Christus leer ons hoe om te bid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-04-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 2 April 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 17:1-3

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 6:5-15 & Lukas 11:1-13

Sb 28:1-4

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 45

Preek

Ps 17:4-7

Gebed

Geloofsbelydenis

Kollekte

Ps 13:1,3-5

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 45

Hierdie
preek sal uit drie dele bestaan. Ons begin met v/a 118-119.

Ons kyk dus
eers na die Onse Vader, die volmaakte gebed. Daarna kyk ons na v/a 116. En ten
slotte na v/a 117.

Tema: Christus leer ons hoe om te bid

1 Die Onse Vader is die volmaakte gebed

2 Bid is asemhaal

3 Randvoorwaardes vir ‘n gebed

1 Die Onse Vader is die volmaakte gebed

Dit sê ons
in die eerste plek omdat Jesus Christus hierdie gebed aan ons geleer het. In
die tweede plek spreek dit uit die inhoud. Dit is daarom logies dat ons hierdie
gebed dikwels bid. De meeste Christene gebruik hierdie gebed daagliks.

In die kerk
word hierdie gebed ook reëlmatig gebid. Byvoorbeeld elke keer as ons nagmaal
vier. Hierdie gebed bied sekerheid, houvas, in die moeilikste omstandighede. Ons
het die sekerheid dat, as ons hierdie gebed bid wat sy Seun vir ons geleer het,
dat die hemelse Vader ongetwyfeld na ons luister en ons verhoor. Christene het
die eeue oue gewoonte om by ‘n oop graf ook die Onse Vader te bid. Die
volmaakte gebed dra ons deur ondraaglike oomblikke.

Nou wonder u
miskien, nadat ons vanaand die twee plekke in die Bybel gelees het waar hierdie
gebed staan, hoe is dit moontlik, as die Onse Vader die volmaakte gebed is, dat
die Onse Vader verskil op hierdie twee plekke?

Die Onse
Vader, soos ons dit altyd in die kerk gebruik, staan in Mattheüs 6.

Maar in
Lukas 11 staan dit anders:

“Onse Vader
wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u
wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons
daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan
ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die
Bose.”

Dan hou die
gebed op. In Lukas ontbreek die laaste deel, wat ons die lofprysing of
doksologie noem. Is Lukas se weergawe dan ook volmaak?

Gemeente,
hieroor twee dinge. Eerstens, in Lukas 11 vind ons ‘n herhaling van die
onderwys van Jesus, wat Hy in die Bergrede gegee het. Die Here Jesus se
onderwys in die Bergrede, dit was aan die begin van sy amptelike arbeid op
aarde. In die Bergrede staan die Onse Vader in Mattheüs 6. Lukas 11 is egter
meer as twee jaar later. Jesus is hier alreeds vir die laaste keer op reis na
Jerusalem, waar Hy gekruisig sou word. En hier, in Lukas 11, is Hy met sy
dissipels op weg. Jesus was self in gebed, êrens op ‘n rustige plek.

Toe Hy klaar
was, het daar ‘n gesprek ontstaan tussen Hom en sy dissipels oor die gebed. Dus
het Jesus begin om hulle weer onderrig te gee oor die gebed, iets wat Hy al
meerdere male gedoen het. Dit is logies dat Jesus nou teruggaan na dit wat Hy
hulle alreeds geleer het. Logies dat die Onse Vader weer aan die orde gekom
het, alhoewel Jesus nou meer gefokus het op die sekerheid dat die Vader die
bedes sal verhoor. Die doksologie was hierdie keer nie deel van sy onderrig
nie, maar dit beteken nie dat die doksologie, wat Hy tydens die Bergrede gegee
het, dat Hy dit nou nie meer as deel van die gebed beskou het nie.

Soos u weet
het die uitgebreider weergawe van Mattheüs die standaard versie geword. Vanaf
die begin van die kerkgeskiedenis sien ons dit. Dit was so in die vroeë kerk. Dit
is ook so as die Heidelbergse Kategismus die Onse Vader behandel, die weergawe
van Mattheüs 6 word gevolg. Dit in die eerste plek.

En nou
tweedens oor hierdie volmaakte gebed.

Volmaak
beteken nie dat daar geen woordjie meer of minder mag wees nie.

As mens so
dink, het mens ‘n verkeerde opvatting van wat volmaak is.

Hierdie
gebed, die Onse Vader, is naamlik volmaak wat betref struktuur en inhoud. Maar
dit wil nie sê dat dit nooit met ander woorde gebid kan word nie.

Daar is ‘n
vergelykbare voorbeeld waarmee ek dit aan u kan verduidelik.

