'n Woord vooraf
Ontstaan
Grondslag
Gemeentes
Preke
Ander
Kontakte
Klassisse
Sinodes
English




Kort Verslag van die Sinode van die
Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika
gehou te Bethal op 2, 3 en 4 Mei 2000

INDEKS

  1. Opening
  2. Eksaminering
  3. Liturgie
  4. Betrekkinge met Buitelandse Kerke
  5. Kontak met Binnelandse Kerke
  6. Werk onder Verontrustes
  7. Ander Deputaatskappe
  8. Sluiting

Kontak Persoon


OPENING

Die sinode is op Dinsdag oggend die tweede Mei geopen deur broeder Neels du Preez namens die sameroepende kerk te Bethal. In sy openingswoord wys hy nadruklik op ons profetiese opdrag. "Ons moet na buite beweeg. Maar ons verwag ook nie dat ons nie seer sal kry nie, die wolwe lê vir ons en wag, maar laat ons nie huiwer nie, laat ons die uitdaging van die tyd aandurf met volle vertroue op Hom wat ons nooit in die steek sal laat nie. Ons as kerkverband is geseën met die voorreg om twee predikante te eksamineer. Daar is drie studente in opleiding, ons eie mense. Dus daar word mildelik voorsien aan leerkragte. Ons het ongetwyfeld die verantwoordelikheid, soos nooit tevore nie, indien hulle suksesvol is, om hulle in te span vir die uitbreiding van Christus se Kerk hier in Suid Afrika. Laat ons versiende wees, laat ons nie toelaat, dat finansiële ondersteuning alleen ons rigting en optrede bepaal nie, maar laat ons moedig voort stap, en ons biddend wend tot ons Vader vir ondersteuning. Ons glo Hy sal voorsien, net soos Hy die leraars voorsien het."

Hierna is die moderamen verkies met ds. P. Nel as voorsitter, ds. C. Kleijn as assessor en br. K. Bijzet as skriba. Alle afgevaardigdes en adviseurs toon hul instemming met die gereformeerde belydenis deur op te staan. Onder die adviseurs was ook ds. C. Bouwman van ons Australiese susterkerke, die Free Reformed Churches of Australia, en vanaf Woensdag, ds. R. Brandes en br. H. Olde van ons Nederlandse susterkerke, die Gereformeerde Kerken in Nederland. Beide susterkerke dra hulle groeteboodskappe oor deur hulle afvaardiging. Op Donderdag gee ook ds. F. Grobler, ’n leraar van die plaaslike APK, groeteboodskappe namens die APK.

Moderamen

Die moderamen geniet 'n snaakse moment by die Sinode.
Van links na regs: br. K. Bijzet, ds. P. Nel en ds. C. Kleijn.

Aan die begin van die vergadering word enkele praktiese dinge gereël, na aanleiding van ’n skrywe van Kaapstad en van Pretoria. Terwille van die duidelikheid moet die besluite noukeurig geformuleer word met vermelding van die gronde. By die nominasie van deputate sal voortaan nie slegs die moderamen nie, maar ook al die voorsitters van die verskillende gemeentes betrek word. Ter wille van die voorspoedige afwerking van die Handelinge van die sinode mag die sameroepende kerk voortaan ’n notularis uitnooi wat die skriba kan bystaan.

Terug na Indeks


EKSAMINERING

Daarna vind die eksaminering van proponent Mendel Retief plaas. Na sy preekvoorstel oor Ps 73 word Mendel Retief agtereenvolgens geëksamineer in Kerkgeskiedenis, Kerkreg, Ou Testament, Nuwe Testament, dogmatiek en simboliek. Die sinode oordeel dat die eksamen voldoende is en stel br. Mendel Retief beroepbaar binne die kerkverband. Op Donderdag vind ’n dergelike eksaminering van ds. Charles Nicholson plaas, waarna ook hy beroepbaar gestel word. Beide broers betuig hul instemming met die leer van die Skrifte soos dit in die drie formuliere van eenheid saamgevat is en teken die ondertekeningsformulier. Die sinode spreek sy dank uit vir die sorg en leiding van die Here en wens die broers God se seën toe op die pad vorentoe.

