan kyk hoe elkeen van die ampte by Adam was, hoe dit na die sondeval in die Ou Testament gefunksioneer het, hoe dit in Christus herstel is, en hoe dit vandag by ons behoort wees.   

Tema: Adam se amp word deur Christus herstel sodat ons almal ampsdraers kan wees

  1. Die amp van profeet

  2. Die amp van priester

  3. Die amp van koning

 

1. Adam was profeet, Eva was profetes. Wat het dit beteken, gemeente? V/a 6 van die Kategismus sê dat God die mens só gemaak het dat hulle God reg kon ken. God het dus aan die mens ‘n profetiese bewussyn gegee om God te kan ken, sy gedagtes te kan verstaan, met die gevolg dat hulle ook reg van Hom kon spreek. Dit is immers wat ‘n profeet is: ‘n spreker van God. En dit is presies die opdrag wat Adam en Eva gekry het: spreek van God! Op die nuwe aarde, waarvan hulle die eerste bewoners was, moes hulle in alles en teenoor alles van God spreek!

In die uitvoering van hulle skeppingsopdrag, naamlik om te heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor al die diere wat op die aarde kruip, moes hulle van God spreek. En dit is presies wat Adam gedoen het toe hy op een van die eerste dae besig was om vir die diere name te gee: in elke naam het Hy van God gespreek, in elke dierenaam het God se wysheid en grootheid en skeppingsmag, soos wat Adam dit reg geken het, weerklink; soos wat Adam die diere genoem het – Gen. 2:19 – só moes hulle naam wees tot lof en heerlikheid van God. Ook in hulle opdrag om vrugbaar te wees en te vermeerder, moes Adam en Eva van God spreek; teenoor hulle kinders moes hulle van God vertel.

Gemeente, in alles moes hierdie eerste profete van Gód spreek. So moes hulle sorgdra dat uiteindelik alles van God sou begin spreek.

 

Helaas het Adam en Eva die satan leer ken, en hóm begin naspreek. Die sondeval het veroorsaak dat die mens se regte kennis, en daarmee saam sy regte spreke oor God, vertroebel het. Hy kon nie meer God, sy Skepper, ken en van Hom spreek nie. Die mens het sy profetiese amp verspeel.

En daarom moes God sélf profete roep sodat daar steeds van Hom gespreek sou word. Ons sien hoe God deur die hele Ou Testament heen profete, manne (en soms ook vroue), in sy diens geneem het om van Hom te spreek. Hy het hulle gesalf, of laat salf, as teken dat Hy hulle, in hulle sondige toestand, die nodige gee om van Hom te kán spreek. Dink maar aan Elia, wat in 1 Konings 19:16, vir Elisa moes gaan salf om in sy plek profeet te word. En so kry ons deur die eeue van die Ou Testamentiese geskiedenis talle profete wat as sprekers van die Here geroep en toegerus is, en in sy Naam gespreek het. Maar, broers en susters, die Ou Testamentiese profete se spreke van God was gebrekkig, want hulle kennis van God het gebrekkig geword; hulle moes soms dinge verkondig waarvan hulle die inhoud en implikasies self nie verstaan het nie (1 Petr. 1:10-12), hulle moes van God spreek onder ‘n volk wat nege uit die tien keer nie na hulle wou luister nie, hulle moes agterkom dat hulle soms verkeerd van God gespreek het (dink aan Natan wat in 2 Samuel 7:3 verkeerdelik vir Dawid gesê het dat die Here hom sal seën in sy begeerte om ‘n huis vir die Here te bou). Gemeente, ons moet dus sê dat, alhoewel die Ou Testamentiese profesie woord en onderrig van die Here was, dit tog sporadies en gebrekkig was. Alles het nog lank nie van God gespreek nie… Die herstel van die profetiese amp was nog onvolmaak…

 

En daarom het die Here Christus tot ons hoogste Profeet en Leraar aangestel. Hy het Hom gesalf met meer as net salfolie, Hy het Hom vervul met die Heilige Gees. En só, as Gesalfde, as die Een wat vol was van die Gees van God, kon Christus vir ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekendmaak. Dit wat deur die eeue in die Ou Testament onduidelik en vaag gebly het, of selfs heeltemal verborge was, dít kom maak Christus tydens sy lewe op aarde aan ons bekend. Met groot duidelikheid en in die fynste besonderhede kom wys Christus vir ons die pad van verlossing.