Dan gaan dit
nie oor die Onse Vader nie, maar oor die ons ook so bekende Aäronitiese seën,
soos ons dit in Numeri 6 vind: Die HERE sal jou seën en jou behoed. Die HERE
sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.

Die HERE sal
sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee (Num 6:24-26).

Die rabbyne,
die Joodse geleerders, noem hierdie tereg die volmaakte seën.

Hulle het
daarvoor verskillende argumente gebruik. As jy al die letters van hierdie seën
in die Hebreeuse grondteks bymekaar tel, kom mens op ‘n aantal van 60. Volgens
die rabbyne was dit belangrik. Volgens hulle het daar ‘n simboliese betekenis
agter geskuil, dit feit dat dit presies 60 letters was.

Hulle het
dit as ‘n bewys vir die volmaaktheid van hierdie seën gesien.

Volmaak in
alle opsigte. Geen letter te veel, geen letter te min.

Hoekom
vertel ek dit gemeente?

Om naamlik
uit te lê dat die volmaaktheid van ‘n seën of ‘n gebed nie op verkeerde gronde
gebaseer moet word nie. Wankel gronde. Dit is naamlik so dat ‘n aantal jare
gelede daar in Israel ‘n goudplaatjie opgegrawe is, waarop die Aäronitiese seën
uitgegraveer was. Die goudplaatjie was opgerol soos ‘n boekrolletjie. Hierdie
goudplaatjie dateer ongeveer uit die tyd van koning Dawid.

Baie oud
dus. Nog veel ouer as die oudste kopië of manuskripte wat ons van die Bybel
het.Maar wat blyk nou.

Op die
goudplaatjie is die Aäronitiese seën presies dieselfde soos wat ons dit vandag
ken, daar is net een verskil. Dit het een letter minder!

Die rede is
dat die eerste Hebreeuse woord – seën
in die Hebreeuse Bybel met ‘n dubbel letter ‘k’ geskryf word, terwyl daar op
die goudplaatjie net een ‘k’ staan. Die gevolg is omdat daar een letter minder
is, die teorie van die rabbyne oor die volmaaktheid van hierdie seën in duie
stort, want nou is daar net 59 letters. Verstaan u wat ek bedoel as ek sê dat
mens nie die volmaaktheid van hierdie seën op verkeerde gronde moet baseer nie?
Want of die Aäronitiese seën nou een letter meer of minder het, dit bly ‘n
volmaakte seën. En wat so indrukwekkend is, is dat daardie goudplaatjie
opgegrawe is van drie duisend jaar gelede, terwyl presies dieselfde seën daarop
staan wat ons vandag in die 21e eeu nog steeds elke Sondag hoor. Is dit nie ‘n
pragtige voorbeeld hoe God en sy Woord dieselfde bly deur alle eeue heen nie!

En nou wat
betref die Onse Vader, ook daar hang die volmaaktheid van die gebed nie af van
een letter, of selfs ‘n paar woorde meer of minder nie.

Soos ek
genoem het, hierdie gebed is volmaak volgens struktuur en inhoud.

Nie op grond
van sy aantal woorde of letters nie.

Hy is ook
nie net volmaak in sy oorspronklike vorm in die oorspronklike taal waarin Jesus
dit gegee het nie, dalk was dit in Aramees.

So ‘n
gedagtegang vind mens by die moslims, wat ook so ‘n, kom ons noem dit, rigiede
opvatting hanteer oor wat volmaak is. Volgens die Islam kan die Koran nie vertaal
word nie. Wie die Koran vertaal, skend sy volmaaktheid.

Daarom dat
moslims, of hulle nou in Saoudi-Arabië woon, of in Europa, of in Suid-Afrika of
Amerika, hulle moet almal die Koran leer lees en opsê in die verouderde
Arabiese taal. As ons sê dat God se Woord volmaak is, en dat die Onse Vader die
volmaakte gebed is, dan bedoel ons dit dus nie so nie.

Of die Onse
Vader vertaal is in Afrikaans of Engels, Sotho of Zoeloe, in elke taal bly dit
die volmaakte gebed.

Soos ek
genoem het, wat betref vorm en inhoud.  Dis
nie dat dit Jesus se bedoeling was dat ons slegs hierdie gebed sou bid en geen
ander nie.

Hy het
hierdie gebed as voorbeeld gegee. Aan die hand daarvan kan jy jou eie gebed ook
vorm gee. Byvoorbeeld wat struktuur betref.

Dat jy jou
gebed, net soos in die Onse Vader, begin deur God aan te spreek, wie Hy is, ons
Vader in die hemel. Dat jy in jou gebed allereers aan Hom die eer gee.

Jy begin om
Hom te loof. Jy begin nie dadelik om al jou wense op tafel te lê nie.

