DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS
(of Onderwysing in die Christelike leer)Hierdie Belydenisskrif het in
1563 te Heidelberg, Duitsland, ontstaan. Op versoek van keurvors Frederik
III van die Paltz is dit as 'n leerboek vir die skole opgestel deur onder andere
Zacharias Ursinus en Caspar Olevianus. Verskeie sinodes van die 16de eeu
en ook die Nasionale Sinode van Dirdrecht (1618-1619) het dit as een van die
Belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke aanvaar.
Sondag 1
2 3
4 5
6 7
8 9
10 11
12 13
14 15
16 17
18 19
20 21
22 23
24 25
26
27 28
29 30
31 32
33 34
35 36
37 38
39 40
41 42
43 44
45 46
47 48
49 50
51 52
SONDAG 1
1. Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe
en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in
lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten
volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar
(f)
my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop
kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe
(i) en maak Hy my van harte
gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor
3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8;
Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk
21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh
3:3:
2. Vraag: Hoeveel dinge moet jy weet om in
hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe
groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende
verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees
(d).
(a)Matt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41;
Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps
50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15.
DIE EERSTE DEEL: DIE ELLENDE VAN DIE MENS (SONDAG 2-4)
SONDAG 2
3. Vraag: Waaruit ken jy jou ellende?
Antwoord: Uit die wet van God (a).
(a)Rom 3:20.
4. Vraag: Wat eis die wet van God van ons?
Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend
in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met
jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die
tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan
hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a).
(a)Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk
10:27
5. Vraag: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Antwoord: Nee (a), want ek is van nature
geneig om God en my naaste te haat (b).
(a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom
8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer 17:9; Rom 7:23.
SONDAG 3
6. Vraag: Het God die mens dan so sondig en
verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en
na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid,
sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die
ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
(a)Gen 1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24;
Kol 3 2 Kor 3:18.
7. Vraag: Waar kom hierdie verdorwe natuur
van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid
van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys (a). Daar het ons natuur so
verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen 3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7;
Gen 5:3
8. Vraag: Is ons so verdorwe dat ons glad
nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja (a), behalwe as ons deur die
Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35;
Joh 3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor 3:5.
SONDAG 4
9. Vraag: Doen God die mens dan nie onreg
aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?
Antwoord: Nee (a), want God het die mens so
geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as
gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige
ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.
(a)Ef 4:24. (b) Gen 3:13; 1 Tim 2:13, 14.
(c) Gen 3:6; Rom 5:12.
10. Vraag: Wil God hierdie ongehoorsaamheid
en afval ongestraf laat bly?
Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy
toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self
doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf
(b). Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is
in die boek van die wet om dit te doen nie (c).
(a)Gen 2:17; Rom 5:12. (b) Ps 50:21; 5:6;
Nah 1:2; Eks 20:5; 34:7; Rom 1:18; Ef 5:6. (c) Deut 27:26; Gal 3:10.
11. Vraag: Is God dan nie ook barmhartig
nie?
Antwoord: God is wel barmhartig (a); maar
Hy is ook regverdig (b). Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die
allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf
moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.
(a)Eks 34:6, 7; 20:6. (b) Ps 7:10; Eks
20:5; 23:7; 34:7; Ps 5:5, 6; Nah 1:2, 3.
DIE TWEEDE DEEL: DIE VERLOSSING VAN DIE MENS (SONDAG 5-31)
SONDAG 5
12. Vraag: Aangesien ons volgens die
regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons
van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?
Antwoord: God wil dat daar aan sy
geregtigheid voldoen word (a). Daarom moet ons òf deur onsself òf deur 'n ander
ten volle betaal (b).
(a)Gen 2:27; Eks 23:7; Eseg 18:4; Matt
5:26; 2 Tess 1:6; Luk 16:2. (b) Rom 8:4.
13. Vraag: Kan ons deur onsself betaal?
Antwoord: Nee, glad nie; ons maak juis ons
skuld elke dag nog groter (a).
(a)Job 9:2; 15:15, 16; 4:18, 19; Ps 130:3;
Matt 6:12; 18:25; 16:26.
14. Vraag: Kan enige ander skepsel vir ons
betaal?
Antwoord: Nee, want Ten eerste wil God aan
geen ander skepsel die skuld straf wat die mens gemaak het nie (a). Ten tweede
kan geen gewone skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde dra
en ander skepsels daarvan verlos nie (b).
(a)Eseg 18:4; Gen 3:17. (b) Nah 1:6; Ps
130:3.
