Artikel 19 - DIE TWEE NATURE VAN CHRISTUS

Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en die hemel en aarde vervul, so het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.
Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is so saam in een persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.
Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe 'n klein tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.

Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8,12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.