God leer ons om die dimensie van Christus se liefde te ken

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-11-20
Teks: 
Efésiërs 3 : 14-21
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 20 November 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 36:2

Wet

Ps 25:3

Gebed

Skriflesing:
Efesiërs 3

Ps
116:1,4,10

Teks:
Efesiërs 3:14-21

Preek

Ps 139:6,7,8

Openbare
Geloofsbelydenis

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 150:1,3

Seën

Preek: Efesiërs 3:14-21

Op skool
leer mens dat daar drie dimensies is. Lengte, breedte en diepte.

Behalwe vir
hierdie feit, word daar dikwels gespekuleer of daar nie nog ‘n vierde dimensie
is nie. Of dalk selfs nog meer?

In ons teks
verwys verwys die apostel Paulus ook na die dimensies.

Hy bid dat
julle in staat sal wees om die breedte, lengte en diepte en hoogte te ken van
die liefde van Christus. Paulus skryf dit aan die Christene in Klein-Asië. Dat
hulle sal leer om met ander oë na die wêreld te kyk.

En ook
vandag, geliefdes, mag ek julle oproep om dit te doen.

Ek verkondig
die Evangelie met hierdie tema:

Tema: God leer ons om die dimensie van
Christus se liefde te ken

Toe die
apostel Paulus hierdie brief geskryf het, was hy in die tronk. Dit was in Rome,
ongeveer in die jaar 62 nC. Het jy al ooit ‘n brief ontvang van iemand wat in
die tronk is? Ek vermoed dat as een van julle, wat vandag gereed staan om
belydenis te doen, as een van julle ‘n brief sou ontvang van ‘n man wat in die
tronk is, dat jou ouers nie baie beïndruk sal wees nie.

Ek kan
myself voorstel dat ouers hulle kind sal afraai om kontak te soek met iemand
wat in die tronk is. Dit was die presies die probleem waarmee die mense in
Efese te make gehad het. Hulle het baie gemengde gevoelens gehad. Die apostel
Paulus was naamlik diegene wat hulle kerk gestig het.

Dus was
hulle trots op hom. Maar wat sou die mense nou dink?

Sê nou maar
mense wat nie lid van die kerk was sou te hore kry dat hulle stigterslid agter
die tralies was. Daar was dus mense in die gemeente wat gedink het dat dit
beter sou wees om die kontak met Paulus te verbreek.

Maar dan
lees ons in vers 13, die vers net voordat ons teks begin, die volgende
opmerking van Paulus:

“Daarom bid
ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit
is julle eer.”

Paulus herinner
die mense: Besef julle wel hoekom ek in die tronk is?

Ek sit nie
hier omdat ek ‘n misdaad gepleeg het nie. Ek is nie ‘n krimineel nie. Ek sit
hier in die tronk vir julle, julle wat heidene was! En dit is inderdaad korrek.
Hoe het Paulus naamlik in die tronk in Rome tereg gekom? Dit het ‘n hele
aanloop gehad. Dit het ver weg van Rome, in Jerusalem, begin. Paulus was ‘n
belangrike Joodse rabbi, en Hy het openlik vir Jesus Christus bely. Hy het
openlik daarvoor uitgekom dat dit God se wil was dat ook die heidene, nie-Jode,
die ware God kan dien, en dit sonder om eers Jode te word. In reaksie het die Joodse
owerhede in Jerusalem ‘n geheime aanslag op hom beraam om hom om die lewe te
bring. Hulle het hom ook aangekla by die Romeinse owerheid. Om ‘n lang verhaal
kort te maak: na uitgebreide ondervragings voor Felix, Festus en Agrippa,
waartydens sy onskuld geblyk het, het Paulus homself op die keiser beroep.

Elke
Romeinse burger – en dit was Paulus – het die reg gehad om dit te doen. As jy
gemeen het dat onreg jou aangedoen is, dan het jy jou op die keiser beroep. Die
keiser het dan persoonlik met die hulp van sy regters jou saak ondersoek. Daarvoor
moes Paulus na Rome toe gaan.

Hy kon vrygelaat
gewees het – dit het Agrippa self gesê. Maar omdat Paulus hom op die keiser
beroep het, het hy in Rome opgeëindig. En daar was hy dus nou as gevangene. Self
het Paulus dit as ‘n ideale kans gesien om ook in Rome die Evangelie te bring,
miskien selfs aan die keiser persoonlik!

