|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
LERAAR: KOSTER & SKRIBA: KERKADRES: MAANDBLAD: EREDIENSTE: ANDER BYEENKOMSTE:
|
Jesus Christus is die enigste Verlosser tussen God en mens. God het 'n dag bepaal waarop Hy die hele mensdom, lewendes en dooies, sal oordeel en die wat in sonde is, sal straf. Daarna sal 'n nuwe begin aanbreek en hierdie hemel en aarde soos wat ons dit ken, sal vir ewig verdwyn (Openb 6:15-17, 20:15; Matt 25:46 Heb 1:10-12). God wil egter nie dat enigiemand verlore gaan nie (Eseg 33:11; 1Tim 2:4; 2 Pet 3:9). Jesus Christus, die Seun van God, het uit liefde mens geword. Hy het ons straf aan sy onskuldige liggaam aan die kruis gedra. Met Sy dood betaal Hy vir ons sondes. So het Hy Hom as ons dierbare Verlosser bewys (Jes 53:5; Joh 3:16; 2 Kor 5:21; Gal 2:20). Ons word gered van God se verskrilklike straf - alleen deur Jesus se kruisdood in geloof aan te neem en op geen ander manier nie (Gal 2:21). Hierdie geloof en bekering is geen goeie werk vanuit onsself nie, maar is 'n genadegawe van God. Ons word gered deur geloof alleen, deur God se genade alleen. Aan God al die eer!! (Hand 4:12, 7:24-25, Joh 14:6, Rom 1:16-17; 3:25, Ef 2:8-10). Ware geloof is verder lewend en dra vrug. Die gelowige sal hom in geloof bekeer tot God en hy wat hom nie bekeer nie sal die Koninkryk van God nie sien nie (Mark 1:15; 1 Kor 6:9; 1 Pet 1:16; Joh 3:3, 8). Die Bybel is die volledige en geïnspireerde Woord van God aan die mens. Dit is onfeilbaar, betroubaar en akkuraat in alles wat dit sê. Dit geld beide vir die Ewige Lewe as vir hierdie alledaagse lewe (2 Tim 3:16; Heb 4:12; 2 Pet 1:19-21). Ons verwerp enige leer of leerstelling wat sê dat dit 'n mite is en wat leer dat die waarhede daarin onbetroubaar of tydgebonde is (2 Pet 1:16; Matt 5:17; Ps 103:15-20). Verder mag ons niks daarby voeg en niks daaruit wegneem nie. Die Woord verklaar homself deur die werk van die Heilige Gees en die Ou en Nuwe Testament vorm 'n integrale geheel. Die Nuwe Testament is die finale verduideliking op die Ou Testament en wel met die gesag van Christus (Kol 2:17; Heb 1:1-3). Die Heilige Goes is een maal en onherhaalbaar uitgestort op Pinksterdag (Joh 16:7; Hand 2:17). Hy woon nou in die hart van elke gelowige en hoef nie weer, soos sommiges beweer, deur 'n tweede uitstorting of anders deur 'n formele doop met die Heilige Gees, ontvang te word nie (Luk 11:13; Rom 8:7; Gal 3:14). Die teken van die inwonende Gees is ook nie afhanklik van dinge soos tale en wonders nie, maar toon Homself deur die Vrug van die geloof, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriedelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal 5:22). Die Kerk is die sigbare versameling van almal wat deur die geloof in Christus op aarde verenig is (1 Kor 1:1-4; Ef 3:15; Ef 4:4-6). Die kerk word regeer deur Christus met Sy Woord en Gees. Die ouderlinge is die hoogste menslike gesag, waar hulle plaaslik in hulle ampte diens doen (Hand 14:23; 1 Tim 3:15; Tit 1:5; 1 Pet 5:1-4). Ons verwerp dus enige vorm van kerklike regering waar meerdere of hoëre vergaderings, soos sinodes, klassisse, ringe, moderature of hooggeplaaste persone soos die pous, moderators, biskoppe, ens. hoër gesag sou hê as die plaaslike kerkraad. Die kenmerke van die ware kerk is dat dit die Woord van God suiwer verkondig en toepas veral in die onderlinge liefde, onderlinge vermaning, die uitoefening van die kerklike tug en die heiliging van die doop en nagmaal (Matt 18:15-18; Joh 8:47, 51, 10:4, 14:21, 34, 15:10; Hand 8:36-37; Rom 16:17-18; 1 Kor 11:29-31). Die ware sigbare kerk sal haarself altyd weerhou van kompromieë met die vals kerk en wêreld en waar sy nie anders kan nie, haar distansieer daarvan (1 Tim 5:22; Hand 19:9; 