Terug na Indeks


LITURGIE

Van die kerkraad van Pretoria was daar ’n versoek aan die sinode om die besluite insake die sing van gesange in die eredienste op te skort totdat ’n beter begronde en verantwoordelike besluit daaroor geneem kan word. Tewens was daar twee beswaarskrifte teen die invoering van gesange in die eredienste met die versoek vir die wysiging van Artikel 67 van die Kerkorde van drie broeders uit Pretoria. Die sinode besluit om die deputate vir Liturgiese Musiek op te dra om ’n deeglike en diepgaande studie van die beswaarskrifte te verrig om ’n goed begronde antwoord daarop te formuleer en aan die volgende sinode voor te lê. Na aanleiding van ’n voorstel van Kaapstad kry die deputate verder die opdrag om kontak te maak met die deputate van die GKSA wat gemoeid is met die taalkundige hersiening van die Totuisteks om te sien of ons kan kom tot ’n gesamentlike uitgawe van die Psalmboek met die hersiene Totiusberyming. Daarnaas moet die deputate ’n ondersoek instel na die koste en uitvoerbaarheid van die uitgawe van ’n eie kerkboek met die Psalms, Skrifberymings, gesange, belydenisgeskrifte, gebede en liturgiese formuliere.

Die kerkraad van Pretoria-Maranata het ’n voorstel ingedien om die onderskeie kerkrade die vryheid te gee om die huwelik in ’n erediens of in ’n privaat samekoms te laat plaasvind. Die sinode van 1990 het, op grond van ’n deeglike rapport oor hierdie saak, bepaal dat die samekomste privaat samekomste is. Die sinode wys die voorstel van Pretoria-Maranata af omdat dit onvoldoende ingaan op die gronde vir die besluit van 1990 en omdat dit nie verstandig sou wees om binne die kerke verskillende praktyke toe te laat nie.

Die kerkraad van Pretoria-Maranata het ook voorgestel om aan Art 66 van die Kerkorde toe te voeg die woorde: "Nadat die Heidelbergse Kategismus twee keer behandel is, mag dit met die behandeling van die Nederlandse Geloofsbelydenis of Dordtse Leerreëls afgewissel word." Die kerkraad voer aan dat die prediking vanuit die NGB en DL ’n goeie aanvulling op die behandeling van die Kategismus sou wees. Belangrike onderwerpe soos die leer van die Skrif, die uitverkiesing, dat God die Drieënige is en die volharding van die heiliges kry in die Kategismus geen of min aandag. Die sinode besluit om die kerkorde nie te wysig nie, maar om uit te spreek dat art 66 toelaat dat die prediking vanuit die HK afgewissel word deur die prediking vanuit die NGB of die DL.

Terug na Indeks


BETREKKINGE MET BUITELANDSE KERKE

Die sinode aanvaar die beleid wat die deputate voorstel.

  • Ons bly die drie susterkerkrelasies wat daar is, onderhou.
  • Ons ondersoek die moontlikheid van kontakte met ander kerke, en fokus daarby op Engelstalige kerke in Afrika, suid van die Sahara.
  • Ons onderhou lidmaatskap met die International Conference of Reformed Churches (ICRC) en ondersoek verdere kontakte met ICRC lidkerke waar dit vir die VGKSA werklik sinvol is.
  • Wat Afrika betref, streef ons na nouer samewerking met ICRC-lidkerke wat ook in Afrika betrokke is.
  • Wat kerke buite ons fokus-gebied betref en waarmee ons nie self sinvolle kontakte nastreef nie, verwys ons na susterkerke of ander ICRC-lidkerke.

In ooreenstemming met die beleid besluit die sinode om kerklike korrespondensie met die Free Reformed Churches of Australia (FRCA), die Canadian and American Reformed Churches en die Gereformeerde Kerken in Nederland (vrygemaakt) (GKN(v)) voort te sit en om nie die broederlike kontakte met die Gereformeerde Kerke in Indonesië en die Presbyterian Church in Korea voort te sit nie. Met betrekking tot die FRCA spreek die sinode tewens uit: "Waar daar by die deputate vrae bestaan met betrekking tot die beoordeling van sekere standpunte van ds. Van Hulst, behoort deputate volgens die korrespondensiereëls daaroor met die deputate van die FRCA in gesprek te tree." Op die sinode word vrae aan die afgevaardigdes van die GKN(v) gestel oor bepaalde sorgwekkende ontwikkelinge binne die GKN(v) bv betreffende die prediking, die hermeneutiek en die tug. Die Nederlandse Kerke beleef buitengewone druk van binne en van buite op sy gereformeerde oortuigings as gevolg van die nuwe tydsgees.

