Paulus se oproep aan Timotheus om die dwaalleer te beveg

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-09-14
Teks: 
I Timótheüs 1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 1:1-11

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die apostel Paulus was ‘n reisiger. Hy het nooit lank op een plek gebly nie; sy roeping om die evangelie aan die heidene te verkondig, het hom voortdurend voortgedryf. En indien dít hom nie voortgedryf het nie, is hy deur vervolgers opgejaag sodat hy moes verder gaan. Maar altyd was hy aan die beweeg.

Gesien hierdie feit is die lengte van sy verblyf in die groot stad Efese daarom baie opvallend. Nie minder nie as drie jaar lank het hy hier vertoef. Hy sê in Handelinge 20:31 vir die ouderlinge van Efese: “Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.” Uiteraard beteken dit nie dat Paulus drie jaar lank sonder onderbreking in Efese gebly het nie; nee, hy het in die tussentyd verseker kort reise onderneem. En tog kan ons praat van ‘n driejarige periode waarin Efese die basis was vir Paulus se werk as apostel. Dit was sy langste tyd op een plek.

 

Soos ek sopas genoem het, het Paulus gedurende sy verblyf in Efese verskeie reise onderneem. Tydens een van hierdie reise skryf Paulus ‘n brief aan Timotheus wat hy in Efese agtergelaat het; indirek is hierdie brief ook gerig aan die gemeente in Efese wat aan sy sorg toevertrou was. Dit is die brief wat ons vandag ken as 1 Timotheus. Hierdie brief is in die eerste plek geríg aan dominee Timotheus, maar dit is geskryf met die óóg op die gemeente; dit is geadresseer aan een persoon, maar is nie bedoel as ‘n privaat-brief nie. Dit gaan voortdurend oor wat Timotheus aan die geméénte moet oordra en leer; deur middel van hierdie brief wys Paulus vir Timotheus hoe elkeen in die gemeente hom moet gedra in die huis van God (1 Tim. 3:15). Dit is daarom ook Timotheus se plig om die inhoud van die brief aan die gemeente voor te hou (1 Tim. 4:6), en dit aan hulle te leer (1 Tim. 4:11). Ons kan dus sê, broers en susters, dat hierdie brief vir een persoon geskryf is, maar met die doel dat dit tot lering en voordeel van die hele gemeente voorgelees moes word.

En so mag ons hierdie brief vandag nog hanteer – ons is immers ook die huis van God, en ook ons het nodig om te weet hoe elkeen van ons onsself behoort te gedra in hierdie huis. Elkeen van ons het ‘n plek in hierdie huis, elkeen van ons het ‘n taak in hierdie huis, en elkeen van ons moet goed weet wat die regte optrede binne hierdie huis is. En daarom is dit goed om Paulus se huisreëls deeglik te ondersoek. En op dié manier wil ons in die komende weke na die kort brief aan Timotheus gaan kyk. Ek het vandag se gedeelte soos volg saamgevat:

Tema: Paulus se oproep aan Timotheus om die dwaalleer te beveg

1.      Heterodoksie is nie opbouend nie

2.      Ortodoksie is nie dood nie

 

1. Wat opmerklik is aan 1 Timotheus, is dat Paulus nie, soos normaalweg, sy brief met ‘n danksegging begin nie. U kan dit maar nagaan – in die meeste van sy briewe begin Paulus, onmiddellik na die groet, met ‘n soort bede waarin hy die Here dank vir die gelowiges waaraan hy sy brief skryf. Maar hier in 1 Timotheus is dit anders; dit is asof daar nie behoorlik tyd is om ‘n danksegging uit te spreek. Daar is dringender sake wat aandag geniet; Paulus spring onmiddellik na die prioriteit van die oomblik. Timotheus word dringend opgeroep om sekere mense te beveel – met die gesag wat hy as gesant van Christus ontvang het – dat hulle geen ander leer moet leer nie. Die woord wat Paulus hier gebruik om ‘n ‘ander leer’ mee te beskryf, is die woord heterodidaskalein. U hoor daarin miskien al iets van die woord ‘heterodoksie’, wat verwys na ‘n vreemde of valse leer. Timotheus word dus opgeroep om die valse leer, wat deur sommige uitgedra word, te bestry.