15. Vraag: Hoe 'n middelaar en verlosser
moet ons dan soek?
Antwoord: So een wat 'n ware (a) en
regverdige (b) mens is, maar nogtans ook sterker as alle skepsels is, dit wil sê
wat terselfdertyd ware God is (c).
(a)1 Kor 15:21: (b) Heb 7:26. (c) Jes 7:14;
9:5; Jer 23:6; Luk 11:22.
SONDAG 6
16. Vraag: Waarom moet hy 'n ware en
regverdige mens wees?
Antwoord: Omdat die geregtigheid van God
eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a).
Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b).
(a)Eseg 18:4, 20; Rom 5:18; 1 Kor 15:21; Heb 2:14-16. (b) Heb2:26, 27; Ps 49:8;
1 Pet 3:18.
17. Vraag: Waarom moet hy terselfdertyd ware
God wees?
Antwoord: Om deur die krag van sy Godheid
(a) die las van die toorn van God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons
die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).
(a)Jes 9:5; 63:3; (b) Deut 4:24; Nah 1:6;
Ps 130:3. (c) Jes 53:4, 11; (d) Jes 53:5, 11.
18. Vraag: Wie is hierdie Middelaar wat
terselfdertyd ware God (a) en ware (b) regverdige mens is (c)?
Antwoord: Ons Here Jesus Christus (d), wat
God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee
het (e).
(a)1 Joh 5:20; Rom 9:5; 8:3; Gal 4:4; Jes
9:6; Jer 23:6; Mal 3:1: (b) Luk 1:42; 2:6, 7; Rom 1:3; 9:5; Fil 2:7; Heb 2:14,
16, 17; 4:15. (c) Jes 53:9, 11; Jer 23:5; Luk 1:35; Joh 8:46; Heb 4:15; 7:26; 1
Pet 1:19; 2:22, 3:18. (d) l Tim 2:5; Matt 1:23; 1 Tim 3:16; Luk 2:11; Heb
2:9..(e) 1 Kor 1:30.
19. Vraag: Waaruit weet jy dit?
Antwoord: Uit die heilige evangelie, wat
God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het (a). Daarna het Hy dit deur
die heilige aartsvaders (b) en profete (c) laat verkondig en deur die offers en
ander seremonies van die wet laat uitbeeld; (d). Eindelik het Hy dit deur sy
eniggebore Seun vervul (e).
(a)Gen 3:15: (b) Gen 22:18; 12:3; 49:10.
(c) Jes 53; 42:1-4; 43:25; 49:5, 6, 22, 23; Jer 23:5, 6; 31:32, 33; 32:39-41,
Miga 7:18-20; Hand 10:43; 3:22-24; Rom 1:2; Heb 1:1. (d) Heb 10:1, 7; Kol 2:7;
Joh 5:46. (e) Rom 10:4; Gal 4:4; 3:24; Kol 2:17.
SONDAG 7
20. Vraag: Word al die mense dan weer deur
Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur
'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).
(a)Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh
1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20; 3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39;
11:6.
21. Vraag: Wat is 'n ware geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n
vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het
(a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees
(c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander
nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van
Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk
het.
(a)Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21;
10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh
6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44;
16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb
10:10, 38; Gal 2:16.
22. Vraag: Wat moet 'n Christen glo?
Antwoord: Alles wat in die evangelie aan
ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde
Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a)Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
23. Vraag: Hoe lui die artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die
Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy
eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit
die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf
het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer
opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die
regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die
lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo
aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
(10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n
ewige lewe.
SONDAG 8
24. Vraag: Hoe word hierdie artikels
ingedeel?
Antwoord: In drie dele: die eerste handel
oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons
verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
25. Vraag: Terwyl daar maar tog net een,
enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en
Heilige Gees (a)?
Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord
geopenbaar het (b) dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige
God is.
(a)Deut 6:4; Ef 4:6; Jes 44:6; 45:5; 1 Kor
8:4, 6. (b) Jes 61:1; Luk 4:18; Gen 1:2, 3; Ps 33:6; Jes 48:16; Matt 3:16, 17;
28:19; 1 Joh 5:7; Jes 6:1, 3; Joh 14:26; 15:26; 2 Kor 13:13; Gal 4:6; Ef 2:l8;
Tit 3:5, 6.
GOD DIE VADER EN ONS SKEPPING (SONDAG 9, 10)
SONDAG 9
26. Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in
God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van
ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks
geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer
(b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so
dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is,
sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my
beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en
ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a)Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39;
Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt
10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt
6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33;
7:9-11.
