| DIE DORDTSE LEERREëLS
Hierdie Belydenisskrif was die beslissing van die Nasionale Sinode van die
Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619
in Dordrecht gehou is, oor die bekende vyf leerstellings van die Remonstrante
waaroor daar in die Gereformeerde Kerke verskil ontstaan het.
Hoofstuk 1
GODDELIKE UITVERKIESING EN VERWERPING (1-18)
1.
Alle mense het in Adam gesondig en hulle
aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak. Daarom sou God niemand veronreg
het as dit sy wil was om die hele mensdom in die sonde en vervloeking te laat
bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Gevolglik leer die apostel: Die hele
wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die
heerlikheid van God (Rom. 3:19, 23), en: Die loon van die sonde is die dood
(Rom. 6:23).
2.
Die liefde van God is egter hierin
geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat
in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh. 4:9;
Joh. 3:16).
3.
Om mense tot die geloof te bring stuur God
uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en
wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en die geloof in
Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie
gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle
preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom. 10: 14-15).
4.
Die toorn van God bly op mense wat hierdie
evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser,
Jesus, met 'n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God
en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh. 3:36; Mark.
16:16).
5.
Die oorsaak of skuld van hierdie ongeloof,
net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie maar by die mens. Die
geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter 'n genadegawe van
God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie
uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef. 2:8); ook: Dit is aan julle
genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil. 1:29).
6.
Dat God aan sommige mense in die tyd die
gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige
besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand. 15:18), en
Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef. 1:11). Volgens hierdie besluit
maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik - hoe verhard
hulle ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie
uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en
verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige
en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense, wat almal ewe verlore is.
Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God
geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer
tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit
onuitspreeklike troos.
7.
Hierdie uitverkiesing is 'n onveranderlike
voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping 'n sekere aantal
mense uit die hele mensdom uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld
van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die
uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie maar verkeer saam met
die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye
welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus
uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al
die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook
besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy
Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met
Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te
gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap
van sy Seun bewaar is, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheld en tot lof van
sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus
het God ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder
gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy
kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die
Geliefde (Ef. 1:4 -6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, die het
Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig; en die wat
Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik (Rom. 8:30).
8.
Hierdie uitverkiesing is nie veelsoortig
nie maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die
Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en
raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot
die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg
van die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef. 1:4-5;
2:10).
9.
Hierdie uitverkiesing het nie op grond van
'n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie
hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir
die uitverkiesing van die mens vereis is nie. Die uitverkiesing is immers die
oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die
uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die
ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en
gevolge daarvan vloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek
voor Hom in liefde te wees (Ef. 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
10.
Die oorsaak van hierdie genadige
uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin
dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as 'n
voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy
sekere, bepaalde mense uit die hele menigte sondaars as sy eiendom aangeneem
het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of
kwaad gedoen het nie ... is vir haar (nl. Rebekka) gesê.. Die oudste sal die
jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom. 9:11-13); en:
Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die
ewige lewe (Hand. 13:48).
11.
God self is alwys, onveranderlik, alwetend
en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie onderbreek, verander,
herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of hulle
getal verminder word nie.
12.
Die uitverkorenes word op God se tyd van
hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur
in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie. Hulle ontvang
hierdie versekering nie deur nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God te
probeer deursoek nie, maar wel deur in hulleself die onfeilbare vrugte van die
uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en
heilige vreugde waar te neem.
Hierdie onfeilbare vrugte van die
uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die
droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die
geregtigheid, ens. (2 Kor. 13:5).
13.
Die kinders van God put uit hulle besef en
sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor God
te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartighede te eerbiedig, om hulleself
te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle
kant vurig lief te hê. Dit is dan ook geheel en al onmoontlik dat hierdie leer
van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sou laat
ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word
deur 'n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die
geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself
toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in
die weë van die uitverkorenes te wandel.
14.
Hierdie leer van die Goddelike
uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete,
deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament
verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom
moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God - waarvoor dit
in die besonder bestem is - uiteengesit word. Hierdie leer moet egter
oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n nuuskierige
ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur
tot eer van die heilige Naam van God en tot 'n lewende troos vir sy volk (Hand.
20:27; Rom. 12:3; 11:33-34; Heb. 6:17-18).
15.
Verder toon die Heilige Skrif hierdie ewige
en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit
nadruklik aan ons. Dit betuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie,
maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God
verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige,
onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat
bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers
besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering
te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan
hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle
nie alleen oor hulle ongeloof nie maar ook oor al hulle ander sondes te
veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God
hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou 'n
godslasterlike gedagte wees; inteendeel, dit sê juis dat God 'n gedugte,
onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
16.
Hulle wat die lewende geloof in Christus,
die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike
gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie kragtig ervaar nie -
ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God beloof het om hierdie dinge in
ons te bewerk - moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor
nie. Hulle moet hulle ook nie onder die verworpenes reken nie maar ywerig
voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger
genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om
hulle tot God te bekeer, om Hom alleen te behaag en van die liggaam van die dood
verlos te word maar op die pad van die godsvrug en die geloof nog nie so ver
gevorder het as wat hulle wel wou nie, behoort die leer van die verwerping nog
baie minder te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe
lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie
leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus,
vergeet en hulle geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee
het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
17.
Die Woord van God, waaruit ons die wil van
God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle
is nie van nature heilig nie maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam
met hulle ouers opgeneem is. Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die
uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit
hierdie lewe wegneem nie (Gen. 17:7; Hand. 2:39; 1 Kor. 7:14).
18.
Teen iemand wat oor hierdie genade van die
onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in
opstand is, stel ons die woorde van die apostel: 0 mens, wie is jy wat teen God
antwoord? (Rom. 9:20), en ook die woorde van ons Verlosser: Staan dit my nie vry
om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt. 20:15).
Maar ons wat hierdie verborgenhede
godvresend en met eerbied aanbid, roep saam met die apostel uit: 0, diepte van die rykdom en
wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy
weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom
en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen (Rom. 11:3-36).
VERWERPING VAN DIE DWALINGS WAARDEUR DIE NEDERLANDSE KERKE 'N TYD LANK IN
BEROERING GEBRING IS
Die regsinnige leer van die uitverkiesing en verwerping is nou uiteengesit.
