Konstitusie
KONSTITUSIE VAN DIE VERENIGING VIR GEREFORMEERDE SKOOLONDERWYS
PRETORIA
Art. 1 NAAM EN SETEL
Die naam van die vereniging is: Vereniging vir Gereformeerde Skoolonderwys. Die vereniging is gevestig te Pretoria.
Art. 2 GRONDSLAG
Die grondslag van die vereniging is die Bybel en die Drie Formuliere van Eenheid soos wat deur die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika geleer en bely word.
Art. 3 DOEL
Die doel van die vereniging is om gereformeerde onderwys op bogenoemde grondslag te bevorder. Om hierdie doel te verwesenlik, word gereformeerde skole gestig en in stand gehou.
Art. 4 INKOMSTE
Die vereniging verkry sy inkomste uit skoolgelde, ledegelde, subsidies, bydraes, skenkings, erflatings ensovoorts.
Art. 5 LEDE
(a) Slegs lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika kom in aanmerking vir lidmaatskap van die vereniging. Die bestuur beslis oor die toelating van nuwe lede. By afwysing het die afgewesene die reg van beroep op die ledevergadering. Slegs lede beskik oor stemreg.
(b) Die lidmaatskap van 'n persoon word beeindig wanneer hy kennis gee, by afsterwe van die lid of by versaking van die voorwaarde soos in artikel 5(a) neergele. Die bestuur kan 'n lid se lidmaatskap beeindig by volgehoue wanbetaling of enige handeling in stryd met hierdie konstitusie.
(c) Indien die besluit van die bestuur om ’n lid se lidmaatskap te beeindig, nie ’n eenparige besluit was nie, mag so ’n lid die bestuur skriftelik om verlof versoek om tot ’n ledevergadering te appelleer. Tensy die bestuur met ’n meerderheidsbesluit van twee derdes hierdie versoek afwys, moet ’n ledevergadering binne vier weke besluit of die beeindiging van lidmaatskap gehandhaaf word.
(d) Die vereniging is ’n vereniging met volle regspersoonlikheid en geniet ’n bestaan onafhanklik van die individuele lede daarvan. ’n Verandering van lede of bestuur beinvloed nie die bestaan van die vereniging nie.
(e) Geen lid of bestuurslid verkry bloot uit hoofde van sy lidmaatskap van die vereniging enige aanspraak op die eiendom van die vereniging nie. Lede of bestuurslede deel nie in die inkomste of eiendom van die vereniging nie en geen fondse of eiendom word aan lede of bestuurslede oorgedra nie, behalwe as redelike vergoeding vir dienste gelewer ooreenkomstig algemene beleid en met behoorlike openbaarmaking.
(f) Geen lid of bestuurslid doen persoonlik bloot uit hoofde van sy lidmaatskap van die vereniging enige aanspreeklikheid op vir die skulde, verpligtinge of ander aanspreeklikhede van die vereniging nie.
(g) Geen bestuurslid is persoonlik aanspreeklik vir enige verlies gely as gevolg van die bestuurslid se optrede indien hy in goeie trou vir of namens die vereniging opgetree het nie.
Art. 6 TOELATING VAN LEERLINGE
Die vereniging se skole is oop vir kinders van lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Aansoeke van ouers van buite die genoemde kerkgemeenskap sal deur die bestuur met sorgvuldigheid en op meriete oorweeg word. Die aantal leerlinge wat as sodanig toegelaat word, sal geen bedreiging vir die kwaliteit van die gereformeerde onderwys mag inhou nie.
Art. 7 BESTUUR
(a) Die bestuur sal uit minstens nege lede bestaan, wat deur en uit die lede van die vereniging gekies word. Bestuursfunksies word onderling verdeel met uitsondering van die van voorsitter en boekhouer. Die voorsitter word regstreeks deur die lede verkies. Die boekhouer word deur die bestuur benoem. Bestuurslede neem vir vier jaar sitting en tree waar moontlik volgens rooster af. Na afloop van 'n vier jaar lange sittingstermyn is bestuurslede nie dadelik herkiesbaar nie, behalwe wanneer die bestuur aan die ledevergadering aanbeveel om die tydperk te verleng.
(b) Die vereniging word deur die bestuur verteenwoordig. Bestuursbesluite moet deur twee bestuurslede onderteken word, nadat dit deur die bestuur goedgekeur is. By verkryging, verswaring of vervreemding van eiendom word die magtiging van 'n ledevergadering vereis.
Art. 8 PLIGTE VAN DIE BESTUUR
(a) Die bestuur funksioneer as die administratiewe beheerliggaam ten opsigte van alle onderwyspersoneel wat aan alle skole van die vereniging werksaam is. Dit betref in besonder die aanstelling en ontslag van leerkragte, uitbetaling van salarisse en ander wetlike en administratiewe pligte.
(b) Die bestuur sal op die deugdelikheid van die gereformeerde onderwys toesien. Verder sal hy die orde en omvang van die onderwys ooreenkomstig die ordonnansies van die Gauteng Departement van Onderwys en ander staatlike onderwysowerhede reel. Hierby sal die grondslag van die vereniging soos omskryf in artikel 2 onverswak gehandhaaf word.
Art. 9 ONDERWYSENDE PERSONEEL
Suid-Afrika, of van kerke Onderwysende personeel moet belydende lidmate wees van die Vrye Gereformeerde Kerke in waarmee kerklike korrespondensie onderhou word.
