Swaarkry in tye van seën

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-11-17
Teks: 
Psalms 60
Preek Inhoud: 

Tema: Swaarkry in tye van seën

  1. Vergader rondom God se banier (verse 3-6)
  2. Bid op grond van sy beloftes (verse 7-10)
  3. Vertrou op sy bystand (verse 11-14)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Daar is iets vreemds aan Psalm 60, en miskien het u dit opgetel. Vers 2 vertel immers vir ons van verskeie groot oorwinnings wat Dawid oor sy vyande behaal het – ons het daarvan gelees in 2 Samuel 8. Rede tot groot vreugde! En tog gaan die psalm oor ‘n nederlaag. Die agtergrond wat geskets word, is een van oorwinning, maar die inhoud van die psalm spreek van swaarkry en moeites. Hoe is dit moontlik? Wel, kom ons kyk na die agtergrond…

In die gedeelte voor 2 Samuel 8 lees ons van verskeie groot gebeurtenisse in Dawid se lewe. In die eerste plek word Dawid koning oor die hele Israel (2 Sam. 5:1-5). In die tweede plek verower hy Jerusalem en maak hy dit tot hoofstad van die verenigde ryk (2 Sam. 5:6-16). In die derde plek behaal hy klinkende oorwinnings oor die Filistyne (2 Sam. 5:17-25). Vervolgens, in 2 Samuel 6, bring hy die ark na Jerusalem as die sentrum van die volk se aanbidding. En dan, in hoofstuk 7, stuur God vir Natan om aan Dawid die wonderlike boodskap te bring dat God sy troon vir ewig sal bevestig. Dit gaan dus goed met Dawid, ons kan met reg sê dat hy ‘n geseënde van die Here is. 

Direk hierna, in 2 Samuel 8, volg dan die vertelling van Dawid se militêre oorwinnings, wat die agtergrond vorm van Psalm 60. Dit wil voorkom, wanneer ons Psalm 60:2 en 2 Samuel 8 langs mekaar plaas, dat Dawid in die gebied ten noord-ooste van Israel teen twee verskillende groepe Arameërs – dié van Mesopotamië en dié van Soba – geveg en hulle oorwin het (u kan dit op die kaart volg wat uitgedeel is). Maar onderwyl hy met hierdie stryd in die verre noorde besig was, het die Edomiete, wat ten suide van Israel gewoon het, hulle kans gesien om die volk van God aan te val en te oorrompel. As Dawid weg is, het hulle gereken, dan gee dit ons die geleentheid om daar binne te val. Nou, gemeente, dit is hierdie aanval deur die Edomiete – met die gepaardgaande verwoesting – wat die agtergrond vorm vir die toon van Psalm 60. Dawid betreur in Psalm 60 wat God deur die Edomiete aan sy volk gedoen het.

Nou blyk uit Psalm 60:2 dat Dawid nie slegs gaan sit en treur het nie, maar dat hy ook iets aan hierdie aanval gedoen het. Dawid het vir Joab gestuur om die Edomiete te onderdruk, en – so lees ons dan – “Joab het teruggekom en die Edomiete verslaan in die Soutdal, twaalfduisend.” Nadat hy eers sy geveg in die noorde voltooi het, het Dawid vervolgens ook teruggekeer en die oorwinning oor die Edomiete voltooi. Dit verklaar waarskynlik waarom in Psalm 60 gesê word dat Joab twaalfduisend Edomiete verslaan het, terwyl van Dawid in 2 Samuel 8:13 gesê word dat hy agtienduisend verslaan het.  

Gemeente, waaroor dit hier dus gaan, is dat selfs in tye van ongekende voorspoed en seën, daar nogtans nederlae is. Terwyl Dawid besig was om die vyand ten noorde te onderdruk, was daar stede in die suide van Israel wat deur die vyand verslaan is; terwyl Dawid besig is om die een grens van sy ryk te versterk en uit te brei, word die ander grens deur die vyand bedreig. Broers en susters, sal ons in ons tyd verwag dat dit enigsins anders moet wees? Nee, in tye van seën gáán daar dinge verkeerd loop. Juis wanneer ons die naaste aan die Here lewe, bly daar steeds areas van ons kerklike en persoonlike lewens wat moeites veroorsaak en bekering vra. Juis wanneer ons op die een front vir die Here stry, kan ons maar verwag dat daar op die ander fronte aanvalle sal wees…

Tema: Swaarkry in tye van seën

  1. Vergader rondom God se banier (verse 3-6)

  2. Bid op grond van sy beloftes (verse 7-10)

  3. Vertrou op sy bystand (verse 11-14)

1. Gemeente, oor die besonderhede van Israel se nederlaag onder die hande van die Edomiete weet ons nie veel nie, maar uit die taalgebruik van verse 4 en 5 blyk duidelik dat dit ‘n groot ramp moes gewees het. Dawid gebruik in hierdie verse twee opvallende beelde om die omvang van die nederlaag te beskryf.