SONDAG 10
27. Vraag: Wat verstaan jy onder die
voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige
krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand
nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare
en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en
armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a)Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15,
16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2.
(f) Matt 10:29; Spr 16:33.
28. Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat
God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig
(a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n
vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van
sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle
sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a)Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21,
22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job
1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.
GOD DIE SEUN EN ONS VERLOSSING (SONDAG 11-19)
SONDAG 11
29. Vraag: Waarom word die Seun van God
genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes
verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).
(a)Matt 1:21; Heb 7:25. (b) Hand 4:12; Joh
15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.
30. Vraag: Glo die mense wat hulle saligheid
en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste
Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die
daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom
roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie 'n
volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met 'n ware geloof aanneem,
het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).
(a)1 Kor 1:13, 30, 31; Gal 5:4..(b) Heb
12:2; Jes 9:6; Kol 1:19, 20; 2:10; 1 Joh 1:7.
SONDAG 12
31. Vraag: Waarom word Hy Christus, wat
Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader
bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (a) tot ons hoogste
Profeet en Leraar (b), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande
ons verlossing ten volle bekend gemaak het (c); tot ons enigste Hoëpriester (d),
wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (e) en met sy voorbidding
gedurigdeur by die Vader vir ons intree (f); tot ons ewige Koning, wat ons met
sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en
bewaar (g).
(a)Ps 45:8; Heb 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18.
(b) Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4. (c) Joh 1:18; 15:15. (d) Ps 110:4.
(e) Heb 10:12, 14; 9:12, 14, 28. (f) Rom 8:34; Heb 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, l0.
(g) Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk l:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11.
32. Vraag: Waarom word jy 'n Christen genoem
(a)?
Antwoord: Omdat ek deur die geloof 'n lid
van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan
bely (d), myself as 'n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie
lewe met 'n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met
Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).
(a)Hand 11:26. (b) 1 Kor 6:15. (c) 1 Joh
2:27; Hand 2:17. (d) Matt 10:32; Rom 10:10. (e) Rom I2:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6;
5:8, 10. (f) 1 Pet 2:11; Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim 1:18, 19.
(g) 2 Tim 2:12; Matt 25:34.
SONDAG 13
33. Vraag: Waarom word Christus die
eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige
natuurlike Seun van God is (a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders
van God aangeneem is (b).
(a)Joh 1:14; Heb 1:1, 2; Joh 3:16;1 Joh
4:9; Rom. 8:32. (b) Rom 8:16; Joh 1:12; Gal 4:6; Ef 1:5, 6.
34. Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here?
Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel
van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie
maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a)1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim
2:6; Joh 20:28.
SONDAG 14
35. Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van
die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat
ware en ewige God is (a) en bly (b), die ware menslike natuur uit die vlees en
bloed van die maagd Maria (c) deur die werking van die Heilige Gees aangeneem
het (d). So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid (e), in alles aan
sy broers gelyk (f), behalwe die sonde (g).
(a)1 Joh 5:20; Joh l:l; 17:3; Rom 1:3, Kol
1:15. (b) Rom 9:5. (c) Gal 4:4; Luk 1:31, 42, 43. (d) Matt 1:20; Luk 1:35. (e)
Rom 1:3; Ps 132:11; 2 Sam 7:12; Luk 1:32; Hand 2:30. (f) Fil 2:7; Heb 2:14, 17.
(g) Heb 4:15.
36. Vraag: Watter nut verkry jy uit die
heilige ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en
met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is,
voor God bedek (b).
(a)Heb 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18;
1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.
SONDAG 15
37. Vraag: Wat verstaan jy onder die
woordjie: gely?
Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel
tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God
teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy
lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige
verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die
ewige lewe verwerf (d).
(a)Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6.
(b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal
3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16;
6:51; Heb 9:15; 10:19.
38. Vraag: Waarom het Hy onder die regter
Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die
wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die
streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b).
(a)Joh 18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15;
Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5; 2 Kor 5:21; Gal 3:13.
39. Vraag: Sit daar iets meer in dat
Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie?
Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat
Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a), omdat die
kruisdood deur God vervloek is (b).
(a)Gal 3:13. (b) Deut 21:23.
SONDAG 16
40. Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat
Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord: Weens die geregtigheid en
waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir
ons sondes betaal word nie (b).
(a)Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15.
