God se stryd en ons deelname aan sy stryd

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-02-12
Teks: 
Josua 5 : 13-6 : 27
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

Breek die mure af! So roep mense in ons tyd mekaar toe om grense te verlê en hindernisse uit die weg te ruim of vooroordeel te verwerp of geskille te besleg. Dit word dan ‘n oproep tot mense om vir ‘n saak of vir hulle saak op te staan en iets aan die saak te doen. Dit word ‘n oproep om nie stil te sit en te wag nie maar om tot aksie oor te gaan.

Dit is kenmerkend van ons om ons lewensgang los te maak van God se gang met ons en met die wereld. En dan op ons eie tot aksie oor te gaan en te doen. Om dinge in die hand te neem en te verander. Om dinge te beheer. Maar hoe meer ons dinge beheer en resultate behaal, hoe meer is ons geneig om ons eie gang te gaan, wat dikwels in stryd is met die pad wat die Here met ons gaan, en hoe meer skryf ons die resultate aan onsself toe en neig ons om sonder God verder te gaan, en hoe meer lyk ons op die samelewing waarvan ons deel is en hoe minder wys ons lewe dat ons in alles van God afhanklik is en hoe minder werfkrag het ons vir Christus.

In ons teks val die muur van die heidense stad Jerigo aan die begin van Israel se aankoms in die beloofde land en aan die begin van die oorlog teen die stede van die land. Die muur val omdat die poort van Jerigo, die toegang tot die stad gesluit bly, maar ook omdat Jerigo die poort, die toegang tot die land en sy stede is en die volk van God so verhinder word om die land in besit te neem. God wil hierdie stad uit die weg ruim, op so ‘n wyse dat dit nooit weer herbou sal word nie. God trek die goddelose heidendom wortel en tak uit en Hy plant die volk van sy hart in die land. God het sy volk uit Egipte laat trek om hulle te verlos en hulle te laat woon in die beloofde land. Om die regte begin te maak vir die leef van God se volk met Hom in die land, word dit aan die heidense nasies van die land, en aan die Here se volk deur die verwoesting van Jerigo duidelik gemaak dat God in beheer is en dat die stryd om die land sy stryd is, maar dat Hy vir sy volk hierdie stryd voer en ook sy volk by sy stryd inskakel. God in sy almag as Bevelvoerder word aan ons getoon.

Tema: God se stryd en ons deelname aan sy stryd

1. God neem Israel op in sy stryd maar vereis van sy volk geloof

God vereis geloof van sy kinders, dat hulle die mure wat hulle opgelê is om te oorkom, of hekke wat hulle moet oopkry, of planne wat hulle moet uitvoer, of strategiese besluite wat hulle moet neem, nie los sien van God se saak nie, en van hulle verhouding met God en hulle diens aan God en God se leiding van hulle lewe en van die kerk en van alle dinge. Ook wat hulle persoonlike geloof aangaan, is hulle in God se diens, hulle is onmagtig op hulleself.

Ja wees net sterk en volmoed, het God Josua opgedra, want die Here jou God is met jou. Hierdie woord konfronteer ons ten opsigte van ons self en ons verwagting van God. Mense lees dikwels ons teks asof hulle reken as jy verseker is dat God met jou is, moet jy nou uithaal en bewys dat jy sterk is en dat jy moed het en dan sal jy sukses hê in die lewe.

Die volk is in ons teks opgestel voor Jerigo. Jerigo is ‘n sleutelstad en dra die naam van die god van die maan. ‘n Subtropiese palmstad. Jerigo se poorte was gesluit. Hoe sou Israel die stad kon binnekom? Hulle het nie die nodige wapens en gereedskap gehad nie. Die stad was ‘n vesting wat nie ingeneem kon word nie.

Maar die Here sluit die hekke oop. Of liewer Hy laat die mure padgee sodat die Israeliete kan binnekom en van die stad ‘n puinhoop maak. Hy gee Jerigo met sy koning en kragtige helde in Josua se hand. Hy het reeds sy leeraanvoerder gestuur om Josua te ontmoet en hom te beveel om sy skoene uit te trek want die plek waar hy staan is heilig. Dit verbind die uittog – Moses wat sy skoene uittrek voor die brandende bos, met die intog – Josua wat nou op heilige grond staan. Dit is duidelik: die Here maak die geskiedenis, die stryd om Jerigo is die Here syne. Hy kom nie Israel in hulle stryd maar net te hulp maar Hy neem Israel op in sy stryd. Sy stryd wat Hy voer met sy magte. Soos Hy in Openbaring doen met gebruik van die engele met die oog op die wereldeinde.