Eerstens gebruik hy die beeld van ‘n aardbewing (vers 4) – nou weet ons almal hoe verwoestend en skrikwekkend aardbewings kan wees, en hierdie beeld word deur Dawid gebruik om die militêre nederlaag onder die hande van die Edomiete te beskryf. Dawid sê in vers 4: “U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel.” Vervolgens beskryf Dawid die effek van hierdie nederlaag op die volk deur middel van die beeld van dronkenskap (vers 5): “U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink.” Ons kan met reg sê dat die aanval deur die Edomiete die volk laat steier het, soos iemand wat te veel sterk drank gedrink het. Uit hierdie twee beelde blyk dus, gemeente, dat die Edomiete ‘n wrede verwoesting gesaai het, hulle strooptog het diep spore van pyn en vernedering gelaat. 

En tog is vir Dawid die ergste van hierdie nederlaag nie die agterbakse aanval deur die Edomiete nie. Nee, Dawid sien agter hierdie aanval die toorn van die Hére! Ja, dit mag dalk die Edomiete wees wat ons aangeval het, sê Dawid, maar dit is Gód wat ons, in sy toorn, verstoot en uitmekaar geskeur het (vers 3). Dit wil dus voorkom asof die volk – of dalk beter gestel: ‘n deel van die volk – aanleiding gegee het tot God se toorn. Terwyl Dawid besig was om dáár in die noorde vir God se ryk te stry, was daar ‘n deel van die volk wat, op watter wyse dan ook, van God afvallig geword het; terwyl Dawid op een plek gestry het vir die versterking van die ryksgrense was daar sekeres wat die grens op ‘n ander plek verswak en kwesbaar gemaak het. En dit het God vertoorn, dit het Hom rede gegee om deur middel van die Edomiete die volk te straf en te verstoot.

Broers en susters, in die kerk van die Here gaan dit dikwels ook so. Terwyl die gemeente besig is om saam te stry vir die waarheid, is daar moontlik ‘n klein deeltjie wat nie aan daardie stryd wil deelneem nie, is daar ‘n deel wat nie die goeie stryd wil stry nie en hulle eie pad wil gaan. Terwyl die gemeente besig is om op een front te stry, word ‘n ander front kwesbaar gemaak deur die ongehoorsaamheid en laksheid van enkele lidmate. Terwyl so veel moontlik lidmate probeer om die bybelstudies by te woon, is daar miskien enkeles wat doelbewus besluit dat hulle dit nie nodig het nie – ja, dit maak die gemeente kwesbaar op ‘n sekere front. Terwyl ons Sondae twee maal as gemeente in die eredienste saamkom, is daar miskien ‘n paar wat dit eenvoudig versuim (“een maal is mos genoeg…”) – dit maak die gemeente kwesbaar op ‘n sekere front. Terwyl ons as gemeente saam die belang besef van sending- en evangelisasiewerk, is daar miskien ‘n paar wat sê dat hulle heeltemal gelukkig is om hulle persoonlike geloof persoonlik te hou – dit maak die gemeente kwesbaar op ‘n sekere front.

Ja, gemeente, Dawid was besig om te stry vir die realisering van God se heerlike beloftes rakende sy ryk en sy troon wat vir ewig bevestig sou word, maar ‘n deel van die volk het God se toorn opgewek deurdat hulle, op watter wyse ook al, hulleself nie met daardie stryd vereenselwig het nie. En Dawid besef dit, hy besef dat die volk kwesbaar was as gevolg van die afvalligheid van ‘n deel daarvan. En daarom God se toorn en straf… 

Maar wat dan van die gelowiges? Wat dan van diegene wat wel die Here gevrees het? Wel, gemeente, ten spyte van die Here se toorn en straf, het Dawid vir die gelowiges ‘n boodskap. Dawid mag deur die geloof sien dat die Here aan die gelowiges ‘n skuilplek gegee het. Hy sê in vers 6: “U het aan die wat U vrees, ‘n banier gegee, om te vlug vir die boog.” Nou, gemeente, die banier was in daardie tyd die veldteken van ‘n leër, die vlag waar rondom die leër bymekaar gekom het. Ons kan dit miskien die beste vergelyk met die spandoeke van die verskillende spanne tydens die atletiekdag van ons gereformeerde laerskool. Die rooispan het sy eie spandoek, en alle lede van die rooispan kom rondom hierdie spandoek bymekaar. Die lede van die rooispan sit nie elkeen op sy plek op die pawiljoen nie, hulle gaan sit ook nie sommer tussen die lede van een van die ander spanne nie. Nee, saam rondom hulle spandoek – só is die rooispan verenig, só is hulle sterk. En dit geld vir al die spanne.