Nou weet ons, gemeente, dat Paulus in sy briewe dikwels diegene veroordeel wat ‘n ander Jesus of ‘n ander evangelie verkondig. Die bekendste voorbeeld hiervan vind ons sekerlik in Galasiërs 1:9: “As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees.” Dus, enige leer wat anders is as die ware leer is ‘n valse leer. Daar is net een regte teologie; enige ander teologie is verkeerd. Daar is net een ortodoksie (= regte leer); die res is heterodoksie (= valse leer). Natuurlik, die kerk moet altyd by-die-tyd wees; natuurlik moet die kerk antwoorde gee op die vrae en die uitdagings van haar tyd, maar dit mag slegs gebeur met behulp van die ware leer, wat van altyd af oorgelewer is. Daarvoor mag of hoef geen ander leer ontwerp te word nie.

 

Maar goed, wie was die heterodokse leraars daar in Efese, en wat het hulle presies geleer? Paulus praat slegs van ‘sekere persone’, maar ons kan aanneem dat Timotheus presies geweet het oor wie dit gaan. Hierdie persone was, volgens vers 4, behep met fabels en eindelose geslagsregisters. Hoogswaarskynlik gaan dit hier oor die leringe van sekere Joodse rabbis. Ons weet naamlik van Joodse tekste uit daardie tyd wat die verhaal van die Ou Testament vanuit die perspektief van die Fariseërs oorvertel het. Maar hierdie verhale het verder gegaan as die grense van die Ou Testament deurdat daar elemente bygevoeg is, en deurdat daar oor die lewens van die bybelse heiliges gespekuleer is. In hierdie verhale was daar ook uitgebreide geslagsregisters opgeneem.

Dit wil voorkom, broers en susters, asof die heterodokse leraars van Efese in hierdie lyn gestaan het. Hulle het hulle vertrekpunt wel in die bybel geneem, maar vervolgens die verhaal opgemaak soos wat hulle verder gegaan het. Hulle onderrig was weinig meer as raaiwerk, die produk van ‘n lewendige verbeelding. En dit wil verder voorkom asof hulle vervolgens ook bepaalde praktiese konsekwensies aan hierdie leringe verbind het – immers, Paulus sê in vers 7 dat hierdie mense leraars van die wet wou wees. Hulle het dus waarskynlik sekere wettiese voorskrifte neergelê as uitvloeisel van hulle verkeerde leer (iets wat aanleiding gee vir Paulus om die wettige gebruik van die wet uitgebreid te behandel in verse 8-10).

Gemeente, hierdie heterodokse leraars was lidmate van die gemeente van Efese, en het hulle leer in die gemeente gepropageer. En die kanse was baie goed dat hierdie spekulatiewe verhale en wettiese voorskrifte die belangstelling van swak of ongeleerde hoorders sou prikkel; die kanse was goed dat mense wat nie ‘n stewige fondament gehad het nie daardeur afgelei sou word. En daaroor is Paulus bekommerd! Hy sê dit ook in soveel woorde by sy vertrek uit Efese aan die ouderling: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:30). Ja, Paulus was bekommerd dat valse leraars die gelowiges sou wegtrek van die waarheid van die evangelie.

 

Nou, gemeente, dit is presies waaroor dit hier gaan. Hierdie valse leraars was besig om ‘n leer te propageer waardeur mense se aandag afgelei is van die eenvoudige en suiwer evangelie. En Paulus sê dit ook in 1 Timotheus 1:6: “waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies.” Sien u, ‘afgedwaal’ en ‘afgewend’ – die fokus het verskuif! Nee, die mense wat met belangstelling na hierdie dwaalleraars geluister het, het nie eensklaps ongelowiges geword nie, hulle was nie oombliklik verlore nie. Maar hulle aandag was nie meer uitsluitlik op Jesus Christus gerig nie. En dit, broers en susters, is met verloop van tyd ‘n dodelike skuif. Ons kan dit vergelyk met ‘n plant wat sonlig nodig het, maar wat in die skaduwee geplant word. Hierdie plant gaan nie onmiddellik dood nie. Maar omdat sy gerigtheid nie meer reg is nie, omdat dit nie meer op die son gerig is nie, gaan hierdie plant geleidelik aan agteruit, totdat dit oplaas nie meer kan oorleef nie.

En daarom, gemeente, in die huis van God, in die gemeente van die lewende God, moet elke lidmaat voortdurend op Jesus Christus gerig wees, moet elkeen van ons altyd onder die helder skynsel van die Lig van die wêreld staan. Anders verlep ons geloof. Ons fokus moet ten alle tye baie suiwer bly, anders sterf ons ‘n stadige dood! Ons moet onsself en mekaar altyd op Jesus Christus rig.