Daarom is
dit ‘n feit dat Paulus vrywillig in die tronk was. Of soos hy in hoofstuk 3:1
sê: “Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevange van Christus Jesus vir julle
wat heidene is”. Dus, om Christus se redding aan soveel as moontlik heidene
bekend te maak, daarom het Paulus gekies om hom op die keiser te beroep. Daarom
was hy hier in Rome as gevangene.

En daarom
het hy die gelowiges in Efese dringend versoek om nie met hom kontak te
verbreek nie. Hulle moet nugter wees, hulle moet net besef hoekom hy in die
tronk in Rome is. Nie as krimineel nie, maar om soveel as moontlik heidene –
net soos julle was – met die Evangelie te bereik.

En dan begin
ons teks met die woorde: Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader. Ek
dink dit is wel duidelik wat Paulus hier bedoel. Wie sy knieë buig, bid. Dit is
‘n mooi uitdrukking dat Paulus intens bid vir die mense in Efese. Soos ‘n ma
soms eelte op haar knieë het, omdat sy so baie vir haar kinders bid, so bid
Paulus vir die Efesiërs. Dit is sy sterkste wapen.

Hy het
daardie kerk in die verlede geplant. Maar hy kon nie altyd daar bly nie. Hy
moes ook weer vertrek na ‘n tyd, en het toe ‘n baie jong gemeente agtergelaat.

Baie heidene
wat nog maar pas tot geloof gekom het. Daaroor was hy self dikwels bekommerd. In
Handelinge 20 kan mens lees dat hy, by sy definitiewe vertrek, die ouderlinge
van Efese opgeroep het om waaksaam te bly. En wat Paulus nou, op afstand, vir
hierdie jong Christene kon doen, dit laat hy nie na nie. Hy skryf briewe aan
hulle. Maar veral bid hy vir hulle.

As gevangene
kon hy maklik ‘n uur lank op sy knieë gaan. En wat hy bid, dit vertel hy in sy
brief. Ek bid dat God, wat die Vader is van alles wat daar bestaan in hemel en
op aarde, dat Hy julle vanuit sy rykdom sal voed.

‘n Vader
moet daarvoor sorg dat daar vir sy kinders genoeg kos op die tafel is. Paulus
bid of die hemelse Vader daarvoor sal sorg dat die mense in Efese nie net
genoeg kos vir hulle liggaam sal ontvang nie, maar ook genoeg geestelike
voedsel. Dat hulle in die inwendige mens deur sy Gees versterk sal word. Behalwe
brood vir jou liggaam, dus ook brood vir jou siel.

Dit is wat
die mense in Efese broodnodig gehad het.

Sien vers
17: “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan wees”.

As jy
gewortel en gegrond is in die liefde, skryf Paulus vervolgens, en hy bedoel
dan: as jy deurdronge geraak het van die liefde van Christus vir sondaars, dan
sorg dit vir verwondering. As jou lewe gewortel is in Christus se liefde, dan
sal jy in staat wees om ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte
en hoogte van Christus se liefde is.

‘n Besef wat
alle kennis oortref.

Ek het aan
die begin van die preek gevra of daar moontlik dalk meer as drie dimensies kan
wees. Is daar nog ‘n dimensie in die werklikheid wat ‘n totaal nuwe sig op
dinge sal openbaar? Watter verskil ‘n ekstra dimensie maak, kan mens
verduidelik deur vir ‘n oomblik een van die drie bekendes weg te dink. As daar
slegs twee dimensies was, as alles slegs twee-dimensioneel was, dan sou alles
bloot ‘n plat vlak wees. As daar byvoorbeeld geen diepte was nie. Die
diepte-dimensie voeg soveel waarde toe aan die werklikheid.Nou op dieselfde
manier, skryf Paulus in ons teks, voeg die ekstra dimensie waarde toe. Die
ekstra dimensie in ons teks is naamlik die liefde van Christus. Vir iemand wat
ongelowig is, wat Christus se liefde nie ken nie, vir so iemand is die wêreld as’t
ware net twee-dimensioneel, baie vlak en oppervlakkig. Om na alles om jou heen
te kyk sonder die liefde van Christus, dit is soos om slegs in staat te wees om
alles net in twee dimensies te sien, lengte en breedte, sonder diepte.