1.
Die Sinode verwerp daarom die dwaling van
hulle wat leer: Die hele en volledige besluit van die uitverkiesing tot
saligheid is God se wil om daardie mense salig te maak wat nog sal glo en in die
geloof en geloofsgehoorsaamheid sal volhard. Oor hierdie besluit is daar niks
anders in die Woord van God geopenbaar nie.
Die Sinode leer: Hierdie dwaalleraars
mislei hiermee die eenvoudiges, en hulle weerspreek duidelik die Heilige Skrif.
Die Skrif getuig immers dat God nie alleen hulle wat sal glo, wil salig maak
nie, maar dat Hy ook sekere bepaalde mense van ewigheid af uitverkies het. God
het aan hierdie mense, in onderskeiding van ander, in die tyd die geloof in
Christus en die volharding geskenk. Soos geskrywe is: Ek het u Naam geopenbaar
aan die mense wat U my uit die wêreld gegee het (Joh. 17.6). en: Daar het
gelowig geword almal wat tot die ewige lewe verordineer was (Hand. 13:48).
Hy
het ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig te wees, ens.
(Ef. 1:4).
2.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is veelsoortig: die een
is algemeen en onbepaald, die ander is besonder en bepaald. Laasgenoemde val
weer in twee dele uiteen: Dit is òf 'n onvolkome, herroeplike, nie-beslissende
en voorwaardelike uitverkiesing òf 'n volkome, onherroeplike, beslissende en
volstrekte uitverkiesing. Verder: Daar is een uitverkiesing tot die geloof en 'n
ander tot die saligheid, dit wil sê daar kan 'n uitverkiesing tot die
regverdigmakende geloof wees sonder dat daar 'n beslissende uitverkiesing tot
saligheid hoef te wees.
Die Sinode leer: Dit is 'n versinsel van
die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is. Dit vernietig die
leer van die uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting van ons saligheid:
Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy geroep; en die wat Hy geroep
het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook
verheerlik (Rom. 8:30).
3.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die welbehae en voorneme van God, waarvan die Skrif in die leer van
die uitverkiesing melding maak, bestaan nie daarin dat God sekere bepaalde mense
bo ander uitverkies het nie. Dit bestaan daarin dat God uit alle moontlike
voorwaardes - soos byvoorbeeld die werke van die wet - of uit die orde van alle
dinge die wesenlik onverdienstelike daad van die geloof en die onvolmaakte
gehoorsaamheid daaraan tot 'n voorwaarde vir die saligheid gekies het. Dit sou
Hy dan genadiglik as 'n volkome gehoorsaamheid wou reken en dit waardig wou ag
om met die ewige lewe te beloon.
Die Sinode leer: Hierdie skadelike dwaling
maak die welbehae van God en die verdienste van Christus kragteloos.
Terselfdertyd word die mense deur nuttelose vrae van die waarheid van die
genadige regverdigmaking en van die eenvoud van die Skrif weggelei. Daarmee word
hierdie uitspraak van die apostel as onwaar bestempel: God het ons geroep met 'n
heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en
genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is (2 Tim. 1:9).
4.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die voorwaarde wat vir die uitverkiesing tot die geloof vereis word,
is dat die mens die lig van die natuur reg moet gebruik en vroom, klein, nederig
en geskik vir die ewige lewe moet wees - asof die uitverkiesing in enige opsig
van hierdie dinge sou afhang.
Die Sinode leer: Dit klink na Pelagius en
is in stryd met die leer van die apostel waar hy skryf: Ons het vroeër gewandel
in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die
sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die
ander. Maar God wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde
waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend
gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered - en saam opgewek en saam
laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan
betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in
Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit
julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag
roem nie (Ef. 2:3-9).
5.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die onvolkome en nie-beslissende uitverkiesing van spesifieke mense
tot saligheid het tot stand gekom uit die vooruitgesiene geloof, bekering,
heiligheid en godsvrug, wat òf net begin het òf al 'n tyd lank geduur het. Die
volkome en beslissende uitverkiesing het egter tot stand gekom uit die
volharding in die vooruitgesiene geloof, in bekering, in heiligheid en in
godsvrug tot die einde toe. Dit is die waarde van die genade en die evangelie
waarvolgens hy wat uitverkies word, waardiger is as hy wat nie uitverkies word
nie. Die geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, godsvrug en volharding is
dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid
nie maar noodsaaklike voorwaardes daarvoor en oorsake daarvan. In die geval van
uitverkorenes is dit volledige voorvereistes en vooruitgesien asof hulle dit
reeds volbring het.
Die Sinode leer: Dit is in stryd met die
hele Skrif, wat hierdie en dergelike uitsprake telkens weer in ons ore en harte
inskerp: Die uitverkiesing is nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep (Rom.
9:1); Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe
(Hand. 13:48); Hy het ons in Hom uitverkies ... om heilig ... te wees (Ef. 1:4);
Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle, uitverkies (Joh. 15:16);
As dit deur genade is, is dit nie meer uit die werke nie (Rom. 11:6); Hierin is die
liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy
Seun gestuur het (1 Joh. 4:10).
6.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Nie elke uitverkiesing tot saligheid is onveranderlik nie, maar
sommige uitverkorenes kan verlore gaan en gaan inderdaad ook vir ewig verlore,
nieteenstaande enige besluit van God.
Die Sinode leer: Met hierdie growwe dwaling
maak hulle God veranderlik en vernietig die troos wat die vromes uit die
vastigheid van hulle uitverkiesing put. Ook weerspreek hulle die Heilige Skrif,
wat leer dat die uitverkorenes nie verlei kan word nie (Matt. 24:24); dat
Christus almal wat deur die Vader aan Hom gegee is, nie sal verloor nie (Joh.
6:39) en dat God die wat Hy vantevore verordineer, geroep en geregverdig het,
ook verheerlik het (Rom. 8:30).
7.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Daar is in hierdie lewe geen vrug, geen besef en geen sekerheid van
die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie, behalwe dié wat van 'n
veranderlike en toevallige voorwaarde afhang.