Dit kom eers
later. En as jy jou wense kenbaar maak, dink jy eers aan die groter belang van
God se koninkryk. In daardie konteks kom jou spesifieke node dan aan die orde. En
jy sluit jou gebed ook af met ‘n lofprysing en met die woord ‘amen’.

Ek vat die
eerste punt saam: die Onse Vader is die volmaakte gebed.

Volmaak
volgens struktuur en inhoud. ‘n Bloudruk wat ons biddende lewe behoort vorm te
gee. Dit bring ons by die tweede punt:

2 Bid is asemhaal

Wie ‘n goeie
geheue het, sal dalk onthou dat hierdie die tema van my preek oor Sondag 45 was,
twee en ‘n half jaar gelede. Bid is asemhaal. Ons fokus nou in die tweede punt
op v/a 116. Oor die noodsaak van gebed. Wie nie asemhaal nie, sterf binne
minute. Asemhaal is nie ‘n saak van wil of nie wil nie. Dis nie iets wat jy kan
weier nie. Wie nie asemhaal nie, sterf.

Dieselfde
geld vir jou geestelike lewe: wie nie bid nie, sterf. Dit is ook nie ‘n saak
van wil of nie wil nie. Sonder gebed gaan die nuwe lewe, wat die Heilige Gees
in jou werk, dood. Geen gebed, geen nuwe lewe nie. Die Kategismus noem die
gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid. Mens kan dus sê: waar geen
gebed is nie, is geen dankbaarheid nie. Bid jy elke dag? Bid jy meerdere kere
per dag? Ek vra hierdie vraag aan almal.

Normaalweg
is daar vaste gebedstye in ‘n gesinslewe. Maar as jy jong volwasse word, as jy
self jou dagindeling vorm gee, of as jy op jouself begin woon, dan raak dinge
minder vanselfsprekend. Dan moet jy bewus kies of jy voortgaan met ‘n gereelde
gebedslewe. Die gebed is ‘n barometer vir jou geloofslewe.

As jy selde
bid, is dit ‘n teken dat jou geloofslewe besig is om dood te gaan.

Geen asem,
geen lewe. Geen gebed, geen nuwe lewe. As dit die geval met jou is, laat
jouself betyds reanimeer! Anders is dit te laat. Wie weer begin bid, begin weer
op te leef. Wie naby die HERE lewe, sy gebed styg daagliks op soos ‘n reukoffer
na God toe.

Bo die
tempel in Jerusalem het destyds ‘n aanhoudende rookwolk gehang, die gevolg van
al die brandoffers. Die wolk het die volk se gebed gesimboliseer.

So hang daar
‘n wolk van gebed konstant bo die lewe van ‘n kind van God.

Daaraan
herken jy ‘n gelowige. Wie as Christen nie bid nie, tuis, in die kerk, by die
werk, op vakansie, wie dit nie doen nie, leef nie. Die Kategismus sê tereg: die
gebed is die allerbelangrikste in die lewe van ‘n gelowige. En soos daar ook
staan: wie baie bid, ontvang die Heilige Gees.

Die Gees vul
jou met die nuwe lewe.

3 Randvoorwaardes vir ‘n gebed

Wat is die
basiese elemente wat van ‘n gebed ‘n gebed maak? Hoe definieer mens ‘n gebed? Kom
ek noem eers ‘n ander voorbeeld. Wat is die randvoorwaardes vir ‘n motorkar? Dit
is die basiese dinge wat van ‘n voorwerp ‘n motorkar maak. Soos byvoorbeeld
vier wiele. As dit twee wiele het, is dit nie meer ‘n motorkar nie. As dit meer
as vier wiele het, is dit waarskynlik ‘n vragmotor. Nog ‘n randvoorwaarde vir
‘n motorkar is dat dit homself moet kan aandryf. As dit nie die geval is nie,
is dit nie ‘n motorkar nie, maar dalk ‘n karavaan of ‘n sleepwa. So bestaan
daar dus ‘n aantal randvoorwaardes, wat van ‘n voorwerp ‘n motorkar maak. Dat
‘n motorkar ‘n dak moet hê, is nie noodwendig ‘n randvoorwaarde nie. Mens kry
ook karre sonder ‘n dak.