Dít alles het Christus op die mees eenvoudige wyse aan die volk en aan ons kom leer. Wie daarom na ons hoogste Profeet en Leraar luister, ontvang die kennis van God. Wie in Christus glo, word Christen, en word vervul met dieselfde Gees as wat Hy het; ons word toegerus met die Gees om te kan profeteer. Dit is ook wat Petrus in sy toespraak tydens die Pinksterdag gesê het: En in dié dae sal Ek my Gees uitstort, en hulle sal profeteer! (Hand. 2:18) Ons wat glo, mag weer vir God ken en van Hom spreek. Ons wat in Jesus Christus glo, word weer in Adam se profete-amp herstel.

 

Broers en susters, in hierdie wonderlike pad van herstel wat God deur die eeue gegaan het – vanaf Adam, via die profete, en uiteindelik in Christus, ons hoogste Profeet – lê vandag vir u die oproep: spreek van God! Soos wat Adam in die paradys in alles van God moes spreek, en dit ook gedoen het, so geld dit ook vir ons wat deur die tweede Adam in daardie amp herstel is: spreek van God. Lê daarom af alle kwaadpratery – soos wat Petrus ons oproep in 1 Petrus 2:1. Dít is nie die spreke wat God van ons vra nie, dít is nie waaroor Hy wil hê ons moet praat nie. Nee, gaan na die lewende steen wat kosbaar is, bou op Christus, en – vers 9 – verkondig dan die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Laat ons hele lewe spréék van die genade van die Here – ons lewenswandel, ons optrede teenoor ons naaste, ons woord- en taalgebruik, ons gedagtes – laat uit dit alles blyk dat ons God, ons Skepper, reg ken en nie daaroor kan stilbly nie. Neem as Christen die Woord! – nie om kwaad te spreek nie of om met woorde te mislei nie, maar om profeet van God te wees. Ons laat so dikwels toe dat die ongelowiges die woord annekseer, dat hulle die Naam van God beskimp; ons sit stil terwyl goddelose mense satansprofete is. Gemeente, laat ons daardie woord terugneem en laat ons spreek, laat ons in ons lewens getuies wees, enige tyd bereid om rekenskap te gee van die hoop wat in ons is.

Sing Ps. 74:7, 8 en 16. Ons let vervolgens op die amp van priester.

 

2. Gemeente, Adam was priester, Eva was priesteres. Wat het dit behels? Wel, as ons weer na v/a 6 kyk, dan sien ons dat dit beteken het dat hulle God van harte kon liefhê. God het dus vanaf die begin aan die mens ‘n priesterlike hart gegee waardeur Hy God kon liefhê, sy lewe aan Hom kon toewy, en in gemeenskap met Hom en sy wil kon lewe. En dit is wat ‘n priester doen: hy gee homself oor ter wille van die ander, hy dien die ander. Adam en Eva se priesterlike taak was dus om hulleself in liefde aan die Here oor te gee en Hom te dien. Adam moes aan God die dankoffer van sy lewe bring, hy moes die volle toewyding van sy hele bestaan aan die Here gee.

Hierdie toewyding het in besonder geblyk uit die gehoorsaamheid aan die gebod wat die Here gegee het, toe Hy vir Adam en Eva gesê het: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16-17). Solank as wat Adam en Eva hieraan gehoorsaam was, was hulle ware priesters, toegewyd in hulle lewe aan die Here.

 

Maar gemeente, die satan het Adam en Eva voor ‘n keuse gestel: aan wie wil julle werklik toegewyd wees, wie wil julle werklik dien? En ons weet watter keuse hulle gemaak het… Adam en Eva het ontroue priesters geword, hulle diens het satansdiens geword.

Maar, dan sien ons hoe die Here tog, ter wille van sy eer en ter wille van die redding van die mens, deur die loop van die geskiedenis vir Homself priesters aangestel het. Die Here kies die geslag van Aaron om priesters voor Hom te wees, en Hy laat hulle, net soos in die geval van die profete, met olie salf – gaan lees maar daaroor in Exodus 28-30. So kom daar dus tog mense wat deur die Here afgesonder word om hulle aan Hom te wy, en om ook die volk deur middel van die offerdiens aan Hom te wy. Maar, gemeente, hoe sien ons nie – meer nog as by die profete – die gebrekkigheid van hierdie priesterdiens nie. Dink maar aan Eli se seuns wat die priesterdiens ontheilig en die Here se toorn oor hulle gehaal het; dink aan die straf wat die Here in Maleagi 2 oor die priesters aankondig omdat hulle nie trou was in die diens waarvoor Hy hulle geroep het nie. Selfs die priesters wat spesifiek deur God aangestel en gesalf is, was sondig en gebrekkig. Die hele Ou Testamentiese priesterskap het geroep na ‘n beter bedeling, na die priesterskap vir ewig volgens die orde van Melgisedek, soos wat Dawid in Psalm 110 daarvan profeteer.