Die Sinode leer: Nie alleen is dit ongerymd
om te beweer dat daar 'n onsekere sekerheid is nie, maar dit stry ook met die
ervaring van die heiliges. Uit die besef van hulle uitverkiesing verheug die
heiliges hulle saam met die apostel en roem hulle in hierdie weldaad van God
(Ef. 1). Volgens die vermaning van Christus verbly hulle hulle saam met die
dissipels dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (Luk. 10:20). Ook stel hulle
die besef van hulle uitverkiesing teenoor die vurige pyle van die aanvalle van
die duiwel, terwyl hulle vra: Wie sal beskuldiging inbring teen die
uitverkorenes van God? (Rom. 8:33).
8.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: God het oor niemand bloot kragtens sy regverdige wil besluit om hom in
die val van Adam en in die gemeenskaplike staat van sonde en verdoemenis te laat
bly nie. Ook het Hy in die gee van die genade wat vir die geloof en bekering
nodig is, besluit om niemand verby te gaan nie.
Die Sinode leer: Dit staan vas: Hy is
barmhartig oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil (Rom 9:18), en: Dit is aan
julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar
aan hulle is dit nie gegee nie (Matt. 13:11), en: Ek loof U, Vader, Here van die
hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige
mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u
welbehae (Matt. 11:25-26).
9.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Dit is nie enkel en alleen die welbehae van God wat die oorsaak is
waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit
gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die
evangelie nie meegedeel word nie.
Die Sinode leer: Dit ontken Moses as hy die
Israeliete soos volg toespreek: Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook
die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. Maar net aan jou vaders het
die HERE 'n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle
nageslag na hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is (Deut.
10:14-15). En Christus het gesê: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in
Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het,
sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het (Matt. 11:21).
Hoofstuk 2
DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENS DEUR SY DOOD (1-9)
1.
God is nie alleen in die hoogste mate
barmhartig nie maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid - soos Hy
Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes wat teen sy oneindige
majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie maar ook met ewige strawwe na
siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom
nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.
2.
Ons kan egter self geen voldoening gee en
ons van die toorn van God bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid
sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons of in ons plek
sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.
3.
Hierdie dood van die Seun van God is die
enigste en volmaakste offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van
oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te
versoen.
4.
Hierdie dood het daarom so 'n groot krag en
waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en volkome heilige
mens is nie maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en
die heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser
dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het
dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het,
gedra het.
5.
Verder is dit die belofte van die evangelie
dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar
die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God
na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur verkondig en
bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.
6.
Baie wat deur die evangelie geroep is,
bekeer hulle nie en glo nie in Christus nie maar sterf in ongeloof. Dit gebeur,
nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of
onvoldoende is nie, maar deur hulle eie skuld.
7.
Almal wat egter waarlik glo en deur die
dood van Christus van die sondes bevry en van die verderf gered word, ontvang
hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af
in Christus aan hulle gegee sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.
8.
Dit was immers die volkome vrye
raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader dat die lewendmakende
en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die
uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die
regverdigmakende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit
wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis -
waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het - uit elke volk, stam, geslag en taal
hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die
saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van
God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander
saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het.
Verder dat Hy hulle van al hulle sondes - sowel die oorspronklike sonde as die
werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is - deur sy bloed sal reinig.
Ten slotte dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik
sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.
9.
Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God
se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die
wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer ondanks die vergeefse verset van
die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds deurgevoer word, sodat die
uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd
'n kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet
Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het - soos 'n
bruidegom vir sy bruid - standvastig liefhê, Hom met volharding dien en van nou
af tot in alle ewigheid verheerlik.
VERWERPING VAN DIE DWALINGS
Die regsinnige leer is nou uiteengesit.
1.
Daarom verwerp die Sinode die dwaling van
hulle wat leer: God die Vader het sy Seun tot die kruisdood bestem sonder 'n
vaste en bepaalde besluit om iemand uitdruklik salig te maak. Die
noodsaaklikheid, nuttigheid en waardigheid van die verdienste van die dood van
Christus sou gevolglik ongeskonde, in alle opsigte volmaak, volkome en as een
geheel kon bestaan, selfs al sou geen enkele mens ooit werklik gedeel het in die
verlossing wat Hy verwerf het nie.
Die Sinode leer: Hierdie leer verag die
wysheid van God die Vader en die verdienste van Jesus Christus en is in stryd
met die Skrif. Ons Verlosser sê immers: Ek lê my lewe af vir die skape, en Ek
ken hulle (Joh. 10:15, 27). En die profeet Jesaja sê van die Verlosser: As sy
siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae
verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees (Jes.
53:10).
Verder weerspreek dit die geloofsartikel
waarmee ons ons geloof aan die kerk bely.
2.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die doel van Christus se dood was nie om die nuwe genadeverbond
werklik deur sy bloed te bevestig nie. Dit was slegs maar om vir die Vader die
blote reg te verwerf om opnuut met die mense 'n verbond van die genade of van
die werke, net soos Hy wil, te kan sluit.
Die Sinode leer: Dit is immers in stryd met
die Skrif, wat leer dat Christus Borg en Middelaar geword het van 'n beter, dit
wil sê, van die nuwe verbond (Heb. 7:22) en dat 'n testament eers by 'n
sterfgeval geldig is (Heb. 9:15, 17).
3.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Christus het deur sy voldoening vir niemand met sekerheid die
saligheid verdien nie; ook nie die geloof waardeur hierdie voldoening van
Christus kragdadig tot saligheid toegeëien word nie. Hy het, daarenteen, slegs
die mag of die volkome wil vir die Vader verwerf om opnuut met die mense te
handel en om nuwe voorwaardes, soos Hy wil, voor te skrywe. Die uitvoering
daarvan sou van die vrye wil van die mens afhang. Dit sou dus kon gebeur dat òf
niemand òf alle mense die voorwaardes sou kon nakom.
Die Sinode leer: Hierdie mense minag die
dood van Christus geheel en al en aanvaar op geen wyse die vernaamste vrug of
weldaad wat daardeur te weeggebring is nie. Hulle roep weer die dwaling van
Pelagius uit die hel terug.