41. Vraag: Waarom is Hy begrawe?
Antwoord: Om daarmee die versekering te gee
dat Hy werklik gesterf het (a).
(a)Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53;
Joh 19:38.
42. Vraag: As Christus dan vir ons gesterf
het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord: Ons dood is nie 'n betaling vir
ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die
ewige lewe (b).
(a)Mark 8:37; Ps 49:8. (b) Fil 1:23; Joh
5:24; Rom 7:24.
43. Vraag: Watter nut verkry ons nog verder
uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens
saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige
begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer
aan Hom toewy (c).
(a)Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1.
44. Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal
het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste
aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus
Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing
het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy
ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely.het.
(a)Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt
26:38; 27:46 Heb 5:7
SONDAG 17
45. Vraag: Watter nut het die opstanding van
Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy
opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood
verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag
tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n
betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).
(a)Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b)
Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.
SONDAG 18
46. Vraag: Wat verstaan jy onder: wat
opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy
dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten
goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat
alreeds gesterf het (c).
(a)Hand 1:9; Mark 16:19; Luk 24:51: (b) Heb
9:24; 4:14; Rom 8:34; Kol 3:1. (c) Hand 1:11; Matt 24:30.
47. Vraag: Is Christus dan nie by ons tot
die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware
God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy
Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie
(c).
(a)Matt 28:20. (b) Heb 8:4; Matt 26:11; Joh
16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt 28:20.
48. Vraag: Maar as die mensheid nie oral is
waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar
geskei nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan
immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet
volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin
is en persoonlik daarmee verenig bly.
(a)Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh
3:13; 11:15; Matt 28:6.
49. Vraag: Watter nut het die hemelvaart van
Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel
ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in
die hemel as 'n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede,
na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur
(c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die
regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2;
17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
SONDAG 19
50. Vraag: Waarom word daar bygevoeg: en sit
aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel
opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon,
deur wie die Vader alles regeer (b).
(a)Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18;
Joh 5:22.
51. Vraag: Watter nut bring hierdie
heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige
Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met
sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).
(a)Hand 2:33; Ef4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2;
Joh 10:28: Ef 4:8.
52. Vraag: Hoe word jy getroos deur die
wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en
vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel
verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle
vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige
verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die
hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a)Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13;
1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING (SONDAG 20-22)
SONDAG 20
53. Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?
Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die
Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b)
sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c)
my troos (d) en ewig by my bly (e).
(a)1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor
3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c)
Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet
4:14.
SONDAG 21
54. Vraag: Wat glo jy van die heilige,
algemene, Christelike kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die
hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies
is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die
begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g)
en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a)Ef 5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef
4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-13. (d) Jes 59:21; Rom
1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21; 1
Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2
Kor 13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
55. Vraag: Wat verstaan jy onder die
gemeenskap van die heiliges?
Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges,
almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en
aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy
gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te
wend (b).
(a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1
Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
56. Vraag: Wat glo jy van die vergewing van
die sondes?
Antwoord:. Dat God, op grond van die
voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my
lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die
geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal
kom nie (c).
(a)1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom
7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.
SONDAG 22
57. Vraag: Watter troos gee die opstanding
van die liggaam aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie
lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie
selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel
verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a)Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job
19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
58. Vraag: Watter troos skep jy uit die
artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die
begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome
saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in
die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).
(a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.
SONDAG 23
59. Vraag: Maar wat baat dit jou nou dat jy
dit alles glo?
Antwoord: Dat ek in Christus voor God
geregverdig en 'n erfgenaam van die ewige lewe is (a).
(a)Hab 2:4; Rom 1:17; Joh 3:36.
60. Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in
Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie
van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog
gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige
verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g),
geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek
nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring
het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir
sover ek dit met 'n gelowige hart (j) aanneem.
(a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef
2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit
3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1.
(i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18.
61. Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur
die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die
waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die
genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God
is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak
nie (b).
(a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.
SONDAG 24
62. Vraag: Maar waarom kan ons goeie werke
nie die geregtigheid voor God of 'n deel daarvan wees nie?
Antwoord: Omdat die geregtigheid wat voor
die oordeel van God kan bestaan, heeltemal volmaak moet wees en in alle opsigte
met die wet van God ooreen moet stem (a) en omdat ook ons beste werke in hierdie
lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is (b).
(a)Gal 3:10; Deut 27:26: (b) Jes 64:6.
63. Vraag: Verdien ons goeie werke dan niks
nie, terwyl God hulle tog in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon?