Hoe kyk ons God na ons sending- en kerkplantingswerk? Is dit per slot van rekening ons werk waarin ons resultate moet behaal? Waar Hy moet anvul oral waar ons tekort kom? Sendingwerk, ook ons sendingwerk is God se magtige werk om sy heerskappy oor die wereld uit te dra sodat die uitverkorenes voor Hom buig en Hom erken as God en Heer. Die werk waarin Hy ons, verloste sondaars opneem en inskakel om Hom te bid en van God te verwag en Hom te dank en aan almal wat wil hoor en nie wil hoor nie te vertel. Wat is ons probleem van tekort aan predikante vir die kerke voor God? Is die evangelieverkondiging geheel en al die Here se saak waarin Hy ons gehoorsaamheid, ons geloof vra? Sien ons die eenheid van die werk van God voor volk en vyand met Jerigo, in die uitvoering van sy belofte aan Josua, …..en sy werk wanneer Christus se Gees die Woord as ‘n kragtige onfeilbare swaard hanteer wat verlossing maar ook oordeel bring wanneer sy Woord bedien word.

Die Here sê aan Josua in 6 vers 2: Kyk ek gee Jerigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Want het die Here nie ‘n belofte aan hom gemaak dat Hy met Josua sal wees nie, en dat Josua daarom sterk en volmoed in vertroue op die Here kan wees nie? En was die Here nie getrou aan sy belofte nie: 6 vers 27 nadat die stad ingeneem is: en die Here was met Josua en die gerug van hom het deur die hele land gegaan.

Want wie kan so ‘n sterk beskermde stad se mure laat val?

Op so ‘n manier? As net die Here? Die Here kom dus ook met sy eie metode.  Dit moet duidelik wees Hy gee die land aan sy volk.

Hy stel die land beskikbaar, Hy beskik oor die land.

Die Here skakel vir Josua met die leër van Israel in. Die Here gee noukeurige aanwysings. Elke dag moes die hele leër een keer om die stad trek en op die sewende dag sewe maal. Maar die belangrikste was die ark gedra deur sewe priesters moes in hulle midde trek. Voor die ark gaan die sterker manne en agter kom die minder weerbare manne aan. Die ark neem die sentrale plek want ons lees 6 vers 11 die ark van die Here het om die stad getrek. Die ark as die sitplek van God in die midde van sy volk. 

God beheers dus die toneel wat hier voor die oë van beide die volk van God en die inwoners van Jerigo afspeel. Jerigo se inwoners was alreeds beangs vir alles wat hulle van die Here gehoor het. En hier verskyn die grote God rondom die mure van Jerigo. Die leer van Israel masjeer voor die aangesig van die Here. En die Here was hulle agterhoede. Die Here maak nie ‘n gewone aanval op die stad nie, maar Hy verskyn rondom die stad.

 

Die priesters het op ramshorings  geblaas voordat daar rondom getrek is. Verder was daar geen geluid. Die Here se strydgeluid word dus gehoor, terwyl Israel geen strydkreet aanhef nie. God kom reken af, Israel mag slegs deel in God se aanslag. Josua het uitdruklik opdrag gegee: Laat geen woord uit julle mond uitgaan nie. Alles was in gewyde stilte behalwe vir die geluid van die ramshorings.

Let op die ramshorings. Dit is nie oorlogstrompette nie, dit word vir die diens van God gebruik. Die stilte van die volk en die skel klanke van die ramshorings wys daarop dat wat hier gebeur diens aan die Here is. Die soldate kom nie in die eerste plek om te veg nie maar om die Here te dien. Hy het self die stad omsingel.

….Op die sewende dag moes sewe keer omgetrek word. En toe die priesters vir die sewende keer omgaan en blaas het Josua vir die volk gesê om te skreeu of liewer vertaal: om te juig. Hulle moes juig, dit is van vreugde skreeu soos mense wat die oorwinning reeds behaal het. Die mure het op daardie stadium nog gestaan. Maar Josua sê vers 16: Juig want die Here gee die stad aan julle oor.

