BESLUIT

Die voorgaande is dan die duidelike, eenvoudige en openhartige verklaring van die regsinnige leer aangaande die Vyf Artikels waaroor in Nederland verskil van mening is. Tegelyktertyd is dit die verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse kerke 'n tyd lank in beroering was. Die Sinode oordeel dat hierdie uiteensetting en verwerping uit die Woord van God geneem is en met die belydenisse van die Gereformeerde Kerke ooreenstem. Hieruit blyk dit duidelik dat mense vir wie dit allermins betaamlik was, in stryd met alle waarheid, billikheid en liefde die volk die volgende wou wysmaak:
dat die leer van die Gereformeerde Kerke en die hoofpunte in die aanhangsels oor die uitverkiesing uit eie aard en aandrif die gemoedere van die mense van alle godsvrug en eerbied weglei;

  • dat hierdie leer 'n oorkussing van die duiwel en die sondige natuur en 'n vesting van die Satan is, waaruit hy vir alle mense hinderlae opstel, die meeste verwond en baie met pyle òf van wanhoop òf van sorgeloosheid dodelik tref;
  • dat hierdie leer God tot outeur van die sonde, 'n onregverdige tiran en 'n huigelaar maak en dat dit niks as die herleefde leer van die Stoïsyne, Manigeërs, Libertyne en Moslems is nie;
  • dat hierdie leer die mense sondig en sorgeloos maak en dat hulle hulle daardeur verbeel dat, op watter wyse hulle ook al leef, dit nie die saligheid van die uitverkorenes verhinder nie en dat hulle gevolglik sonder kommer allerhande afskuwelike sondes kan doen;
  • dat dit die verworpenes nie tot saligheid strek nie, selfs al sou hulle inderdaad ook al die werke van heiliges verrig;
  • dat volgens hierdie leer God enkel en alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van enige sonde van enigiemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige verderf voorbeskik en geskep het;
  • dat net soos die verkiesing die fontein en oorsaak van die geloof en van die goeie werke is, die verwerping ook so die oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is;
  • dat baie onskuldige kinders van gelowiges van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in die hel gegooi word, sonder dat (die bloed van Christus of) hulle doop of die gebede van die kerk by hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees.

En watter baie ander soortgelyke bewerings is daar nie wat die Gereformeerde Kerke nie alleen nie aanvaar nie maar ook van ganser harte verfoei!

Daarom doen hierdie Sinode van Dordrecht in die Naam van die Here 'n beroep op almal wat die Naam van ons Verlosser Jesus Christus gelowig aanroep, om die geloof van die Gereformeerde Kerke nie te beoordeel op grond van hier en daar saamgeroepte lasteringe of op grond van persoonlike uitsprake van verskeie ouer of jonger leraars nie. Hierdie uitsprake word dikwels slegs met kwade bedoelings aangehaal of vermink en tot 'n verkeerde betekenis verdraai. Hulle moet eerder op grond van die openbare belydenisse van genoemde Gereformeerde Kerke oordeel en op grond van hierdie uiteensetting van die regsinnige leer wat met algemene instemming van almal saam en van elke lid van die hele Sinode afsonderlik vasgestel is.

Vervolgens vermaan die Sinode hierdie lasteraars emstig dat hulle moet besef watter swaar oordeel van God hulle oor hulleself bring as hulle teen soveel kerke en teen die belydenisse van soveel kerke valse getuienis gee, die gewetens van die swakkeres in beroering bring en naarstiglik streef om by baie mense die gemeenskap van die ware gelowiges verdag te maak.

Ten slotte doen hierdie Sinode 'n beroep op alle mededienaars in die evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en eerbiedeig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van die Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars 'n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster.

Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue bedienaars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek. Amen.