Gered in hoop

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-12-03
Teks: 
Rom 8 : 24
Preek Inhoud: 

Preek: Romeine 8:24

Tema: Gered in hoop

Hoop wat gesien word, is nie hoop nie. Dinge wat ons rondom ons sien, is nie hoopvol nie. As mens afgaan op wat gesien kan word, sien ons mense. Op mense kan jy nie vertrou nie. Mense het beperkinge. Mense dwaal af, raak op dwaalweë. Elke mens is aan die einde sterflik. Daarom vra Paulus die wanhopige vraag: Hoe kan mens in vredesnaam hoop op dit wat gesien word?

Hoe kan mens daarop sy vertroue bou? Mense stel teleur. Nie net omdat mense sondig is nie, en elke mens sy gebreke en tekortkominge het nie. Maar ook omdat elke mens sterflik is. Daarom kan jou vertroue op ‘n mens, al is dit jou ouers, jou man of vrou, of ‘n vriend of vriendin, net ‘n tydelike vertroue wees. Dit is wat Paulus, outeur van die Romeinebrief, bedoel. Ook die persoon op wie jy die heel meeste gesteun het, aan wie jy die meeste te danke het, ook op daardie persoon kan jy nie altyd bly leun nie.

Maar ek mag u die Evangelie verkondig. Ons hoef nie te hoop op wat ons sien nie. Dit wat ons kan sien, dit het ons alreeds. Die domste wat jy kan doen, is om daarop te hoop. Paulus skryf in 1 Korinthiërs:

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus gestel het,

as Christus net ‘n weldoener vir hierdie lewe, vir hierdie wêreldbedeling is, dan is ons die beklaenswaardigste van alle mense.

Maar Christus het opgestaan uit die dood! Hy het bewys dat Hy die Heiland, die Profeet van ‘n ander, ‘n beter wêreldbedeling is. Iets wat nou nog nie gesien kan word nie. Dit is die hoop waaroor die Evangelie praat. Daarna sien ons uit. Ons sien uit na die volle verwesenliking van die heil, deur Christus verwerf. Ons het ‘n vaste hoop.

Wat dit beteken om êrens op te hoop, dit probeer Paulus aan die Romeine te verduidelik in hoofstuk 8. Hy verduidelik wat hierdie verskynsel, naamlik om te hoop, is in ‘n menselewe. Dit lê in die aard van die fenomeen hoop om vooruit te kyk. Hoop is om te verlang na dinge wat mens nou nog ontbeer, wat mens graag sal wil hê. As jy byvoorbeeld siek word, en jy is bang jy het miskien ‘n ernstige siekte, dan besoek jy die dokter. As die dokter jou ondersoek het, en vir jou sê dat jy inderdaad ‘n ernstige siekte het, ‘n siekte wat nie vanself sal weggaan nie, wat dodelik sal wees as jy niks daaraan doen nie, MAAR, noem die dokter dan, daar is gelukkig medisyne beskikbaar, as jy so ‘n boodskap van die dokter kry, dan verlaat jy die dokter se spreekkamer met ‘n voorskrif, en dan het jy weer HOOP. Jy is nog net so siek as ‘n half uur gelede, toe jy by die spreekkamer ingekom het. Maar jy het ondertussen belangrike inligting ontvang. Waar jy gister en dieselfde oggend nog angstig gevoel het, somber na die toekoms gekyk het, lyk die toekoms nou ineens weer hoopvol. Hoewel jou liggaamlike toestand nog niks verander het nie.

So lê dit in die aard van die verskynsel HOOP om vooruit te kyk. Met nuwe hoop vorentoe kyk, gerugsteun deur beslissende inligting wat jy ontvang het.

Nou geld presies dieselfde vir wat in hierdie hoofstuk van die Bybel staan.

Hoewel jy nog net so sterflik is as gister, toe jy nog nie hierdie inligting gehoor het nie – ek sê dit nou by wyse van spreke – want ons is so bevoorreg dat ons die Nuus van die Evangelie al veel langer ken – maar hoewel jy dus nog sterflik is, nog net soveel as voordat jy die Evangelie ontvang het, tog het jy nou HOOP!