Hulle geloof was die bewys van die dinge wat hulle nog nie gesien het nie. Heb 11:30: Deur die geloof het die mure van Jerigo neergestort.

God gee die stad in hulle hande en dit gebeur deur die geloof. God het die geloof van sy volk ingeskakel. Deur die geloof was Israel meer as oorwinnaars.

God het die stad met die ban geslaan. Simbool van die vernietiging, die helse oordeel. Israel moet hulle hande van die bangoed afhou. Anders word hulleself in die oordeel getrek. Israel word so gewaarsku om nie in dieselfde oordeel te val nie.

God werk nie outomaties en die volk is passief nie. Wat mense as onmoontlik beskou, is moontlik deur die geloof. Dit was hulle krag. Nie die swaard nie maar die geloof. Nie die geloof as iets wat ek moet doen of wat ek moet besit as ‘n deug of ‘n kwaliteit nie, maar kennis van God en vertroue op God.

So wil die Here hê dat ons daagliks stry. Stry deur die geloof. Hy wil dat ons Hom aanbid. Dat ons Hom sien in sy gang met sy kerk en met die wereld na die laaste dag toe wanneer Christus in heerlikheid weer kom. Daarom is die fokus van die evangelie in die erediens en in die sendingdiens nie op wat die gelowige moet bereik in sterkte en selfbehaling nie, maar op God en sy werk en die heil vir sondaars. En dan staan Christus en sy versoenende liefde voor ons, sodat ons in ons lofprysing aan Hom ingeskakel is in sy werk. Hy is in ons midde met sy Woord. Hy gaan voor. Maar ons kom ook saam om Hom te dien.

 

So pak ons die uitdra van die evangelie. Christus konfronteer die heidense gode en die bygeloof en die sekularisasie om God uit alles uit te stoot, en die heidense en godlose beskouings. Ons mag spreekbuise vir Hom wees. Sout en lig in die wereld waarin Hy ons stuur, of dit in ons daaglikse werk of teenoor my buurman of die mense in ‘n township is. Ons glo, daarom gaan ons, daar is niks passiefs aan die geloof nie – maar die stryd en die val van mure is van Hom.

Ons harte juig en ons is bly oor die oorwinning oor die sonde wat Christus klaar vir ons verkry het en ons volg sy versekering dat Hy in die hemel vir ons intree en ons behoue laat bly en ons daagliks bewaar in die gemeenskap van geloof wat na Hom opkyk en Sy Woord op ons lippe neem en gebruik en wat alles van Hom verwag na die laaste dag toe.

2. God voer sy gerig oor die goddelose uit en verwag dat sy volk Hom erken

Hoe kyk ons na God se gang teen sy vyande en ons vyande (want dit is tog wat die situasie was met die stad Jerigo en vandag met ons in die oprigting van God se Koninkryk teen die koninkryk van die wereld), God se stryd en ons stryd naamlik teen die duiwel en die Bose, die verleiding van die wereld, ons sondige harte? Sien ons die geweldige, onmeetlike, ontwyfelbare gevolge van Christus se werk vir ons? Sien ons sy gang met ons in die stryd teen sy en ons vyande na die laaste dag toe? Die voortgang van die Gees van Pinkster, wat oor die ganse aarde voortdryf met die magtige boodskap van God se heerskappy, die Gees van Christus met sy Woord na die einde toe wanneer God alles vir almal sal wees?

God oefen in ons teks sy gerig, sy oordeel en straf oor Jerigo uit.

In God se Woord kom God in sy reddende en beskermende genade na ons toe, en Hy gee aan ons die evangelie van sy versoening met ons. Maar sy Woord is ‘n tweesnydende swaard. Vir Ragab en ons ander wat Hom glo en die wat nog buite staan is daar genade en troos van deelword van God se volk op aarde. Vir hulle wat nie glo nie word God se Woord ‘n vreesaanjaende bedreiging wat hulle verpletter deurdat die lewende God, die Almagtige altyd doen wat Hy sê, sy dreiging uitvoer.

God het destyds by die berg Sinai neergedaal. Eks 19:19. Met basuingeblaas. Dit het die koms van die Here aangekondig. Om sy volk van sy krag en mag te verseker.

