Wedergebore tot ‘n onverwelklike lewe!

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-02-19
Teks: 
I Petrus 1 : 24-25
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 19 Februarie 2017 AD,
10:15 (nagmaal)

Votum

Seën

Sb 22:5-8

Wet

Ps 119:36

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Geloofsbelydenis
(sing)

1e tafel:
Skriflesing: 1 Petrus 1; Ps 90:2,3

2e tafel:
Teks: 1 Petrus 1:24-25; Ps 103:8

3e tafel:
Lofverheffing; Ps 103:9

Dankgebed

Kollekte

Sb 17:4-6

Seën

Preek: 1 Petrus 1:24-25

Tema: Wedergebore tot ‘n onverwelklike lewe!

Die woorde
van ons teks handel oor die kortstondigheid van ‘n menselewe.

By die
eerste geboorte kom daar ‘n mens te voorskyn, net soos wanneer ‘n grashalmpie
uit die grond opkom, of ‘n blombol wat blare begin uitstoot.

Dink aan al
die plante wat in die lente geblom het, maar baie van hulle het hulle skoonheid
teen hierdie tyd, midde in die warm somer, al weer verloor. Hierdie verganklike
skoonheid volg op die eerste geboorte van ‘n mens. Die apostel Petrus
kontrasteer dit met onverganklike skoonheid, wat volg op die tweede geboorte
van die mens. Die eerste geboorte is uit verganklike saad. Die tweede geboorte
uit onverganklike saad. Dit is die wedergeboorte deur God se Gees. Hy skryf in
verse 22-23:

“As julle in
gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde
broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;
want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike,
deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.”

Dit is in
die lig van hierdie tweede geboorte, wat ons na ons lewe mag kyk, soos Petrus
ook aan sy lesers skryf. Hy noem sy lesers aan die begin van sy brief die vreemdelinge
van die verstrooiing. In die boek Handelinge kan ons lees oor die vervolging wat
losgebreek het teen die eerste Christene. As gevolg daarvan is hulle verstrooi,
vanuit Jerusalem, deur Judea, Samaria, tot in verre plekke soos Pontus,
Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië. In ‘n sondige wêreld wat die afgode
aanbid is hulle vreemdelinge. Selfs God se ou verbondsvolk, die Jode, vervolg
hulle.

Om te midde
van allerlei gevaar te lewe, gevaar vir die liggaam, gevare wat hulle eerste
lewe bedreig, dit is vir hulle nie vreemd nie. Maar God die Vader ken hulle. Hy
het hulle lankal uitverkore. En Hy is besig om hulle heilig te maak deur sy
Gees. Vers 4: Hy bewaar vir hulle ‘n erfenis in die hemel.Hiermee word nie net
bedoel dat hulle, as hulle eendag sterf, dat hulle hemel toe gaan nie. Dit gaan
nog verder. In die hemel, dit is die beste plek waar ‘n erfenis bewaar kan
word. Die veiligste plek.

Geen kluis,
of wegsteekplek, of bank, of wat ook al op aarde is so veilig nie.

As dit nie
hier gesteel word nie, sal dit vergaan deur mot of roes. Maar ‘n erfenis in die
hemel weggebêre, dit bly vir altyd. En daardie erfenis is die verwagting van
die herskepping.

Die groot
herskepping begin reeds in die hede, met die wedergeboorte.

Die
skoonheid van die lewe na die tweede geboorte, oortref by verre die verganklike
skoonheid van na die eerste geboorte. Die feit dat ons hierdie heerlike nuwe
lewe besit, word nie gesê om onsself te verheerlik nie. As wedergebore mense
mag ons vandag die nagmaal vier. Die nagmaalstafel is bedoel vir wedergebore
mense, slegs vir wedergebore mense. Ons mag dankbaar opmerk wat die Here God
deur sy Gees in ons lewens werk.

Daarby is
ons nie passief nie. Die apostel roep sy hoorders op om te werk aan hierdie
nuwe lewe. Vers 22: julle moet mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart. Tegelyk
besef ons dat ons nog steeds baie sondig bly. Niemand behaal die volmaaktheid
al in hierdie lewe nie. Van ons sondes en gebreke verlos die Here ons eers
heeltemal op ons sterfdag. Daarom het ons in hierdie lewe gemengde gevoelens. Aan
die een kant is ons verdrietig oor die ou sondige mens wat daar nog steeds is,
die erfenis van die eerste geboorte.

Aan die
ander kant merk ons met dankbaarheid die vrugte van die tweede geboorte, wat al
hoe sterker word. Ons word gekonfronteer met die sterflikheid van die mens.

Alle vlees
is gras, ons ook. Ons ouers ook. Ons broers en susters ook. Ons eie kinders
ook. Al die heerlikheid van die wat ons so dierbaar is, is soos ‘n blom van die
gras. Die gras verdor en die blom val af.

Calvyn het
by hierdie teks die opmerking gemaak dat die lewe met sy verganklikheid ‘n
leerskool is wat God ons laat deurloop. En, sê hy dan, as God ons nie die
bittere werklikheid onder oë laat sien, dat ‘n mens regtig verganklik is, dat
‘n mens moet doodgaan, dan sal ons uit onsself nooit sover gekom het om bereid
te wees om die genade van God te ontvang nie.

Eers as ons
besef wat ‘n mens is, wat van ‘n mens met al sy glorie oorbly, as die dood op
die deur klop, eers dan besef ons hoe nodig ons God se genade het. In Sondag 1
van die Heidelbergse Kategismus bely ons dat God alles tot my saligheid moet
dien.

