Die Kerkorde
Artikel 1 Doel en inhoud van die Kerkorde
In die gemeente van Christus behoort alles ordelik te geskied. Daarvoor is
reëls nodig met betrekking tot:
A: die ampte
B: die kerklike vergaderings
C: die toesig oor die leer en die erediens
D: die tug.
Artikel 2 Drie ampte
Daar is drie ampte wat onderskei moet word: die amp van bedienaar van die
Woord, van ouderling en van diaken. Sommige predikante sal afgesonder word vir
opleiding tot die diens van die Woord, ander vir sendingwerk.
Artikel 3 Noodsaaklikheid van wettige roeping
Niemand mag een van hierdie ampte vervul sonder dat hy wettig daartoe geroep
is nie.
Artikel 4 Verbinding aan 'n bepaalde kerk
Niemand mag tot die diens van die Woord geroep word sonder dat hy aan 'n kerk
verbind word nie.
Artikel 5 Roeping tot die diens van die Woord
Die wettige roeping tot die diens van die Woord van hulle wat die amp
van predikant nog nie beklee het nie, behels die beroeping, die eksamen, die
goedkeuring van die gemeente en die bevestiging.
Die beroeping geskied onder aanroeping van die Here deur die kerkraad en die
diakens met medewerking van die gemeente en met inagneming van die plaaslike
reëling. Alleen diegene wat deur die klassis waaronder hulle ressorteer,
voorbereidend geëksamineer is, kan vir die eerste keer beroep word. In kerke
sonder 'n predikant in aktiewe diens, sal beroeping plaasvind met advies van die
konsulent wat deur die klassis aangewys is.
Die eksamen wat die leer en lewe betref, sal afgeneem word deur die klassis
wat die beroep moet goedkeur. Dit sal plaasvind in die teenwoordigheid van die
deputate van die partikuliere sinode of 'n aantal van hulle.
Die goedkeuring van die gemeentelede is verkry wanneer die naam van die
beroepe predikant op twee agtereenvolgende Sondae in die kerk afgekondig is, en
daar geen wettige beswaar ingedien is nie.
Die bevestiging sal plaasvind in 'n erediens waarby die vasgestelde formulier
gebruik word, met handoplegging deur die predikant wat die bevestiging waarneem.
Artikel 6 Beroep na 'n ander kerk
Wanneer predikante na 'n ander kerk beroep word, sal die beroeping ook
geskied deur die kerkraad en die diakens, met medewerking van die gemeente en
met inagneming van die plaaslike reëling.
Die kerke sal hulle hou aan die algemene kerklike bepalings oor die
beroepbaarheid van predikante wat buite Suid-Afrika in kerke van gereformeerde
belydenis gedien het, en oor die herhaalde beroeping van dieselfde predikant in
dieselfde vakature.
Kerke sonder 'n predikant in aktiewe diens sal beroepingswerk doen met advies
van die konsulent wat deur die klassis aangewys is.
Dit geld vir alle kerke dat die goedkeuring van die klassis vereis word.
Predikante wat volgens hierdie artikel beroep is, moet aan die klassis 'n goeie
kerklike getuienis ten opsigte van leer en lewe toon. Die vereiste goedkeuring
van die gemeentelede is verkry as die naam van die beroepe predikant op twee
agtereenvolgende Sondae afgekondig is en daar geen wettige beswaar ingedien is
nie.
Die bevestiging sal plaasvind in 'n erediens waarby die vasgestelde formulier
gebruik moet word.
Artikel 7 Aktes van ontslag by die aanneming van 'n beroep
Wanneer 'n predikant 'n beroep na 'n ander kerk aangeneem het, mag
hierdie kerk hom nie as sy predikant aanvaar voordat hy wettige aktes van
ontslag voorgelê het van die kerk en die klassis waaronder hy gedien het nie.
Artikel 8 Toelating sonder teologiese opleiding
Diegene wat geen teologiese opleiding ontvang het nie, kan nie tot die
amp van bedienaar van die Woord toegelaat word nie, tensy dit oortuigend blyk
dat hulle besondere gawes van godsvrug, ootmoed, ingetoënheid, verstand,
onderskeidingsvermoë en welsprekendheid het.
As sulke persone toelating tot die diens van die Woord vra, sal die klassis
hulle eksamineer na toestemming deur die partikuliere sinode. Indien die eksamen
volgens die oordeel van die klassis gunstig verloop, sal die klassis 'n periode
vasstel waartydens hulle as proponent mag voorgaan in die kerke wat onder
daardie klassis ressorteer.