As jy nie
vir God ken, die Skepper wat alles gemaak het nie.

As jy nie
die liefde van Christus ken nie, wat besig is om alles te herskep.

Dan is dit
asof jy na die skepping, die wêreld kyk, sonder enige diepte.

Maar wie
Christus se liefde leer ken het, sien ook die diepte van alles.

En om terug
te kom by ons belydeniskatkisante, wat vandag gereed staan om belydenis te
doen.

Dit is wat
julle deur die jare op katkisasie, deur die jare van opvoeding by die huis,
deur die jare van Gereformeerde onderwys, deur die jare van Bybelstudie, geleer
het om raak te sien, en geleer het om te ken en te ervaar: die liefde van
Christus. Die bedoeling van katkisasie was nie net om ‘n klomp kennis op te
doen nie. Maar die bedoeling was om die Persoon te ontmoet agter die kennis. Die
bedoeling was om die liefde van Christus te leer ken, wat alle kennis oortref. Die
bedoeling van alle geloofsopvoeding die afgelope jare was om julle by die Here
Jesus Christus te bring. Soos die ouers destyds die kindertjies na Jesus
gebring het, sodat Jesus hulle kon seën. So het julle ouers hulle doopbelofte gehou,
om julle steeds te bring by Jesus, by sy Woord. Deur die geloofsopvoeding, deur
die kaktisasie het ons julle oë probeer oopmaak vir hierdie dimensie. Dat
Christus in julle lewe aanwesig is. Dat Hy eerste vir julle gekies het, dat
julle alles aan Hom te danke het. Deur die geloofsopvoeding is julle geleer om
met ander oë na die wêreld om julle heen te kyk. Om daardie ekstra dimensie
raak te sien, die dimensie van die liefde van Christus. Sodat julle in staat is
om die werk van sy hande orals om julle heen te sien. Ongelowiges sien God se
werk om hulle heen, in die skepping en in hulle eie lewens, nie raak nie.

Hulle mis
daardie dimensie.

Gelowige
ouers, en kategete, leer die jeug om dit wel raak te sien. En soos julle hier
gereed staan om belydenis te doen, mag julle nou hiervan getuig:

Ja, ek het
geleer om dit raak te sien. Ek is bevoorreg dat ek ook die liefde van Christus,
wat alle kennis oortref, leer ken het. Paulus bid vir die mense in Efese, dat
hulle in staat sal wees om die breedte en lengte en hoogte en diepte te kan
sien. As jy die liefde van Christus kan sien, kan ervaar, dan bly die lewe nie
oppervlakkig nie, dan kry jy ‘n onuitspreeklike pragtige dieptedimensie in die
lewe. As jy die liefde van Christus leer ken het, dan word jy vervul van ‘n
volmaakte geluk.

Die liefde
van Christus, wat alle kennis oortref.

Paulus, wat
danksy Christus se genade, danksy sy verskyning aan hom, hierdie dimensie self
mog leer raaksien het, Paulus weet dat as die Efesiërs daarop sig kry, dat
hulle daardie rykdom nooit weer sal wil verloor nie.

Dat hulle
alles sal doen om dit vas te hou. En dit is wat Paulus hulle toewens. Dat die
rykdom van  Christus se heerlikheid nooit
van hulle afgevat sal word nie. Dat hulle gewortel en gegrond sal bly in sy
liefde.

En dit is
dieselfde wat ons julle vandag toewens. Julle mog die liefde van Christus leer
ken het. Julle mog sig kry op hoe Hy in julle lewe aan die werk is. Ons bid dat
julle daarvan vervuld sal bly! Want die liefde van Christus plaas hierdie lewe
in die diepte-perspektief van die ewige heerlikheid.

As jy dit
leer raaksien het, dan kyk jy met ander oë na alles in hierdie wêreld. Dat weet
jy dat alles wat jy doen, solank dit in diens van Christus gebeur, nie verniet
of tevergeefs is nie.

Julle mag
met oë vol hoop die wêreld inkyk. Oë met ‘n toekomsverwagting.

Oë vol
geloof, geloof in Christus se belofte, dat alles sal uitwerk ten goede.

Geloofsoë,
wat sien dat Christus regeer. Dat Hy op die troon sit.