4.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: God die Vader het 'n nuwe genadeverbond met die mense deur die
tussenkoms van die dood van Christus gesluit. Hierdie verbond bestaan nie daarin
dat ons deur ons geloof, vir sover dit die verdienste van Christus aanneem, voor
God regverdig en salig gemaak word nie. Dit bestaan daarin dat God, nadat Hy die
eis van die volmaakte gehoorsaamheid aan die Wet afgeskaf het, nou die geloof
self en die onvolmaakte geloofsgehoorsaamheid as volmaakte gehoorsaamheid aan
die Wet beskou en dit dan uit genade waardig ag om dit met die ewige lewe te
beloon.
Die Sinode leer: Hierdie mense weerspreek
die Skrif: Hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die
verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n
versoening deur die geloof (Rom. 3:24-25). Met die goddelose Socinus voer hulle
'n nuwe en vreemde regverdigmaking van die mens voor God in. Dit is in stryd met
die eenstemmige belydenis van die hele kerk.
5.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Alle mense is in die staat van die versoening en in die genadeverbond
opgeneem, sodat niemand vanweë die oorspronklike sonde aan die verdoemenis
skuldig is of verdoem moet word nie maar dat alle mense van hierdie sondeskuld
vry is.
Die Sinode leer: Hierdie mening is in stryd
met die Skrif, wat verklaar dat ons van nature kinders van die toorn is (Ef.
2:3).
6.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat die onderskeid tussen verwerwing en toe-eiening misbruik om by die
onversigtiges en onervarenes die denkbeeld in te prent: Dat God, vir sover dit
Hom betref, aan alle mense die weldade wat deur die dood van Christus verkry
word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sonde en die
ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af, wat hom
aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word. Dit hang nie van die
besondere gawe van die barmhartigheid af wat kragtig in hulle werk, dat hulle,
anders as ander mense, hierdie genade vir hulleself sou toe-eien nie.
Die Sinode leer: Daardie mense wat voorgee
dat hulle hierdie onderskeiding reg voorstel, probeer om die volk met die
verderflike Pelagiaanse dwalings te vergiftig.
7.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Christus kon en moes nie vir hulle gesterf het vir wie God volkome
liefgehad en tot die ewige lewe uitverkies het nie. Inderdaad het Hy ook nie vir
hulle gesterf nie, omdat sulke mense die dood van Christus nie nodig gehad het
nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek die
apostel wat sê: Christus het my liefgehad en het Homself vir my oorgegee (Gal.
2:20). Met dieselfde strekking sê hy: Wie sal beskuldiging inbring teen die
uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel?
Christus is dit wat gesterf het (Rom. 8:34), juis vir hulle. Hulle weerspreek
ook die Heiland, wat sê: Ek lê my lewe af vir die skape (Joh. 10:15), en:
Dit is
my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter
liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee (Joh.
15:12-13).
Hoofstuk 3 en 4
DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT
PLAASVIND
1.
Die mens is van die begin af na die beeld
van God geskep. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy
Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid
toegerus, en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur
die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur
en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek
daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en
verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy
wil en hart sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.
2.
Net soos die mens ná die val was, so was
ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders
voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel
van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin
'n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging,
soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die
bedorwe natuur.
3.
Alle mense word daarom in sonde ontvang en
as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig
maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die
genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie
tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om dit te
verbeter nie.
4.
Na die sondeval het daar in die mens tog
nog 'n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy 'n mate van
kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die
betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in 'n sekere mate 'n strewe
na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie
lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te
bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie
reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer bederf hy dit heeltemal op verskillende
maniere en hul hy dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen
verontskuldiging voor God nie.
5.
Net soos met die lig van die natuur is dit
ook gesteld met die Tien Gebooie, wat God deur Moses in besonder aan die Jode
gegee het. Die Wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en kla die mens hoe
langer hoe meer van sy skuld aan, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel
geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Omdat die Wet dus deur die
sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek bly.
Daarom kan die mens nie deur die Wet die saligmakende genade verkry nie.
6.
Wat nie deur die lig van die natuur of deur
die Wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees,
deur midddel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die
evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou
sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.
7.
Hierdie verborgenheid van sy wil het God in
die Ou Testament aan min mense bekend gemaak, maar in die Nuwe Testament, waar
die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, openbaar Hy dit aan meer
mense. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die
waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig
van die natuur toegeskryf word nie maar aan die volledig vrye welbehae en
onverdiende liefde van God. Daarom moet hulle wat sonder en teen enige
verdienste so 'n groot genade deelagtig word, dit met 'n nederige en dankbare
hart erken. Hulle moet, ten opsigte van die ander, wat hierdie genade nie
ontvang nie, saam met die apostel die strengheid en regverdigheid van die
oordele van God eerbiedig sonder om dit nuuskierig te ondersoek.
8.
Almal wat egter deur die evangelie geroep
word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy
Woord wat sy wil is: Die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns belowe Hy
ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, rus vir hulle siele en die ewige lewe.
9.
Baie mense wat deur die bediening van die
evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en bekeer hulle nie. Die skuld
hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus, wat deur die evangelie
aangebied is nie, ook nie in God, wat mense deur die evangelie roep en aan hulle
verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem
deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan
maar nie in die binneste van hulle hart nie, met die gevolg dat hulle na 'n
kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer, laat
die saad van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van
die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die
gelykenis van die saaier leer (vgl. Matt. 13).
10.
Ander mense, weer, wat deur die bediening
van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens
toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat eweveel
of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige
kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van
ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep hulle almal kragdadig
in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die
duisternis verlos is, bring Hy hulle oor in die ryk van sy Seun, om die deugde
van Hom, wat hulle uit die duisternis tot hierdie wonderbare lig geroep bet, te
verkondig en om nie in hulleself nie maar in die Here te roem. So getuig die
apostoliese geskrifte telkens.
11.
Verder: Wanneer God sy welbehae in die
uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy
die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net
hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, om die dinge van die Gees van God
reg te verstaan en te onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van
dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die
binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en
besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die
wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat
ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n
goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.
12.
Dit is die wedergeboorte, die nuwe
skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so
heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die
uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op soortgelyke wyse in ons
gewerk nie, sodat na die voltooing van God se werk die mens by rnag sou lê om
weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome
bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en
onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif, wat deur Hom,
die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag wat nie
minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie.
Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk,
sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word
die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar
omdat dit deur God gedryf word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê
dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.
13.