Daarna sal die klassis verder met hulle handel soos dit na sy oordeel
verantwoord is, volgens die algemene reëls wat daarvoor deur die kerke
vasgestel is.
Artikel 9 Toelating van voorgangers wat nog nie lank lid van een van
die kerke is nie
Voorgangers wat hulle kort tevore by een van die kerke gevoeg het en
wat nie afkomstig is uit 'n kerk waarmee kerklike gemeenskap onderhou word nie,
sal slegs met groot versigtigheid tot die diens van die Woord toegelaat word.
Daarby sal die toepaslike algemene kerklike bepalings in ag geneem word.
Indien die klassis en die deputate van die partikuliere sinode dit nodig ag,
sal hulle eers 'n proeftyd deurmaak.
Artikel 10 Voorgaan in 'n ander kerk
Niemand mag in 'n ander kerk die Woord of die sakramente bedien sonder
die toestemming van die betrokke kerkraad nie.
Artikel 11 Onderhoud van die predikante
Die kerkraad is, namens die gemeente wat hy hierin verteenwoordig,
verplig om sy predikante na behore te onderhou.
Artikel 12 Benoeming vir 'n spesifieke taak
'n Predikant mag geen benoeming aanneem waar hy hom heeltemal aan 'n
spesifieke taak wy nie, byvoorbeeld dié van weermag- of hospitaal-predikant,
tensy hy aan 'n kerk verbonde bly.
Die verhouding waarin hy tot die betrokke kerk staan, moet gereël word met
die goedkeuring van die klassis.
Artikel 13 Emeritering
As 'n predikant deur ouderdom, siekte of ander oorsake nie meer in
staat is om sy ampswerk te verrig nie, bly hy regtens dienaar van die Woord.
Die kerk wat hy gedien het, sal hom op gepaste wyse onderhou. Hierdie
verpligting geld ook teenoor die weduwees en weeskinders van predikante.
Artikel 14 Ontslag van verbintenis aan die gemeente
Die kerkraad mag nie 'n predikant van sy verbintenis aan 'n gemeente ontslaan
sonder medewete en goedkeuring van die klassis en die deputate van die
partikuliere sinode nie.
Artikel 15 Ontheffing uit die amp
As 'n predikant eers volgens die reël van artikel 5 geroep is, het hy hom
lewenslank aan die kerklike diens verbind. Dit beteken dat hy sy amp nie mag
neerlê nie.
Hy kan slegs van sy amp onthef word en oorgaan tot 'n ander staat van lewe,
indien die kerkraad en die klassis, met medewerking van die deputate van die
partikuliere sinode, van oordeel is dat daar gewigtige redes voor is.
Artikel 16 Taak van die predikante
Die taak van die predikante is om getrou in gebede en in die bediening van
die Woord en die sakramente voor te gaan.
Hulle behoort goed op hulle mede-ampsdraers en op die gemeente te let en saam
met die ouderlinge die tug toe te pas en te sorg dat alles op gepaste wyse en
ordelik geskied.
Artikel 17 Billike taakverdeling
As daar twee of meer predikante aan 'n gemeente verbonde is, sal soveel as
moontlik gelykheid gehandhaaf word, sowel in hulle taak as in ander opsigte, na
die oordeel van die kerkraad en indien nodig van die klassis.
Hierdie reël geld ook met betrekking tot die ouderlinge en die diakens.
Artikel 18 Opleiding tot die diens van die Woord
Die kerke onderhou 'n teologiese universiteit vir die opleiding tot die diens
van die Woord.
By die taak van die professore in die teologie, behoort die uitlegging van
die Heilige Skrif en die verdediging van die suiwer leer teen ketterye en
dwalings.
Predikante wat afgesonder is vir die opleiding tot die diens van die Woord,
bly, op die wyse van emeritus-predikante, verbonde aan die kerk wat hulle gedien
het en behou die regte van 'n bedienaar van die Woord.
Die kerke aanvaar saam die verpligting om na behore in hulle en hulle
weduwees en weeskinders se onderhoud te voorsien.
Artikel 19 Sorg vir studente in die teologie
Die kerke sal daarna strewe dat daar studente in die teologie is. Hulle sal,
indien nodig, finansiële steun verleen.