Die sinode neem kennis van die advies van deputate mbt die toelating van lidmate/predikante buite die VGKSA tot VGKSA kansels en Nagmaalsvierings. Die sinode neem dit egter nie aan nie. Die toelating van nie-VGKSA predikante tot VGKSA kansels is volgens die kerkorde ’n saak van die kerkverband. Wat betref die toelating van nie-VGKSA lidmate tot die Nagmaalsviering oordeel die sinode dat Art 60 van die Kerkorde dit voldoende reël. Dit is die verantwoordelikheid van die plaaslike kerkraad.

Die vorige sinode het die deputate gevra om aanbevelings te doen oor die begeleiding van kerklidmate in die buiteland. Die sinode aanvaar die volgende aanbevelings van deputate as riglyne vir die kerke.

  • Kerkrade moet die lidmate op hulle verantwoordelikheid wys om hulle in die omgewing van een van die VGKSA se susterkerke te vestig en daarby aansluiting te soek, of by ’n plaaslike kerkgemeenskap wat die kenmerke van ’n ware kerk van Christus vertoon.
  • Waar geen ‘ware’ kerkgemeenskap geidentifiseer kan word nie behoort vestiging van die VGKSA se lidmate ontmoedig te word.
  • Indien vestiging in sulke gebiede wel plaasvind het die betrokke VGKSA kerkraad die taak om reëlmatig kontakte met die lidmate te onderhou en waar moontlik pastorale bearbeiding toe te pas.
  • Deputate BBK moet waar moontlik die kerkrade van inligting oor die betrokke kerke voorsien met die doel om die kerkrade in staat te stel om verantwoorde besluite te kan neem.

Terug na Indeks


KONTAK MET BINNELANDSE KERKE

Ten opsigte van die verhouding met die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika (GKSA) spreek die sinode uit dat verdere gesprekke met die deputate van die Gereformeerde Kerke noodsaaklik is. Die noodsaaklikheid lê veral daarin dat ons nie kan vergeet hoe die Gereformeerde Kerke in ons land in liefde vir die Here se Woord gestry het nie. Ons liefde in Christus gaan na hulle uit, en daarom is die belemmerings vir eenheid vir ons ’n groot hartseer. In die gesprekke met deputate van die GKSA moet die sorge oor skrifkritiek en oor die tug grondig bespreek word. Die GKSA behoort ook aangemoedig te word om ’n meer antitetiese houding teenoor die Nederduits Gereformeerde Kerk te openbaar. Die sinode beveel ook aan dat bestaande kontakte met Skrifgetroue lidmate en organisasies uitgebou word om ons daadwerklike steun aan reformatoriese werk in die GKSA te bewys.

In sy verslag maak die werkgroep Kaapstad met entoesiasme melding van die kontakte met die Calvyn Protestantse Kerk (CPS). Die CPS het in 1950 ontstaan uit ’n noodsaaklike afskeiding van die destyds NG Sendingkerk en bestaan tans uit ongeveer 35 gemeentes wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap gesentreer is en met enkele gemeentes in die Noord- en Oos-Kaap. Die sinode besluit om aan nuwe deputate opdrag te gee om kontakte met die CPK voort te sit en te intensiveer en om in samewerking met die kuratore en dosente van die Teologiese Opleiding van die VGKSA te soek na maniere waarop daar in die binne- en buiteland steun gegee kan word aan teologiese studente van die CPK.