Nou, só ‘n spandoek, of banier, gee God ook aan sy kinders, aan dié wat Hom vrees. Rondom daardie banier is hulle veilig teen die boog van die vyand, rondom daardie banier is hulle sterk. En daardie banier, broers en susters, is die Woord van die Here! Vir Dawid en al die ander getroue Israeliete was God se beloftes in sy Woord die banier waar rondom hulle vergader het, en waar rondom hulle veilig was. Ten spyte van die aanval op een van die grense van die beloofde land, kon die volk rondom daardie banier verenig, en weet: God sal sy kinders nie verlaat nie, sy beloftes van ryk en troon is mos betroubaar en vas! 

Gemeente, so is die evangelie van Jesus Christus, soos wat ons daarvan lees op elke bladsy van die Bybel, ons banier, ons spandoek. In wese is dit natuurlik dieselfde banier as wat Dawid gehad het, maar daar is intussen ‘n Naam op daardie banier geverf – die Naam van Jesus Christus! Met helderrooi bloed pryk sy heerlike Naam op ons gemeentevlag! Hy het gekom om die oorwinning in die stryd vir ons te verseker, Hy het gekom om sy gelowiges te verenig. In Hom is ons sterk, by Hom is ons gemeente veilig. Laat ons as gemeente saam rondom daardie banier bymekaar kom.

Ja, daar gaan aanvalle wees, somtyds gaan daar swak fronte in ons gemeente wees – hetsy deur die toedoen van enkeles of van die hele gemeente; ons gaan by tye deur die Here op ons fondamente geskud word en voel asof ons vuisvoos is vanweë die teëspoede. Maar laat ons nooit sig verloor op die vlag wat bokant hierdie gemeente gehys is nie. Die vlag waarop staan: Jesus Christus, ons Oorwinnaar! Hoe rustig en ontspanne mag ons dan nie wees nie. Want ons skuil op die regte plek, rondom die evangelie van Jesus Christus – in die prediking, in die bybelstudies, in die kategese, in die huisbesoeke. Daar is ons gemeente en elkeen van ons persoonlik, ten spyte van alle gebreke, veilig. In God, die God wat ons beveilig, voel nou ons hart opnuut verblyd; en op sy Naam, ontsaglike heilig, vertrou ons tot in ewigheid!

Vervolgens: bid op grond van sy beloftes. 

2. Die tweede deel van die psalm – verse 7-10 – bevat ‘n appél tot God om diegene te help wat deur die Edomiete aangeval is. Dit is ‘n gebed van Dawid, waarop hy dan ook verhoring van die Here verlang: “Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!” En let dan op die krag van die gebed, gemeente, want direk in verse 8-10 volg die verhoring: “God het gespreek in sy heiligdom…” God antwoord dus vir Dawid.

Gemeente, oor die vorm van die verhoring moet ons vir ‘n oomblik verder praat. ‘n Mens kan jouself voorstel dat Dawid hierdie bede gebid het terwyl hy dáár in die noorde in die oorlog gewikkel was, en dat een van die priesters of profete vanuit die tabernakel in Jerusalem vir Dawid God se antwoord op sy gebed gebring het. Maar tog laat die inhoud van God se antwoord – oor Sigem en Sukkot, oor Manasse en Efraim en Juda ensovoorts – ons vermoed dat ons in ‘n ander rigting moet dink.  

Al die plekname wat hier genoem word, is naamlik nie die soort name wat ons op hierdie stadium in Dawid se loopbaan sou verwag nie. Ons sou eerder die name verwag van die verskillende stamme van Israel, in besonder die stamme in die suide wat deur die Edomiete aangeval is. Ons sou verwag dat God daardie stamme by name sou noem om te wys dat, ten spyte van die aanval op hulle, hulle nog steeds sy eiendom is.