Die aard van hierdie werking kan die
gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n
gerusstelling dat hulle weet en ervaar dat hulle deur hierdie genade van God van
harte glo en hulle Verlosser liefhet.
14.
So is die geloof dan 'n gawe van God, nie
omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie maar omdat
dit inderdaad aan die mens geskenk word en vir hom ingegee en in hom ingestort
word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee en daarna van die
mens se wil instemming of daadwerklike geloof verwag nie. Maar Hy bring sowel
die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand. Hy wat immers in die
mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.
15.
Hierdie genade is God aan niemand
verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Horn vooraf niks kan gee
nie om dan daarvoor vergoed te word? Inderdaad, wat sou God aan die mens
verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat
hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig, en dank
God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde
aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae of beroem hom
sonder om na te dink tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder
moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter,
volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word,
want die binneste van die hart is aan ons onbekend.
Vir die ander, wat nog nie geroep is nie,
moet ons tot God bid, wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle
bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons
onsself so van hulle onderskei het nie.
16.
Die mens het egter nie deur die sondeval
opgehou om mens, toegerus met verstand en wil, te wees nie. Die sonde, wat die
hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mensdom nie weggeneem
nie maar dit bederf en in geestelike sin gedood.
Daarom werk hierdie Goddelike genade van
die wedergeboorte nie in die mense asof hulle stokke en blokke is nie; ook
vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen
sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig
dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset dit
vroeër volkome oorheers het, begin 'n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan
die Gees nou die oorhand daaroor kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing
en die vryheid van ons wil.
Inderdaad, as die uitnemende Werkmeester
van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, sou die mens glad geen
hoop gehad het om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy
vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort.
17.
Die almagtige werking van God, waardeur Hy
ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele
waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil
uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit bogenoemde
bonatuurlike werking van God, waardeur Hy ons weer gebore laat word, volstrek
nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie; inteendeel,
die alwyse God het dit tot 'n saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die
siel bestem. Die apostels en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die
mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van
alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur
middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die
Woord, van die sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle
wat nou in die gemeente onderrig gee, of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie
aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou
saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee, en hoe
gewilliger ons ons amp uitoefen, des te heerliker word die weldaad wat God in
ons werk, openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God
alleen kom al die heerlikheid van die middele sowel as van die heilsame vrug en
die krag daarvan tot in ewigheid toe. Amen.
VERWERPING VAN DIE DWALINGS
Die regsinnige leer is nou uiteengesit.
1.
Daarom verwerp die Sinode die dwaling van
hulle wat leer: 'n Mens kan eintlik nie sê dat die oorspronklike sonde alleen
voldoende is om die hele mensdom te verdoem of om tydelike en ewige strawwe te
verdien nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek immers
die apostel wat sê: Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur
die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal
gesondig het (Rom. 5:12), en: Die oordeel was uit één tot veroordeling (Rom.
5:16), en: Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23).
2.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die geestelike gawes of goeie hoedanighede en deugde soos goedheid,
heiligheid en regverdigheid kon nie deel van die wil van die mens wees toe hy in
die begin geskep is nie. Daarom kan dit in die sondeval ook nie van die wil
geskei word nie.
Die Sinode leer: Dit is in stryd met die
beskrywing van die beeld van God wat, volgens die apostel in Ef. 4:24, in
geregtigheid en heiligheid bestaan, en altwee setel sonder twyfel in die wil.
3.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Hierdie geestelike gawes is in die geestelike dood nie van die mens se
wil geskei nie, aangesien die wil op sigself nooit verdorwe was nie. Dit is
slegs deur die verduistering van die verstand en wisselvalligheid van die
neigings verhinder. Wanneer hierdie hindernisse uit die weg geruim is, kan die
wil dan weer sy vrye aangebore vermoë uitoefen. Dit wil sê dit kan allerhande
goeie dinge wat hom voorgehou word, self wil en self kies of nie wil nie en nie
kies nie.
Die Sinode leer: Dit is 'n nuwigheid en 'n
dwaling waardeur die kragte van die vrye wil verhef word, en dit teen die
uitspraak van die profeet: Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is
dit (Jer. 17:9), en van die apostel: Onder wie (nl. die kinders van die
ongehoorsaamheid) ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons
vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het (Ef. 2:3).
4.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die mens wat nie weergebore is nie, is nie werklik en nie heeltemal
dood in sondes nie. Ook is alle kragte om die geestelik goeie te doen hom nie
ontneem nie. Hy kan nog honger en dors na die geregtigheid en die lewe en kan
die offer van 'n verslae en gebroke gees, wat God welgevallig is, bring.
Die Sinode leer: Hierdie opvattings stry
teen die duidelike getuienisse van die Skrif: Julle was dood deur die misdade en
die sondes (Ef. 2:1, 5), en: Al die versinsels wat hy in sy hart bedink, is
altyddeur net sleg (Gen. 6:5; 8:21).
Buitendien is honger en dors na bevrydiing
uit die ellende en na die lewe, asook die offer van 'n gebroke gees aan God
slegs eie aan die wedergeborenes en aan hulle wat salig genoem word (Ps. 51:19;
Matt. 5:6).
5.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die verdorwe en natuurlike mens kan die algemene genade (waaronder
hulle die lig van die natuur verstaan) of die gawes wat ná die sondeval nog in
hom oorgebly het, tot sy heil gebruik. Deur dit só te gebruik kan hy geleidelik
'n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade en die saligheid
self, verkry. Op hierdie wyse betoon God Hom van sy kant bereid om Christus aan
alle mense te openbaar. Hy skenk die middele wat vir die openbaring van Christus
en vir geloof en bekering nodig is, genoegsaam en kragdadig aan almal.
Die Sinode leer: Behalwe die ervaring van
alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals is, want Hy maak aan Jakob sy
woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen
enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie (Ps. 147:19-20),
en: God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle, eie
weë sou wandel (Hand. 14:16), en: Hulle (naamlik Paulus en sy reisgenote)
is deur die Heilige Gees verhinder om die Woord in Asië te verkondig; en toe hulle
by Misië kom, het hulle, probeer om na Bithinië te gaan, maar die Gees het hulle
dit nie toegelaat nie (Hand. 16:6-7).
