Psalm 73

Psalm 73

1.  Voorwaar, God is vir Isr'el goed,
vir wie opreg is van gemoed.
Gods weg kan nooit so donker wees nie,
dat Hy nie sorg vir wie Hom vrees nie.
Maar ag, hoewel my siel dit weet,
tog het my voet haas in my leed
gewankel, en dit was vir my
so donker dat my voet wou gly.

2.  Ek het gepeins, diep in my hart
in lewensraaisels lank verward,
toe 'k moes aanskou met lede oë
hoe boosaards aangroei in vermoë.
Hul is gesond en lewe lank,
maar ander word van kwellings krank;
op hulle rus geen ongeluk,
maar ander slyt hul lewe in druk.

3.  Net soos 'n snoer van edelsteen
swaai trotsheid om hul nekke heen;
en hul geweld en gruweldade 
bedek hul lyf soos praalgewade.
Hul oë puil van vet na voor,
inbeeldings van hul hart loop oor.
Hul spot, verdruk, en in hul oog
is net hulself, geen ander hoog.

4.  Hul spot, en van hul spotterny
raak ook die hemel self nie vry,
terwyl hul tong om aarde wandel
en grootspraak voeg by bose handel.
Daarom draai sondaars na hul heen,
met hul in misdaad lotgemeen,
en roem: Sou ons die Heer moet vrees?
Sou daar by Hom dan kennis wees?

5.  Die trotsaards leef gerus en bly,
in rykdom, onbesorg en vry.
Vergeefs dat ek so opgepas het,
my hande in onskuld rein gewas het!
Dit help my nie: ek word geslaan,
die plae oorstroom my, af en aan;
en nooit was daar 'n môre of
my klaagsang kry weer nuwe stof.

6.  Maar nee, al wil my hart ook breek,
my mond mag só oor God nie spreek:
dan sou 'k verraai wie ek bemin het,
Gods volk met wie 'k die stryd begin het.
Nogtans het ek weer nagedink,
weer in die raaisel ingesink,
maat 't was net moeite in my oog,
vir my bevatting gans te hoog.

7.  Maar nou, hoe anders is dit my!
Gods heiligdomme ingelei,
straal my 'n ander ligglans teë;
ek sie hul end... dis gladde weë
waarop die HEER die voet laat gaan
van boosaards wat Hom trots weerstaan.
Hul wankel al om neer te stort -
'n bouwerk wat 'n puinhoop word.

8.  Hoe swak en onvas dat hul staan!
Hoe gou dat hul te gronde gaan!
Hoe nietig is hul weelde en vrede!
Hoe huiwer skrik deur al hul lede!
As U, o HEER, die vonnis stryk,
dan moet hul soos 'n droombeeld wyk
wat, in die slaap wel skoon van skyn,
by die ontwaking plots verdwyn.

9.  Hoe voel ek nou my sondesmart!
Toe ek, verbitterd in my hart,
in eie warnet ingewikkel,
diep in my niere was geprikkel,
was ek voor U, o wyse God,
in al my woorde dwaas, 'n sot.
Ek was, vir alle wysheid sku,
net soos 'n domme dier by U.

10.  Nogtans sal 'k altyd by U bly;
niks sal my van u liefde skei -
U wat my regterhand gevat het,
vir wie 'k van harte liefgehad het.
U sal my voortlei deur u raad,
O God, my Hulp, my Toeverlaat,
en na die dag van aardse stryd,
my opneem in u heerlikheid.

11.  Wie het ek in die hemel, HEER -
wie kan ek newens U begeer?
Wat het ek waar my hart, onrustig,
hom op die aarde in kan verlustig?
Beswyk dan ooit in bittersmart
of bange nood my vlees en hart,
dan sal U wees vir my gemoed
my rots, my deel, my eewge goed.

12.  Wie ver van U sy weg wil gaan,
stap op 'n donker afgrond aan.
U roei hul uit wat U gesmaad het,
in troueloosheid U verlaat het.
Maar dis my goed, my saalge lot,
as ek naby is by my God.
Ek het my hoop op God gestel
om al sy werke te vertel.