So daal Hy ook in ons teks neer. God die Almagtige daal hier neer om met die inwoners van Jerigo af te reken. Hy maak die stad deur sy verskyning magteloos.

 

Daar is geen mensehand betrokke wat die klippe van die mure van die stad begin afbreek nie. …Alleen met ‘n groot geraas stort die mure van die stad in. Die hele stad lê oop voor Israel. Die hele stad val voor die aangesig van God. En die volk neem deel, voer die opdrag van God uit. Vers 20: die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem. Vers 21: en alles wat in die stad was, het hulle deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref, man sowel as vrou, jonk sowel as oud, tot bees, skaap en esel toe.

Ons God het nie magtige leërs nodig nie. Alleen sy verskyning is al genoeg om mense magteloos te maak. So maak Christus die ongeregtigheid tot niet met die asem van sy mond en deur die verskyning van sy wederkoms. 2Tess 2:8.

Nou bring die Here dit oor een stad. Maar dit is ‘n saak wat die hele aarde aangaan. Wanneer God se seun verskyn op die wolke gaan die basuin weer klink. Want die Here sal by die geklank van die basuin van God weer neerdaal vanuit die hemel. 1Tes 4:16. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Openbaring 8:1:Daar sal die sewe basuine van die sewe engele wees. Maar voor die basuine gaan klink, kom daar ‘n groot stilte, soos die stilte hier, Josua 6 vers 10. Die dreigende stilte gaan aan die voltrekking van God se oordeel vooraf. So sal dit gebeur oor die hele wereld as God die ongeregtigheid van die ongelowiges besoek. Jerigo was maar die eerste stad van Kanaan. So sal dit met die hele Kanaan gebeur. So sal die hele goddelose wereld ondergaan.

In die evangelieverkondiging vind God se gerig plaas. Oor die ongeloof. Die geloof in die een enige God moet bewaar word. God se gerig breek mure af om gerig te hou, te straf, puinhope van die ongeloof te maak. Met die Woord wat verkondig word gaan die gemeente verder. Hulle gaan stry gelowig teen die sonde. En dan hang die sukses van God se werk nie af van wat hulle vermag nie maar dan as medewerkers van God, mense wat hulle laat lei deur te sien hoedat God deur Christus die gerig voltrek, mense wat luister na God se Woord, mense wie se geloof ingeskakel word by God se werk, en wat glo dat God deur die volbringde offer van Christus die oorwinning gee. Mense wat al die eer aan God gee.

Josua en die volk moes in opdrag van God die stad en alles daarin as ‘n banoffer aan die Here gee. Vers 24: Alles moes gedood word, alles verbrand word en die silwer en goue voorwerpe, die yster en koper moes by die skat van die huis van die Here gevoeg word. Dit was nie bloeddorstigheid nie maar heilige werk wat God aan die volk opgedra het. Banoffer beteken alles aan die Here gee. Met latere strydvoering het God die bangoed aan die volk laat toekom, maar hier waar God die land oopmaak eis Hy alles op. Alles het aan God behoort en by guns alleen het God later vir hulle van die goed laat toekom.

Jerigo moes ‘n blywende puinhoop word.

Die ruines moes in lengte van dae getuig van God se gerig oor die goddeloosheid van die mense.

Vers 26 daarom die eed van Josua dat wie sou waag om die mure van Jerigo weer op te bou, moet daarvoor gestraf word met die dood van sy kinders, van die eersgeborene tot die jongste.

Ons lees die goddelose koning Agab wou ‘n sterk grensvesting hê en daarom het hy die ruines van Jerigo laat opbou. 1Kon 16:34: In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het. Agab het nie geglo dat ‘n oop land sonder ‘n sterk grensvesting en net die geloof in God genoeg is nie. Omdat hy geen ontsag vir die Woord van God gehad het nie, het die vloek van God hom getref.

Die ban hou ‘n ernstige boodskap in. Wie deur die ban getref word gaan sy ondergang tegemoet. Deur God verstoot en verlaat. Troosteloosheid van altyd verlore wees. Daarvan is die puinhoop van Jerigo die bewys. Die gestapelde klippe in die Jordaan was die bewys van die genade van God, wat sy volk die beloofde land binnegebring het. Die puinhoop klippe van Jerigo is die troostelose puinhoop wat getuig van God se straf oor elkeen wat teen Hom opstaan. Daarom moes dit nie weer opgebou word nie, dit moes die sprekende bewys bly van ewige ondergang.