 

En daarom help dit nie ons vermoei mekaar by die bybelstudievereniging met vrae wat nie stig nie. Ek het dit die afgelope week nog vir die katkisante gesê toe hulle vir die derde week in ‘n ry nuuskierig wou weet wat presies by die dood gebeur en wat by die opstanding gaan gebeur; na die derde keer was my reaksie: julle stel die verkeerde vrae! As ons herhaaldelik vrae stel oor dinge waarvan die Skrif ons niks vertel nie, dan is ons fokus verkeerd. En as ons nie oppas nie, lei sulke vrae byna onvermydelik tot spekulasie en fabels. Dit help verder nie ons sit ‘n halwe aand by die jeugvereniging en wonder oor sekere name in die bybel, of oor hoekom ‘n vers só en nie anders gestel is nie. Ons help mekaar ook nie verder deur boeke soos “die evangelie van Thomas” en die “Da Vinci Kode” en ander slapband-geestelike lektuur aan te prys as gesonde leesstof nie (miskien het u in die Rekord van die afgelope week gelees van dr. Pieter van Buuren wat 38 jaar gewerk het om Genesis tot Deuteronomium, asook Openbaring, aan die hand van kodes te ontrafel – en hy het sowaar ‘n doktorsgraad daarvoor gekry. Dit is pure onsin, en ons behoort onsself nie met hierdie soort leesstof besig te hou nie). En ten slotte, gemeente, bevorder ons nog minder die geloof wanneer ons hier in die gemeente voortdurend daarop uit is om probleme aan die orde te stel en spoke op te jaag oor sake wat nie die wesentlike inhoud van ons geloof raak nie.

Dit alles, sê Paulus in vers 4, bevorder eerder twisvrae as dat dit die bestuur van die huishouding van God bevorder. Ja, broers en susters, God is in sy huishouding, die gemeente, aan die werk. En op daardie werk moet ons fokus, en aan daardie werk mag ons in geloof deelneem. Ons mag onsself en mekaar nie daarvan aflei nie. Alles wat buite die werk in God se huishouding val, is onsinnig en is dodelik vir ons geloofslewe. En verder is dit ‘n gemors van tyd – en wie wil as rentmeester God se tyd mors?

 

En, gemeente, weet u wat gebeur wanneer ons nie meer op die waarheid nie, maar op die dwaalleer fokus? Dan begin ons met verloop van tyd ook op ‘n dwaalweg wandel. Ja, dit is hoe dit werk: ‘n skewe teologie lei byna altyd tot ‘n skewe etiek! Leer en lewe lê dus in mekaar se verlengde. As jy jouself met ‘n ander leer besighou, moet jy nie verbaas wees as jy mettertyd ook ‘n ander lewe begin lei nie. Ons het dit gesien by die dwaalleraars in Efese: hulle beheptheid met fabels en geslagsregisters het gelei tot ‘n verkeerde gebruik en toepassing van die wet. Ons sien dit vandag nog: lidmate wat vreemde gedagtes oor die leer uitdra, gaan – indien hulle nie reggehelp word nie – uiteindelik hulle eie pad, weg van die kerk, weg van die ware Woordverkondiging.

Gemeente, bly dus getrou by die ware leer van die Skrifte. Stel u ore in op die bekende klanke van God se Woord, sodat u kan onderskei wanneer vreemde geluide u ore bereik. En wees saam besig met die dinge wat werklik saakmaak vir die lewe met die Here.

Ons tweede gedagte: ortodoksie is nie dood nie.

 

2. Paulus roep dus deur Timotheus die dwaalleraars, maar ook dié wat hulle gevolg het, op om hulle fokus reg te kry. Geen heterodoksie nie, maar ortodoksie – dit is wat Paulus wil hê. Nou, wanneer ons die woord ortodoksie hoor, dan kry baie van ons sulke koue rillings. Immers, dikwels verbind ons ortodoksie met doodsheid; ons dink dan aan mense wat die antwoord van die leer uit hulle koppe ken, maar by wie dit nie meer die hart raak nie. Ortodoksie sien ons dikwels as iets van die verstand, maar sonder geloof en liefde. En nie ontereg nie, so het dit inderdaad dikwels in die geskiedenis ontwikkel. En die gevaar is nie uitgesluit dat dit ook so by ons kan ontwikkel nie. Gemeente, laat ons asseblief daarteen waak dat die heerlike leer van die Skrifte ons harte nie meer raak nie!