6.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Met die ware bekering van die mens kan geen nuwe eienskappe, kragte of
gawes deur God in sy wil gestort word nie. Daarom is die geloof, waardeur ons
die eerste keer bekeer word en gelowiges genoem word, nie 'n eienskap of 'n gawe
wat deur God ingestort word nie, maar net 'n daad van die mens. Die geloof kan
alleen 'n gawe genoem word vir sover die mens deur sy eie vermoë daartoe kom.
Die Sinode leer: Daarmee weerspreek hulle
die Heilige Skrif, wat getuig dat God nuwe eienskappe van geloof, gehoorsaamheid
en die besef van sy liefde in ons harte uitstort: Ek gee my wet in hulle,
binneste en skrywe dit op hulle hart (Jer. 31:33), en: Ek sal water giet op die
dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou nageslag giet (Jes.
44:3), en: Die liefde van God is in ons harte ingestort deur die Heilige Gees
wat aan ons gegee is (Rom. 5:5). Hulle is ook in stryd met die voortdurende
gebruik van die kerk van God, wat in die woorde van die profeet so bid: Bekeer
my, dan sal ek my bekeer (Jer. 31:18).
7.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die genade, waardeur ons tot God bekeer word, is niks anders as 'n
ligte aansporing nie of - soos ander dit verklaar - is dit wat deur aansporing
plaasvind, die edelste manier om die mens tot bekering te bring en pas dit die
beste by die menslike natuur. Niks verhinder die aansporende genade alleen om
die natuurlike mens 'n geestelike mens te maak nie. God bewerk die instemming
van die wil inderdaad op geen ander manier as deur hierdie aansporing nie. Die
krag van die Goddelike werking, waarin God die Satan se werking oortref, bestaan
hierin dat God ewig goeie dinge maar die Satan slegs tydelike voordele belowe.
Die Sinode leer: Dit is suiwer Pelagiaans
en in stryd met die hele Skrif, wat, behalwe aansporing, nog 'n ander, baie
kragtiger en Goddeliker werkwyse van die Heilige Gees by die bekering van die
mens ken: Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en
Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee
(Eseg. 36:26).
8.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: God gebruik by die wedergeboorte van die mens nie daardie kragte van
sy almag waardeur Hy die menslike wil kragtig en feilloos tot geloof en bekering
ombuig nie. As al die genadewerkinge wat God gebruik om die mens te bekeer,
voltooi is, kan die mens nogtans God en die Heilige Gees, wat sy wedergeboorte
beoog en hom weer gebore wil laat word, só weerstaan - en hy doen dit inderdaad
ook dikwels - dat hy sy eie wedergeboorte geheel en al verhinder. Dit bly dus in
sy eie mag om weer gebore te word of nie.
Die Sinode leer: Dit beteken niks anders
nie as om al die krag van die genade van God in ons bekering weg te neem en die
optrede van die almagtige God aan die wil van die mens te onderwerp. Dit is in
stryd met wat die apostels leer: Ons glo na die werking van die krag van sy
sterkte (Ef. 1:19), en: dat God alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk
van die geloof in ons met krag volkome maak (2 Tess. 1:11), en: sy goddelike
krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (2 Pet. 1:3).
9.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die genade en die vrye wil is gedeeltelike oorsake wat altwee saam die
begin van die bekering bewerk. Die genade gaan in hierdie volgorde ook nie aan
die werking van die wil vooraf nie. Dit wil sê: God help die menslike wil nie
kragtig tot bekering voordat die menslike wil self in beweging kom en daarop
besluit nie.
Die Sinode leer: Die kerk van ouds het
hierdie leer al lankal by die Pelagiane veroordeel kragtens die woorde van die
apostel: So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie,
maar van God wat barmhartig is (Rom. 9:16); en: Wie trek jou voor? En wat het jy
wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7), en net so: Dit is God wat in julle
werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil. 2:13).
Hoofstuk 5
DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES
1.
Hulle wat God volgens sy voorneme tot die
gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees
wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog
verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en
bestaan nie.
2.
Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van
swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig.
Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die
gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur
die Gees van die gebed en heilige beoefening van godvresendheid en vurig na die
bereiking van die volmaaktheid verlang. totdat hulle, losgemaak van hierdie
sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.
3.
Vanweë hierdie oorblyfsels van die
inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die
bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat
was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade
wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig
daarin bewaar.
4.
Die mag van God, waardeur Hy die ware
gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die
sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God
gelei en beweeg dat hulle - deur hulle eie skuld - in sommige besondere gevalle
nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van
die sondige natuur verlei kan word en dit navolg nie. Daarom moet hulle
voortdurend waak en bid om nie in versoekings gelei te word nie. As hulle dit
nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot swaar
en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die
regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus
en ander heiliges wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.
5.
Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God
vreeslik, verdien hulle die dood, bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle
die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete baie ernstig en verloor
hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God weer die
lig van sy vaderlike aangesig oor hulle laat skyn wanneer hulle deur opregte
berou op die regte pad terugkeer.
6.
God, wat oneindig barmhartig is, neem,
weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing sy Heilige Gees nie
heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy
laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit
die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die
sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom
verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.
7.
Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar
God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat
dit nie vergaan of vernietig word nie. Ten tweede vernuwe Hy hulle deur sy Woord
en Gees seker en kragtig tot berou. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat
hulle gedoen het, van harte en volgens die wil van God berou het en deur die
geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en
verkry. So besef hulle weer die genade van God, wat nou met hulle versoen is;
deur die geloof in Hom eerbiedig hulle sy ontferminge om daarna met groter ywer
hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.
8.
Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en
die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie,
verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie maar weens die
genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie
alleen maklik gebeur het nie maar sou dit ongetwyfeld ook gebeur het. Maar omdat
dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie
verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie
herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos
gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel
of vernietig kan word.
9.
Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie
bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die
ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van
die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die
kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe
het.
10.
Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit
enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie,
maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig
tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: Hierdie
Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders
is, is ons ook erfgename. (Rom. 8:16-17), en laastens uit die ernstige en
heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God
in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou
en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, sou hulle
die ellendigste van al die mense wees.
11.
Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges
in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in
ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie
sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle
vertroosting laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee
saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Kor. 10:13), en deur die Heilige Gees
maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.