Antwoord: Hierdie beloning word nie uit
verdienste nie, maar uit genade gegee (a).
(a)Luk 17:10.
64. Vraag: Maar maak hierdie leer nie mense
onverskillig en roekeloos nie?
Antwoord: Nee, want dit is onmoontlik dat
'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van
dankbaarheid sal voortbring nie (a).
(a)Matt 7:18; Joh 15:5.
DIE HEILIGE SAKRAMENTE (SONDAG 25-30)
SONDAG 25
65. Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof
deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan?
Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons
harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur
die gebruik van die sakramente (b).
(a)Ef 2:8; 6:23; Joh 3:5; Filp 1:29. (b)
Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.
66. Vraag: Wat is sakramente?
Antwoord: Dit is heilige, sigbare tekens en
seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die
evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël. Hierdie belofte is dat
God vanweë die enige offer van Christus wat aan die kruis volbring is, vergewing
van die sondes en die ewige lewe uit genade skenk (a).
(a)Gen 17:11; Rom 4:11; Deut 30:6; Lev
6:25; Heb 9:7-9, 24; Eseg 20:12; Jes 6:6, 7; 54:9.
67. Vraag : Is die Woord en die sakramente
albei daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus wat aan die kruis
as die enigste grond van ons saligheid te wys?
Antwoord: Ja, seker, want die Heilige Gees
leer ons in die evangelie en verseker ons deur die sakramente dat ons volle
saligheid op die enige offer van Christus rus, wat aan die kruis vir ons
volbring is (a).
(a)Rom 6:3; Gal 3:27.
68. Vraag: Hoeveel sakramente het Christus
in die Nuwe Verbond of Testament ingestel?
Antwoord: Twee, naamlik die heilige doop en
die heilige nagmaal.
DIE HEILIGE DOOP (SONDAG 26-27)
SONDAG 26
69. Vraag: Hoe word jy in die heilige doop
daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis
jou ten goede kom?
Antwoord: So: Christus het die uitwendige
waterbad ingestel (a). Daarby het Hy beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed
en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c)
as wat ek uitwendig met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam
wegneem.
(a)Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16;
Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11; Rom 6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.
70. Vraag: Wat beteken dit om met die bloed
en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord: Dit beteken om van God vergewing
van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in
sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees
vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer
hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a)Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag
13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.
71. Vraag: Waar het Christus ons belowe dat
Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater
gewas word?
Antwoord: Met die instelling van die doop
wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop
hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees..." (Matt
28:19); en: "Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo
nie, sal veroordeel word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar
die Skrif die doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes
noem (Tit 3:5; Hand 22:16).
SONDAG 27
72. Vraag: Is die uitwendige, waterbad self
dan die afwassing van die sonde?
Antwoord: Nee (a), want alleen die bloed
van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).
(a)Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1
Joh 1:7; 1 Kor 6:11.
73. Vraag: Waarom noem die Heilige Gees die
doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige
rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons
sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder
wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net
so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met
water gewas word.
74. Vraag: Moet die jong kinders ook gedoop
word?
Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die
volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is (a). Ook aan
hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die
verlossing van die sondes (b) en die Heilige Gees wat die geloof werk (c),
beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die
Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word
(d). So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen (e) in die plek
waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is (f).
(a)Gen 17:7. (b) Matt 19:14. (c) Luk 1:15;
Ps 22:11; Jes 44:1-3; Hand 2:39. (d) Hand 10:.47. (e) Gen 17:14. (f) Kol
2:11-I3.
DIE HEILIGE NAGMAAL VAN ONS HERE (SONDAG 28-30)
SONDAG 28
75. Vraag: Hoe word jy in die heilige
nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van
Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges
beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie
beker te drink. Daarby het Hy beloof (a), Ten eerste, dat sy liggaam so seker
vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat
ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my
gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en
gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die
brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam
en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
(a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19,
20; 1 Kor 10:16, 17; 11:23-25; 12:13.
76. Vraag: Wat beteken dit om die
gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?
Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n
gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur
vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om
deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so
met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been
van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde.
Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een
siel - ewig lewe en geregeer word (e).
(a)Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54.
(b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol
3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6.
77. Vraag: Waar het Christus beloof dat Hy
die gelowiges so seker met sy liggaam en bloed sal voed en verkwik as wat hulle
van hierdie gebreekte brood eet en uit hierdie beker drink?