Artikel 20 Roeping van ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en diakens sal tot hul amp geroep word deur die kerkraad en
die diakens, met medewerking van die gemeente en met inagneming van die
plaaslike reëling. Dit sluit in dat die gemeentelede die kerkraad se aandag kan
vestig op persone wat hulle geskik ag.
Die kerkraad sal die gemeente uit 'n dubbele getal laat kies en daarna dié
wat gekies is, benoem. Indien daar geen wettige beswaar ingedien word nie, sal
hulle tydens 'n erediens in hulle ampte bevestig word.
Die kerkraad kan ook soveel persone as wat nodig is om elke amp te vul, aan
die gemeente voorstel.
Indien daar geen wettige beswaar teen hulle ingedien word nie, sal hulle op
dieselfde wyse in hulle ampte bevestig word. In beide gevalle moet die
vasgestelde formulier vir die bevestiging van ouderlinge en diakens gebruik
word.
Artikel 21 Taak van die ouderlinge
Die taak van die ouderlinge is om saam met die bedienaars van die Woord die
gemeente in herderlike sorg te regeer. Hulle sien toe dat die predikante, die
mede-ouderlinge en die diakens hul amp getrou vervul. Hulle doen huisbesoek so
dikwels as wat nodig is vir die opbou van die gemeente, ten minste eenmaal per
jaar. Ook moet hulle saam met die predikante die tug toepas en sorg dat alles in
die gemeente op 'n gepaste en ordelike wyse geskied.
Artikel 22 Taak van die diakens
Die taak van die diakens is om die diens van barmhartigheid te verrig.
Deur huisbesoeke te doen, sal hulle hul op hoogte stel van die moeites in die
gemeente. Waar nood is, sal hulle help en bemoedig, en ook die gemeentelede
aanspoor om hulp te verleen. Verder sal hulle die liefdegawes insamel, dit goed
beheer en na gesamentlike oorlegpleging na behoefte uitdeel.
Artikel 23 Aftreding van ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en diakens sal twee of meer jare dien, afhangende van die
plaaslike reëling. As reël tree daar elke jaar 'n eweredige aantal af. Die
aftredende ampsdraers sal deur ander vervang word, tensy dit vir die gemeente
wenslik geag word dat hulle opnuut tot die amp geroep word. Daarby sal die
reëls van artikel 20 geld.
Artikel 24 Orde by die vervulling van die sendingsroeping
Die kerke sal hul sendingsroeping met inagneming van die artikels in hierdie
Kerkorde vervul. As kerke by die vervulling van hierdie roeping saamwerk, sal
hulle hul hou by die indeling in gebiede wat deur die kerkverband aanvaar is.
Artikel 25 Taak van sendelinge
Die taak van die predikante wat vir sendingwerk geroep is, is om die Woord
van God te verkondig in die gebied wat aan hulle toegewys is. Hulle sal aan
diegene wat tot die geloof gekom het, die sakramente bedien en hulle leer om
alles te onderhou wat Christus aan sy gemeente beveel het.
Ook sal hulle volgens goeie orde die ampte instel.
Artikel 26 Kerkraad en evangelisasie
Die evangelisasie moet daarop gerig wees om hulle wat God nie ken nie of van
Hom en sy diens vervreemd is, deur belydenis van die geloof volgens die
gereformeerde leer by die gemeente van Christus te voeg. Die kerkraad sal
toesien dat daar vanuit hierdie doelstelling gewerk word.
Artikel 27 Ampsdraers en owerheid
Die ampsdraers sal dit aan die gemeente voorhou dat hulle gehoorsaamheid en
eerbied aan die owerheid verskuldig is omdat God die owerheid ingestel het.
Hierin moet hulle self 'n goeie voorbeeld stel en in die weg van gepaste respek
en korrespondensie daarna strewe dat die owerheid die diens van die kerk steeds
wettig beskerm.
Artikel 28 Vier vergaderings
Vier kerklike vergaderings sal gereeld gehou word: die kerkraad, die klassis,
die partikuliere sinode en die algemene sinode.
Artikel 29 Opening en sluiting van die vergaderings
By die opening en sluiting van alle vergaderings sal die Here met gebed en
danksegging aangeroep word.
Artikel 30 Bevoegdheid van die vergaderings
Hierdie vergaderings mag slegs kerklike sake behandel, op kerklike wyse.
