Met die vyfde gebod maak die HERE ons oë oop vir die groot waarde van gesag

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-02-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 19 Februarie 2017 AD,
17:30

Votum

Seën

Ps 103:1

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Ps 103:2

1e tafel:
Skriflesing: Efesiërs 5:22-6:9; Ps 103:5

Lofverheffing
& Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 39           

Preek

Ps 14:3-7

Geloofsbelydenis
(Nicea)

Sb 26:7

Kollekte

Ps 2:3,6

Seën

Preek: HK Sondag 39

Ons begin
met die tweede tafel van die wet. Die eerste tafel, die eerste vier gebooie,
het Jesus soos volg saamgevat: Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele
bestaan. Die tweede tafel, jy moet jou naaste liefhê soos jouself, is die
gebooie 5 t/m 10. Binne hierdie twee tafels neem die eerste gebod van elke
tafel ‘n belangrike plek in. Die eerste gebod van elke tafel is as ‘t ware die
fondament, oftewel ‘n voorvereiste vir die daaropvolgende gebooie. Neem
byvoorbeeld die eerste gebod: jy mag geen ander gode voor God se aangesig hê
nie. Die tweede, derde en vierde gebod is afhanklik van hierdie eerste. As jy
slegs die enige ware God dien, dan vertel die verdere gebooie vir jou hoe. Die
tweede gebod handel oor die diens aan God.

Die derde
gebod handel oor die naam van God. Die vierde gebod handel oor die dag van God.
Hierdie gebooie het slegs waarde as die eerste nageleef word, as slegs die
enige ware God gedien word.

Wat betref
die tweede tafel van die wet geld iets soortgelyks. Die vyfde gebod vorm die
basis van die volgende gebooie. As daar geen gesonde gesagstruktuur in ‘n land
bestaan nie, of in ‘n gesin, of in ‘n huwelik, dan kan die verdere gebooie ook
nie tot hulle reg kom nie. Om ‘n voorbeeld te noem: As daar nie ‘n owerheid is
wat diefstal verbied en ook straf nie, kan die 8e gebod nie funksioneer nie.

Of nog ‘n
voorbeeld: As mense toegelaat word om ongetroud saam te woon deur die owerheid
en selfs die kerk, wie kan hom dan nog op die 7e gebod beroep? So neem die
vyfde gebod dus ‘n eerste plek in op die tweede tafel van die wet.

 

Tema: Met die vyfde gebod maak die HERE ons
oë oop vir die groot waarde van gesag

  1. Onderdaan

  2. Gesagsdraer

  1. Onderdaan

    Die vyfde
    gebod is, in ‘n neutedop, die gebod van die gesag. Dit is ‘n woord wat in ons
    hedendaagse samelewing nie baie in is nie. Vir baie is gesag uit den bose. Daar
    rus ‘n taboe op die woord gesag. Ons maatskappy sukkel ook geweldig om die
    Bybelse bedoeling met die woord gesag na waarde te skat. Veral sedert die jare
    ’60 van die vorige eeu is daar ‘n groot kruistog teen gesag in die Westerse
    wêreld van stapel gestuur. Die mense wat in die jare ’60 opgegroei het, is die
    mense wat vandag die bestuursposisies beklee in die maatskappy en in die
    owerheid. Dit is die generasie wat heftig teen die woord gesag gereageer het. Dit
    was waarskynlik ‘n reaksie op die kadawerdissipline van die Tweede
    Wêreldoorlog, soos dit veral in Nazi-Duitsland gepraktiseer is. Maar sedert die
    jare ’60 het die samelewing na die ander uiterste deurgeslaan.

    Ook in die
    kerk het hierdie oorreaksie sy invloed laat geld. In verskillende denominasies
    is byvoorbeeld die woord ‘gesag’ uit die huweliksformulier geskrap. Baie mense
    kan skynbaar nie meer die verskil sien tussen gesag aan die een kant en
    magsmisbruik aan die ander kant nie. Daarom is dit belangrik, gemeente, dat ons
    aan die hand van die vyfde gebod weer opnuut ontdek wat die woordjie gesag inhou in Bybelse sin. Soos ek
    genoem het: die vyfde gebod is die gebod van die gesag.

    Eer hulle
    wat God bo-oor jou geplaas het. Die woord eer
    kan vanuit Hebreeus ook vertaal word met: ag hulle gewigtig. Wys respek vir
    hulle.

    En soos ons
    al by die vorige gebooie gesien het, het elke gebod ‘n verbod-kant, maar ook ‘n gebod-kant.
    Die vyfde gebod is positief geformuleer.