Want jy het nou die regte voorskrif gekry, wat jou toegang gee tot die regte medisyne. Jy het nou goeie hoop. In hierdie hoop is ons gered, sê ons teks.

Hierdie hoop is die regte medisyne vir mense wat in sonde ontvang en gebore is, wat sterflik is, vir wie die ewige verdoemenis hulle voorland is. Met hierdie hoop kan ons vooruitkyk, en selfs bely:

Want ek is seker daarvan, dat die lyde van die teenswoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid, wat oor ons geopenbaar sal word nie.

Nou sug ons, saam met die hele skepping.Maar met reikhalsende verlange wag ons, hoop ons, op sy wederkoms. Dan sal Hy, volgens sy belofte, kom om alles te vernuwe. Selfs in ons sterwensuur het ons nog hoop. Al is dit hoe swaar om afskeid te neem van hierdie lewe, van ons geliefdes.

Maar ons weet dat daar meer wag, ons verwag meer. Ons verwag om, soos die Skrif sê, oorklee te word. Oorklee met ‘n heerlikheid en met ‘n blydskap wat geen rykdom op aarde ons kan bied nie. Ons verlang na, ons hoop op ALLES wat God beloof het. Dit is die totale vernuwing van die aarde, dit is totale wêreldvrede, dit is ‘n totale nuwe wêreldbedeling wat Christus sal bring.

Daarna verlang ons.

Wat sal dit mooi wees as ons dan van God ‘n liggaam terugkry wat vernuwe is.

Wat sal dit mooi wees op daardie dag, die jongste dag, as Christus sal bring wat mense nooit kon bereik het nie. Daarop hoop ons. Hierdie hoop is gefundeerd, veranker in die Evangelie. In dit wat ons in hierdie einste Bybel van ons lees. Christus het die dood oorwin.

Elkeen wat sy Naam bely, sal ook die dood oorwin. Dit is die medisyne wat ons nou moet gebruik. Die medisyne is dat ons sy Naam te bely in woord en daad.

‘n Medisyne met ‘n ongekende werking. ‘n Medisyne wat pynstillend is, wat kalmerend is, vertroostend en rusgewend. Maar nie net dit nie, hierdie medisyne is veral hoopgewend, juis omdat hierdie medisyne genesend sal wees. Dit genees ‘n mens, dit genees die nasies, dit genees die hele aarde.

Gemeente, laat ons voortgaan om hierdie medisyne te neem – met volharding soos vers 25 sê.

Op daaglikse basis.

Want anders gaan ons reddeloos verlore. Daagliks hierdie medisyne neem, naamlik om daagliks Christus se Naam te bely. In sy diens te lewe.

Ons vier nagmaal slegs ses keer per jaar. Maar dis maar net ‘n sakrament.

‘n Sakrament is ‘n teken vir wat ons daagliks moet doen, naamlik ons Heiland se liggaam en bloed daagliks tot ons neem, dat Hy daagliks ons siele voed.

Dan het ons hoop vir die toekoms. Dan het ons die sekerheid van die wederopstanding. Dan het ons krag om voort te gaan met ons roeping in ‘n gebroke wêreld, ook in moeilike omstandighede.

Kom ons sing van hierdie hoop. Kom ons sing oor en vir ons God en Saligmaker.

Hy is vir ons ‘n God van heil.

Hy skenk uit goedheid sonder peil.

Ons ewig salige lewe.

Hy kan en wil en sal in nood,

Selfs by die nader van die dood,

Volkome uitkoms gewe.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 4:3

Wet

Ps 39:5

Gebed

Skriflesing: Romeine 8:18-30

Teks: Romeine 8:24-25

Preek

Ps 68:9

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 43:5

1e tafel: Romeine 8:1-17; Sb 10:1,2

2e tafel: Romeine 8:31-39; Sb 10:3,4

3e tafel: Lofverheffing; Sb 10:5,6

Dankgebed

Kollekte

Ps 65:3,4

Seën