'n Meerdere vergadering mag slegs sake behandel wat die kerke in sy gebied
gemeenskaplik aangaan of wat nie in die mindere vergadering afgehandel kon word
nie. Nuwe sake wat vanuit die kerke aan die orde gestel word, mag net in die weg
van voorbereiding deur die mindere vergadering op die agenda van die meerdere
vergadering geplaas word.
Artikel 31 Beroep op 'n meerdere vergadering
As iemand meen dat hy deur die uitspraak van 'n mindere vergadering veronreg
is, kan hy hom op die meerdere vergadering beroep.
Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend
aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of
met die Kerkorde.
Artikel 32 Afvaardiging na meerdere vergaderings
Die afgevaardigdes na meerdere vergaderings sal hul geloofsbriewe, onderteken
deur diegene wat hulle gestuur het, saambring en op grond daarvan stemreg hê.
By sake wat hulself of hul eie kerke raak, moet hulle egter buite stemming bly.
Artikel 33 Instruksies en voorstelle vir meerdere vergaderings
'n Mindere vergadering mag nie 'n instruksie of 'n voorstel vir 'n meerdere
vergadering vasstel alvorens die moontlike besluite van voorgaande sinodes
betreffende die voorgestelde saak noukeurig gelees is nie. Sake wat reeds
afgehandel is, moet nie opnuut aan die orde gestel word nie, tensy geoordeel
word dat wysiging noodsaaklik is.
Artikel 34 Taak van voorsitter en skriba
Dit is die taak van die voorsitter om die sake wat behandel moet word,
duidelik aan die orde te stel. Hy moet sorg dat die besprekings ordelik verloop.
Hy moet sprekers wat stry oor kleinighede of wat hulle deur hul emosies laat
meevoer, die woord ontneem en hulle berispe as hul nie luister nie. Sy taak is
beëindig as die vergadering afgesluit is.
Saam met die voorsitter sal 'n skriba aangewys word wat alles sal aanteken
wat vir skriftelike vaslegging van waarde is.
Artikel 35 Bevoegdheid van die meerdere vergaderings ten opsigte van die
mindere
Die klassis het die bevoegdheid om regsgeldige uitsprake te doen ten opsigte
van die kerkraad. Dit geld ook vir die partikuliere sinode ten opsigte van die
klassis en vir die algemene sinode ten opsigte van die partikuliere sinode.
Artikel 36 Samestelling en byeenkomste van die kerkraad
In alle kerke sal daar 'n kerkraad wees wat bestaan uit die predikant(e) en
die ouderlinge. Die kerkraad sal gereeld byeenkom onder voorsitterskap van die
predikant of van die predikante beurtelings. Die kerkraad sal ook gereeld saam
met die diakens vergader. Hierdie vergadering sal die sake behandel wat die
Kerkorde daarvoor aanwys, die materiële sake van die kerk, die finansiële
beheer en alles wat na die oordeel van die kerkraad tot die algemene beleid
gereken kan word.
Artikel 37 Samewerking waar die aantal ampsdraers klein is
As die aantal ouderlinge en diakens klein is, kan die kerkraad volgens
plaaslike reëling altyd saam met die diakens vergader. In so 'n geval word daar
by sake van opsig en tug met die advies van die diakens gehandel, en by sake
rakende die diakenamp met die advies van die ouderlinge. Hierdie reëling sal in
elk geval getref word as die aantal ouderlinge en die aantal diakens minder as
drie is.
Artikel 38 Instelling van die ampte
Die ampte kan slegs met instemming van die klassis vir die eerste keer of
opnuut op 'n plek ingestel word.
Artikel 39 Plekke sonder kerkraad
Die klassis sal die plekke waar daar nog geen kerkraad kan wees nie, onder
die sorg van 'n naburige kerkraad plaas.
Artikel 40 Vergaderings van die diakens
Die diakens sal gereeld vergader om, onder aanroeping van die Here, die
diakonale sake te behandel.
Hulle sal aan die kerkraad van hul beleid en beheer verantwoording doen.
Artikel 41 Klassikale vergaderings
'n Klassikale vergadering word deur die kerke van die klassikale gebied
gevorm wat elk 'n predikant en 'n ouderling sal afvaardig met die vereiste
geloofsbriewe.
So 'n vergadering sal minstens een maal elke drie maande belê word. Elke
vergadering sal vasstel waar en wanneer die kerke opnuut sal saamkom. Die
predikante sal beurte maak om die voorsitterskap te beklee. Die vergadering mag
ook sy voorsitter kies, maar nie dieselfde een twee maal na mekaar nie. Die
voorsitter sal vra of die amptelike dienste voortgaan, of die besluite van die
meerdere vergaderings ten uitvoer gebring word, en of daar iets is waarby die
kerkrade die oordeel of die hulp van die klassis nodig het vir die goeie
voortgang van hulle plaaslike kerklike lewe.