Eenmaal sal God se oordeel ook oor die groot stad Babilon kom. Wat met God en sy heiliges spot. Openb 19:3. Sy sou ewig ondergaan. Haar rook styg op in alle ewigheid.

Die moderne Kanaaniete, die stad Babilon leef rondom ons en probeer ons in haar greep kry. Almal wat hulle laat verlei en hulle rug op God draai. 2Pet 3:7: God bewaar die huidige wereld vir die vuur van die jongste dag. Dan kom die oordeel en die ondergang van die goddelose mense. Daarvan spreek die puinhope van Jerigo. Hierdie getuienis gaan saam met die prediking van die evangelie van die seun van God. Wie in die Seun glo het die ewige lewe, wie aan die seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. Joh 3:36. God is lankmoedig want Hy wil dat almal tot bekering kom. 2 Pet 3:9.

Een in Jerigo het tot bekering gekom. Daar was een uitsondering op die vervloeking. Ragab en haar familie was gered. Sy was regverdig gereken. Die muur onder haar huis het nie neergestort nie. Eers sou sy buite die laer van die Israeliete woon, later is sy opgeneem, sodat sy selfs een van die voormoeders van Christus was. Te midde van die oordeel skitter God se ontferming. En sy heilsplan loop dwars teen die beide die goddeloosheid en die aannames en aanvaarde planne van die mense, so baie keer ook teen die aanvaarde planne van kerkmense.

Ragab word in ons teks die hoer genoem. Sy het deel gehad aan die sondes van die Kanaaniete. Maar sy kom nie om nie.Want sy glo in die God van Israel. Haar geloof het haar gered. Heb 11:31: Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. Haar stad se inwoners was ongehoorsames. Dit is die oordeel oor alle heidene. Haar dade aan die spioene om hulle te versteek het van haar geloof getuig. Jesus het hom oor die slegte mense ontferm. Ook die tollenaar Saggeus van Jerigo is deur Jesus in Jerigo tot bekering geroep. Waar daar geloof is, gaan iemand met die slegste verlede die goeie ongelowiges voor in die koninkryk van God. Matt 21:31: Voorwaar ek sê vir julle: die tollenaars en hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. God voer sy stryd om mense te red wat verlore is, wat ten spyte van hulle sonde die genade van God aangryp. Terwyl ander mense wat goed doen ondergaan omdat hulle nie onder die verlossing uit genade wat net by Christus is wil lewe nie.

God se ban word aan die hele wereld voltrek. Alles moet aan Hom gewy word. Alles heeltemaal in sy diens, of anders word dit prysgegee aan die verderf. Ook wat mense dikwels sien as hulle uitnemende verstand en hulle onbeperkte liggaamskragte, of hulle gebrek daaraan, moet deur ‘n veranderde, ‘n vernude gemoed, ‘n veranderde hart, kortom deur die evangelie in God se diens staan, aan God oorgegee word.

Gelukkig, God bou Jerusalem, sy kerk. Hy bewaar haar, hou haar in stand, vermeerder haar, gee haar oorvloediglik water uit die fontein van heil, trek baie na haar en na Hom toe.

Laat ons ons heeltemaal wy aan sy diens, in gehoorsaamheid aan sy Woord en onder sy sorg. Ons luister na sy Woord en ons oordink dit, so kyk ons vanuit die evangelie na ons omstandighede en gebeure elke dag, en pak ons ons  lewe en werk in sy diens.

Amen

Liturgie: 

Votum
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het
Groet
Gemeente genade vir u en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.
Amen
Psalm 97:1,2,3,5,6
Lees van die wet
Eksodus 20
Psalm 119:51,52
Skuldbelydenis en gebed om die seën van die Here
Teks
Josua 5:13-15, 6:1-27
Psalm 119:62
Preek
Psalm 87:1,2,3,4,5
Dank en voorbidding
Kollekte
Psalm 107:1,2,7,10
Uitspreek van die seën
Die Here sal u seën en u behoed
Die Here sal sy aangesig oor u laat skyn en u genadig wees
Die Here sal sy aangesig oor u verhef en aan u vrede gee
Amen