 

En daarom mag ons op ons knieë voor die Here gaan dat Hy Christus vir ons tot enigste Hoëpriester aangestel het. Christus was die Een wat Homself met sy hele lewe aan die Here gewy het, letterlik met sy hele lewe, tot in die dood toe. Die Kategismus lê groot klem daarop dat Christus, sowel wat sy Hoëpriesterskap as wat sy offer betref, volstrek uniek was, enig in sy soort. En met daardie enige offer van sy liggaam het Hy ons verlos, verlos van ons satansdiens, verlos van ons liefde vir die bose, om weer priesters van God te kan wees.

Gemeente, sien weereens die pad van herstel wat God geloop het – vanaf Adam, via die Ou Testamentiese priesterdiens, tot by Christus, ons enigste Hoëpriester – sodat ons vandag weer priesters kan wees, sodat ek myself as ‘n lewende dankoffer aan God kan toewy. Dit is dan ook die oproep: Lê dan af alle boosheid – soos Petrus sê in 1 Petrus 2:1 – en kom na die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Wie in Jesus Christus glo, word as’t ware opgeneem in sy volmaakte priesterdiens, word deel daarvan; wie Christus se enige offer aangryp, word self ook herstel tot priester. Gee jouself dan ook volledig in die diens aan die Here!

 

En daarmee hoef jy nie iets te verdien nie; nee, die versoeningsoffer is reeds gebring. Maar bring met jou diens aan die Here offers van dankbaarheid. Offers van dankbaarheid wat uiting vind op elke terrein van jou lewe – dan stort jy jouself nie meer in die sonde nie, dan wandel jy nie meer in die duisternis van hierdie wêreld nie; nee, as priester word jy dan deur die Here geheilig om sy wil te doen; Hy gee vir jou ‘n ware priesterhart waaruit liefde vir God en jou naaste na vore kom.

Broers en susters, priesters soek nie nog ‘n bietjie van die sonde en probeer ook ‘n bietjie die Here dien nie. Nee, priesters is volledig toegewy in diens aan God en die naaste. Wees daarom Christene waar die priesteramp voluit ‘n plek kry – wees priesters teenoor mekaar, dien mekaar; wees priesters vir God, wy jouself aan Hom.

En as ek soms uit swakheid in sonde val – soos die nagmaalsformulier dit so pragtig stel – dan vlug ek na my enigste Hoëpriester wat steeds gedurigdeur met sy voorbidding by die Vader vir ons intree. Dan wy ek opnuut my lewe aan die Here – immers, ons is nog nie volmaakte priesters nie. Maar priesters is ons, deur Jesus Christus.

Sing Ps. 110:5. Ons let ten slotte nog op die amp van koning.

 

3. Adam was koning, Eva was koningin. Wat het hierdie derde amp behels? Volgens v/a 6 het dit behels dat die mens saam met God in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys. God het dus aan die mens ‘n koninklike hand gegee om saam met Hom oor al die skepsele te regeer, om sy werk uit te voer. In die opdrag wat Adam en Eva in Genesis 1 van die Here gekry het, kom hierdie taak waarskynlik die duidelikste na vore: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers…” Tipiese koninklike terme. En dit is wat Adam en Eva dan ook moes doen – hulle moes as God se verteenwoordigers, sy onderkonings, die aarde regeer en ontwikkel. Daar was niks op hierdie aarde wat die Here nie onder die heerskappy van die mens geplaas het nie – solank as wat die mens dit in verbondenheid met sy God gedoen het.