In die laaste vergadering voor 'n partikuliere sinode sal die afgevaardigdes
na daardie sinode gekies word.
Artikel 42 Nie-afgevaardigde predikante in die klassis
As daar twee of meer predikante aan 'n kerk verbonde is, mag die predikante
wat nie volgens die vorige artikel afgevaardig is nie, in die klassikale
vergadering aanwesig wees, waar hulle 'n adviserende stem het.
Artikel 43 Konsulente
Die klassis sal vir elke vakante gemeente 'n predikant as konsulent aanwys
wat die kerkraad ter wille van die goeie orde sal adviseer, in die besonder by
beroepingswerk. Beroepingsbriewe behoort ook deur die konsulent onderteken te
word.
Artikel 44 Kerkvisitasie
Die klassis sal elke jaar 'n paar van sy mees ervare en bekwame predikante
magtig om visitasie te doen in alle kerke in sy gebied. Indien nodig, kan hy
behalwe predikante ook 'n ouderling benoem wat vir hierdie taak bekwaam is.
Die visitatore sal ondersoek instel of die ampsdraers elkeen afsonderlik en
gesamentlik hulle ampte getrou vervul, hulle by die suiwer leer hou, die
aanvaarde orde in alles nakom en die opbou van die gemeente na die beste van hul
vermoë met woord en daad bevorder.
Die doel van die visitasie is om ampsdraers by wie nalatigheid bemerk word,
betyds te vermaan en ook om met raad en daad saam te werk aan die vrede, die
opbou en die welsyn van die kerke.
Die visitatore sal 'n skriftelike verslag van hulle werk aan die klassis
voorlê.
Artikel 45 Partikuliere sinodes
'n Partikuliere sinode word gevorm deur 'n groep naburige klassisse, wat elk
twee predikante en twee ouderlinge afvaardig. Die aantal kan op drie gestel word
as die sinode deur twee of drie klassisse gevorm word. Die partikuliere sinode
sal een keer per jaar saamkom, tensy daar dringende redes is om dit meer dikwels
te doen.
Aan die einde van die partikuliere en algemene sinode sal die tyd en plek van
die volgende sinode vasgestel word. Daar sal ook 'n sameroepende kerk vir
hierdie vergadering aangewys word.
Artikel 46 Die algemene sinode
Die algemene sinode sal een keer in drie jaar gehou word, tensy daar
dringende redes is om eerder te vergader.
Elke partikuliere sinode vaardig twee predikante en twee ouderlinge af.
Indien die algemene sinode na die oordeel van ten minste twee partikuliere
sinodes binne die drie jaar saamgeroep moet word, sal die aangewese sameroepende
kerk die tyd en plek daarvoor vasstel met die goedkeuring van sy partikuliere
sinode.
Artikel 47 Verhouding met buitelandse kerke
Die algemene sinode beslis oor die verhouding met kerke in die buiteland.
Daar sal, sover dit moontlik is, kerklike gemeenskap beoefen word met
buitelandse kerke van gereformeerde belydenis.
Die buitelandse kerke sal nie op grond van ondergeskikte punte van kerkorde
en kerklike praktyk veroordeel word nie.
Artikel 48 Sensuur in meerdere vergaderings
Aan die einde van klassikale en ander meerdere vergaderings, sal sensuur
uitgeoefen word oor diegene wat hul in die vergadering misgaan het.
Artikel 49 Deputate van meerdere vergaderings
Elke meerdere vergadering sal deputate benoem vir die uitvoering van sy
opdragte. Daar sal sover moontlik afsonderlike groepe deputate vir die
onderskeie sake aangestel word.
Die partikuliere sinode sal ook deputate benoem wat die klassisse moet
bystaan in alle gevalle waar die Kerkorde dit voorskryf, en - op versoek van die
klassisse - by spesiale probleme. Ook sal hulle, of 'n paar van hulle, toesig
hou by die finale eksamen van die voornemende predikante.
Die deputate sal hul werksaamhede noukeurig aanteken en dit rapporteer.
Hulle moet hulself, as dit gevra word, kan verantwoord.
Artikel 50 Argiewe
Die kerkrade en die meerdere vergaderings behoort hul argiewe goed te
versorg.