    Eer jou
    vader en moeder, sodat jou dae verleng mag word. Sondag 39 gee ook eksplisiet
    aandag aan die positiewe, die gebod-kant.
    Die verbod-kant kom nie eksplisiet
    ter sprake nie. Wat word eintlik in hierdie gebod verbied? Om dit agter te kom, moet mens dit wat in Sondag 39 staan,
    slegs om te draai: Ek mag nie aan my ouers ongehoorsaam wees nie. Ek mag nie
    die owerheid of polisie ongehoorsaam wees nie. Tereg beperk die Kategismus
    hierdie gebod nie net tot die verhouding met jou ouers nie.

    Die vyfde
    gebod is net soos die ander gebooie ‘n samevatting van ‘n skeppingsordinansie. Naamlik
    dat die gesagstrukture wat God in die skepping ingeskape het, en wat Hy in sy
    Woord nou aan ons openbaar, dat dit ook eerbiedig moet word. Daarom het die
    vyfde gebod ‘n boodskap vir alle verbande wat daar in die skepping bestaan.

    In die
    breedste sin: ek moet gesagsdraers respekteer, en mag hulle nie liefdeloos
    behandel nie. Dan kan mens dink aan, behalwe vir jou ouers, ook aan die
    owerheid, onderwysers, die kerkraad, noem maar op. Ek mag nie op ‘n eerlose
    wyse oor hulle praat nie. Ek mag my nie aan hulle onderwysing en tug onttrek
    nie. Ek mag hulle nie ontrou wees nie. Ek mag nie hulle swakheid en gebreke
    aangryp as rede om hulle invloed oor my af te skud nie. God verwag van ons die
    korrekte houding en optrede teenoor ‘n gesagsdraer. Die korrekte optrede kan
    per gesagsdraer verskil. Of dit gaan oor byvoorbeeld jou ma, of oor die
    minister, of oor jou man, of oor jou juffrou, of oor jou ouderling. Maar tog is
    die gemeenskaplike dat ons hulle hoog ag, eer, en met gepaste eerbied met hulle
    en oor hulle praat.

    Die rede
    hoekom die HERE dit aan ons almal oplê, is eenvoudig. Dit lees ons in Romeine
    13:1

    “Laat elke
    mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag
    behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.”

    Om teen
    gesag te skop, is om teen God te skop. Uiteraard is daar die voorbehoud dat ons
    aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense.

    Want daar is
    situasies waar gesagsdraers God se gebooie self oortree.

    Hieroor
    later meer. Dink ook aan die woorde van die Here Jesus teen Pilatus (Joh
    19:11):

    “U sou geen
    mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.”

    Die rede is
    dus eenvoudig: Eer hulle wat gesag oor jou het, want God wil dit.

    En God is
    die hoogste gesagsdraer.

    Nou is daar
    mense wat meen dat dit ‘n sirkelredenering is. Jy moet die gesag eerbiedig,
    omdat God die gesag ingestel het. Hoekom het God eintlik gesag ingestel? Eintlik,
    gemeente, behoort ons op hierdie punt baie beskeie te wees. Ons kan nie vir God
    ooit ter verantwoording roep nie. Ons kan Hom nie bevraagteken hoekom Hy dinge
    doen soos Hy dit wil doen nie.

    Soms vra ‘n
    kind ook vir sy ma: hoekom moet ek dit doen? En dan antwoord die ma: omdat ek
    so sê, en ek is jou ma. Ook dit is ‘n soort sirkelredenering. Maar daar’s niks
    fout daarmee nie, en ‘n kind wat die gesag respekteer kan ook daarmee leef. Meer
    nog, kinders het dit gewoon nodig, as hulle later as volwassenes ‘n normale
    lewe wil lei. Kinders moet in hulle ouerhuis leer om iets te aanvaar, om hulle
    by iets neer te lê. Gewoon omdat die ouers dit verwag. Wie heeltyd alles
    bevraagteken, het geen lewe nie. God het die gesag ingestel.

    En al kan
    ons nie altyd al God se besluite verstaan nie, wat betref hierdie gebod kan ons
    wel tot op sekere hoogte nagaan hoekom Hy dit juis so gedoen het. Dit spreek
    eintlik vanself dat iemand met veel meer lewenservaring gesag kry oor iemand met
    geen lewenservaring nie.

    Byvoorbeeld
    ‘n ouer oor ‘n kind.

    En dit
    spreek vanself dat ‘n land leiers moet hê wat die belang van almal, ook van die
    swakkes, moet beskerm. Anders kry mens ‘n samelewing waarin elkeen doen wat
    goed is in sy eie oë, anargie dus. Die vyfde gebod berus daarom op gesonde
    logika.

