Naam
Die amptelike naam van die kerke is: Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
"Vrye" Gereformeerde Kerke
Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA) wil ten eerste christelike
kerke wees. Ons erken Jesus Christus as Heer van die kerk. Ons glo dat ons deel is van die
een, heilige algemene en christelike kerk, wat Christus as die seun van God in hierdie
wêreld vergader.
Nogtans is die VGKSA nie deel van die kerkverband met die Gereformeerde Kerke wat
sedert 1859, na die afsplitsing van die Nederduitsch Hervormde Kerk, alreeds in
Suid-Afrika was nie. Ons onderhou 'n afsonderlike kerkverband en dra ter onderskeiding van
die ander Gereformeerde Kerke die toevoegsel "Vrye" in ons naam.
Vry om Gereformeerd te bly
Die woord "gereformeerd" dui aan dat hierdie kerke die stempel dra van
die Reformasie wat in die 16de eeu plaasgevind het. Die Reformasie het 'n omvangryke
beweging in Europa behels wat gelei het tot hervorming van die bestaande kerk. Name soos
Luther, Calvyn en Zwingli is aan hierdie beweging verbind. Teenoor die vervlakking en
heerskappy van tradisies het die Reformasie vir die geldigheid van die Bybel as die Woord
van God vir die hele persoonlike, kerklike en maatskaplike lewe gestaan.
Waar kom die toevoegsel "Vrye" vandaan?
Die Vrye Gereformeerde Kerke is geïnstitueer deur Gereformeerde Nederlanders wat
na die Tweede Wêreldoorlog met die groot stroom immigrante Suid-Afrika toe gekom het.
Hierdie mense het kort tevore 'n kerkstryd in "De Gereformeerde Kerken in
Nederland" deurgemaak, wat tot 'n kerkskeuring gelei het.
Hierdie skeuring is die "Vrijmaking" genoem en het in die veertigerjare van
die twintigste eeu in Nederland plaasgevind. Met name in die dertigerjare van hierdie eeu
het daar in die "Gereformeerde Kerken in Nederland" 'n beweging onstaan wat
opnuut oor die leer en lewe vanuit Bybelse norme wou nadink. Daarvoor het egter geen
ruimte bestaan nie. In 'n teenreaksie het die algemene sinode (die vergadering waarin
gereformeerde kerke uit heel Nederland verteenwoordig is) geprobeer om die Bybelse kritiek
tot stilswye te bring. Onder dreiging van dissiplinêre maatreëls is 'n bepaalde
leerstelling oor verbond en doop as bindend opgelê. Van hierdie binding het baie
hulleself toe "vrijgemaakt". Alhoewel hulle offisieel die naam "De
Gereformeerde Kerken in Nederland" behou het, gebruik hulle meestal die toevoeging
"Vrijgemaakt" ter onderskeiding van die ander kerkverband, wat onder die naam
"De Gereformeerde Kerken in Nederland" bly voortbestaan het.
Die Gereformeerde immigrante wat uit die vrygemaakte kerke in Nederland Suid-Afrika toe
gekom het, het gemeen hulle kon nie sondermeer lid van die Gereformeerde Kerke word nie,
aangesien die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op daardie stadium hulle bande met die
nie-vrygemaakte Gereformeerde Kerken in Nederland ook na die kerkskeuring van 1944
gehandhaaf het. Indien hulle sondermeer sou aansluit by Die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika sou hulle (so het hulle dit gevoel) hulle vrymaking in Nederland feitlik weer
ongedaan maak. Hulle sou dan mos weer een in leer, diens en tug word met die kerke wat die
Gereformeerde spoor verlaat het.
8 Oktober 1950
Toe hulle egter ten spyte van meerdere samesprekings nie daarin kon slaag nie,
het hulle op 8 Oktober 1950 "Die Vrye Gereformeerde Kerk" te Pretoria
geïnstitueer. Later het daar 'n kerk te Kaapstad, Johannesburg en te Bethal bygekom.