Artikel 51 Verteenwoordiging van die kerkraad in materiële sake
Ten opsigte van die bestuur van materiële sake word 'n kerk regtens
verteenwoordig deur twee persone wat deur die kerkraad met diakens daarvoor
aangewys is.
Artikel 52 Verteenwoordiging van die kerke in regsake rakende
kapitaalbesit
Ten opsigte van regsake rakende kapitaalbesit wat die kerke in klassikale,
partikulier-sinodale of algemeen-sinodale verband gemeenskaplik het, word hulle
verteenwoordig deur die klassikale, partikulier-sinodale of algemeen-sinodale
vergaderings, of deur deputate wat deur hierdie vergaderings benoem word,
instruksies ontvang en ontslaan word, en wat in al hulle handelinge aan
instruksies gebonde is.
Artikel 53 Ondertekening van die belydenis deur predikante en dosente
Die predikante, die professore en die ander dosente aan die Teologiese
Universiteit sal die drie formuliere van eenheid van die Vrye Gereformeerde
Kerke in Suid-Afrika onderteken waarby die formuliere gebruik word wat vir die
verskillende dienste vasgestel is. Predikante wat weier om dit te doen, sal as
gevolg daarvan onmiddellik geskors word en die klassis sal hulle nie ontvang
nie.
Indien hulle na samesprekings nog steeds weier, sal hulle afgesit word.
Artikel 54 Ondertekening van die belydenis deur ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en die diakens sal ook die genoemde formuliere van eenheid
onderteken, waarvoor die bestemde formulier gebruik word.
Artikel 55 Wering van valse leer en dwaling
Die predikante en die ouderlinge moet onderrig, weerlê, waarsku en vermaan,
sowel in die prediking as in die kategese en by huisbesoek, om valse leer en
dwaling wat die lewe van die gemeente deur middel van lektuur en ander
kommunikasiemiddels bedreig, af te weer.
Artikel 56 Bediening van die doop aan kinders
Die doop as seël van die verbond van God sal so spoedig moontlik in 'n
openbare erediens aan die kinders van gelowiges bedien word.
Artikel 57 Doopbelofte en onderwys
Die kerkrade sal toesien dat die ouers sover moontlik hul kinders laat
onderrig in ooreenstemming met die leer van die kerk soos hulle dit by die doop
belowe het.
Artikel 58 Bediening van die doop aan volwassenes
Volwasse dopelinge word deur die doop as lidmate in volle regte by die
christelike gemeente ingelyf. Hulle is daarom geroep om die nagmaal van die Here
te vier en sal dit by hulle doop belowe.
Artikel 59 Gebruik van die doopformuliere
Die predikante sal hulle by die doop van kinders en van volwassenes hou aan
die formuliere wat daarvoor vasgestel is.
Artikel 60 Toelating tot die nagmaal
Die kerkraad sal slegs diegene wat belydenis van hulle geloof volgens die
gereformeerde leer afgelê het en wat godvresend lewe, tot die nagmaal van die
Here toelaat. Diegene wat uit susterkerke kom, sal op grond van 'n goeie
attestasie van leer en lewe toegelaat word.
Artikel 61 Bediening van die nagmaal
Die nagmaal van die Here sal ten minste eenmaal in drie maande in 'n openbare
erediens gevier word, volgens kerklike orde, onder toesig van die ouderlinge,
waarby die vasgestelde formuliere gebruik moet word.
Artikel 62 Kerklike registers
Die kerkrade sal kerklike registers byhou waarin die name van die lidmate en
die datums van hulle geboorte, doop, openbare belydenis en huweliksbevestiging
noukeurig aangeteken word.
Artikel 63 Attestaat na 'n ander gemeente
As lidmate na 'n ander gemeente vertrek, sal die kerkraad aan hulle, na die
vereiste afkondiging aan die gemeente, 'n attestaat betreffende leer en lewe
saamgee, onderteken deur die voorsitter en die skriba. Op hierdie attestaat sal
ook hulle kinders wat nog nie belydenis van die geloof afgelê het nie, vermeld
word. Daar sal betyds 'n berig aan die betrokke gemeente gestuur word. Indien 'n
lidmaat wat nog nie belydenis van die geloof afgelê het nie, besluit om na 'n
ander plek te verhuis, sal 'n attestaat aan die betrokke kerkraad gestuur word
met die versoek dat die lidmaat onder sy opsig en tug geplaas word.
