God vul sy profeet met krag

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-11-27
Teks: 
Miga 3:8a
Preek Inhoud: 

Preek: Miga 3:8a

Met vanoggend se teks uit die profeet Miga wil ons veral fokus op een aspek van die ampsdiens naamlik die feit dat jy ‘n gesant van God is.

Gesant, d.w.s. deur God gestuur, met ‘n duidelike opdrag om uit te voer.

Ek verkondig u God se Woord onder die volgende tema:

Tema: God vul sy profeet met krag

1) Jy is onbekwaam as jy geroep word

2) Jy is vol krag nadat die Gees jou die waarheid ingeprent het

1) Jy is onbekwaam as jy geroep word

Hoe is die profete in die Ou Testament in hulle amp geroep? Ons weet nie van alle profete nie, maar van ‘n aantal wel. En die patroon wat ons kan ontdek is dat hulle almal deur God geroep word, hoewel God meestal van ‘n boodskapper gebruik gemaak het. En ons sien ook dat eintlik almal vir die eer bedank het. Hulle het daarvoor teruggedeins. Dink maar aan die profeet Jeremia, wat gedink het hy’s veels te jonk.

‘Ag Here HERE, kyk, ek kan nie praat nie, want ek is so jonk.’

Ek durf nie. En so ook Moses toe hy geroep is: ek is nie ‘n goeie spreker nie.

Hoekom vra U nou juis vir my? Van Miga weet ons nie hoe dit gegaan het nie.

Dit word nie genoem nie. Maar ons kan wel vermoed dat dit ook op ongeveer so ‘n wyse moes gegaan het. Veral vir ‘n jong man vanaf die platteland, wat in die groot stad Jerusalem die oordeel van God moes gaan aankondig. Dit doen mens nie sommer uit jouself nie. Dink ook aan die profeet Jona. Ook hy is deur God geroep: Gaan na Ninevé en hou die groot stad my oordeel voor.

Sê vir hulle dat dit tyd word dat hulle hulle sal moet bekeer.

Ook Jona het besware gehad om die roeping van die HERE op te volg. Pleks van na die Ooste, rigting Ninevé, het hy na die Weste gevlug. Waarskynlik het Miga ook aan die begin teengespartel. So ‘n funksie, so ‘n amp aanvaar mens nie sommer net vrywillig nie. Jy moet durf hê, om so ‘n taak op jou te neem en ‘n profeet te wil wees.

Wat is dit eintlik? ‘n Profeet wees? Daar is allerlei soorte profete. Net soos daar vandag allerlei soorte predikante, ouderlinge en diakens is, so was hulle ook vroeër daar. Kyk maar na wat ons gelees het in hoofstuk 3. Dit klink eintlik baie bekend. Baie ampsdraers loop die volgende risiko: Dat jy aan die einde van die dag jou werk met onsuiwer motiewe doen. Byvoorbeeld as jy te afhanklik is van die mening van mense. Of as jy agter die geld aan is.

Of die boodskap is vir jou te ingrypend, en met allerlei metodes, sielkundig, maatskaplik, wat ook al, probeer jy om dit te versag.

En so verander die profesie dan in hulle mond. Daar word geprofeteer wat die mense graag wil hoor. Die mense word in feite na die mond gepraat. In die dae van Miga was daar baie sulke soort profete. En die HERE het sy mening oor hulle. Sien hfst. 3:5: so sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle hulle tande êrens in kan byt – as hulle brood in die mond het, heil verkondig. Maar teen hulle wat vir hulle niks in die mond kan steek nie, roep hulle oorlog uit. Profete wat dus teen betaling profeteer wat hulle kliënte graag wil hoor. En hulle wat nie kan betaal nie, word nie ontvang nie.

Maar dit noem die HERE dus nie profesie nie. Profesie is om sy wil aan die mense bekend te maak. Sy beloftes by gehoorsaamheid. Sy waarskuwings as dit nodig is. En so moes Miga ‘n egte profeet wees. Onafhanklik van wat die mense van hom dink, moet hy die wil van God aan hulle voorhou.

Sy bestaansreg het slegs hierin gelê dat hy ‘n boodskapper van God is.

Dat hy Sy wil aan die mense voorhou. Doen hy dit nie, is hy geen profeet in God se oë nie.

Het Miga hiermee ‘n probleem gehad? Was dit vir hom moeilik, aan die begin toe hy geroep is? Ons weet nie presies nie, ons het wel die reaksie van ander profete gesien toe hulle deur God geroep is, toe hulle ingesien het wat hulle te doen staan, dan kan ‘n mens wel aanneem dat dit vir Miga ook stresvol was.