Daar het dit dan ook skeefgeloop; die mens wou alleenheerser word, die mens wou soos God wees, hy was nie meer tevrede met die hoë posisie wat God hom gegee het nie. En daarom word die onderkoning soos ‘n banneling uit die paradys gejaag. En hoewel die mens tog telkens maar weer die heerskappy wou oorneem – dink byvoorbeeld aan die toringbou van Babel – is hy in werklikheid onttroon. Geen koning meer nie…

 

In 1 Samuel 8 sien ons egter dat die Here tog, op versoek van die volk, aan hulle ‘n koning gee. Ook die konings word – soos die profete en priesters – gesalf om hulle toe te rus vir hierdie amp – dink maar aan Saul en Dawid wat beide deur Samuel gesalf is, en Salomo wat deur die priester Sadok gesalf is. Maar die Here voorsien van die begin af probleme met so ‘n aardse koning. En hoewel daar onder die konings werklik manne was na God se hart – dink maar aan Dawid en Hiskia en Josia – moet ons tog erken dat die menslike koningskap in Israel gefaal het. Dit klink amper soos ‘n afgesaagde refrein in die boeke Konings en Kronieke: “En hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy vader…” Geen koning kon werklik voldoen aan die eise wat die Here gestel het nie.

 

En hoe dankbaar mag ons dan nie wees dat die Here aan ons Christus as ewige Koning gegee het nie. Sy Koninkryk ken geen einde nie, omdat dit ‘n Koninkryk van geregtigheid en vrede is; Hy regeer nie met die middele van hierdie wêreld nie, nie met wapens en geweld nie, maar met sy Woord en Gees. Daardeur maak Hy vir Hom ‘n volk bymekaar – ons wat vroeër geen volk was nie, is nou die volk van God, aan ons is toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou wel (1 Petr. 2:10). Deur sy Woord en Gees werk ons ewige Koning in die harte van mense sodat hulle weer getroue onderkonings word, sodat ons weer onderkonings word soos Adam dit in die paradys was.

Broers en susters, die lyn is weereens duidelik – vanaf Adam, via die Ou Testamentiese konings, tot by Christus – sodat u en ek vandag weer konings kan wees, wat saam met Christus regeer. Konings wat teen die sonde en die duiwel kan stry, konings wat oor God se skepping mag regeer. Gemeente, neem die koningskap op u – regeer as christen soos wat Christus regeer; nie met geweld nie, maar met die Woord van God.

 

‘n Gewigtige amp wat ons ontvang het. U het waarskynlik al opgemerk dat waar hierdie drie ampte in Adam een was, God dit in die res van die Ou Testament uitmekaar gehaal het – een persoon het nie al drie ampte tegelyk beklee nie; trouens, dit was ook nie toegestaan dat die amp van koning en priester saamgegaan het nie. Maar wat ná Adam geskei is, word in Christus weer volmaak verenig – Hy bring die drie ampte weer bymekaar, Hy laat dit weer wees soos by Adam in die paradys, juis sodat elke gelowige weer ampsdraer kan wees; ampsdraer – nie in die sin van ouderling of diaken nie, maar ampsdraer in die sin van Christen!

 

En ja, ook ons uitvoering van hierdie verskillende ampte is nog maar baie gebrekkig. Wie van ons is met vrymoedigheid lewende getuies van ons Here? Wie skaam hom nooit om van God te spreek nie? Wie se lewe is een en al diensbaarheid aan God en die naaste? Wie regeer met Woord en Gees soos wat dit behoort te gebeur? Maar gemeente, onthou dan: u is Christen! En dit beteken dat jy deur die geloof ‘n lid van Christus is, en dat jy daardeur deel het aan sy salwing. Jy behoort aan die volmaakte Profeet, Priester en Koning, en Hy gee jou sy Gees om ampsdraer van sy soort te kan wees! Gaan dan na Hom toe, die lewende en kosbare steen. Verlang sterk soos pasgebore babatjies na die onvervalste melk van die woord wat in hierdie gemeente verkondig word. En word so gebou tot profeet, priester en koning. Gemeente, ons lewe uit God gebore, is tot heilig-wees verkore – wees heilig, want God is heilig!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Skr. 4:4 en 5

Wetslesing

Sing Ps. 38:8, 15 en 17

Gebed

Lees:    1 Petrus 2:1-10

            HK, v/a 6

Sing Skr. 25

Teks: HK, Sondag 12

Preek

  • Na eerste punt Ps. 74:7, 8 en 16
  • Na tweede punt Ps. 110:5
  • Amenlied Ps. 72:1, 6 en 10

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 33

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 4:4 en 5

Gebed

Lees:    1 Petrus 2:1-10

            HK, v/a 6

Sing Skr. 25

Teks: HK, Sondag 12

Preek

·        Na eerste punt Ps. 74:7, 8 en 16

·        Na tweede punt Ps. 110:5

·        Amenlied Ps. 72:1, 6 en 10

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 33

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)