Maar die name wat genoem word, laat ons eerder terugdink aan ‘n vroeër geskiedenis, aan die tyd van die bewoning van die land Kanaan vanaf Jakob en daarna. Sigem, byvoorbeeld, is die stad waar Jakob gaan woon het na sy terugkeer in Kanaan vanuit Paddan-Aram, waar hy twintig jaar lank vir Laban gewerk het. Sukkot was die laaste plek waar Jakob verblyf het voordat hy na Sigem vertrek het – ons lees dit in Genesis 33:17 en 18 [lees dit]. Hierdie twee plekke verteenwoordig die oostelike en westelike kante van die Jordaan (sien die kaart). Gilead en Manasse verteenwoordig groter gedeeltes aan die óóstekant van die Jordaan wat deur Israel in besit geneem is tydens die verowering onder Josua. Efraim en Juda verteenwoordig weer die mees prominente stamme aan die wéstekant van die Jordaan.  

Al hierdie name verwys dus terug na ‘n vroeër geskiedenis, na die tyd toe God die land aan sy volk gegee het vanaf die tyd van die voorvaders – en dit is wat God se antwoord op Dawid se gebed so opvallend maak. Verse 8 en 9 is nie ‘n direkte Godspraak uit Dawid se eie tyd is nie, maar dit is eerder ‘n Godspraak uit ‘n vroeër tyd wat in die konteks van Psalm 60 opnuut verwoord word. Dus, nie noodwendig vars uit die oond nie, maar wel brandend aktueel! Die woord van God, sy standhoudende beloftes uit die verlede, vorm die basis van sy antwoord op Dawid se gebed, sowel as van Dawid se geloof daarin. En dit is hoe die geloof werk: geloof soek altyd die fondament van God se Woord, van sy beloftes!

Ja, gemeente, geloof beteken nie optimisme, soos sommige mense dink nie. Geloof is ook nie ‘n positiewe houding wat aangewakker word om ons deur moeilike tye te help nie. Geloof is om op God se Woord – wat deur alle eeue heen standhou, en wat altyd aktueel bly – om dáárop te vertrou, en om op grond daarvan te handel. Geloof bou op hierdie boek – ‘n antieke boek in mense-oë, maar God se Woord vir vandag in die oë van die gelowiges.

Dawid bou op God se Woord, en hy maak dit vervolgens ook konkreet in die praktyk. Omdat God in die verlede alreeds oorwinning oor Edom en Moab en Filistea belowe het (vers 10), daarom kan Dawid vir Joab stuur om in die Soutdal teen die leërs van Edom te gaan veg. Die Edomiete kan gestraf word, want die oorwinning is reeds voorgesê! 

En gemeente, dit is ook hoe ons in tye van aanvalle die moeites behoort te hanteer. As daar aanvalle op ons gemeente is, as daar op een van die fronte van ons gemeente ‘n aanval gemaak word, dan mag en moet ons ons beroep op God se beloftes wat altyd standhou! Ons mag ons daarop beroep dat God belowe het om ons by te staan in die stryd; ons mag ons beroep op sy vergewingsgesindheid wanneer die aanval die resultaat is van ons eie sondigheid; ons mag ons beroep op sy Woord om ons gemeente in stand te hou en te bewaar.

En op grond van die geloof in sy Woord mag ons ook optree, mag ons doen wat nodig is om die gemeentegrense te beveilig deur die beoefening van die tug, en mag ons uitgaan om die gemeentegrense selfs uit te brei deur sending en evangelisasie. Ja, laat Moab en Edom en Filistea, wat eers vyande was, inkom in Jerusalem. Laat ons deur ons getuienis van die Here se beloftes van die vyand ‘n vriend maak. In daardie geloof is in die verlede al gemeenskappe, stede en hele kontinente gewen vir die evangelie; in daardie geloof mag ek my buurman nooi na ‘n erediens, mag ek my mede-student saamvat kerktoe, mag ek my kêrel of meisie aan broers en susters bekendstel. Stry die stryd van die geloof, gemeente – nie geloof wat in die lug hang nie, maar geloof wat gegrond is in God se beloftewoord!

Ten slotte: vertrou op sy bystand. 