Maar nou die vraag: het dit so gebly?

Ons teks gee hierop antwoord. Wanneer ‘n profeet ‘n roeping aanvaar, dan sorg God vir die krag. Of soos die teks sê: Miga is vervul met die Heilige Gees.

En soos dit toe was, so is dit vandag nog steeds. Daar is verskillende soorte profete. Profete wat broodprofete is. Wat dit doen net vir die geld, of vir die reputasie wat hulle dan in die samelewing geniet. Daar is ook profete wat op hulleself vertrou. Dat hulle byvoorbeeld ‘n charismatiese persoonlikheid het.

Iemand wat ‘n groot uitstraling het, ‘n motiverende persoonlikheid. Maar, die soort profeet wat die HERE soek, is dus iets anders. God soek iemand wat gegrepe is deur sy Woord. So iemand gebruik Hy.

Nou is dit die probleem dat niemand dit uit homself is nie. Miga was dit ook nie uit homself nie. Soos ons hom hier in vers 8 ontmoet, selfversekerd tot en met, so word profete nie geroep nie. Ons het al genoem van Jona, wat skoon die anderkant op gevlug het. Hy was bang vir die HERE, wat die HERE nou van hom vra. En die profeet Esegiël, nadat God aan hom verskyn en tot profeet geroep het, was vir sewe dae lank siek. Hy was verbysterd, hy kon net nie verstaan dat die HERE hom so iets kon aandoen nie. Maar, en dis wat so mooi is, dit het nie so gebly nie. Die oomblik dat die profeet vasgegryp word deur God se Woord, op daardie oomblik begin iets te verander. Op daardie oomblik begin die Gees van God in die profeet se hart te werk. Op daardie oomblik kom daar oorlog in die binnenste van die profeet, wat daarop uitloop dat hy hoe langer hoe meer begin besef dat God se Woord die waarheid is, en dat dit nou die tyd is om dit te bring. So werk die Gees in die hart van die profete.

En die oortuiging, die roepingsbesef begin toeneem, tot die profeet sover kom dat hy dit self ook durf. Dat hy self durf om te gaan, as God hom stuur.

Dink maar aan Jona, langs ‘n groot ompad kom hy uiteindelik sover om God se roeping op te volg. En as die profeet hom dan oorgee aan die wil van God, dan kry hy ook die vertroue, die krag, die oortuigingskrag, sodat hy die roeping durf op te volg. Dan durf hy ook dinge te sê en te doen wat ‘n normale mens nooit sou waag nie.

Dink aan Moses, toe God hom uiteindelik sover gekry het dat hy ingewillig het, het hy gedurf, hy wat nie so welsprekend was nie, het hy gedurf om na die magtige koning Farao te gaan, en sonder skroom vir hom te sê dat God se straf op koms is.

Dink aan Jona, toe God hom uiteindelik sover gekry het, het hy as ‘n Jood gedurf om na ‘n buitelandse stad te gaan en daar die mense op te roep tot bekering.

Hoe het hy dit gedurf? Watter mens sou dit durf? In ons teks staan die antwoord: Die mens wat Gód sover gekry het dat hy ten volle oortuig is van die waarheid.

Oortuig van die noodsaak om die mense te konfronteer met God se Woord.

En by Miga sien ons dus dat God hom inderdaad sover gekry het. Let wel, dit het nie aan Miga gelê nie, hy was ‘n gewone mens soos ons, vol van sonde en twyfels. Dit het nie aan sy indrukwekkende persoonlikheid gelê nie. Dit het nie aan sy eie welsprekendheid of geesteskrag gelê nie. Gód het Miga sover gekry.

God het hom gesoek, hom geroep, hom ‘n opdrag gegee. En langsamerhand het God se Woord, sy boodskap, hom sover gekry, hom oortuig. Danksy God se roeping, danksy Sy Gees het Miga sover gekom dat hy alles durf sê het.

Omdat God aangehou het om aan hom te trek. En so kom hy sover om in ons teks te sê: Ek daarenteen is vol krag, met die Gees van die HERE, en reg en heldemoed. Oftewel: God se Gees brand in my as ‘n heilige vuur.

Ek kan nie meer ontsnap nie, ek moet dit sê.