Dat Hy selfs
die dood oorwin het. Dat Hy die Satan met kettings gebind het.

Dat Hy deur
sy Gees jou die krag gee om jou ou mens aan te hou kruisig.

Dat Hy deur
sy Gees jou ‘n nuwe mens gee, ‘n hartlike lus en vreugde en liefde om volgens
al die gebooie van God te wil lewe in goeie werke.

Dat Hy jou
vervul met die volheid van God.

Geliefde
jongmense, julle gaan hier in die kerk vanoggend staan, in ‘n lang tradisie, deur
alle eeue, van mense wat hulle geloof bely het.

Die Here
Jesus Christus versamel so vir hom ‘n gemeente, God berei vir Hom ‘n volk, in
elke eeu. En so word sy Naam in elke eeu van die wêreldgeskiedenis geprys en
verheerlik.

Soos Paulus
in vers 21 skryf: aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus
deur alle geslagte tot in ewigheid.

Julle is al
die soveelste geslag, sedert die hemelvaart van Christus.

En so sal
dit deurgaan tot in ewigheid, tot die dag dat Hy hemel en aarde verenig. Julle mag,
voortaan as belydende lede, die fakkel van sy Woord verder dra die tyd in. Daar
gaan ‘n dag kom dat hulle wat vir jou die Evangelie geleer het, nie meer daar
gaan wees nie. Jou ouers, jou oupa en ouma, jou predikant, jou onderwysers. Maar
Christus se Woord bly altyd by julle. Christus se liefde wat julle mog leer ken
het. As belydende lede moet julle nou selfstandig verder gaan. Voortaan is jou
pa en ma, onderwyser of predikant nie meer verantwoordelik om toe te sien dat
jy elke dag Bybel lees, elke dag bid, elke Sondag kerk toe gaan, ensovoorts
nie.

Die Here
verwag nou van jou self verantwoordelikheid.

Maar as jy
die rykdom van sy heerlikheid gesmaak het, as jy die dimensie van die liefde
van Christus leer ken het, dan kan ons as ouer generasie gerus wees. Christus
sal nie laat vaar die werk wat Hy in julle begin het nie.

As jy
belydenis van geloof doen, sou jy jouself dalk kon afvra: sal ek dit wel
volhou, om my hele lewe lank sig te bly hou op hierdie mooi werklikheid?

Ek is so
bang dat ek die geloof kwytraak? Daarsonder is die lewe nie meer die moeite
werd nie. Daarsonder maak die lewe nie meer sin nie.

Maar ons
teks sluit af met ‘n versekering wat Paulus gee:

God is by
magte om oneindig veel meer te doen as wat ons bid of besef.

As jy vandag
jouself aan God se sorg toevertrou, dan sal Hy jou die toekoms inlei. Hy bly
altyd trou. Jy moet maar net aan Hom vashou.

Hoe doen ek
dit – aan Hom vashou?

Paulus sê:
as jy gewortel is in die liefde van Christus. Dan sal jy saam met al die
heiliges, sig bly hou op die breedte, lengte, hoogte en diepte. Saam met al die
heiliges, dit wil sê: saam met die ander gelowiges. Dus, hoe bly jy aan Hom
vashou? Hoe hou jy dit vol?

Op jouself
alleen sal jy dit nie volhou nie. Maar wel saam met alle heiliges.

Jou broers
en susters in die kerk. As gemeenskap hou ons mekaar vas.

Die
gemeenskap van die heiliges sorg dat elkeen perspektief bly behou.

Perspektief
op die breedte, hoogte, diepte en lengte van Christus se liefde.

Daarom doen
julle vandag publiek belydenis van geloof. Die hele gemeente is getuie. Julle
mag in die toekoms steun verwag van die gemeente.

Hulle hoor
vandag jou ja-woord.

Hulle het
die reg en plig om jou daaraan te hou.

Om te sorg
dat jy perspektief bly behou, die regte perspektief in die lewe.

In tye van vreugde,
maar ook in swaar tye.

Saam met al
die heiliges is jy gewortel en gegrond in die volheid van Christus se liefde!

Daarom doen
jy vandag in die kerk belydenis.

Ja die
gemeenskap van die heiliges is ook ‘n geskenk van Christus, aan jou.

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)