Antwoord: By die instelling van die nagmaal
wat soos volg lui (a): "In die nag waarin Hy verraai is, het die Here Jesus
brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Neem, eet,
dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so
ook die beker ná die ete met die woorde: Hierdie beker is die nuwe vtestament in
my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want
so dikwels as julle van hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig
julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor 11:23-26). Hierdie belofte
word ook herhaal deur Paulus waar hy sê: "Die beker van danksegging wat ons met
danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die
brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan
die een brood" (1 Kor 10:16, 17).
(a)Matt 26:26-28; Mark 14:22-24; Luk 22:19,
20.
SONDAG 29
78. Vraag: Verander die brood en wyn dan in
die werklike liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: (a) Nee, maar soos die water by
die doop nie in die bloed van Christus verander of die afwassing van sonde self
is nie, maar slegs 'n Goddelike teken en versekering daarvan (b), so verander
die brood by die nagmaal nie in die liggaam van Christus self nie (c).
Ooreenkomstig die aard en gebruik van die sakramente word die brood egter die
liggaam van Christus genoem (d).
(a)Matt 26:29. (b) Ef 5:26; Tit 3:5. (c) 1
Kor 10:16; 11:26. (d) Gen 17:10, 11; Eks 12:11, 13; 13:9; 1 Pet 3:21; 1 Kor
10:3, 4.
79. Vraag: Waarom noem Christus dan die
brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe Testament in sy bloed en
waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus?
Antwoord: Daar is gewigtige redes waarom
Christus so sê: Hy wil ons daarmee leer dat, soos brood en wyn die tydelike lewe
onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel
en drank, ons siele vir die ewige lewe (a). Verder wil Hy ons deur hierdie
sigbare tekens en waarborge veral verseker dat ons net so seker deur die werking
van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie
heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang (b). Hy
verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons
self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle
betaal het.
(a)Joh 6:55. (b) 1 Kor 10:16.
SONDAG 30
80. Vraag: Wat is die onderskeid tussen die
nagmaal van die Here en die Roomse mis?
Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat
ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van
Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het (a), en
dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word (b), wat nou na sy
menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader (c) is en daar
deur ons aanbid wil word (d). Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes
en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het
nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word.
Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe
daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning
van die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is
(e).
(a)Heb 10:10, 12; 7:26, 27; 9:12, 25; Joh
19:30; Matt 26:28; Luk 22:19. (b) 1 Kor 10:16, 17; 6:17. (c) Joh 20:17; Kol 3:1;
Heb 1:3; 8:1. (d) Matt 6:20, 21; Joh 4:21; Luk 24:52; Hand 7:55; Kol 3:1; Fil
3:20; 1 Tess 1:10. (e) Heb 9:26;10:12, 14.
81. Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van
die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes 'n
afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe
is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die
wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te
verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie,
eet en drink 'n veroordeling oor hulleself (a).
(a)1 Kor 11:28; 10:19-22.
82. Vraag: Moet die mense ook aan die
nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig
en goddeloos is?
Antwoord: Nee, want so word die verbond van
God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die
Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke
mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat
hulle verbetering van hulle lewe bewys.
(a)1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; 66:3; Jer
7:21; Ps 50:16.
DIE KERKLIKE TUG (SONDAG 31)
SONDAG 31
83. Vraag: Wat is die sleutels van die
koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige
evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die
koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges
toegesluit.
84. Vraag: Hoe word die koninkryk van die
hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus
word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig
dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van
Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n
ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars
verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank
hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal
God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.
85. Vraag: Hoe word die koninkryk deur die
Christelike tug toe- en oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus
word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle
onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie
van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente
of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle
ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die
heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God
self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus
en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).
(a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor
2:6-8.
DIE DERDE DEEL: DIE DANKBAARHEID WAT ONS AAN GOD VIR DIE
VERLOSSING VERSKULDIG IS (SONDAG 32-52)
SONDAG 32
86. Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke
doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur
Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons
met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat
ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy
deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons
geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook
vir Christus kan wen (d).
(a)Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor
6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1
Pet 3:1, 2; Rom 14:19.
87. Vraag: Kan die mense dan nie salig word
wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê
dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard,
lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).
(a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.
SONDAG 33
88. Vraag: Uit hoeveel dele bestaan die ware
bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van
die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a).
(a)Rom 6:1, 4-6; Ef4:22-24; Kol 3:5, 6,
8-10; 1 Kor 5:7; 2 Kor 7:10.