En in Sondag
9 bely ons dat Hy ook al die kwaad wat Hy in
hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as 'n
almagtige God kan en ook as 'n getroue Vader wil doen.Dit doen God selfs met
die dood. God gebruik selfs ons dood, asook die dood van jou geliefdes, om mee
te werk aan jou saligheid. Ons moenie dink God staan magteloos teenoor die dood
nie. Ons moenie dink, as God nie ons gebed verhoor om ons van die dood te red,
dat Hy tweede gekom het nie. Ons moenie dink dat ons nie goed genoeg of met genoeg
geloof gebid het, as die dood tog kom nie. Nee, dit gaan nog verder. Die dood
is selfs ’n instrument in God se hand, wat Hy gebruik ten dienste van die
saligheid van sy geliefdes. Die eerste geboorte plaas ’n sterflike skoonheid op
aarde. Maar die tweede geboorte bring ’n onsterflike heerlikheid. Die mens se verganklikheid is ‘n
leerskool wat God ons laat deurgaan. Dit is ‘n pynlike leerskool, ons moet dit
onder oë sien. As God ons hierdie bittere werklikheid nie onder oë bring, sou
ons nie bereid gewees het om sy genade te ontvang nie, skryf Calvyn.

Eers as ons
besef hoe weinig ‘n mens eintlik is, hoe weinig van sy skoonheid oorbly, eers
dan besef ons ook hoe nodig ons God se genade het. Ons moet bereid wees om te
sterwe. Ons moet bereid wees om die sterwe van ons geliefdes onder oë te sien. God
wil ons daarmee iets leer.

God dryf ons
na Hom toe, dat ons sy genade aangryp.

Ons teks gee
aan die een kant eerlik toe:

Die mens is
‘n heerlike, ‘n besondere wese. Die mens is die kroon van God se skepping. Die
mens se heerlikheid en skoonheid styg selfs uit bo die prag en skoonheid van
blomme. Dit gee die profeet Jesaja eerlik toe, uit wie Petrus in ons teks
aanhaal.

Jesaja 40:
“Alles vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die
gras verdor, die blom verwerlk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar,
die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwerlk; maar die woord van onse
God hou stand in ewigheid.” (vers 7-8)

Die mens is
heerlik deur God geskape, net soos die blomme. Hy is selfs die kroon van God se
skepping. Ons is wonderlike en talentvolle wesens! Maar tog is die ander kant
net so waar. Die mens met al sy talente en heerlikheid het sterflik geword, as
gevolg van die sondeval. Die heerlike lewe van die mens het eintlik niks anders
geword as ‘n voortdurende sterwe nie.

Elke mens se
lewe loop uit op die dood, vroeër of later.

Maar
gelukkig stop ons teks nie by hierdie morbiede konstatering nie.

Daarteenoor
word gestel: Maar die Woord van die Here bly tot in ewigheid!

Dit is uit
hierdie woord waaruit ons wedergebore word. En daarom is die dood nie ‘n punt
agter, of ‘n handtekening onder ‘n voltooide lewe nie, maar ‘n komma. Deur die
poort van die dood mag ons ‘n nuwe lewe binnegaan.

‘n
Wedergebore lewe wat nie meer ‘n voortdurende sterwe sal wees nie.

Hoe weet ons
dit?Hoe kan ons dit so seker sê, terwyl niemand van ons hier aanwesig al
anderkant die dood was nie?

 

Ons weet dit
inderdaad nie uit ervaring nie. Maar ons beroep ons op ‘n hoër gesag. Ons
beroep ons op wat God self in sy Woord gesê het.

Sy Woord het
bewys dat dit betroubaar is, veral in die lewe van Chritus.

Wie na
Christus kyk, na sy lewe hier op aarde, na sy sterwe, na sy opstanding uit die
dood, Wie daarna kyk, besef dat God die waarheid praat, as Hy belowe dat ons in
ewigheid by Hom sal wees. Sy beloftes is ja en amen. Kyk, Hy maak alle dinge
nuut. Hierdie woorde is getrou en waaragtig.

God sweer
selfs by Homself. Hy sal alle dinge nuut maak.

Hy het
gesorg vir ons wedergeboorte, en Hy sal voortgaan.

Hy sal die trane
vergoed afdroog. Dan sal die dood nie meer daar wees nie.

Geliefdes,
as God vir ons is, wie sal teen ons wees?

Hoe sal Hy,
wat sy eie Seun nie eers gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons gekruisig
het, hoe sal Hy ons nie ook alle dinge in Hom skenk nie?

Dit is die
sekerheid van die geloof, wat ons nie in onsself vind nie, maar in Christus. Hierdie
sekerheid hou ons op die been, ook in tye waarin ons geliefdes hier op aarde
moet mis, terwyl ons lewe wel aangaan, nog aangaan. Ons word vir ‘n kort tydjie
bedroef. Ons eerste lewe duur maar ‘n kort tydjie, in kontras met die
wedergebore lewe wat ewig duur.

In hierdie
lewe word ons beproef. God doen dit sodat ons die wedergeboorte behou. Ons word
nie beproef met die oog daarop om hierdie lewe te behou nie. Dis nie waarvoor
beproewing bedoel is, om hierdie aardse lewe terug te kry nie. Maar ons geloof
word beproef om die lewe te behou wat uit die tweede, die wedergeboorte,
voortgekom het.

Dat ons
daardie onverganklike lewe kan behou, selfs deur die dood heen.

Of ons lewe
en of ons sterwe, niks kan ons skei van die bestendige liefde van God nie.

Dit is die
woord wat aan julle verkondig is.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)