2 Kor 6:14). Kerk en volke: Alle wedergeborenes moet alles in hulle vermoë doen om opregte Christelike eenheid te bewaar en bevorder (Joh 17:20-21; Fil 2:1-4). Die kerk is nie gereserveer tot 'n sekere etniese groep nie. God kies uit alle volke en nasies sy uitverkorenes (Rom 9:24, 11:11). Lidmaatskap tot die kerk is alleen onderhewig aan die vereistes wat die Woord vir ware geloof stel. Lidmaatskap kan dus nie verder gekwalifiseer word as wet God self dit doen nie. Ons verwerp dus enige kerkordelike vernouing van lidmaatskap, wat dit sodoende wil reserveer tot 'n bepaalde volk of gebied (1 Kor 12:12-13; Ef 2:14-22, 4:1-16; NGB Art 27). Gelowiges kan gesamentlik of in hulle eie tale en kulture, God aanbid. Nie die eenheid of die verskeidenheid is op Skriftuurlike grond af te forseer tot sogenaamde strukturele eenheid nie. Ware eenheid is allereers 'n eenheid in geloof in Christus, 'n eensgesindheid en belydenis voor God. Die ware gelowiges is reeds een in Christus en sal en mag op geen wyse onreg tussen mense toelaat nie. Of dit tussen verskillende volke of in dieselfde volk is (1 Kor 3:3-4, 11; Ef 2:11-22, 3:6; Jak 2:9; Openb 7:9). Belydenisskrifte: Ons glo dat die leer van die Skrif, soos vervat in die Drie Formuliere van Eenheid, die ware leer van God is, nl. Die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls. Die belydenis is onderworpe aan die gesag van die Skrif en mag enige tyd met genoegsame Skrifgronde gewysig word. Daarvan getuig die belydenisskrifte immers self (NGB Art 7). Doop on Verbond: Ons glo dat God van die begin af 'n genadeverbond met Sy kinders gesluit het. Aan die eerste gevalle mens is die belofte van Christus al bekend gemaak (Gen 3:15). Sedertdien het God telkens weer sy verbond hernuwe (Gen 17:7) en gekontinueer tot vandag toe (Heb 8:8-13). Die eerste teken van hierdie verbond was die besnydenis. In Christus het die verbond nuut geword en so ook die teken (Kol 2:11-13; Heb 9:15). Ons glo dat die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het, in wese dieselfde genadeverbond is waaruit ons nou nog leef, al het die tekens daarvan nuut geword. Abraham en Dawid is immers nie minder uit genade gered, as die gelowige van die Nuwe Testament nie (Ps 51:18-19; Hab 2:4; Jes 53:5; Joh 8:58; Heb 11:40). Ons glo dus dat dit nog steeds dieselfde verbond is, wat finaal in Christus vernuwe is en dat die teken nou net die doop is waar dit en die besnydenis was. Die teken moet deur alle gelowiges, groot en klein gedra word. Die doop spreek nie vry nie, maar beseël die belofte aan die getroues en is 'n herinnering van God se oordeel aan die ontroues, binne en buite die verbond (Heb 2:3, 13:24-25; 2 Pet 2:21). Politiek: Ons glo dat die Woord van God gesag het oor die beleid van alle regeerders. Dat die regering deur God daar gestel is (Rom 13:1,4) en daarom aan Hom verantwoordelik is en deur Hom gestraf sal word as hulle sy Woord minag (Ps 2; Openb 19:11-21). Ons glo ook dat die ware regeringsvorm die Christelike regeringsvorm is, maar dat heidene en ongelowiges nooit met die swaard geforseer kan word om Christene te wees nie. Daar mag wel van hulle verwag word om die goeie en gesonde orde van die Woord in hulle openbare lewens te respekteer. Ons glo aan die heiliging van die Sondag. Ons glo aan die toepassing van die doodstraf. Ons verwerp aborsie, pornografie, dobbelary en lotery. Onderwys: Die skool is die verlengstuk van die ouerhuis. Die ouers bly altyd eerste verantwoordelik vir die opvoeding van hulle kinders (Deut 5:16; 6:6-9). Ons verwerp die gedagte van neutrale onderwys waar alle gelowe op dieselfde vlak behandel word en leer van geloof geskei word. Ons glo dat kinders se opvoeding geïntegreer moet wees met die waarhede