Mens sou veronderstel dat die toevoegsel "Vrye" dus gekies is om die band met
die vrygemaakte susterkerke in Nederland aan te dui. Maar die keuse vir hierdie naam was
allereers 'n beroep op die eie kerkgeskiedenis van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika!
Die eerste Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, die wat op 10 Februarie 1859 te Rustenburg
gestig is, het homself ook "Vrye Gereformeerde Kerk" genoem. Soos daardie
gemeente gestig is, nadat die Nederduitsch Hervormde Kerk in Transvaal gekies het vir die
band met, en gevolglik die invloed van die Hervormde Kerk in Nederland, wat weens
dwaalleer en tugmisbruik valse kerk geword het, so moes daar in 1950 opnuut 'n Vrye
Gereformeerde Kerk geïnstitueer word omdat Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die
band met die afgedwaalde "Gereformeerde Kerken" in Nederland nie wou verbreek
nie.
Die instituering van 'n Vrye Gereformeerde Kerk is beskou as 'n noodmaatreel in die
hoop dat dit van tydelike aard kon wees. Die oë van die Gereformeerde Kerke sou eendag
daarvoor kon oopgaan dat hulle na 1944 verkeerd gekies het.
Onlangse ontwikkelinge
In 1976 het Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ook ingesien dat hulle die
band met die "Gereformeerde Kerken" in Nederland nie langer kon en mog handhaaf
nie. Dwaalleer en vrysinnigheid het daar toe inmiddels in so 'n mate openbaar geword, dat
hulle onmoontlik nog langer "Gereformeerde" kerke genoem kon word.
Toe het daar dus eintlik perspektiewe vir 'n moontlike vereniging tussen Die
Gereformeerde Kerke en Die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gekom.
Vanaf daardie belangrike jaar, 1976, het inderdaad nuwe samesprekings tot stand gekom.
Die samesprekings het ongelukkig nog steeds nie tot die begeerde resultaat gelei nie.
Een van die belangrikste geskilpunte bly die wyse waarop Die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika korrespondensie aangaan en instandhou met kerke in die buiteland. Die Vrye
Gereformeerde Kerke meen dat Die Gereformeerde Kerke in party gevalle al te maklik tot
eenheid in leer, diens en tug besluit, met as gevolg dat ongereformeerde invloede in Die
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika kan binnestroom.
Eienskappe van die VGKSA
Die Vrye Gereformeerde kerke in Suid-Afrika aanvaar alles wat in die Bybel
geskryf staan as die Woord van God. Dit beteken onder meer:
- Dat daar binne die kerke eerbied is vir die betroubaarheid van die Bybel;
- Dat daar gesorg word vir 'n goeie uitleg van die Bybel wat meebring dat eie gedagtes en
gevoelens steeds weer getoets word aan wat daar geskrywe staan;
- Dat die Bybel aanvaar word as die rigsnoer vir die lewe van elke dag.
Verder kan daar as eienskappe van die VGKSA die volgende genoem word:
- Dat hulle, net soos watter gemeenskap ookal, uit sondige mense bestaan, wat steeds weer
teruggeroep moet word na die Here en sy Woord;
- Dat hulle wil vashou aan die gereformeerde belydenisgeskrifte, waarin die leer van die
Bybel saamgevat is;
- Dat hulle strewe na die goeie orde in die kerklike lewe wat deur die algemene sinode in
die kerkorde vasgestel is;
- Dat hulle hulself verantwoordelik voel vir die samelewing;
- Dat hulle dit as hul roeping sien om deur middel van sendings- en evangelisasie
aktiwiteite die blye boodskap van Jesus Christus aan ander mense openbaar;
- Dat hulle opreg wil strewe na die eenheid met ander kerke en met lede van ander kerke
wat die Here opreg wil dien volgens sy Woord.
|