Artikel 64 Hulpverlening by vertrek
As lidmate na 'n ander gemeente vertrek waar hulle in inrigtings, ouetehuise
of hospitale versorg word, bly hulle wat die diakonale bystand betref, sover
moontlik by die kerk wat hulle verlaat. Indien dit nie moontlik is nie, sal die
hulpverlening in oorleg met die betrokke kerkrade gereël word.
Artikel 65 Die erediens op die dag van die Here
Die kerkraad sal die gemeente op die dag van die Here twee keer vir die
erediens saamroep. Die kerke sal hulle hou by die orde van diens wat deur die
algemene sinode goedgekeur is.
Artikel 66 Kategismusprediking
Die kerkraad moet sorg dra dat, as reël, een keer per Sondag in die
prediking die leer van die Woord van God verklaar word soos dit in die
Heidelbergse Kategismus saamgevat is.
Artikel 67 Psalms en gesange
In die erediens sal die psalms gesing word volgens 'n beryming wat deur die
algemene sinode aanvaar is, en ook daardie gesange wat die sinode goedgekeur
het.
Artikel 68 Kerklike feesdae
Die kerkraad sal op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaartsdag en
Pinksterdag die gemeente saamroep tot openbare eredienste, waar die heilsfeite
wat die gemeente op hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word.
Artikel 69 Biddae
In tye van oorlog, algemene rampe en ander groot probleme waarvan alle kerke
die druk ervaar, sal 'n biddag uitgeskryf word deur die klassis wat deur die
laaste algemene sinode daarvoor aangewys is.
Artikel 70 Kerklike huweliksbevestiging
Die kerkraad sal toesien dat die huwelike kerklik bevestig word, waarby die
vasgestelde formulier gebruik moet word.
Artikel 71 Geen roudienste
Roudienste sal nie belê word nie.
Artikel 72 Doel van die tug
Die kerklike tug sal na die Woord van God en tot sy eer bedien word.
Die doel hiervan is dat die sondaar met God en sy naaste versoen word, en dat
die aanstoot uit die gemeente van Christus weggeneem word.
Artikel 73 Onderlinge toesig
As iemand afwyk van die suiwer leer of hom in sy lewe wangedra, en dit 'n
geheime saak is wat geen openbare aanstoot gee nie, sal die reël wat Christus
duidelik in Mattheüs 18 voorskryf, nagekom word.
Artikel 74 Aanmelding by die kerkraad
Geheime sondes mag nie aan die kerkraad bekend gemaak word as die sondaar na
persoonlike, broederlike vermaning of na vermaning met een of twee getuies,
berou toon nie.
Wanneer iemand volgens die reël van Mattheüs 18 oor 'n geheime sonde
vermaan is en daaraan geen gehoor gee nie, of wanneer iemand 'n openbare sonde
gepleeg het, sal dit aan die kerkraad meegedeel word.
Artikel 75 Skuldbelydenis by bekering
As iemand hom van 'n openbare sonde of van 'n geheime sonde wat aan die
kerkraad gemeld moes word, bekeer, sal die kerkraad sy skuldbelydenis aanvaar
indien hy voldoende tekens van berou toon. Die kerkraad sal beoordeel of die
gemeente van hierdie skuldbelydenis in kennis gestel moet word.
Artikel 76 Tugmaatreëls
Die kerkraad sal toegang tot die nagmaal van die Here weier aan diegene wat
die kerklike vermaning hardnekkig verwerp, of wat 'n openbare, of in ander
opsigte ernstige sonde, begaan het.
Indien hy na talryke daaropvolgende vermanings geen teken van berou toon nie,
sal die kerkraad as uiterste maatreël tot ekskommunikasie oorgaan, waarby die
vasgestelde formulier gebruik moet word.
Niemand mag geëkskommuniseer word sonder die instemming van die klassis nie.
Artikel 77 Afkondigings tydens die prosedure
Voordat die kerkraad - na die ontsegging van die nagmaal en die
daaropvolgende vermanings - tot ekskommunikasie oorgaan, sal hy die
hardnekkigheid van die sondaar aan die gemeente bekend maak. Daarby sal sy
sondes genoem word asook die vele pogings om hom tot inkeer te bring deur
bestraffing, ontsegging van die nagmaal en talryke vermanings. Die gemeente sal
aangespoor word om hom aan te spreek en vir hom te bid.
