Hoofstuk 2 - DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENS DEUR SY DOOD (1-9)

.  God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid - soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.

2.  Ons kan egter self geen voldoening gee en ons van die toorn van God bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons of in ons plek sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.

3.  Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakste offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.

4.  Hierdie dood het daarom so 'n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en volkome heilige mens is nie maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.

5.  Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.

6.  Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie en glo nie in Christus nie maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hulle eie skuld.

7.  Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sondes bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.

8.  Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigmakende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis - waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het - uit elke volk, stam, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes - sowel die oorspronklike sonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is - deur sy bloed sal reinig. Ten slotte dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.

9.  Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds deurgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd 'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het - soos 'n bruidegom vir sy bruid - standvastig liefhê, Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.