Net so het ‘n gebed ook ‘n paar randvoorwaardes. As daardie dinge
nie aanwesig is nie, kan mens dit nie ‘n gebed noem nie. Ons vind hierdie
voorwaardes in v/a 117. Dit wat van ‘n gebed ‘n gebed maak. Die eerste een is
dat jy die enige ware God moet aanroep. Dus, as iemand bid byvoorbeeld tot ‘n
Roomse heilige, kan mens dit nie ‘n gebed noem nie. In teenstelling tot die
Roomse kerk sê ons: die Bybel leer dat jy nie tot heiliges kan bid nie. Ook as
jy met jouself besig is om te praat, sê maar ‘n soort selfrefleksie, ook al
doen jy dit hardop, dan is dit ook nie bid nie. Ek noem hierdie punt spesifiek,
want daar is deesdae teoloë wat dit wel beweer. Wat die gebed reduseer tot ‘n
soort selfgesprek, ‘n soort kontak maak met jou diepste wese. Dit is dus nie
bid nie.

Dit is ook
nie bid as jy ‘n afgod aanroep nie. As moslims tot Allah bid, kan mens op grond
van die Bybel dit nie gebed noem nie. Ook nie as jy vir jouself ‘n eie
godsbeeld gevorm het, wat nie strook met hoe God Homself in die Bybel
geopenbaar het, dan kan jy dit ook nie meer ‘n gebed noem nie. Dit is dus,
gemeente, die eerste randvoorwaarde. WARE GODSKENNIS.

Soos die
Kategismus sê: “Ten eerste moet ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy
Woord geopenbaar het, van harte aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om
te bid.”

Ons kom by
die tweede randvoorwaarde. Dit is: WARE MENSEKENNIS.

Ons is almal
mense. Maar hoe ouer jy word, hoe meer jy besef: eintlik is die menslike wese
‘n raaisel. Die diepste wese van die mens bly vir ons ‘n raaisel.

Daarom dat
die HERE sê: Die ware aard van die mens, hoe die mens is, dit leer jy ook in
die Woord ken. Naamlik dat God ons Skepper is, en dus ken net Hy ons deur en
deur. En volgens die Kategismus is dit dus ook ‘n randvoorwaarde vir ‘n gebed. Dat
jy jouself ken soos die Bybel leer. En dit lei sonder meer tot selfverootmoediging.
Want God se Woord leer ons ons nood ken. Jy besef hoe diep afhanklik jy van God
is. Dat jy deur en deur sondig van nature is. En slegs as jy dit besef, kan jy
bid. Voel jy die behoefte om regtig te bid.

En daarom
dat die regte selfkennis, die Skriftuurlike mensekennis, ook ‘n randvoorwaarde
vir die gebed is.

En dan kom
ons by die 3e, die laaste randvoorwaarde.

En dit is:
SEKERHEID IN CHRISTUS.

Die
Kategismus sê: danksy Christus het ons vrymoedigheid om te bid. Danksy Hom weet
ek seker dat God werklik na my luister. Sekerheid van verhoring op grond van
Christus. Dis iets anders as sekerheid op grond van statistieke.

Soms sê ons
oor iets: statisties het jy ‘n goeie kans om te slaag. In die gebed werk dit
nie so nie. Om ‘n voorbeeld te noem.

Sê nou maar
een duisend mense bid dat dit môre sal reën.

Dan is daar
miskien, statisties gesproke, ‘n kans dat dit inderdaad môre sal reën.

Dalk ‘n 5%
kans. Maar dit is dus nie soos die gebed werk nie.

Ons bid nie
omdat dit statisties aangetoon is dat gebed goed is vir mense, dat gebed mense
beter laat voel nie. Nee, hoekom bid ons? Bid is asemhaal.

Bid is ‘n
lewende band met jou hemelse Vader. Bid is kommunikasie van ons kant af met ons
Verbondsgod. Die effektiwiteit van gebed berus nie op statistieke uit die
verlede nie.

Maar jou
gebed berus op die sekerheid in Christus!

Die Kategismus
sê: ons het hierdie vaste grond dat God ons gebed, hoewel ons dit nie verdien
nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos Hy dit vir
ons in sy Woord beloof het. Die Skrif vergelyk ons hemelse Vader met ‘n aardse
vader, wat alhoewel sondig en gebrekkig, tog goeie dinge vir sy kind gee. En
soos die vaders onder ons weet: elke kind is anders.

Ouers weet
wat goed is vir elke indiwiduele kind.

In Christus
het ons die sekerheid dat God ons hemelse Vader is.

Hy sorg
spesifiek vir elkeen van sy kinders apart.

Hy gee ons
indiwiduele behandeling. Dis moeilik om dit in veralgemenende statistieke uit
te druk. Maar elke kind ervaar dit.

En ons kyk
in afhanklikheid en vertroue op na ons hemelse Vader.

So is die
gebed onderdeel van die lewende omgang tussen Vader en kind.

Vader spreek
en die kind antwoord.

En die kind
het sekerheid dat die Vader sy antwoord hoor en verhoor.

Die
sekerheid kry ons in Jesus Christus.

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)