van die Skrif en dat ouer, skool on kerk 'n heilige opvoedings eenheid moet vorm (Jos 24:15; Ps 78, 127, 128). Die huisgesin: Ons glo dat huisgodsdiens en persoonlike stiltetyd met God 'n onontbeerlike deel van elke gelowige en van elke gesin is. Ons glo dat God die man as geestelike hoof van die huisgesin aangestel het en dat alleen mans wat hulle huise voorbeeldig lei, as opsieners oor die huisgesin van God aangestel kan word (Gen 2:18; 1 Kor 11:3,8,9; Ef 5:22-23; Kol 3:18; 1 Tim 2:9-15, 3:2-5; Tit 1:5-9). Ons glo dat die rol van die vrou as moeder net so belangrik is (Gen 3:20; 1 Tim 2:15) en dat hierdie rolle nooit omgeruil mag word nie, net so min as wat gesinne nie omgeruil mag word nie (Gen 1:26-28; Deut 22:5). Ons verwerp dus alle vorme van homoseksualisme, lesbianisme, transvestitisme en biseksualisme as 'n gruwel voor die heilige aangesig van God (Gen 19:5; Lev 18:22; Rom 1:22-27; 1 Kor 6:9; 1 Tim 1:10). Ons is vas oortuig dat enigiemand wat die dinge nie as sonde bely nie en hom nie van hierdie dinge bekeer nie, nie gered sal word nie (1 Kor 6:9). Erediens: Ons glo aan 'n ordelike erediensbyeenkoms waar die kinders van God saam kom om God to eer soos Hy wil en nie soos mense wil nie (Num 15:13-15, 1 Kor 14:33; 1 Tim 2:8-12; Openb 4:4-11). Ons glo verder dat die Psalms en ander skrifhimnes, omdat dit deur God self geïnspireer is, altyd groter prioriteit in die erediens moet geniet as ander liedere, hoe mooi en waar hulle ook mag wees. Ons verwerp dus enige vorm van menslike vermaak of eie uitdinksel met die oog op aanbidding, wat nie duidelik uit die Woord verantwoord kan word nie (Num 3:4; Heb 12:28, 13:17). Ons verwerp ook die vervanging van die eredienste in die oggend of die aand met enige ander informele byeenkomste, omdat die Bybel wys dat die kerk waar enigsins moontlik tweemaal op die dag van die Here byeengekom het (Lev 24:3-4; Ps 134; Matt 26:17,20; Hand 20:7-8; Heb 10:25) en dan ook gereeld gedurende die week. Daar moet ook genoeg ander informele byeenkomste woes vir die samesyn en samesang van God se kinders, waar hulle meer informeel die gemeenskap van heiliges kan beoefen. Ons glo ook dat die kinders van God getrou moet woes in die bywoning van die gemeentelike byeenkomste en afsprake en dat ontrouheid hierin, niks anders as ontrouheid aan God, die medegelowiges, jouself, jou kinders en jou medemens is nie (Ps 117; Hand 2:42; 1 Kor 12:20-21; Heb 10:25). Ontstaan van die Vrye Gereformeerde Kerk Bethal: Ons het ontstaan vanuit die NG Kerk Bethal nadat sy onder leiding van haar plaaslike leiers verseg het om haar los to maak van die NG Kerk se outokratiese kerkregering en die gepaardgaande en groterwordende dwaalleer. Dit is vandag ongelukkig algemeen bekend dat die NG Kerk al meer van die leer van die Protestantse kerke afdwaal. Ons noem byvoorbeeld: sy het al vroue tot die amp van leraar toegelaat, die kindernagmaal aanvaar, bly hoogleraars en leraars akkommodeer wat die Woord van God belaglik maak en laat hulle dan nog selfs toe om jong leraars op te lei by die teologiese skole. Terselfdertyd vervolg dieselfde kerk diegene wat haar oor die dwalinge aanspreek, deur selfs gebruik te maak van die wêreldse hof! Sy het verder al meer charismaties geword in haar eredienste, aanddienste afgeskaf, die tug versuim en bande met kerke en kerklike liggame gesmee, wat openlik die Gereformeerde leer verwerp. Die Vrye Gereformeerde Kerk Bethal is deel van 'n brëer kerkverband van Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Nederland, Australië, Nieu-Zeeland, Tasmanië, Kanada, Indonisië, ens. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Vir enige navrae / kommentaar, kontak asb die | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||