12.
Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie
sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorgelose mense
sou maak. Dit is daarenteen 'n ware wortel waaruit nederigheid, kinderlike
vrees, ware godsvrug, geduld in alle stryd, vurige gebede, standvastigheid onder
die kruis en in die belydenis van die waarheid en blywende vreugde in God
spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle 'n aansporing tot
ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die
getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.
13.
Wanneer die vertroue in die volharding weer
lewendig word in hulle wat uit 'n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen
ligsinnigheid of verwaarlosing van die godsvrug nie maar eerder 'n baie groter
besorgdheid om nougeset die paaie van die Here te bewaar. Hierdie paaie is
vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid
van hulle volharding. 'n Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoende
God - waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die
verberging bitterder as die dood is - nie weer weens hulle misbruik van sy
vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder
gemoedskwellings verval nie.
14.
Dit het God behaag om sy genadewerk deur
middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit,
sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die
oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin
en ook deur die gebruik van die sakramente.
15.
Hierdie leer van die volharding van die
ware gelowiges, en die heiliges, en van die sekerheid daaroor het God tot eer
van sy Naam en tot troos van die vromes baie uitvoerig in sy Woord geopenbaar en
in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie
leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars
misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter
altyd as 'n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend
verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan
geen beplanning standhou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan
hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees kom toe eer en heerlikheid tot in
ewigheid. Amen.
VERWERPING VAN DIE DWALINGS OOR DIE LEER VAN DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES
Die regsinnige leer is nou uiteengesit.
1.
Daarom verwerp die Sinode die dwaling van
hulle wat leer: Die volharding van die ware gelowiges is nie die gevolg van die
uitverkiesing of 'n gawe van God wat deur die dood van Christus verwerf is nie.
Dit is 'n voorwaarde (soos hulle sê) van die nuwe verbond wat die mens, voor sy
finale uitverkiesing en regverdiging, deur sy vrye wil moet volbring.
Die Sinode leer: Die Heilige Skrif getuig
immers dat volharding die gevolg van die uitverkiesing is en dat dit deur die
krag van die dood, die opstanding en die voorbidding van Christus aan die
uitverkorenes gegee word: Die uitverkorenes het dit verkry en die ander is
verhard (Rom. 11:7); ook Rom. 8:32-35: Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het
nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook
alles genadiglik skenk nie? Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes
van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is
dit wat gesterf het, Ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die
regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde
van Christus?
2.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: God gee die gelowige wel genoeg krag om te volhard en is bereid om dit
in hom te bewaar, mits die mens sy plig doen. Al is alles wat nodig is om in die
geloof te volhard en wat God wil gebruik om die geloof te bewaar, ook in werking
gestel, dan nog hang dit altyd van die wil van die wil af of die mens sal
volhard of nie sal volhard nie.
Die Sinode leer: Hierdie mening is duidelik
'n Pelagiaanse dwaling. Terwyl dit die mense vry wil maak, maak dit van hulle
ketters. Dit is ook in stryd met die deurlopende getuienis van die evangeliese
leer wat die mens alle stof tot roem ontneem en die lof vir hierdie weldaad
alleen aan die genade van God toeskryf. Dit is verder ook in stryd met die
uitspraak van die apostel: Dit is God wat ons ook sal bevestig tot die einde
toe, om in die dag van onse Here, Jesus Christis onberispelik te wees (1 Kor.
1:8).
3.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan nie alleen heeltemal en
onherroeplik uit die regverdigende geloof, die genade en saligheid uitval nie
maar val inderdaad ook dikwels daaruit en gaan vir ewig verlore.
Die Sinode leer: Hierdie opvatting maak
juis die genade van die regverdiging en die wedergeboorte en die voortdurende
bewaring deur Christus kragteloos. Dit is ook in stryd met die nadruklike woorde
van die apostel Paulus: As Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars
was, veel meer dan sal ons, noudat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom
gered word van die toorn ( 1 Kor. 5:8 - 9), en van die apostel Johannes: Elkeen
wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan
nie sondig nie, want hy is uit God gebore (1 Joh.3:9). Net so is dit in
teëspraak met die woorde van Jesus Christus: Ek gee my skape die ewige lewe, en
hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my
hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en
niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie (Joh. 10:28-29).
4.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die ware gelowiges en wedergeborenes kan die sonde tot die dood, of
dié teen die Heilige Gees, begaan.
Die Sinode leer: Dieselfde apostel
Johannes, nadat hy in 1 Joh. 5:16-17 melding gemaak het van hulle wat tot die
dood sondig, en verbied het om vir hulle te bid, voeg dadelik in v. 18 daarby:
Ons weet dat elkeen wat uit God gebore, is, nie sondig (naamlik met so 'n sonde)
nie, maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op
hom nie (1 Joh. 5:18).
5.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: 'n Mens kan in hierdie lewe geen sekerheid van die toekomstige
volharding sonder 'n besondere openbaring besit nie.
Die Sinode leer: Deur hierdie leer word die
vaste troos wat die ware gelowiges in hierdie lewe het, weggeneem en die twyfel
van die pousgesindes weer in die kerk ingevoer. Die Heilige Skrif lei egter
hierdie sekerheid nie telkens uit 'n besondere en buitengewone openbaring af nie
maar uit die kenmerke wat aan die kinders van God eie is, en uit die
standhoudende beloftes van God. Dit kom veral na vore by die apostel Paulus in
Rom. 8:39: Geen skepsel sal ons kan skei van die liefde van God wat daar in
Christus Jesus onse Here is nie, en by Johannes: Hy wat sy gebooie bewaar, bly
in Hom, em Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy
ons gegee het (1 Joh. 3:24).
6.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die leer van die sekerheid van die volharding en van die saligheid is,
kragtens sy eie aard en wese, 'n kussing vir die sondige natuur en skadelik vir
die godsvrug, goeie sedes, gebede en ander heilige handelinge. Daarteenoor is
dit selfs lofwaardig om daaraan te twyfel.