Terug na Indeks


WERK ONDER VERONTRUSTES

Die deputate vir Werk onder Verontrustes het uitvoerig gerapporteer oor hul werksaamhede. Hul opdrag was om te besin oor die taak wat ons as kerke het om verontruste medegelowiges te versterk en te bemoedig en om praktiese werksaamhede wat gemik is op hierdie taak uit te werk en te inisieer. Wat hulle hieroor rapporteer kan die plaaslike kerke baie goed dien in die besinning en uitvoering van hul taak onder verontrustes. Die sinode besluit om opdrag aan die verskillende kerkrade te gee om toe te sien dat persone wat op welke wyse ookal geidentifiseer is as verontruste medegelowiges verder deur hulle opgevolg sal word en om elkeen ook ’n metode in werking te stel om sulke mense te kan opspoor. Die sinode gee die deputate opdrag om te werk aan die vorming van ’n gereformeerde liggaam waarin verontruste gemeentes uit verskillende oorde nouer met mekaar kan skakel. Die oogmerk is om uiteindelik gestalte te mag gee aan ’n gereformeerde kerkverband ooreenkomstig ons eie belydenisskrifte. Die sinode erken ook die implementering van art 12 van die kerkorde vir die beroeping van ’n predikant vir die werk onder verontrustes. Vir die verwerwing van fondse daarvoor kan die deputate hulle rig tot die kerke en so nodig tot die buitelandse susterkerke.

Terug na Indeks


ANDER DEPUTAATSKAPPE

Die deputate hulpbehoewende kerke (Art 11 K.O.) rapporteer dat twee kerke steun ontvang het. Die kwota vir die volgende twee jaar word gestel op R20 per siel per jaar. Na aanleiding van die rapport van die deputate art 19 K.O.(hulpbehoewende studente), besluit die sinode: "Ooreenkomstig die reël van artikel 19 van die kerkorde sal die studente in die teologie aan ons eie Teologiese Skool of diegene wat voorgraadse studies volg wat op die teologiese studies op ons eie Skool gerig is en wat hartlik begeer om in hul later lewe in die amp van dienaar van die Woord werksaam te wees, deur die kerke finansieel gehelp word. Die ouers is volgens die Skrif (11 Kor 12:14) in die eerste plek geroep om hul kinders ook finansieel te help. In gevalle waarin dit in die geheel nie moontlik is nie of waarin dit slegs gedeeltelik gedoen kan word, sal deputate in opdrag van die kerke, bystand verleen." Om hierdie steun te kan verleen word van die kerke R20 per siel per jaar gevra.

Volgens die verslag van die Kuratore van die Teologiese Skool het die studie aan die Skool goeie vordering getoon. Ondanks ons beperkte kragte het daar via die Skool al ’n sterk getuienis na buite uitgegaan. Hierdie jaar het ons een student wat die derde studiejaar volg en twee studente wat die eerste studiejaar volg. Op voorstel van die kuratore besluit die sinode dat die senaat die bevoegdheid ontvang om studente vanaf die middel van hulle derde studiejaar goedkeuring te gee om in die kerke voor te gaan. Preke wat studente in die kerke hou, moet aan twee dosente voorgelê en deur hulle vooraf goedgekeur word.

Wat die sending betref besluit die sinode om die akkoord van samewerking met die kerke in die klassis Grootegast en die PS Friesland te aanvaar en te onderteken. Die sinode aanvaar ook die voorgestelde instruksie vir sendingsdeputate. Die sinode besluit om ’n studiedeputaatskap te benoem om te besin oor die opleiding van predikante vir sendingsgemeentes en sendingsmedewerkers en oor die inskakeling van sendingsgemeentes in ons kerkverband. Noudat een van die sendingsgemeentes nader aan instituering kom, word hierdie sake dringend. Die opleiding van inheemse predikante en sendingsmedewerkers strek verder as net die sending.

Die sinode het drie sake in camera bespreek. Daaronder was die kerkvisitasie verslae van die afgelope twee jaar. Met vreugde kon gekonstateer word dat die Here ons, ondanks ons tekortkomings, nog baie redes vir dankbaarheid gee. Die gemeentes stry nog steeds vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Terug na Indeks


SLUITING

’n Paar laaste sake was om die opdragte vir die deputate vas te stel, deputate te benoem en die brief aan die staatspresident vas te stel. Ook is Johannesburg aangewys om die sameroepende kerk te wees vir die volgende sinode, wat as die Here wil in die jaar 2002 gehou sal word. Die kerk van Bethal word bedank vir die gasvrye ontvangs en versorging en ds Nel vir sy bekwame leiding. Ons kon in ’n goeie broederlike atmosfeer besluite neem wat baie kan beteken vir die ontwikkeling van die kerke en vir hul betekenis na buite. Daarvoor kom veral dank aan God toe. Daarna sluit die voorsitter die vergadering.

Terug na Indeks


Namens die moderamen,
Ds. C. Kleyn
(assessor)
 

Enige navrae of kommentaar, kontak die