Art. 10 LEDEVERGADERINGS
Ledevergaderings word minstens een maal per jaar deur die bestuur vasgestel en byeengeroep. Die bestuur sal rekenskap gee van sy beheer en werksaamhede van die afgelope jaar. Buitengewone ledevergaderings sal na goeddunke deur die bestuur bele kan word of op skriftelike versoek van ten minste 10% van die totale aantal lede. Die bestuur moet binne vier weke vanaf datum van die versoek 'n buitengewone ledevergadering bele. Indien die bestuur in gebreke bly om hieraan te voldoen, het die lede die reg om 'n buitegewone ledevergadering byeen te roep.
Art. 11 HUISHOUDELIKE REGLEMENT
(a) Die huishoudelike reglement word deur die bestuur bepaal en vir goedkeuring aan die lede voorgele. Dit kan sowel tydens 'n ledevergadering as skriftelik geskied. Hierdie reelings betref alle voorsorgmaatreels en bepalings wat noodsaaklik is vir die doeltreffende beheer en administrasie van die vereniging. Die huishoudelike reglement moet in ooreenstemming met die konstitusie wees.
(b) Die huishoudelike reglement word in alle opsigte as deel van die konstitusie beskou in soverre hulle met die res van die konstitusie bestaanbaar is.
(c) Bepalings van die huishoudelike reglement word in die lig van die res van die konstitusie geinterpreteer, en beinvloed self nie die interpretasie van die res van die konstitusie nie.
(d) Die huishoudelike reglement kan gewysig word sonder om aan die vereistes wat vir wysiging van die res van die konstitusie geld, te voldoen.
(e) By wysiging van die huishoudelike reglement sal die bestuur let op die registrasie-vereistes wat die wet (Nonprofit Organisations Act 1997) voorskryf.
Art. 12 WYSIGING VAN DIE KONSTITUSIE
(a) Voorstelle tot wysiging van hierdie konstitusie kan deur die bestuur of ten minste 10% van die totale aantal lede ingedien word. Die voorstel moet deur meer as 50% van die lede gesteun word om aanvaar te word. Die besluit kan slegs deur middel van 'n skriftelike stemming geneem word.
(b) Wysiging van artikels 2, 3, 5(a) en 12(a) moet die goedkeuring van 80% van die lede wegdra. Enige wysiging kan slegs deur middel van 'n skriftelike stemming aangebring word.
Art. 13 ONTBINDING VAN DIE VERENIGING
(a) Die vereniging kan slegs ontbind word deur 'n besluit van ten minste 80% van die lede. Die besluit kan slegs deur middel van 'n skriftelike stemming geneem word. Die voorstel tot ontbinding moet voorsiening maak vir die bestemming van bates. Die verpligtings ten opsigte van die personeel moet ten alle tye volgens diensvoorwaardes nagekom word voor verdeling van bates.
(b) By ontbinding van die vereniging moet, nadat alle verpligtinge van die vereniging nagekom is, die oorblywende bates oorgedra word aan ’n ander organisasie sonder winsoogmerk wat ook die bevordering van gereformeerde onderwys op dieselfde grondslag as hierdie vereniging ten doel het.
Art. 14 MAGTE VAN DIE VERENIGING
Die magte van die vereniging is beperk tot optrede wat met die bevordering van die doel van die vereniging in verband staan. Dit sluit onder andere in:
1) Die ontwikkeling van gereformeerde skole se onderwyskundigheid as hulpbron vir ouers om hulle kinders gereformeerd te laat onderrig.
2) Die verkryging en sorgvuldige bestuur van voldoende fondse en die aanwending van fondse vir doeleindes wat met die bevordering van gereformeerde onderwys en met die stigting en instandhouding van gereformeerde skole verband hou.
3) Die daarstel van ’n personeelbeleid vir onderwyspersoneel asook die werwing en aanstelling van, beheer oor en ontslag van onderwyspersoneel, indien nodig.
4) Die daarstel van ’n toelatingsbeleid vir leerlinge en besluit oor leerlinge se toelating of opheffing van toelating, indien nodig.
5) Die bestudering van die akademiese, wetlike en maatskaplike omgewing waarbinne gereformeerde skoolonderwys moet geskied en, waar nodig, die maak van aanpassings in die praktyk van onderwys om te verseker dat die saak van gereformeerde onderwys altyd so effektief moontlik gedien word.
6) Die versekering dat die inhoud en aanbieding van die onderrig deurgaans met die Bybel en die Drie Formuliere van Eenheid ooreenstem en dat hoe standaarde van onderrig deurgaans gehandhaaf word.
7) Die verskaffing van ’n raamwerk vir kommunikasie en samewerking tussen gereformeerde skole, ouers en leerlinge.
8) Die verskaffing van bystand, raad en leiding aan ander onderwysinstansies, ouers, leerlinge, skole, verenigings, kerke en owerheidsliggame; en gesprek en samewerking met sulke instansies ten einde gereformeerde onderwys in die bree te bevorder.
(i) Die organisasie van buitemuurse aktiwiteite (toere, uitstappies, sportgeleenthede, veldskole ensovoorts).
9) Die aanbieding van aktiwiteite wat met die opvoeding van leerlinge verband hou.