Die Sinode leer: Daarmee wys hulle immers
dat hulle die krag van die Goddelike genade en die werking van die Heilige Gees
wat in ons woon, nie ken nie. Ook weerspreek hulle die apostel Johannes, wat met
uitdruklike woorde die teendeel in sy eerste brief leer: Geliefdes, nou is ons
kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons
weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos
Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:2-3). Buitendien word hulle weerlê deur die voorbeeld van die heiliges
van die Ou en die Nuwe Testament. Hoewel hulle van hulle volharding en saligheid
seker was, het hulle nogtans in die gebede en ander geloofshandelinge volhard.
7.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Die geloof van hulle wat slegs 'n tyd lank glo, verskil net in
tydsduur van die regverdigende en saligmakende geloof.
Die Sinode leer: Christus stel immers self
duidelik in Matt. 13:20 en Luk. 8:13 en volgende verse nog 'n drieledige
onderskeid vas tussen hulle wat net 'n tyd lank glo, en die ware gelowiges. Hy
sê: Eersgenoemdes ontvang die saad op rotsagtige grond, maar die gelowiges in
goeie grond of in goeie harte; eersgenoemdes is sonder wortel, maar die
gelowiges het 'n vaste wortel; eersgenoemdes dra nie vrug nie, maar die
gelowiges dra met standvastigheid of volharding in verskillende mate hulle
vrugte.
8.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Dit is nie ongerymd dat die mens sy eerste wedergeboorte verloor en
daarna weer, selfs baiekeer weergebore word nie.
Die Sinode leer: Met hierdie leer ontken
hulle die onverderflikheid van die saad van God waardeur ons weergebore word, en
kom hulle in stryd met die getuienis van die apostel Petrus: Julle wat
wedergebore is, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike (1 Pet.
1:23).
9.
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle
wat leer: Christus het nêrens gebid dat die gelowiges in die geloof onfeilbaar
sou volhard nie.
Die Sinode leer: Hulle weerspreek Christus
self, wat sê: Ek het vir jou gebid, Petrus, dat jou geloof nie mag ophou nie
(Luk. 22:32); en die evangelis Johannes, wat getuig dat Christus nie alleen vir
die apostels gebid het nie, maar ook vir almal wat deur hulle woord sou glo:
Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, en: Ek bid nie dat U hulle, uit die
wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar (Joh. 17:11, 15, 20).
BESLUIT
Die voorgaande is dan die duidelike,
eenvoudige en openhartige verklaring van die regsinnige leer aangaande die Vyf
Artikels waaroor in Nederland verskil van mening is. Tegelyktertyd is dit die
verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse kerke 'n tyd lank in
beroering was. Die Sinode oordeel dat hierdie uiteensetting en verwerping uit
die Woord van God geneem is en met die belydenisse van die Gereformeerde Kerke
ooreenstem. Hieruit blyk dit duidelik dat mense vir wie dit allermins betaamlik
was, in stryd met alle waarheid, billikheid en liefde die volk die volgende wou
wysmaak:
dat die leer van die Gereformeerde Kerke en
die hoofpunte in die aanhangsels oor die uitverkiesing uit eie aard en aandrif
die gemoedere van die mense van alle godsvrug en eerbied weglei;
- dat hierdie leer 'n oorkussing van die
duiwel en die sondige natuur en 'n vesting van die Satan is, waaruit hy vir alle
mense hinderlae opstel, die meeste verwond en baie met pyle òf van wanhoop òf
van sorgeloosheid dodelik tref;
- dat hierdie leer God tot outeur van die
sonde, 'n onregverdige tiran en 'n huigelaar maak en dat dit niks as die
herleefde leer van die Stoïsyne, Manigeërs, Libertyne en Moslems is nie;
- dat hierdie leer die mense sondig en
sorgeloos maak en dat hulle hulle daardeur verbeel dat, op watter wyse hulle ook
al leef, dit nie die saligheid van die uitverkorenes verhinder nie en dat hulle
gevolglik sonder kommer allerhande afskuwelike sondes kan doen;
- dat dit die verworpenes nie tot saligheid
strek nie, selfs al sou hulle inderdaad ook al die werke van heiliges verrig;
- dat volgens hierdie leer God enkel en
alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van enige sonde van
enigiemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige verderf voorbeskik en
geskep het;
- dat net soos die verkiesing die fontein en
oorsaak van die geloof en van die goeie werke is, die verwerping ook so die
oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is;
- dat baie onskuldige kinders van gelowiges
van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in die hel gegooi word,
sonder dat (die bloed van Christus of) hulle doop of die gebede van die kerk by
hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees.
En watter baie ander soortgelyke bewerings
is daar nie wat die Gereformeerde Kerke nie alleen nie aanvaar nie maar ook van
ganser harte verfoei!
Daarom doen hierdie Sinode van Dordrecht in
die Naam van die Here 'n beroep op almal wat die Naam van ons Verlosser Jesus
Christus gelowig aanroep, om die geloof van die Gereformeerde Kerke nie te
beoordeel op grond van hier en daar saamgeroepte lasteringe of op grond van
persoonlike uitsprake van verskeie ouer of jonger leraars nie. Hierdie uitsprake
word dikwels slegs met kwade bedoelings aangehaal of vermink en tot 'n verkeerde
betekenis verdraai. Hulle moet eerder op grond van die openbare belydenisse van
genoemde Gereformeerde Kerke oordeel en op grond van hierdie uiteensetting van
die regsinnige leer wat met algemene instemming van almal saam en van elke lid
van die hele Sinode afsonderlik vasgestel is.
Vervolgens vermaan die Sinode hierdie
lasteraars emstig dat hulle moet besef watter swaar oordeel van God hulle oor
hulleself bring as hulle teen soveel kerke en teen die belydenisse van soveel
kerke valse getuienis gee, die gewetens van die swakkeres in beroering bring en
naarstiglik streef om by baie mense die gemeenskap van die ware gelowiges verdag
te maak.
Ten slotte doen hierdie Sinode 'n beroep op
alle mededienaars in die evangelie van Christus om hulle in die behandeling van
hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en eerbiedeig te gedra. Hulle
moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van die Naam van God,
tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle
moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink
nie maar ook praat. Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die
voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke
uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars 'n gegronde rede gee om die leer
van die Gereformeerde Kerke sleg te maak of te belaster.
Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat
aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die
waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars
van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue bedienaars van sy Woord
die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van
God en tot opbouing van die hoorders mag strek. Amen.
|