Maar, gemeente, dit daar gelaat, moet ons sê dat ortodoksie en doodsheid nie ‘n natuurlike kombinasie is nie. Dit is nie iets wat van nature bymekaar hoort nie. Nee, ortodoksie gaan juis oor die ware leer wat die Here in die Skrif vir ons laat opteken het; dit gaan oor ons belydenis. Paulus noem die ware leer in vers 10 selfs die ‘gesonde leer’, ‘n pragtige term wat op verskeie ander plekke in die pastorale briewe na vore kom. Die pastorale briewe verwys, soos u waarskynlik weet, na die briewe 1 en 2 Timotheus en Titus. Dink byvoorbeeld aan wat ons lees in 2 Timotheus 4:3: “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie…” Of wat van 1 Timotheus 6:3: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie…” En ‘n laaste voorbeeld in Titus 1:9: “een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan.”

 

Die ortodoksie is dus allesbehalwe dood, gemeente. Inteendeel, die ortodoksie is juis lewenskragtig, dit is heilsaam; dit is, volgens vers 11, die evangelie van die heerlikheid van die salige God. Die ortodokse leer is gesond omdat dit die waarheid van die evangelie tot inhoud het. Dit bevat die boodskap van verlossing en dit bevat die lewensreëls vir die verloste, omdat dit die verkondiging is van die Christus van die Skrifte. Hy is die Een wat alle dinge nuut maak, Hy is die goddelike Heelmeester! En gaan toets dit maar: plaas maar die plant, wat te lank in die skaduwee gestaan het, terug in die son, en jy sal sien hoe dit opbloei en weer nuwe lewenskrag kry. So werk dit ook met die gesonde leer. Hierdie leer is gesond, omdat dit siek lewens gesond máák. Die gesonde leer is die onfeilbare kuur vir ‘n siekte wat andersins ongeneeslik is. En ons sien dit by die gelowiges. Dink maar aan br. Bron wie se liggaam so siek was, maar wie se lewe blakend gesond was, omdat hy vasgehou het aan die ortodokse leer van die evangelie. Dink aan br. Haak, wat nou bedlêend is met ‘n swak hart, maar wie se siel gesond is omdat hy glo in die Christus van die Skrifte. En dit geld vir elkeen van ons wanneer ons onsself van harte onderwerp aan die gesonde leer! Ortodoksie is ‘n wonderlike medisyne, en elkeen wat dit getrou inneem sal daardeur lewe!

Broers en susters, moet jouself dus nie versit teen ‘die leer’ nie. Moenie te vinnig wees met jou beoordeling dat iemand te teoreties of te dogmaties is nie. Waak daarvoor om in die bybelstudies te vinnig te wil spring na die praktiese toepassing, of na die belewenis van die hart. Geen praktiese toepassing sal standhou as dit nie goed begrond is vanuit die leer nie; geen belewenis is daardie naam werd as dit nie opkom vanuit die gesonde woorde van Christus nie. Doen maar die moeite om die gesonde leer sorgvuldig te ondersoek, vra maar daarvoor dat die gesonde leer ‘n groot deel van die preke in beslag neem. Slegs dan het ons kos vir die praktyk, en slegs dan kom daar ruimte vir ‘n diepe belewenis van Jesus Christus. Slegs dan ontvang ons ‘n vrugbare bodem vir groei in liefde.

 

Liefde – ja, dit is nou presies wat Paulus uitwys as die pratkiese uitvloeisel van die gesonde leer, die gevolg van ‘n goeie teologie. Ons lees immers in vers 5: “Maar die doel van die gebod – en dit verwys dan terug na die gebod in vers 3 om geen ander leer te leer nie – die doel van dié gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof.” Het u gedink die leer is rigied, onbuigbaar, onprakties en vervelig? Wel, dink weer, want Paulus wys hier presies die teenoorgestelde. Gehoorsaamheid aan die ware en gesonde leer lei onvermydelik tot ware liefde.