(Tema: God vul sy profeet met krag

1) Jy is onbekwaam as jy geroep word)

2) Jy is vol krag nadat die Gees jou die waarheid ingeprent het

Gemeente, en ampsdraers in ons midde, ook julle broeders wat gereed is om in die amp bevestig te word: Durf jy dit ook? Sonder onduidelikheid, sonder omhaal van woorde, sonder twyfel kies vir die waarheid? Reken maar dat God met elkeen van ons besig is. Voel jy dit ook? Dit vra nogal iets om vir die waarheid op te kom. Ook daardie aspekte wat gerieflikheidshalwe meestal oor die hoof gesien word. Hoe dan sonder vrees die waarheid praat? Die teks gee die antwoord: gedrewe deur die Gees, die hemelse Sender, is daar vir jou nie ‘n opsie om onder die waarheid uit te kom nie. Jy voel gewoon dat die vuur van die Gees jou van binne sal verteer, jou sal opeet, as jy die waarheid vir jouself hou. Soos die HERE vir Esegiël gesê het toe hy hom as profeet geroep het: Ek stuur jou na my volk om hulle te konfronteer met die waarheid.

Doen jy dit nie, as jy nie durf nie, met die gevolg dat hulle omkom sonder die waarheid te gehoor het, dan sal ek hulle bloed van jou eis. Maar as jy hulle wel die waarheid vertel, maar hulle bekeer hulle tog nie, dan is hulle self skuldig, maar jy het jou eie lewe gered. As God jou as profeet roep, dan word die waarheid in jou soos ‘n vuur, wat of jou sal aanvuur, die krag en moed sal gee om met heilige oortuiging op te kom vir die waarheid, sonder vrees vir mense, òf daardie vuur kan jou eie ondergang word, as jy die waarheid vir jouself hou.

In ons teks ontmoet ons Miga as gesant van God. Nogmaals, dit was nie sy prestasie nie. Maar Miga kon nie ontsnap nie. En toe hy hom aan God oorgegee het, om sy gesant te word, toe blyk dat God selfs wonders deur hom kon doen.

Wat ‘n gewone mens nooit sou doen nie, daarvoor skrik Miga nie terug nie.

‘n Man van die platteland, ‘n boereseun, is nie bang om vir sy kollega profete die waarheid oop te vlek nie.

En selfs vir die regeerders van die land. Vers 1 en 9:

Luister, hoofde van Jakob, leiers van die huis van Israel.

Julle verafsku wat reg is, julle verdraai die waarheid.

Julle bou Sion met bloed en Jerusalem op onreg.

Julle lewe van omkoopgeskenke.

Julle hou die mense heel vroom voor:

Die HERE is in ons midde, ons sal geen kwaad tref nie.

Miga neem geen blad voor die mond nie. Júlle is die rede dat Jerusalem met die grond gelyk gemaak gaan word. Die skuld rus op júlle, nie op die arm mense nie, nie op die buitelandse vyande nie, maar op júlle, al te vrome profete en regeerders.

Gemeente, wat wil hierdie hoofstuk vir ons leer? Die tema lui: God vul sy profeet met krag. Laat ons hiermee begin. As iemand vandag bevestig word in die amp van ouderling of diaken, maar dieselfde geld ook vir die amp van elke gelowige: Laat elkeen van ons die vraag vra: Durf jy dit Miga na te sê: ek is vol krag! Ek is vol van die Gees van die HERE? Ek durf op te staan vir die waarheid! Durf jy dit? Dis nie altyd so maklik nie.

Ook vandag hoor baie mense, ook onsself, liewers nie sommige aspekte van die waarheid nie. Vir die waarheid opkom kan naamlik konsekwensies hê.

Jou posisie by jou werk; of jou posisie in jou familie; of jou posisie in die gemeente. Durf jy vir die waarheid op te staan? Byvoorbeeld die simpele waarheid dat hierdie wêreld aan God behoort. En dat al sy wette dus op aarde geld, en dit vir alle mense. En laat ons net duidelik wees: die waarheid aan iemand voorhou beteken nie onbarmhartig of onvriendelik wees nie

Inteendeel. ‘n Ampsdraer wat gedryf word deur die waarheid, sal eerder baie vriendelik en geïnteresseerd wees, sal tyd hê vir mense, ongeag die mense ryk of arm is, invloedryk of onaansienlik, sal uitvra, sal goed luister, maar sal ook nie van ‘n vae verhaal hou nie, maar tot die punt wees met sy boodskap.

Uiteraard sal hulle wat nie die volle waarheid wil hoor sulke ampsdraers as lastig en bemoeisiek ervaar. Maar ‘n ampsdraer wat besef dat hy ‘n gesant van God is, sal hom uiteraard nie daaraan steur nie. Want ‘n ampsdraer se reputasie staan of val nie by wat mense van jou dink nie, maar of jy aan God gehoorsaam is. Nou is dit natuurlik nie so, laat ons eerlik wees, dat alle ampsdraers heel stoïsyns hulle werk kan doen sonder dat hulle ooit in die put kan sit nie.

