GLJC

GLJC

Die Naam

Tydens die Hervorming het die Here Johannes Calvyn (1509 – 1564) gebruik om sy Woord te laat seevier. Die Hervorming het die gelowige kinders terug verwys na die Bybel en die volgende onderskryf:

1. Sola Scriptura: die gesag van die Heilige Skrif

2. Sola Fide: die regverdigmaking deur die geloof

3. Sola Gratia: die redding uit genade alleen.

 

Johannes Calvyn het besef dat ons hele lewe gerig moet wees op die eer van God. Nie net ons persoonlike lewens nie, maar alle aspekte van ons lewe, ingesluit alle vorme van regering, die wetenskap en die onderwys. Dit alles moet onderwerp wees aan God se Woord en aan sy soewereiniteit, sodat ons Hom deur dit alles groot kan maak. Daar is geen ruimte om neutraal te wees nie.Johannes Calvyn

Deurdat ons skool se naam ‘Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn’ is, onthou ons nie net hierdie man wat so hard gewerk het in volle vertroue in God se koninkryk nie, maar belangriker nog, ons erken dat ons ook vandag nog volstaan in daardie vertroue wat hy verkondig het, deur die genade van God.

 

Ons skool het sy basis in die Vrye Gereformeerde Kerke waar ouers, leerders en onderwysers elke Sondag saam aanbid. Ons mag die belangrikheid sien van ʼnsterk basis tussen die geloof van die kerk en die kurrikulum van die skool. Die driehoekverhouding, wat gesinne, kerk en skool saambind, is ʼnseen vir almal van ons. Mag die HERE ons geloofsvertroue in Hom seen sodat die volgende generasies Hom ook sal wil dien in geloofsvertroue en gehoorsaamheid.

 

Oprigting

Die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn het in 1964 tot stand gekom toe 'n aantal ouers 'n skoolvereniging gestig het. Hierdie ouers, almal lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerk te Pretoria, het vanuit die doopbelofte wat hulle voor God afgele het, dit noodsaaklik geag om 'n skool onder hulle eie beheer op te rig. In so 'n ouerskool kan ouers hul kinders laat onderrig in ooreenstemming met die leer van die Skrif soos wat die kinders dit by die huis en in die kerk geleer word. 'n Statute waarin die grondslag en ander reelings t.o.v. die skool neergele is, is ook deur die ouers opgestel.

 

Ons Basis

Die ouers van ons skool besef dat daar ʼn groot mate van konfessionele eenheid tussen die gesinne, die skool en die kerk moet wees. Daarom onderskryf die skool dieselfde grondslag as die Vrye Gereformeerde Kerke: die onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (1559), die Heidelbergse Kategismus (1563) en die Dordtse Leerreels (1618).

 

 

 

Gereformeerde Onderwys

Die vraag word soms gevra waarom gereformeerde onderwys aan ons kinders gegee word. Die feit dat ons God se kinders is, is nie maar net toevallig nie, maar dit is uit God se onnaspeurlike genade. Hy het ons gekies om sy kinders te wees. Reeds by die doopvont het die HERE beloof dat Hy ons Vader wil wees. Reeds toe het die Vader vir ons gese: “Jy is My kind en Ek sal vir jou sorg”. Reeds toe, het die Seun ons verseker: “Ek sal jou was en reinig met My bloed”. Reeds toe het die Heilige Gees ons beloof: “Ek sal in jou leef en die geloof in jou werk”.

Op dieselfde manier laat ons ons kinders doop en ontvang ons kinders ook die beloftes. Ons, as ouers, le ʼnbelofte af voor die Here en Sy gemeente: "Ons bely dat die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is.”Ons het by hierdie geleentheid ook beloof dat ons ons kinders sal onderrig en laat onderrig in hierdie leer. Ons het beloof dat ons dit na die beste van ons vermoe sal doen. Waarom dan gereformeerde onderwys? Vanwee daardie belofte! Die gereformeerde skool kan alleen so funksioneer, wanneer dit ʼnverlenging is van die gereformeerde gesin. Die

gereformeerde karakter van ons gesinne en skool kom nie slegs tot uiting in die sing van Psalms, die Christelike gebede en die Bybelse onderwys nie. Nee, daardie gereformeerde karakter moet deurwerk in alle aspekte van die lewe. Dit werk deur in alle vakgebiede van die skool, net soos die suurdeeg in ʼn brood.

Laat ons die Here elke dag dank vir hierdie seening van gereformeerde onderwys, en bid dat ons getrou sal mag bly aan om, sodat ons as ouers en onderwysers saam mag werk om ons kinders te bekwaam met die helm van verlossing en die swaard van die Gees - dit is die woord van God (Efesiers 6:17).