89. Vraag: Wat is die afsterwing van die ou
mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor
dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde
haat en daarvan wegvlug (a).
(a)Rom 8:13; Joël 2:13; Hos 6:1.
90. Vraag: Wat is die opstanding van die
nuwe mens?
Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God
deur Christus (a) en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie
werke te lewe (b).
(a)Rom 5:1; 14:17; Jes 57:15. (b) Rom 6:10,
11; Gal 2:20.
91. Vraag: Wat is goeie werke?
Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof
(a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op
ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d).
(a)Rom 14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef
2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg 20:18, 19; Jes 29:13; Matt 15:7-9.
DIE WET (SONDAG 34-44)
SONDAG 34
92. Vraag: Hoe lui die Wet van die Here?
Antwoord: God het al hierdie gebooie
aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit
Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.
Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê
nie.
Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige
gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder die aarde is of van
wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en
nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God, wat die misdaad van
die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die
wat My haat. En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en
My gebooie onderhou.
Die derde gebod
Jy mag die Naam van die Here jou God nie
ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie
ongestraf laat bly nie.
Die vierde gebod
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.
Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat
van die Here, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of
jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte
is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en
alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die
sabbatdag geseën en dit geheilig.
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae
verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste
spreek nie.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie;
jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of
sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
93. Vraag: Hoe word hierdie gebooie
ingedeel?
Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die
eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede
in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).
(a)Deut 4:13; Eks 34:28; Deut 10:3, 4. (b)
Matt 22:37, 40.
94. Vraag: Wat gebied God in die eerste
gebod?
Antwoord: Ek moet ter wille van my siele
heil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping
van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige
ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle
nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h)
verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende
sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel
(1).
(a)1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b)
Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c) Matt 4:10; Op 19:10; 22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer
17:5, 7. (f) 1 Pet 5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor 10:10; Fil
2:14. (h) Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2;
Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (1) Matt 5:29;
10:37; Hand 5:29.
95. Vraag: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die
enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit
te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).
(a)Ef 5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8;
Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9; Joh 5:23.
SONDAG 35
96. Vraag: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier
afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel
het nie (b).
(a)Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom
1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30; Matt 15:9.
97. Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak
nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele
manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God
verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom
daardeur te dien (b).
(a)Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13;
Num 33:52.
98. Vraag: Mag ons beelde as "boeke van die
leke" in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as
God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur
die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a)Jer 10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15,
17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17.
SONDAG 36
99. Vraag: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie
laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te
sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan
sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam
van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons
reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt
5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32;
Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
100. Vraag: Is dit dan so 'n groot sonde om
die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen
vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is
groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook
beveel om dit met die dood te straf (b).
(a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
SONDAG 37
101. Vraag: Mag 'n mens ook godvresend by
die Naam van God 'n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy
onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te
bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word.
Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die
Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).
(a)Deut 6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16.
(b) Gen 21:24; 31:53; Jos 9:15; 1 Sam 24:23; 2 Sam 3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9;
9:1; 2 Kor 1:23.
102. Vraag: Mag 'n mens ook by die heiliges
of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om 'n regte eed te
sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die
waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom
geen skepsel toe nie (b).
(a)2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36;
Jak 5:12.
SONDAG 38
103. Vraag: Wat gebied God in die vierde
gebod?
Antwoord: God wil Ten eerste dat die
Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek
veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van
God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e)
en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my
lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin
ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a)Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2
Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29.
(d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.
SONDAG 39
104. Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en
almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer
en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek
met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a)Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22;
Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet
2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21.
SONDAG 40
105. Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur
iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie
met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek
moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of
moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om
doodslag te weer (d).
(a)Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef
4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen
9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106. Vraag: Praat hierdie gebod net van
doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer
God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en
wraaklus verafsku.. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a)Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c)
Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107. Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as
ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en
woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons
moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik
wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en
selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a)Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2;
Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks
23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
SONDAG 41
108. Vraag: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God
vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons
kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).
(a)Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess
4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
109. Vraag: Verbied God in hierdie gebod
niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel,
'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar.
Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en
alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).
(a)Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt
5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
SONDAG 42
110. Vraag: Wat verbied God in die agste
gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs die
diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as
diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se
besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of 'n skyn van
reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere,
(d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle
gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).
(a)1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1.
(c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps
15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
111. Vraag: Maar wat gebied God jou in
hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van my
naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil he dat hy my
moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die
behoeftiges in hulle nood kan help (b).
(a)Matt 7:12. (b) Ef 4:28.