3. Ons kan sê dat Psalm 60 geskryf is toe Dawid nog besig was om in die noorde te veg, nádat Joab gestuur is om die Edomiete te straf, maar vóórdat die oorwinning oor die Edomiete behaal is. En in hierdie tussen-periode, in hierdie periode nadat Dawid vir Joab gestuur het maar nog in spanning moet wag vir die uitslag van die geveg, vra hy homself af: “Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?” (vers 11)

Nou, gemeente, daar was ‘n hele aantal versterkte stede in Edom, stede wat hierdie nasie baie sterk gemaak het. Maar wanneer die Dawid praat van “die versterkte stad” is daar net een stad wat hy kan bedoel, en dit is die stad Petra, die mees ontoeganklike en skynbaar onoorwinbare bergvesting van die Edomiete. Hierdie stad lê in ‘n weggesteekte vallei, omring deur baie hoë berge. Dit kan slegs benader word via ‘n baie smal kloof wat vir ongeveer drie kilometer tussen die loodregte bergwande deurloop. Honderde meters hoog reis die bergwande aan beide kante van hierdie smal kloof op, en op sommige plekke is die gangetjie so nou dat twee perde skaars verby mekaar kan kom. Jy het slegs ‘n handjievol dapper manne nodig gehad om hierdie gangetjie teen ‘n hele weermag te beskerm. En selfs al sou ‘n leër deur hierdie gang kom, dan nog kon die verdedigers hulleself terugtrek in die berge wat die versteekte vallei omring het en hulleself vandaar af beskerm.  

En, gemeente, as ons dit raaksien, dan verstaan ons ook Dawid se spanning. Want… het hy dalk vir Joab op ‘mission impossible’ gestuur? Het hy dalk van Joab die onmoontlike verwag? Ja, van Joab het hy inderdaad die onmoontlik verwag. Maar God dan? Is God nie met hulle nie, of het Hy hulle verlaat? (vers 12). En daarom ook Dawid se smeking in vers 13: “Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid.” Joab sal nooit alleen in sy missie slaag nie; hy het God se hulp nodig. Slegs God kan die oorwinning gee oor ‘n vesting soos hierdie. En daarom vers 14: “In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.” Die psalm eindig dus op ‘n hoë noot van vertroue, vertroue wat gedra is deur die beloftes van God, wat Dawid in geloof omhels het.  

Broers en susters, jy en ek is nie konings soos Dawid was nie, ons hoef nie militêre oorloë te voer nie, en ons het ook nog nooit ‘n Edomiet gesien nie. Maar die lesse wat Dawid in hierdie laaste gedeelte van Psalm 60 deurgee, is direk toepasbaar op die geestelike oorlog wat ons moet voer. Ons is immers burgers van die Koninkryk van Jesus Christus, en dit is ons taak om sy Koninkryk te bevorder in ‘n wêreld wat ons geestelik vyandiggesind is. Ons stryd is die stryd wat Paulus in Efesiërs 6 verwoord: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

In verhouding met hierdie geestelike stryd, was die oorlog teen die onoorwinbare bergvesting, Petra, kinderspeletjies. In verhouding was Joab se stryd baie makliker as ons stryd vandag. Maar die oplossing is nog steeds dieselfde as wat Dawid in Psalm 60 verwoord. Nog steeds geld: Nie deur onsself nie, ook nie met behulp van mede-Christene nie. In hierdie geestelike geveg is die hulp van mense voorwaar ydelheid. Ons het God nodig om saam met ons en namens ons hierdie stryd te voer.  

En ons vergeet dit dikwels… In die kerk is ons so dikwels besig om self die grense te beveilig; ons het allerhande maatreëls, ons het ons planne agtermekaar om die kerkgang te verbeter, om ander by bybelstudie te betrek, om die gemeente se stem in die samelewing te laat hoor; die kerkraad praat lang ure oor hoe om op alle fronte veiligheid te verseker. En dit is nie verkeerd nie, maar ons vergeet dikwels om eenvoudig in geloof te bely dat God se hulp onmisbaar is. Ons vergeet dikwels dat ons slegs in die Here sterk kan wees.

Broers en susters, wanneer ons daarom sien dat die gemeente se grense aangeval word, dat daar sekere sondes is wat ons gemeentegrense binnesluip, laat ons dan almal saam en elkeen afsonderlik na die Here gaan: “Verleen ons hulp teen hierdie vyand, want die mens se hulp is ydelheid.” Ons begin immers nie verniet ons eredienste met: “Ons hulp is in die Naam van die Here” nie. En dit geld nie slegs vir ons eredienste nie, dit geld ons vir ons hele lewe. Wanneer ons in swakheid ons hulp by die Here soek, dan is ons sterk. Dan is ons geseënd. Dan sal Hy ons vyande vertrap!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 75:1, 4 en 6
Wetslesing + HK v/a 99
Sing Ps. 113
Gebed
Lees: 2 Samuel 8
Sing Ps. 60:3 en 4
Teks: Psalm 60
Preek
Amenlied Ps. 108:2-4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 89:2, 6 en 18
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)