As gemeentelede sy naam swart smeer, as mense sy vermaning nie opvolg nie, hom dalk selfs teenwerk, hom vermy, vir hom soms selfs die deur nie eers oopmaak nie. In die Bybel is daar ook sulke voorbeelde, dink aan die profeet Elia, wat op ‘n stadium heeltemal depressief na die buiteland vertrek het en onder ‘n bossie gaan lê het. Die werklikheid van ampsdraer wees is baie keer weerbarstig. Maar juis in sulke omstandighede is dit goed dat jy die vuur van die waarheid in jou het, wat jou op pad stuur, ook al het jy nie meer krag en is jy niks meer lus om te gaan nie.

Nie alle ampsdraers kry dit ewe maklik nie. So was dit ook by die profete.

Die een kan ‘n rustige lewe lei, die een maak mee dat sy woorde ingang vind by die mense, dat hulle luister, dat hulle hulle bekeer, Dat hulle hom selfs bedank vir die moeite wat hy gedoen het om hulle persoonlik op te soek, en hulle na die waarheid toe te lei. Maar daar is ook ampsdraers wat swaar kry.

Wat keer op keer merk dat die deur nie oopgemaak word nie, wat telkens afstandelikheid proe. Dit kan moeilik wees! Maar tog roep God jou as ampsdraer. Net soos Jeremia destyds, wat lewenslang die taak gekry het om sy volk op te roep tot bekering, maar wat self nooit die resultaat mog meemaak nie. Hoe moeilik was dit nie! Wie die boek Jeremia deurlees, sal sien dat hierdie profeet elke nou en dan in die put gesit het. Maar nog steeds geld wat Miga hier sê: jy is vol van die krag van die Heilige Gees. Die krag van God se Woord vuur jou aan, dit hou jou op die been. Dit is jou bestaansreg as profeet, as ampsdraer. Die feit dat God jou stuur. Daaraan ontleen jy jou identiteit.

Hierdie is net so belangrik vir die amp van elke gelowige.

Vuur God se Woord jou aan? Lees jy uit die Bybel, elke oggend, voor jy met jou dagtaak begin? Lees jy darem elke dag uit die Bybel? ‘n Profeet wat God se Woord nie goed ken nie, begin sy eie mening te verkondig. Laat ons eerbied hê vir die Woord, elke profeet wat hier vanoggend in die kerk is. Laat ons eerbied hê vir ons hoogste Profeet en Leraar, Jesus Christus. Volgende week word ons uitgenooi om by Hom aan tafel te kom. Laat dit nie so wees dat ons, ons deur die week vir sy woorde skaam, maar op Sondag wel by Hom aan tafel wil sit nie. Hy wat sy Woord hoor, en dit ook doen, dit is slegs hulle wat uitgenooi word na die nagmaal. Ja jy is ook profeet in jou doen en late.

In dit wat jy gaan doen hierdie week, en in dit wat jy gaan nalaat om te doen.

As profeet getuig jy ook deur jou lewenswyse.

Ek sluit af.

Geliefde gemeente, en broeders ampsdraers veral, as jy jou deur God se Woord laat lei, dan sal jy wel ondervind dat  jy vir niemand hoef bang te wees nie. Soos Paulus gesê het: as God vir ons is, wie kan teen ons wees?

Of soos Marten Luther ‘n keer gesê het, en dit het hy nogals in die teenwoordigheid van die keiser gesê: Ék kies vir die waarheid, ek kan nie anders nie. God help my.

Of soos Miga gesê het, vol oorgawe: Ek daarenteen is vol krag, met die Gees van die HERE.

En so mag julle, broeders wat vandag bevestig word, vandag na hierdie erediens uit die kerk uitstap met die besef: Ek is vol krag.

Die Gees van die HERE vuur my aan.

As ek op Hom staatmaak, sal Hy my alles gee wat ek vir die ampsdiens nodig het.

Amen.

 

 

Liturgie: 

PRETORIA-MARANATA, 27 November 2016 AD, 10:15 (Ampsdraerbevestiging)
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 105:2,3
Wet
Ps 119:41,59
Gebed
Skriflesing: Miga 3
Ps 105:9
Teks: Miga 3:8a
Preek
Ps 18:15
Bevestiging ouderlinge en diakens (p.52)
Gebed
Ps 134:4 (staande)
Kollekte
Ps 75:1,6
Seën