    Tog, dit
    moet direk ook genoem word, tog sal ons nie in staat wees om al God se
    verordeninge op alle punte logies te beredeneer nie. Ons is mense met ‘n
    beperkte verstand, met beperkte insig. In ons samelewing is daar deesdae baie
    mense wat groot moeite het met God se besluit dat in die huwelik die man gesag
    het oor die vrou. Of dat in die kerk die gesagsdraers manne moet wees. Ons
    tydsgees sien nie die sin daarvan in nie. Tog is dit baie duidelik dat God dit
    so in die Bybel verorden het. En Hy het ook goeie bedoelinge daarmee, al kry
    ons samelewing, en soms ons selfs ook, dit nie altyd reg om die waarde te besef
    nie. Maar dit mag nooit ‘n ekskuus word om dan maar ‘n verordening aan die kant
    te skuif nie. Ons eerbied vir God as die hoogste Gesagsdraer moet ons keer om
    dit te doen.

    Ek het ‘n
    keer ‘n gesprek gehad met iemand wat dit belaglik vind dat daar ook dinge soos
    ‘n klassis en ‘n sinode moet wees. Maar hoe meer ons gepraat het, hoe
    duideliker het dit vir my geword dat die persoon weinig van die onderwerp
    afgeweet het. Hoe kan mens nou iets as oorbodig beskou, as jy nie eers weet
    hoekom dit per slot van rekening bestaan nie?

    Op dieselfde
    manier is dit raadsaam om nie te gou afkeurend met jou mening klaar te staan
    oor die gesagsverhouding in die huwelik, of watter verordening ook al, wat die
    Skrif dit aan ons voorhou, en waarvan ons dalk die nut nie met ons beperkte
    insig kan insien nie.

    Want dit is
    soos dit God behaag het, en Hy sal ongetwyfeld swaarwegende redes daarvoor
    gehad het. Mens kan dit ‘n sirkelredenering noem. Maar dit maak nie saak nie.mWant
    God is alwys, en Hy wat die mens geskape het, weet presies wat goed is vir die
    mens. Boonop leer ook die ervaring: as jy God se wil toepas in die daaglikse lewe,
    sal God sy seën ook daarop laat volg.

    (Tema: Met
    die vyfde gebod maak die HERE ons oë oop vir die groot waarde van gesag

  1. Onderdaan

    2 Gesagsdraer

    Ons het tot
    dusver na die vyfde gebod gekyk vanuit die oogpunt van ‘n onderdaan. Vervolgens
    kyk ons uit die gesigspunt van ‘n gesagsdraer.

    Want hoewel
    die vyfde gebod in Exodus 20 geskryf is vanuit die oogpunt van ‘n onderdaan,
    meer spesifiek nog, vanuit die oogpunt van ‘n kind teenoor sy vader en moeder, tog
    blyk uit die geheel van die Skrif dat hierdie gebod handel oor gesag in die
    algemeen. Die gedeelte wat ons uit die Bybel gelees het, laat sien dat die
    vyfde gebod wel deeglik ook ‘n boodskap het vir die gesagsdraer. In Efesiërs 5
    staan: Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die
    man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (vers
    22-23).

    Daar word
    hier gepraat met die getroude vrou wat betref haar posisie as onderdaan. Vervolgens
    lees ons in vers 25: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook
    die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”.

    Hier word
    die getroude man aangespreek in sy posisie as gesagsdraer binne die huwelik. Dat
    hy gesag oor sy vrou het, is duidelik uit vers 22.

    Maar in vers
    25 wys Paulus namens die Here op hoe hy hierdie posisie moet inklee. Dan word
    daar na die Here Jesus Christus self verwys.

    Hy is die
    Hoof van sy gemeente, Hy het gesag oor sy kerk. En wat dit inhou, het Christus
    self duidelik gemaak. In liefde het Hy Homself vir sy kerk oorgegee. Net so,
    lees ons in vers 28, is die manne verplig om hulle vrou lief te hê soos hulle
    eie liggaam.

    Kom ons kyk
    ook na Efesiërs 6. Eers word die kinders aangespreek in hulle hoedanigheid as
    onderdane. Kinders, wees julle ouers gehoorsaam in die Here, want dit is reg. Eer
    jou vader en moeder, dit is die eerste gebod met ‘n belofte. Naamlik sodat dit
    moet jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde. Ons het nounet al daaraan
    aandag bestee dat ons nie altyd die hoekom verstaan agter al God se gebooie
    nie. Soms moet ons volstaan met: God verwag dit, en daarom sal dit wel goed
    wees. Maar, laat ons eerlik wees, eintlik is dit glad nie moeilik vir ons as
    mense nie, al het ons ‘n beperkte verstand en insig, om die hoekom van die
    vyfde gebod te verstaan. Wie eerlik is, sal moet toegee dat hierdie gebod ‘n
    baie heilsame uitwerking in die praktyk het. Dan hoef ons maar net te luister
    na die belofte wat God aan hierdie gebod verbind het. Paulus verwys spesifiek
    na hierdie belofte, as hy die kinders aanspreek. As jy die vyfde gebod nakom,
    sal dit goed met jou gaan en jy sal lank op aarde lewe.