Heterodoksie, daarenteen, doen presies die teenoorgestelde. Die probleem met heterodoksie, gemeente, is nie net dat dit onortodoks is nie, maar dit lei ook tot kontroverse, tot stryery, tot twisvrae. Dit ontstig die lewe en die liefde in die kerk. Dwaalleer is in wese geweldig wreed, want dwaalleer het mense nie lief genoeg om aan hulle die ware leer voor te hou nie; dit het mense nie lief genoeg om Jesus as die enigste weg tot saligheid en die Skrif as die enigste bron van waarheid aan mense voor te hou nie. Om dwaling te leer, is waarskynlik die mees onliefdevolle ding om te doen. Dwaalleer is die vermoording van siele – en is daar enige sonde groter as die vermoording van siele? Jesus sê dit self in Markus 9:42: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.”

 

Gemeente, slegs deur die ware leer word mense onderrig hoe om God en mekaar lief te hê.

Die ware leer bring liefde voort, in die eerste plek uit ‘n “rein hart”. Ja, gemeente, die hart is die sentrum van die innerlike geestelike lewe. ‘n Rein hart is ‘n liefdevolle hart, aangesien daardie hart geen selfbelang het nie. Dit is nie bevlek met gemengde motiewe nie. Die enigste waarna ‘n rein hart soek, is om ander mense eerste te plaas.

Ware liefde kom verder ook voort uit ‘n “goeie gewete”. Die gewete is, sê maar, die sentrum van die morele lewe. ‘n Skuldige gewete lei tot haat en afguns van die naaste. Dit skep afstand en vyandskap in verhoudings. Maar ‘n gewete wat deur God se genade skoon gemaak is, het niks om te verberg nie. Dit bring mense bymekaar in innige verhoudings.

En ten slotte kom liefde ook voort uit ‘n ongeveinsde geloof; dus, ‘n geloof wat nie skeinheilig is nie. ‘n Skeinheilige persoon kan niemand so liefhê soos wat hy homself liefhet nie. Sy belangrikste besorgdheid is wat ander van hom dink, terwyl ware liefde daaroor geen bekommernis het nie.

 

Gemeente, hierdie soort liefde – ware liefde uit ‘n rein hart, ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof – is die beste advertensie vir ortodoksie, vir die ware leer. Liefde is ten slotte ook die beste toets vir die leer waarvoor ons staan. Mense vir wie die leer nie so belangrik is nie, is bereid om allerhande dwaalleer te verdra, solank as wat mense net nie daaroor baklei nie. Aan die ander kant is sommige kerke in die gereformeerde tradisie bereid om sonder die liefde te gaan, solank as wat hulle maar net die ware leer handhaaf. Maar nóg die een, nóg die ander is ware liefde of ware leer.

Broers en susters, beoefen ons nog die leer van die liefde soveel as wat ons die leer liefhet? Bestaan hierdie twee by ons nog in kombinasie? Hoe beter ons God se genade in Christus verstaan, hoe meer sal ons lewens oorloop van ywer vir die verlorenes, van liefde vir die kerk, en van bewoënheid oor die behoeftiges.

 

Die Bybel vertel ons nie of Timotheus in die liefde gebly het nie – ons kan aanneem dat dit wel die geval was. Maar ongelukkig vertel die Bybel ons wel iets oor die gemeente waarin hy gedien het. Want die Bybel bevat nog ‘n brief aan die gemeente in Efese, die kort briefie wat in Openbaring 2 opgeneem is. Hierin word die gemeente gelukgewens dat hulle die ware leer verdedig het: “dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het” (vers 2). ‘n Goeie getuigskrif! En tog het die Efesiërs êrens langs die pad die liefde verloor: “Maar Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (vers 4). Dit wil voorkom asof hierdie gemeente die leer liefgehad het, maar die liefde verleer het.

Hierdeur word ons herinner, gemeente, dat die ware leer ook tot ware liefde moet lei, dat hierdie twee altyd hand aan hand moet gaan. Maar wie is hiertoe in staat? Wie is in staat om die waarheid van God se Woord te verdedig en tegelykertyd die liefde van die evangelie uit te leef? Daarvoor het ons die verlossende werk van Jesus Christus en die veranderende werk van sy Gees in ons harte nodig. Wanneer ons in Hom waarheid én liefde in harmonie vind, moet ons weet dat dit die genadige werk van die een God is. En daarvoor prys ons Hom!

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 24:2-5

Wetslesing + v/a 104

Sing Ps. 119:4 en 5

Gebed

Lees: 1 Tim. 1:1-11

Sing Skr. 41:2, 4 en 7

Teks: 1 Tim. 1:3

Preek

Amenlied Skr. 43:2-4

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 89:6 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)