Huishoudelike Reglement

Huishoudelike Reglement

HUISHOUDELIKE REGLEMENT VAN DIE VERENIGING VIR GEREFORMEERDE

SKOOLONDERWYS TE PRETORIA

Art.1 Insake skool- en ledegelde

a. Die lede van die vereniging word verbind tot 'n maandelikse bydrae wat deur die bestuur vasgestel en jaarliks op die algemene ledevergadering bekragtig word. Die bestuur het egter die bevoegdheid om, indien die omstandighede dit vereis, aanpassings in skool- en ledegelde te maak.

b. Alle skool- en ledegelde is maandeliks vooruit betaalbaar.

Art. 2 Insake die bestuur

a. Die bestuur sal ten minste een maal per maand vergader.

b. Die bestuur moet toesig hou oor die geboue en alle eiendomme van die vereniging. Dit het die reg om van gekwalifiseerde persone of instansies vir die onderhoud van geboue gebruik te maak. Enige voorgenome uitbesteding sal egter met ten minste twee kwotasies vergesel wees en moet eers deur die bestuur goedgekeur word.

c. Die bestuur beheer die finansies van die vereniging en het die reg om van 'n besoldigde deskundige gebruik te maak.

d. Die bestuur besit die bevoegdheid om onderwysende personeel van die skool te skors of ontslaan, met inagneming van die konstitusie. Indien daar gedurende 'n tugsaak enige familieverband bestaan tussen 'n bestuurslid en die betrokke personeellid, sal die bestuurslid nie aan enige stemming oor hierdie saak deelneem nie.

Art. 3 Insake die dagbestuur

a. Die voorsitter, die waarnemende voorsitter, die sekretaris/esse en die penningmeester vorm saam die dagbestuur.

b. Die dagbestuur sal, wanneer enige gebeurlikhede hom voordoen, die saak hanteer en op die eersvolgende bestuursvergadering verslag daaroor uitbring.

Art. 4 Insake die algemene ledevergadering

a. Met verwysing na art. 10 van die konstitusie moet die algemene ledevergadering jaarliks en verkieslik gedurende die eerste kwartaal plaasvind. Tydens hierdie vergadering sal sake soos  bestuursverkiesings, voorstelle van die bestuur of lede en die finansiele state behandel word. Die finansiele state kan slegs goedgekeur word nadat dit deur 'n gemagtigde instansie geouditeer is.

Art. 5 Insake die voorsitter

a. Die voorsitter beklee 'n leidinggewende funksie by die bestuurs- en ledevergaderings. By sy afwesigheid tree die waarnemende voorsitter op. Indien beide persone afwesig is, sal die vergadering 'n ander bestuurslid aanwys om as voorsitter op te tree.

Art. 6 Insake die sekretaris/esse

a. Die sekretaris/esse is gemoeid met alle administratiewe aangeleenthede van die bestuur. Dit sluit die volgende in:

i Die hantering van alle inkomende en uitgaande korrespondensie.

ii Die opstel, ondertekening en versending van alle uitgaande briewe en dokumente. Let wel: Alle korrespondensie, sowel inkomend as uitgaande sal deur die bestuur behandel word.

iii Die sorgvuldige liassering en bewaring van dokumente en korrespondensie.

iv Die notulering van bestuurs- en ledevergaderings.

v Die vroegtydige uitreiking van sakelyste vir bestuurs- en ledevergaderings.

b. Verder moet die sekretaris/esse sorg dra dat belangrike inligting sonder versuim aan die dagbestuur meegedeel word.

c. By geval van omstandighede kan sekere sekretariele werk aan ander lede van die bestuur oorgedra word.