Hiervoor sal drie maal 'n afkondiging gemaak word. Om die sondaar nog te
ontsien, sal sy naam in die eerste afkondiging nie genoem word nie.
By die tweede afkondiging sal sy naam wel genoem word met die instemming,
volgens artikel 76, van die klassis.
By die derde afkondiging sal die kerkraad aan die gemeente bekendmaak dat hy
uit die gemeenskap van die kerk gesluit sal word as hy hom nie bekeer nie; so
sal die ekskommunikasie die stilswyende instemming van die gemeente hê.
Die kerkraad sal oor die tydsverloop tussen die afkondigings beslis.
Artikel 78 Heropneming van geëkskommuniseerdes
As 'n geëkskommuniseerde langs die weg van berou weer in die gemeente
opgeneem wil word, sal dit aan die gemeente bekendgemaak word.
As niemand hierteen beswaar maak nie, sal hy na verloop van minstens drie
Sondae weer opgeneem word, na die doen van openbare skuldbelydenis, waarby die
vasgestelde formulier gebruik moet word.
Artikel 79 Tug oor ampsdraers
As predikante die kerklike vermaning verwerp, of as hulle 'n openbare of in
ander opsigte ernstige sonde begaan, sal hulle geskors word op grond van die
oordeel van hulle kerkraad en dié van die naburige gemeente, soos deur die
klassis bepaal.
Die klassis moet met advies van die deputate van die partikuliere sinode,
soos in artikel 14 genoem, oordeel of hulle afgesit moet word.
As ouderlinge of diakens hulle aan een van die genoemde sondes skuldig maak,
is die oordeel van hulle kerkraad en dié van die naburige gemeente, voldoende
vir hulle skorsing of afsetting.
Artikel 80 Sondes wat tug oor ampsdraers noodsaaklik maak
Ernstige sondes wat rede vir skorsing of afsetting van ampsdraers is, is in
die besonder die volgende: die aanhang van valse leer, openbare skeurmakery,
godslastering, simonie, ontroue diensverlating of indringing in die dienswerk
van 'n ander, meineed, egbreuk, ontug, diefstal, geweldpleging, gereelde
dronkenskap en onregmatige selfverryking. Verder moet hierby alle sondes en
ernstige misdade wat by ander lidmate rede vir ekskommunikasie is, gereken word.
Artikel 81 Onderlinge toesig van die ampsdraers
Die predikante, ouderlinge en diakens sal onderling christelike sensuur
uitoefen en mekaar insake die bediening van hulle amp aanspoor en vriendelik
teregwys.
Artikel 82 Tug oor dooplidmate
Die kerkraad sal iemand wat as kind die doop ontvang het, vermaan as hy as
volwassene nalaat om openbare geloofsbelydenis af te lê, of ook in ander
opsigte aan sy roeping tot nuwe gehoorsaamheid in die verbond van God ontrou is.
Indien hy die vermaning van die kerkraad hardnekkig verwerp, en daarby duidelik
laat blyk dat hy afkerig is van die verbond en onverskillig of selfs vyandig
teenoor die diens van die Here staan, sal dit met instemming van die klassis aan
die gemeente bekendgemaak word. By die afkondiging sal die kerkraad sy naam noem
en ook 'n tydperk vasstel. Die gemeente sal aangespoor word om hom aan te spreek
en om vir hom te bid. As hy in die genoemde tydperk geen teken van opregte berou
toon nie, sal die kerkraad hom in 'n erediens uit die gemeenskap van die kerk
sluit, waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.
Indien hy na hierdie ekskommunikasie tot bekering kom en weer by die
gemeenskap van die kerk wil aansluit, sal hy deur middel van openbare
geloofsbelydenis toegelaat word, nadat die kerkraad sy bekering aan die gemeente
bekendgemaak het.
SLOTARTIKELS
Artikel 83 Geen heerskappy
Geen kerk mag oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op
watter manier ookal, heers nie.
Artikel 84 Nalewing en wysiging van die Kerkorde
Al hierdie artikels is, wat die wettige orde van die kerk betref, in
gemeenskaplike oorleg vasgestel en in eensgesindheid aanvaar.
As dit in die belang van die kerke is, behoort hulle gewysig, aangevul of
verminder te word. 'n Kerkraad, klassis of partikuliere sinode mag dit egter nie
doen nie; hulle sal hulle daarop toelê om die bepalings van hierdie Kerkorde na
te leef solank hulle nie deur die algemene sinode verander is nie.
|