SONDAG 43
112. Vraag: Wat eis die negende gebod?
Antwoord: Ek mag teen niemand valse
getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie 'n kwaadsteker of
lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d).
Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as
ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle
ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely
(g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder
(h).
(a)Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19,
20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g)
1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8.
SONDAG 44
113. Vraag: Wat eis die tiende gebod van
ons?
Antwoord: Selfs die geringste begeerte of
gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd
en heelhartig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê
(a).
(a)Rom 7:7.
114. Vraag: Maar kan die wat tot God bekeer
is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die
allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar 'n geringe begin
van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met 'n ernstige voorneme
begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te
lewe (b).
(a)1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1
Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps 1:2.
115. Vraag: Waarom laat God die Tien Gebooie
dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou
nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende
ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met
groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus
kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade
van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God
vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a)Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt
5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24; Fil 3:12-14.
DIE GEBED (SONDAG 45-52)
SONDAG 45
116. Vraag: Waarom is die gebed vir die
Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van
die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige
Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou
daarom bid en daarvoor dank (b).
(a)Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1
Tess 5:17.
117. Vraag: Hoe moet 'n gebed wees wat God
behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die
enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir
alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en
ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig
(e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit
nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g)
soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).
(a)Op 19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1
Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24; Ps 145:18. (d) 2 Kron 20:12. (e) Ps 2:11;
34:19; Jes 66:2. (f) Rom 10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan 9:18. (h) Matt
7:8; Ps 27:8.
118. Vraag: Wat het God ons beveel om van
Hom te bid?
Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike
behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer
het (a).
(a) Jak 1:17; Matt 6:33.
119. Vraag: Hoe lui hierdie gebed?
Antwoord: Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, soos in die
hemel net so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood, en vergeef
ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in
versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
(a)Matt 6:9-13; Luk 11:2-4.
SONDAG 46
120. Vraag: Waarom het Christus ons beveel
om God as ons Vader aan te spreek?
Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van
ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die
grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en
dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat
ons vaders aardse dinge ons ontsê (a).
(a)Matt 7:9-11; Luk 11:11-13.
121. Vraag: Waarom word hier bygevoeg: wat
in die hemel is?
Antwoord: Sodat ons van die hemelse
majesteit van God nie aards moet dink nie (a) en van sy almag alles verwag wat
ons vir liggaam en siel nodig het (b).
(a)Jer 23:23, 24; Hand 17:24, 25, 27. (b)
Rom 10:12.
SONDAG 47
122. Vraag: Wat is die eerste bede?
Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit
is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al
u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en
waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en
werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en
geprys word (c).
(a)Joh 17:3; Jer 9:24; 31:33, 34; Matt
16:17; Jak 1:5; Ps 119:105. (b) Ps 119:137; Luk 1:46, 47, 68, 69; Rom 11:33. (c)
Ps 71:8;115:1.
SONDAG 48
123. Vraag: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is:
Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U
onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die
duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u
heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin
U alles in almal sal wees (e).
(a)Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps
51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor
15:28.
SONDAG 49
124. Vraag: Wat is die derde bede?
Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die
hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil
prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam
te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen
en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).
(a)Matt 16:24; Tit 2:11, 12. (b) Luk 22:42;
Ef 5:10; Rom 12:2. (c) 1 Kor 7:24. (d) Ps 103:20, 21.
SONDAG 50
125. Vraag: Wat is die vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse
brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons
daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al
ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee
daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).
(a)Ps 145:15; 104:27; Matt 6:26. (b) Jak
1:17; Hand 14:17; 17:27. (c) 1 Kor 15:58; Deut 8:3; Ps 37:16; 127:1, 2. (d) Ps
55:23; 62:11; 146:3; Jer 17:5, 7.
SONDAG 51
126. Vraag: Wat is die vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons
ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade
asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus,
nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons
vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).
(a)Ps 51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b)
Matt 6:14
SONDAG 52
127. Vraag: Wat is die sesde bede?
Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een
oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die
wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U
ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen
hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk (e) nie,
totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).
(a)Joh 15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef
6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom 7:23; Gal 5:17. (e) Matt 26:41; Mark 13:33. (f) 1
Tess 3:13; 5:23.
128. Vraag: Hoe sluit jy jou gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U
omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan
gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word
(b).
(a)Rom 10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer
33:8, 9; Ps 115:1.
129. Vraag: Wat beteken die woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en
seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel
dat ek dit van Hom begeer (a).
(a)2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.
|