    Dit is iets
    wat ons inderdaad in die praktyk terugsien. Wie die vyfde gebod eer, het ‘n
    goeie en lang en gelukkige lewe. Tussen hakies, hierdie reël moet ons nie as ‘n
    wiskundige wetmatigheid sien nie. Dit is ‘n etiese reël. En as daar ‘n
    uitsondering is, hef dit die reël nog nie op nie. Hierdie reël weerspieël die
    normale gang van sake. Iets wat normaal is, is nie outomaties nie. Maar dit is
    te danke aan God se voorsienigheid.

    So blyk daar
    dus ‘n duidelike antwoord te wees op wat die nut van gesag is.

    Wie die
    gesag eerbiedig, ontvang ‘n goeie, lang en stabiele lewe. Wie die vyfde gebod
    verontagsaam, wie teen gesag aanskop, of dit in die gesin is, in die huwelik,
    in die kerk, of in die land, die veroorsaak dat mense nie ‘n lang lewe het nie,
    maar voortydig die lewe verloor. So is die vyfde gebod duidelik, selfs vir ‘n
    kind.

    En dan praat
    die Here met die gesagsdraers, in hierdie geval die pa’s.

    Efesiërs 6:4
    “vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en
    vermaning van die Here.” Mens kan gesag op verskillende manier vorm gee. En
    Paulus sê daarom pertinent: Moenie jou gesag misbruik nie. Moenie aanleiding
    gee dat jou kinders die gesag begin verwens of uittart nie. Doen dit anders,
    naamlik: voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.

    Dieselfde
    geld vir die verhouding tussen diensknegte en hulle base.

    Vers 5:
    Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing,
    in opregtheid van julle hart, soos aan Christus, nie met oëdiens soos
    mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van
    harte doen. En base, laat staan die dreigemente.

    Julle weet
    dat julle ook ‘n Here, ‘n Baas, in die hemel het. En by Hom is daar geen
    aanneming van die persoon nie.Vir die tweede keer vergelyk Paulus die optrede
    van ‘n gesagsdraer met die Here Jesus self. Dit is iets waarvan ‘n gesagsdraer
    baie goed van bewus moet wees. Jy moet jouself vergelyk met jou eie Here. As jy
    dit nie doen nie, sal dinge verkeerd loop wat betref jou posisie as
    gesagsdraer. Dink altyd dat daar Iemand bo jou is, aan wie jy moet rekenskap
    aflê. Om dit eenvoudig te sê: Kinders is nie die besit van hulle ouers nie. Ouers
    kan nie met hulle kinders maak wat hulle wil nie.

    Skoolkinders
    is nie die besit van die onderwysers nie. Landsburgers is nie besit van die
    regering nie. ‘n Vrou is nie die besit van haar man nie. Ensovoorts.

    Ons behoort
    almal slegs aan Een, dit is aan God. God vertrou sy skepsels wel toe aan ander
    mense, wat Hy gesagsdraers maak. Maar daaraan verbind Hy streng vereistes. Elke
    gesagsdraer moet rekenskap aflê.

    Wees goed
    daarvan bewus! As jy dit altyd besef, dan sal jy op die regte spoor bly. As
    ouers besef jy byvoorbeeld dat God ook van jou verwag om jou kinders te straf,
    selfs met lyfstraf. Maar jy weet ook dat jy nooit jou kind, wat ook God se kind
    is, mag straf uit vergelding of woede nie.

    So het die
    vyfde gebod vir elkeen ‘n boodskap.

    Ja ook die
    vyfde gebod is in die nuwe bedeling ‘n gawe van die Heilige Gees.

    En die nakom
    daarvan is ook ‘n vrug van die Heilige Gees. As daar gesonde gesag heers in ‘n
    kerk, of in ‘n gesin, dan is dit ‘n Geesvervulde gemeente, of ‘n Geesvervulde gesin.
    Want ook met die vyfde gebod sorg die Heilige Gees dat ons al hoe meer
    gelykvormig word aan ons Heiland.  Ja ook
    met die vyfde gebod maak Hy ons waardige tafelgenote.

    Ook met die
    vyfde gebod berei Hy ons voor om ‘n waardige genooide te wees by die bruilof
    van die Lam, wat op koms is.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)