Art. 7 Insake die boekhouer

a. Die boekhouer word deur die bestuur vir 'n tydperk van twee jaar benoem. Indien nodig kan hierdie tydperk verleng word.

b. Die pligte van die boekhouer behels onder meer die volgende:

i Om die bestuur gereeld oor die finansiele toestand van die vereniging in te lig en 'n maandelikse kontantvloeiuiteensetting beskikbaar te stel

ii Om sorg te dra dat alle rekeninge, fakture en salarisse vroegtydig vereffen word. Let wel: Alle fakture met betrekking tot instandhoudingsdienste sal eers die bestuur passeer.

iii Om vroegtydig die finansiele state van die betrokke boekjaar vir ouditering gereed te he, sodat dit gedurende die eerste kwartaal op die algemene ledevergadering kan dien.

c. Alle betalings ten laste van die vereniging moet by voorkeur per tjek of elektronies geskied.

d. Dit is nie noodsaaklik dat die boekhouer op alle bestuursvergaderings aanwesig moet wees nie.

e. Alle finansiele transaksies sal deur die vereniging se bankrekening geskied, tensy dit prakties onuitvoerbaar is.

Art. 8 Insake die penningmeester

a. Die penningmeester is belas met die insameling van alle skool- en ledegelde en verantwoordelik vir die sorgvuldige boekhouding daarvan. Tewens word die penningmeester bygestaan deur 'n telkommissie wat elke maand byeenkom. Die telkommissie bestaan uit die penningmeester (sameroeper), die boekhouer en drie ander bestuurslede.

b. Vervolgens sal die penningmeester ook die bestuur op 'n gereelde basis met 'n lys van agterstallige skool- en ledegelde voorsien. Ledelyste moet ook gereeld met die nodige gegewens op datum gebring word.

Art. 9 Verkiesings- en besluitnemingsprosedures

a. Alle besluite sal met 'n meerderheid van stemme, tensy anders vermeld, geneem word. Oor sake kan mondelings, maar oor persone of lede moet skriftelik gestem word. By staking van stemme oor sake sal 'n voorstel afgewys word.

b. Die lede ontvang geleentheid om voor die bestuursverkiesings skriftelik die aandag op bepaalde persone te vestig, waarna die bestuur 'n tweetal kandidate vir elke ontstane vakature vasstel. Dieselfde prosedure geld ook vir die verkiesing van 'n voorsitter. In die geval van 'n tussentydse verkiesing kan uitsluitlik van posstemme gebruik gemaak word.

c. Tydens die verkiesing van 'n voorsitter of bestuurslede sal diegene wat die meeste stemme op hulle verenig, as verkose verklaar word. Kandidate moet egter ten minste een derde van die totale aantal geregtigde stemme op hulle verenig, soos aangedui op die stemlyste wat voor die aanvang van die verkiesing voltooi moet word. Bedorwe stemme sal van die totale aantal stemme afgetrek word. Wanneer die benodigde een derde meerderheid nie in 'n eerste stemming verkry is nie, sal 'n tweede stemming plaasvind. By staking van stemme sal die oudste in jare as verkose verklaar word.

Art. 10 Algemene bepalings

a. Ten minste 50% van die bestuur moet vaders of moeders van skoolgaande kinders wees.

b. 'n Skoolbesoek sal ten minste een keer per jaar deur twee persone, waarvan een uit die bestuur en een uit die vereniging, afgele word.

c. Die onderwysende personeel sal ten minste een maal per jaar 'n persoonlike besoek van twee bestuurslede ontvang.

d. Alle personeelsake sal met medewete van die skoolhoof behandel word.

e. Die bestuur sal waar moontlik gereelde kontak met ouers van skoolgaande kinders onderhou.

f. Onderwysende personeel kan nie op die skoolbestuur dien nie.

g. Voorstelle van lede van die vereniging moet voor 1 Februarie by die bestuur ingedien word om op die algemene ledevergadering in behandeling te kom. Voorstelle tot wysiging van die konstitusie of huishoudelike reglement moet egter voor 1 Januarie ingedien word.

h. Die boekjaar van die vereniging strek van 1 Januarie tot 31 Desember.

i. In gevalle waarin hierdie Reglement nie voorsien nie, beslis die bestuur. Die lede kan by wyse van appel hulle op die algemene ledevergadering beroep.